Joan Hambidge ondervra Jeanne Goosen

  • 0

Jeanne Goosen, jy is nie net ‘n groot prosaskrywer nie. Of satirikus nie. Jy is ook ‘n digter wat in die sewentigerjare bekendheid verwerf het met bundels soos ‘n Uil vlieg weg (1971) en Orrelpunte (1975). Hoekom het jy so lank gewag met Elders aan diens, wat verlede jaar by Genugtig! verskyn het?

Na my eerste twee bundels is ek ‘n paar keer lelik afgejak. Ek het besluit om maar liefs my hand aan prosa te waag.

Ofskoon ek nie weer poësie gepubliseer het nie, het ek dit nooit ophou skryf nie. Nouja. Toe gebeur Elders aan diens half per ongeluk. Iemand het die klomp goed na Petra Müller geneem. Sy het daarvan gehou en publikasie aanbeveel. En toe meen ek: Waarom nie.

Jy het binne ‘n tyd gedig toe die Afrikaanse digkuns geswalk het onder vrye verse en dikwels tuglose, bandelose verse van die sewentigerjare  waaraan hierdie leser nie veel erg had nie. Tog kom daar in hierdie tyd belangrike figure soos Wilma Stockenström, Antjie Krog, Stephan Bouwer, en jy na vore. Hoe sien jy die digkuns van hierdie tyd?

Daar is wonderlike digters vandag en sonder om hoegenaamd beskeie te wees, dink ek die hele lot skryf beter as ek.

Jou jongste bundel heet Elders aan diens, ‘n treffende titel om die digkuns te reguleer tot iets buite die normale, die grensoorskrydende. Ook om dit te tipeer as iets waarmee jy besig is terwyl jy ‘n ander werk behartig. Bykans soos ‘n persoon wat in ‘n Ongevalle-afdeling werk. Of vir ‘n nooddiens. Sien jy die digkuns as iets “afwykends”? Ek dink hier onder andere aan die surrealistiese elemente in jou verse.

Ek voel altyd elders aan diens; en ja, wanneer ek die dag ’n gedig skryf, ís dit vir my ‘n “noodgeval”. Ek moet dit dán doen, anders word ek siek en onregeerbaar en bakleierig. Skryf laat my beter voel. Vir my is dit iets soos om sekere gevoelswaarhede bokant die intellektuele analise te stel, maar sonder om die rede te verwerp. Surrealisme is ook vir my ‘n lekker wegkruipplek.

“[W]anhoop het feller as die lied van liefde geword”: Daar is dikwels uitsigloosheid in jou werk – ook in rubrieke skryf jy oor die mens se lot wat, as ‘n mens dit wetenskaplik beskou, maar nie veel werd is nie. Hoe voel jy hieroor?

Ek is maar ‘n bietjie van ‘n eksistensialis. En ek is ‘n endogenedepressie-lyer. Eintlik is dit obskure redes wat my aan die skryf hou.

Jy skryf ook:

Ek is die voël/ wie se knieë/ potsierlik/ andersom/ buig

en

Ek is ‘n simplicitypatroon
vol ou knope en vrot gare
Ek gaan sit
en die nate trek los
Dit pla my nie
Ek is wat  ek is
                      (p 42).

Is jy ‘n outsider?

Alle voëls, en die meeste diere, se knieë buig andersom. Homo sapiens is ook ‘n dier, maar ons knieë buig potsierlik andersom. Dis raar. Dit gaan terug in die ewolusie. Ons kon miljoene jare gelede vlieg, want ons stam uit twee soorte voëls wat toe die aarde oorheers het. Ons het dan ons, baie van ons, vermoëns verloor, al het ons met ‘n neo cortex so baie ander dinge bereik. Dis eintlik tragies.

Jy het dit dikwels teen skynheiligheid in jou werk. Is dit waarom jy satires skryf soos ‘n Paw-paw vir my darling?

Ja, ek het haat skynheiligheid met ‘n passie en daarom is ek altyd in die moeilikheid. Satire ervaar ek as reddend en helend.

“Skryf is ‘n persoonlike gevaar,” merk jy op. Glo jy dit?

Skryf neuk met die geheue. Wat jy onthou – waar jy skryf – is dikwels “gevaarlik”. Ek weet nie wát ek is nie. Dalk is ek die regte mens in ‘n verkeerde tyd of omgekeerd.

Jou gedig “Spesiale Kersaanbod”, as ek reg onthou, het jou rubriek in die Noorde tot ‘n einde laat kom. Dink jy lesers het die ironie in die vers misgelees en jou verkeerdelik van godslastering beskuldig?

Ja, die ironie van “Spesiale Kersaanbod” is misgelees. In werklikheid is dit ‘n religieuse vers.

“Geluk is pilvormig. Plesier is chemies,” merk jy op. Dink jy ‘n digter moet óngelukkig wees om te kan dig?

Ag man, my shrink sê my redding (sic!) is in die pille wat sy voorskryf. Dis nogal waar. Dit hou my in toom en op my plek. Ek weet nie of ‘n digter ongelukkig moet wees om te (kan) dig nie, maar snaaks, dit lei by my nogal dikwels tot gedigte.

Jy word veral onthou vir Ons is nie almal so nie. Hoe voel jy oor die
feit dat hierdie roman en die titel as’t ware volksbesit geword het?

Ek is bly oor Ons is nie almal so nie se ontvangs, maar mense neem aan / glo dis ‘n outobiografiese werk en dan raak hulle glad te familiêr met my en ek haat dit.  Dis nie ’n feitelike outobiografie nie, maar ek meen dis ‘n emosionele outobiografie.

Ons lees:

Sweetness
kom bly by my vannag
dan leer ek jou rumba
die Charleston en die samba
Ek leer jou jitterbug
die hush hush en die cha cha cha
en dan
daarna?
Dan croon ons tot dagbreek
Only the lonely 
                        (p 43).

Jou verse moet voorgedra word. Stem jy saam?

Ja, hulle vra om voorgedra te word.

Jy is digter, romanskrywer en dramaturg. Hoe werk die beoefening van die verskillende genres in op jou skryftyd of beplanning? Met ander woorde, gaan jy in ‘n bepaalde gemoedstemming in wanneer jy dig of nie?

Ek doen maar so alles. Alles wat ek skryf, sê vir my in watter genre dit val.  Gedigte kom wanneer wanhoop verrys. Sorry, dit klink ‘n bietjie corny. ‘n Mens is so, hoe sal ek nou sê, soms hier soms daar maar eintlik, nè, soms hier soms daar maar eintlik nêrens. Ek is eintlik maar doodgewoon, maar ek sukkel om so te bly.
En nou Joan, het jy my half sadderig.

Hierdie pragbundel is deur Genugtig! gepubliseer en bevat van die mooiste humoristiese verse in Afrikaans, melancholies en skreeusnaaks:

My oupa die wyksouderling
Maitland
kry broodkrummels in die kondensmelkfles
en sy kollektegeld het verdwyn
Hy roep my
Jy sal nog hang eendag
Hulle sal ‘n tou om jou nek bind
en jou stadig wurg en wurg en wurg
‘n Valdeur sal onder jou oopgaan
en dan sal jy in ‘n diep gat val
en daarna
Daarna sal hulle jou tussen die swartes begrawe
                                                                           (p 44).

En dit is wat Goosen se digkuns so puik maak. Hier satiriseer sy ‘n Ou-Suid-Afrika-oupa se blik op die werklikheid …

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top