Herinneringe aan die groot gees, Jeanne Goosen

  • 17

Foto: Omslag van Jeanne Goosen: ’n lewe in sinne deur Petrovna Metelerkamp (Hemel & See-uitgewers)

Vlug en aankoms

Dit is genoeg om te gelewe het, een maal,
een maal in eenmaligheid van chromosome
wel te bestaan het van kroon tot toon.
Genoeg om te gelewe het, vol ontsluit,
ook net een maal, genoeg om dalk
vreedsaam in ’n stille bemoeiing
met eenmaligheid van doodgaan
dalk te kan dink: ek was eenmaal
eenmaal was ek ’n mens.

Hierdie gedig van Wilma Stockenström wat Jeanne Goosen eendag vir my op een van haar stil dae voorgelees het, het plotseling by my opgekom by ontvangs van die nuus dat Afrikaans se grensverskuiwende skrywer van onder andere Om ’n mens na te boots, Louoond en Ons is nie almal so nie in die laatnag van 2 Junie 2020 sag die lewe verlaat het by haar huis in Melkbos, met haar hondjie Fudge knus by haar op die bed, soos sy dit wou gehad het. Op 81 was sy moeg, en sy was gereed om te gaan, volgens haar nooit volprese versorger, Michele van der Westhuizen.

Wat ’n mens was Jeanne nie! Kompleks, uitdagend. Uniek.

’n Boekklubvriendin laat weet dat êrens anders nou ’n interessanter plek geword het. Vir my voel dit of die vlae gerus halfmas kan hang uit erkenning aan hierdie wederstrewige, groot gees. Ek wens ek kon ook soos haar twee tuisversorgers by haar bed gewees het toe sy gaan. Ek sou graag die slotreëls van Charles Bukowski se gedig “The laughing heart” vir haar wou ingefluister het:

you are marvelous
the gods wait to delight
in you.

Lank voor e-pos of WhatsApp vlieg ons ken-mekaar-briewe deur die jare heen en weer. “Waar kom dié durf in jou vandaan?” skryf ek eendag na die lees van haar kortverhaal “Hulle noem my Jean”, en sy verras met ’n omvattende aanhaling uit Look at me, van Anita Brookner: “When I feel swamped by my solitude and hidden by it, physically obscured by it, rendered invisible, in fact, writing is a way of piping up. Of reminding people I am here. And when I have ordered my characters, plundered my store of images, removed from them all the sadness that I might see in myself, then I can switch on the current that allows me to write so easily once I get started, and to make people laugh. That, it seems, is what they like to do. And if I manage this well enough and beguile all the dons and the critics, they will fail to register my real message, which is a simple one.

“If my looks and my manners were of greater assistance to me I could deliver this message in person. Look at me, I would say. Look at me. But since I am alone in this matter, I must use subterfuge and guile, and with a little bit of luck and good management this particular message will never be deciphered, and my reasons for delivering it in this manner will remain obscure.”

Nie almal het Jeanne goed genoeg gelees om haar te verstaan nie, maar daar was veral ’n paar vroue wat tot in haar siel gekyk het en haar standhoudend die aansporing gegee het wat sy nodig gehad het vir die lewe en die eensame pad van skrywerskap. Een van hulle is die eweneens unieke skrywer Petra Müller. Jeanne skryf eendag heel opgekikker sy het weer ’n brief van Petra ontvang waarin sy haar vertel van die boek waarmee sy besig is, Wat het geword van Peter Blum?. Dat hy darem vir haar “’n egte brawe ikonoklas” is, “’n breker van ’n bulhond in die glaskas van die lettere”. “Die Petra,” het Jeanne verklaar, “weet net hoe om my op te rui! Ook nie eers subtiel nie.” Want Jeanne het, soos Petra, geweet hoe nodig die Afrikaanse letterkunde sulke stemme het.

