Jeanne Goosen se nuwe digbundel, elders aan diens, word op 1 September om 11:00 in Stellenbosch se Protea Boekwinkel bekendgestel. LitNet het vir Marius Crous, ‘n digter uit die jonger geslag, genader om vrae aan Goosen te stel oor haar jongste publikasie wat by Genugtig! Uitgewers verskyn.
1. Hoekom moes ons so lank wag sedert die 1970’s vir ‘n nuwe digbundel?
Ek het ander goed geskryf: Romans, kortverhale, novellas en dramas. Ek het nie ophou gedigte skryf nie en die goed het mettertyd opgehoop. Petra Müller het daarna gekyk en gevoel dit kan ‘n bundel wees.
2. Verduidelik die titel van die bundel kortliks vir voornemende lesers.
Die bundel het aanvanklik aantekeninge geheet. Petra Müller het nie daarvan gehou nie en elders aan diens voorgestel. Somehow klink dit reg.
3. Op bl 27 skryf jy oor die “obskure redes wat mens aan die skryf hou”. Watter obskure redes hou jou aan die skryf?
Realiteit is dikwels obskuur.
4. Die bundel raak heelwat swaarwigtige kwessies aan, maar daar is deurgaans `n sterk humoristiese en ironiese inslag aanwesig. Sou jy sê dat hierdie humoristiese inslag jou redding is en die lewe draagliker maak? Op bl 9 sluit jy bv die gedig af met die evokatiewe: “wanhoop het feller as die lied van die liefde geword”.
Humor is maar deel van‘n ou se survival kit. Dit maak feitlik alles draagliker. Ironieë kom na‘n mens aangestap. Wanhoop wat feller as die lied van liefde word, is iets wat ek meen, die meeste mense soms ervaar.
5. Daar is etlike gedigte oor Ma en Pa. Hoe was jou verhouding met jou ouers? Vind dit neerslag in jou skryfwerk of het ons eerder met ‘n fiktiewe Ma en Pa te doen?
My verhouding met my ouers was na my mening normaal – so ook wanneer daar byvoorbeeld soms bevraagtekening of verset is.
6. Hoekom verkies jy dikwels om surrealisties of magies-realisties te skryf?
Ek het altyd aangetrokke tot surrealisme gevoel. Miskien omdat sekere gevoelswaarhede bokant die intellektuele analise verhef word sonder om die rede te verwerp.
7. Die Piet-karakter kom ook in jou prosawerk voor. Wie is hy?
Wanneer ek oor ‘n karakter skryf van wie ek nie hou nie, kry dié die naam van Piet.
8. Die intieme band tussen mens en dier kom ook sterk na vore in die bundel. Vergelyk bv die slotreëls op bl.19. Hou jy meer van diere as van mense? Wat is jou opinie oor diereregte?
Ja, ek hou meer van diere as mense. Hulle cheer my op. Ek haat dieremishandeling met ‘n passie en bepleit intensiewe vervolging en straf.
9. Een van die fassinerende aspekte van die bundel vir my is die mens-God-relasie, maar verwoord op jou kenmerkende, onkonvensionele wyse. Wat is jou siening van spiritualiteit?
Ek weet wragtig nie hoe om hierdie vraag te beantwoord nie.
10. Die gedig “Spesiale Kersaanbod” (p.50) is in vele opsigte treffend verwoord. Wat het jou geprikkel om hierdie gedig te skryf?
Bloot die feit dat Kersfees verword het. Dis hoofsaaklik nou ‘n tyd vir lekkerlyf, dikeet, dit wat geld kan koop, ens. ens.
11. In jou oeuvre speel musiek en die natuurwetenskappe ‘n belangrike rol. Is jy lief vir klassieke musiek en wie is jou gunstelingkomponis? Luister jy na klassieke musiek terwyl jy skryf?
Dis maar my agtergrond. Grootgeword met diere, plante en musiek. Ek hou van Mahler, Berlioz, Wagner en ‘n string ander – meestal die werk van komponiste van die Romantiek. Die musiek is heeltyd daar – of ek nou skryf of nie.
12. “My ma is bossies” – In heelwat van die gedigte kom waansin en versteurdheid ter sprake. Is dit om kommentaar te lewer op die eietydse? Of voel jy dalk dat die digter `n tipe nar-figuur moet wees om te kan skryf?
Waansin en versteurdheid? Ek het maar baie voorstedelik grootgeword. Dalk is ons gesin as sulks beskou deur ander weens die “snaakse” musiek en sang wat ‘n mens soms tot in die straat kon hoor, en dalk ook weens die weirdo’s wat van tyd tot tyd daar aangedoen het. Ja, ek meen ons was deur ander as “bossies” gesien en die dominee het gereeld voor nagmaal daar aangedoen met klagtes van die naastes.
13. Lees jy die hedendaagse Afrikaanse poësie? En neem jy resensente en kritci enigsins ernstig op?
Nee, ek dink nie ‘n digter moet ‘n tipe nar-figuur wees om te kan skryf nie. Soms ervaar jy wel dat jy omring is deur narre, en as jy dan daaroor skryf, is dit nogal ‘n ernstige saak. Eintlik weet ek nie hoe digters (of ek) hulle self sien nie.
Ja, ek lees “hedendaagse” Afrikaanse poësie veral o.m. Breytenbach en Charl Pierre Naudé, maar meestal die Russiese, Vlaamse en Latyns Amerikaanse digters. Daar is plaaslike resensente en kritici wat ek ernstig vertolk.