Dié profiel van Jeanne Goosen het op 16 Maart 2013 in BY verskyn, maar die artikel is ongelukkig nie tans aanlyn beskikbaar nie. Dit is met vergunning van die joernalis as huldeblyk gedeel.
Danie Marais skryf op Facebook:
Jeanne Goosen se vertrek stem my bitter droef. Sy laat so ’n unieke en geweldige leemte.
Ek het in 2013 die kans gekry om met haar ’n onderhoud vir BY te voer en wanneer ek aan daardie Saterdagoggend dink, spoel daar altyd ’n warm gevoel deur my. Tessa Louw het daardie oggend hierdie foto geneem wat ek koester.
Hier is die BY-onderhoud wat ek ongelukkig nie aanlyn kry nie - ek sal vanaand "Mamy Blue" speel en ’n stywe whisky op Jeanne drink:
"Almal is te bleddie reg in hulle koppe, man"
Jeanne Goosen hét styl: die manier waarop sy haar meer as sewe dekades en haar plooie dra soos ’n sangoma ’n Pep Stores-kombers wat sy enige tyd kan afgooi; die manier waarop sy in die restaurant The Long Table inslof asof niks gemaak van geld en aansit haar kan beïndruk nie; die manier wat sy haar sigaret aansteek en ’n dubbel-whisky vir ontbyt bestel – “enige iets behalwe J&B asseblief”; die manier waarop sy haar sonbril oplig om my gelate met ’n paar ontsettende blou oë te deurboor; die manier waarop sy binnesmonds en skor alleen en slegs uit ervaring praat. Om ’n self te wees waarmee jy vrede het, is ’n indrukwekkende gesig.
“Ek kan nie in die aand drink nie,” sê sy. “Dis van al die jare in die koerant se nagkantoor.”
Die 80’s saam met joernaliste in die Vegkop-hotel in Johannesburg onthou sy met nostalgie.
“Die koerant is die enigste plek waar ek eintlik rêrig ingepas het. Dinge wat vir my in ander beroepe nie lekker uitgewerk het nie, was tot my voordeel daar.”
(Jeanne is onder meer ’n opgeleide radiografis en ’n pianis. Sy was ook al boer, smous en visserman en sy reken sy’s al ten minste 11 keer ge-fire.)
“Dis nie vandag meer so by koerante nie. Almal is te bleddie reg in hulle koppe, man. Almal is met almal bevriend. In my tyd moes jy betrokke raak by jou onderwerp, nie by die mense oor wie jy skryf nie. Nou’s joernaliste blykbaar hand om die blaas met elke storie wat hulle skryf.
“Voor ’94 het ons ’n saak gehad in Afrikaanse koerante. En ek was gelukkig, want ek kon nogal min of meer skryf wat ek wou, want die ou wat my gestoot het tot waar ek was op die ou end, was Harald Parkendorf. En hy was ’n fantastiese redakteur en mentor gewees.”
Sy was al dikwels in die warm water gewees oor haar uitgesproke pen – in 2005 moes sy in die hof verskyn oor ’n rubriek waarin sy geïnsinueer het die Advokaat Barbie-saak het van die hof ’n middeleeuse pretpark gemaak. Regter Essop Patel was nie beïndruk nie.
“Nou is die ou dôner [Patel] ook al dood,” sug sy. “Maar destyds was daar ’n minister met ’n goose on the side. Ek het hom daaroor gevra en hy sê toe: ‘Geen kommentaar nie’ en ek skryf: ‘Hy het dit nie ontken nie’. Toe was daar ’n groot herrie met prokureurs en goed.”
Jeanne is in Stellenbosch vir die Woordfees, maar vir die Eikestad is sy lugtig.
“Dis die Kaap se Waterkloof hierdie. Maar dit ís mooi, hoor. En dis nie dat ek nie van die Boland hou nie – dis net te veel. Dit voel vir my jy kan ’n blaartjie omdraai [sy wys met haar sigaret na die wingerd langs ons tafel] en dan staan daar agterop ‘Made in Hong Kong’.”
Sy hou immers van mense wat “nie heeltemal kosher is nie” en arm buurte.
“Daai mense skep taal. Kierkegaard het gesê taal is situasie-gebonde, maar ons is al so normaal en grênd ons het nie eintlik meer ’n situasie nie wat. Daai mense hét en die taal wat daaruit kom, is absoluut wonderlik.
“Ons is nie almal so nie (1990) speel byvoorbeeld in Parow af. Baie mense dink dis sleng – dit is nie. Dit was hoe Afrikaans in die vyftigerjare gepraat is. Nou die heel teenoorgestelde daarvan is ’n Pawpaw vir my darling [2002]. Aan daai taal van Pretoria-Wes en daai mense se stories kon ek my verluister. Ek het baie daar gekom as verslaggewer, want daar was altyd of ’n moord of ’n huisbaklei. Eintlik het ek nogal baie tuis gevoel daar. Iets in my kon hulle situasie begryp. En sieners. Daar was baie sieners gewees.
“Eintlik moet ek dankie sê vir die mense in my boeke, want sonder hulle sou ek dit in elk geval nie kon skryf nie. Ek dink mense is maar só soos ek skryf. Hulle steek dit net weg.”
Jeanne se 22 jaar oue eenbedryf Kopstukke is pas weer deur Lizz Meiring en André Stolz by die Woordfees opgevoer. Dit was destyds deel van die bundel Drie eenakters: Kombuis-blues; Kopstukke; ’n Koffer in die kas (1992) wat met die Rapport-prys bekroon is. Dié stuk, wat draai om ’n egpaar wat ná ’n motorongeluk verlam is en derhalwe aan hul huweliksbed gekluister is, het nog nie sy byt verloor nie. Jeanne sê dit was vir haar ’n intense ervaring om dit weer te beleef, maar sy het dit destyds inderhaas onder waansinnige tydsdruk geskryf.