Daar sal in die komende dae veel ontgin word van Jeanne se belangrike stem in die Afrikaanse letterkunde en teater. Sidderende gedigte. Oorgangsboeke, oorgangsteater. Laasgenoemde kon sy skryf omdat sy geweet het hoe dit voel om ’n wit, Afrikaanse, verwarde vrou in ’n verwarde wêreld te wees, herinner Murray la Vita ons gister in ’n artikel. Maar anders as so baie van ons in daardie tye, het sy geléwe, vol ontsluit. Met ’n koersvas Sandra Prinsloo wat haar skryfwerk aan ander gehore bekendgestel het aan haar sy.

Sy was by tye nar, ja, towenaar beslis. Balbreker ook. Maar veral geniaal, ernstig en lief vir alles wat lewe. Musiek was in baie opsigte vir haar ’n toevlugsoord.

In Marietjie Coetzee se gevoelvolle bydrae tot ’n Lewe vol sinne, Petrovna Metelerkamp (ook ’n noorderlig in Jeanne se lewe) se biografie oor haar, skryf sy: “Van my mooiste herinneringe as uitgewer is ’n nadenkende Jeanne agter die klavier in die balsaal van die ou burgemeestersherehuis uit die 19de eeu, die Barton Keep, besig om Chopin met onbeskryflike weemoed te internaliseer. Dit is asof haar vingers wag vir die weerklank van die oorspronklike bron om ‘elke noot tot in die fynste ontsteltenis te ontgin’. (‘’n Pianis se handlyding’ uit ’n Kat in die sak, p 28, 1986.)”

Sulke tye was Jeanne waarlik gelukkig, soos wanneer sy na Callas geluister het.

’n Ander voedende vriendskap met die seer geliefde Reinet Nagtegaal het ’n bepalende rol in Jeanne se lewe gespeel. Uiteindelik weer ’n ware geesgenoot. En toe, in 2014, is Reinet oorlede – vir ons, en veral vir Jeanne, ’n geweldige slag. En ek dink: Toe Margaret Bakkes oorlede is in 2016, was dit my opregte wens dat haar en haar boesemvriendin Elize Botha wat haar vooruitgegaan het in 2006, se siele weer sal ontmoet. So is dit op 4 Junie 2020 my hartewens dat Jeanne se siel en dié van Reinet Nagtegaal na wie sy so verlang het, herenig sal word, daar waar hulle hul nou bevind.

Ons gaan na jou verlang, ou Jiena. Jou spore lê ons wêreld vol.

  • 17

Kommentaar

  • Avatar
    Pieter GR de Villiers

    Wat 'n boeiende Brookner-aanhaling. Dankie vir hierdie herinneringe wat die verlies so eg en van naby verbeeld.

  • Wat 'n pragtige huldeblyk, Hettie. Veral die Engelse aanhalings oor hoekom sy geskryf het.

  • "Ek leer die verwantskap tussen note en woorde -
    beide aanhangsels van die stilte,"
    skryf Jeanne in "Orrelpunte".
    Ek hou my liggroen bybel styf teen my.
    Jy stel dit sielsverrykend mooi, Hettie.

  • Avatar
    Hettie Scholtz

    Baie dankie Ton. Dankie aan jou ook, nogmaals, vir jou begrip en spontane ondersteuning om Jeanne in die verlede soms staande te hou.

  • Avatar
    estelle marais

    Ontroerend. Dankie vir die meelewende insigte vir iemand wat haar nie geken het nie, maar bewonder en geniet het.

  • Avatar
    Amanda Haagner

    Wat ’n heerlike voorreg was dit nie om jou te kon ontmoet nie. Gemaklik, gemoedelik en ’n opbeurende ontsnapping. Dankie Jeanne

  • Avatar
    Frits van Oosten

    Baie besonder, werklik 'n belewenis om jou huldeblyk te lees! Baie dekades gelede het ek 'n reeks programme op die destydse Radio SA nou RSG gevolg, waarin Jeanne haar gedigte voorgelees het. Sy het my honger siel na goeie letterkunde gevoed, wat ek tot op hede nooit vergeet het nie. Dié week nog verwag ek aflewering van Petrovna se "'n Lewe vol sinne". Wat 'n heerlike vooruitsig!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top