“André [Stoltz] en Lizz [Meiring] het een aand by my huis aangekom en gesê hulle play vir die Potpourri-fees is ’n total flop – kan ek nie vir hulle ook iets skryf nie. Toe sê ek eers: ‘Maar is julle mal? Dis oor twee weke, man!’ En toe sê ek: ‘Nee maar goed, dan sit ek julle in die bed en julle’s verlam.’ En dis hoe dit begin het. En vir dekor vat ons toe sommer ’n bossie kosmos, want dit pluk jy verniet langs die pad en ons moes met daardie Potpourri-fees self vir rekwisiete en goed betaal.
“Daai stuk het toe vir my die anatomie van ’n huwelik geword: Jy lê later in mekaar se dinges, maar jy’s verlam. Jy kan nie daar uit nie.”
Jeanne het self nog nooit in die slagyster van die huwelik getrap nie.
“Die huwelik is oude doos. Ek weet nie waarom mense dit nog doen nie. Ek is buitendien liewer vir diere as vir mense.
“Ek het elke langnaweek en vakansie altyd in die wildtuin deurgebring. Dit was vir my die wonderlikste om te sien hoe ’n groep bobbejane daar sit en kibbel of ’n trop olifante met die kleintjie by ... en hulle gewoontes. Dan het ek altyd hierdie ongelooflike warmte gekry, ’n welgeluksaligheid. Ek kon nog nooit so teenoor ’n mens voel nie. Ek moet darem bysê, ek was nooit seksueel aangetrokke tot diere nie.”
Soos mans nie?
“Eh-eh. Maar ek was twee en ’n half keer verloof en ek het na weerskante toe geëksperimenteer tot ek besef het, hoor hier, dis nie my emmer k*k daai nie. Forget about it. Want jy weet as jy eers begin verloof raak dan begin dit daai ding word wat Kopstukke is. As jy die aand stil is, dan’s dit ‘Waaraan dink jy?’ en ‘Is daar ’n probleem?’. Jy kan nooit eintlik jouself wees nie.
“As jy lief is vir diere het jy ’n ander uitkyk. Iemand het eenkeer vir ’n vriend van my gesê: ‘Wat de hel makeer daai Jeanne Goosen? Eers praat haar hoenders, nou praat haar honde. Nou hoor ek haar plante praat ook.’”
Jeanne het in 2011 ’n hartaanval oorleef, maar dit het nie haar lewensuitkyk verander nie.
“Ag, nee man,” sê sy en waai met haar sigaret of sy die dood soos ’n vlieg kan wegjaag, “eintlik steur ek my nie eers daaraan nie. My enigste vrees toe ek daar in die hospitaal wakker word, was asseblief – my honde, my honde. En ek het dadelik werk gemaak daarmee.”
Haar honde, sê sy, is die enigste ware Christene wat sy ken, maar deesdae weet sy ook nie meer of dit dalk ’n belediging is nie. Sy woon in Parklands saam met Dolores, ’n 12-jarige labrador, en Blessing – ’n aardige brakkie van geheel en al onpeilbare bloedlyne wat sy by ’n huis vir optelhonde gaan haal het. Die veearts skat die grys-om-die-bek klein Blessing is 14, 15 jaar oud en omdat hy nie meer op haar bed kon klim nie, het Jeanne haar kooi se pote 10 cm korter laat maak.
“Man,” lag sy, “toe Blessing die eerste keer daarna bed toe kom, was dit ’n olimpiese sprong.”
Jeanne het egter nie sedert die hartaanval op haar louere gerus nie. Sy het ’n toneelstuk gereed.
“Ek het een drama klaar wat ek dink nogal ’n bom kan wees, want dit gaan oor die wrywing in die Kaap tussen die bruin en die swart mense. Op ander plekke in die land moes baie boere hulle grond afstaan omdat swart mense eerste daar was. Maar die Khoi-San en hulle voorgeslagte was eerste in die Kaap – eeue nog voor Jan van Riebeeck. En dis vir my baie tragies wat besig is om met hulle te gebeur, want die tikverbruik is iets ontsettends en jy sien wonderlike mense totaal en al ondergaan oor hulle nie werk het nie. Ek kon nooit verstaan waarom niemand ooit daaroor skryf of moan daaroor in koerante nie. Maar dié drama het sy humor darem ook in. Ek weet net nie vir watter regisseur om dit te gee nie.”
Sy’s ook druk doenig met ’n boek wat uit drie novelles bestaan. Oor die inhoud is sy nog effe vaag, maar sy reken dis nogal surrealisties en die een verhaal het ’n sterk musiektema.
Vind sy nog steeds troos in haar klavier en haar geliefde Chopin en Liszt?
“Ja, dit en ‘Mamy Blue’,” sê sy en lag lekker. “Ek het besluit as ek veras word, moet iemand net ‘Mamy Blue’ sing. En as die rokie opgaan, ‘I’ve Got Rhythm’.”
Kommentaar
Net iets interessants oor die skryf van Kopstukke: nie alleen is dit in een aand geskryf nie - Jeanne het die teks op haar voete uitgedink en gedikteer terwyl iemand anders (ek in daardie geval) dit neergeskryf het so vinnig as wat sy praat. Alles in een sitting van drie ure. En daar was geen korreksies agterna nie.