Jeanne Goosen kry dit reg met Ons is nie almal so nie (1990)

  • 2
Klik en koop Ons is nie almal so nie (nuwe herdruk)
Jeanne Goosen
Kwela Boeke
ISBN-10: 0-7957-0242-6
ISBN-13: 978-0-7957-0242-6
Sagteband
148 pp
R110

 

 

“Hoekom het jy dan ’n ‘mind’, as jy hom nie kan ‘change’ nie,” sê ’n vriend van my graag. Met dit in gedagte, het ek besluit om maar my “mind” te “change”. Dit is nou die laaste aflewering in my reeks oor die top twintig Afrikaanse romans van die negentigerjare, en ek het by myself sit en dink: “Hoe op aarde kan jy dié reeks oor die top twintig romans skryf, en Ons is nie almal so nie is nie ingesluit nie?” Dus, jammer Mark Behr met jou reuk van appels, jy moet opsystaan, dat Jeanne Goosen kan verbygaan.

Ons is nie almal so nie is ’n boek wat aan duisende lesers plesier verskaf het, en wat die een herdruk na die ander beleef het. Wat miskien die meeste genot verskaf het, is die realistiese dialoog, deurspek met humor en ironie.

Die verhaal speel af in die vroeë vyftigerjare in ’n Afrikaanse voorstad, en die hoofkarakters is die klein meisie Gertie (die verteller), haar ma Doris en haar ma se vriende, Mavis en Tank. Hulle taal is ’n mengsel van Engels en Afrikaans, dikwels onfatsoenlik en rassisties — ’n rassisme waarvan die skryfster haar met duidelike ironie distansieer. Byvoorbeeld, wanneer apartheid in die bioskope ingestel word, word dit soos volg deur Doris gemotiveer:

“Die mense het baie gekla, gesê die kleurlinge spoeg van bo af op die wit mense se koppe. Die kleurlinge het juis almal tering, sê my ma, dis hulle spoeg wat so vol kieme is” (bl 51).

Dit is die tyd van die instelling van apartheidswette, en dis wetgewing wat klaarblyklik die ondersteuning van arm Afrikaners het. Die mans is die mees rassisties, miskien omdat hulle die meeste bedreig voel deur kleurlinge en swartmense wat hul werk kan oorneem. Die vroue, hoewel nie vry van rassisme nie, is dikwels sagter in hul oordele oor ander. Gertie se pa noem Uncle Tank ’n kommunis, waarop Gertie aan haar ma vra: “Maar wat is ’n kommunis?” Haar ma antwoord:

“Soos uncle Tank.” My ma vat die lap en vee die sink droog. “Hy glo al die mense — wit en bruin en swart — is gelyk in die oë van die Here.” My ma gaan sit by die kombuistafel en steek ’n Cavalla aan. “Come to think of it,” sê sy, “die kommuniste het ’n punt beet daar …” (bl 47).

Dit is veral mans wat die Christelike godsdiens tot harde, rassistiese dogma verdraai — mense soos Gertie se oupa. Hy het ’n eie kyk op die geskiedenis, wat hy aan sy dogter Mavis (Gertie se ma) verduidelik:

“Neem nou jou oupa Hendrik. Hy was ’n goeie mens. ’n Afrikaner, ’n Boereheld met durf en daad. Hy het nooit ’n ding gedoen sonder om die Heer te ken nie. Kyk deur hoeveel kafferopstande is hy en hy het staande gebly omdat hy die geloof had” (bl 64).

Christelike onderskeidinge verander hy tot rassistiese skeidslyne wanneer hy praat oor die uitsetting van kleurlinge uit die gebied waar Gertie-hulle woon:

“Dis wat die Skrif sê. Bokke en skape hoort nie saam nie. En jy weet wat het met Noag se nageslag gebeur. Ons kan die liewe Heer vandag dank vir Malan. Sy kop is reg aangeskroef. ’n Opregter Christen en Afrikaner sal jy nie sommer kry nie” (bl 64).

Die uitbeelding van hierdie arm Afrikaners is egter nie veroordelend nie, maar met deernis. Gertie se pa kom uit ’n welvarende voorgeslag, en juis daarom is sy werk van vlagswaaier by die Spoorweë vir hom so vernederend:

“Mens sal sweer ek is ’n hotnot, soos die inspector vandag met my gepraat het,” vertel my pa (bl 34).

Hy kry met moeite ’n beter werk, wat nou wel nie die blinkste geleenthede bied nie, maar wat op só ’n manier deur die pa beskryf word dat hy sy selfrespek kan behou:

Hulle het hom op ’n ander werk gesit, ’n báie beter een as dié van vlagman met ’n baie groter salaris én met ’n rang: stock verifier ... Hy sal in daardie job moet instaan vir elke spyker, skroef, moer, hamer, knyptang en ding wat daar maar in daardie stoor aangehou word. Hy sal ’n kantoor ook hê ... (bll 35-6).

Goosen se verhaal bied ’n soort moment-opname van ’n tyd en plek, en gee ’n insig in die opkoms van die apartheidstaat. Dit is ’n realistiese verhaal van die alledaagse lewe van gewone mense, sonder idealisering.

In my studentedae was een van die dinge wat ons moes leer, die onderskeid tussen Realisme en Romantiek, met die onderskeie verteenwoordigers van die twee strominge in die Afrikaanse prosa. Maar die interessanste skrywers hoort meestal nooit volledig tot een literêre stroming nie. So is dit ook hier. Naas die realistiese uitbeelding het die vertelling, wat spreek van ’n romantiese verlange en ’n ontgogeling met die werklikheid, sterk trekke van die Romantiek.

Elkeen van die karakters kry op ’n manier met die gebroke werklikheid te make. Uncle Tank se linkervoet is in die oorlog afgeskiet, en daarom sukkel hy om ’n werk te vind. Soms, na ’n mislukte poging om werk te kry, kom hy en sy vriendin Mavis troos soek by Doris en ’n bottel Old Brown-sjerrie:

Hy neem nog ’n sluk van sy sjerrie, staan op en buig bietjie vooroor. “Dis bad luck,” sê hy, snuit sy neus uit, maak sy glas weer vol en gaan sit. “Cruel world,” sê Aunt Mavis, steek ’n Cavalla aan en blaas die rook deur haar neus (bl 16).

Aunt Mavis het self haar kruis om te dra: haar mongoolkind wat haar hart breek. Maar die sterkste kom ons die onvolkomenheid van die aardse bestaan teen by Doris, Gertie se ma. Teenoor die verliefdheid wat sy en haar man vir mekaar gevoel het toe hulle jonk was, staan nou haar gevoel van gekneldheid in die huwelik. Sentraal in die verhaal is Doris se vergeefse pogings tot ontvlugting uit die gevangenskap van haar bestaan. Haar werk as plekaanwyser by ’n bioskoop bied op ’n dubbele manier (tydelik) vir haar ontsnapping: deur die romantiese films waarin sy haar inleef, en deur die feit dat die werk haar van die huis af wegneem.

’n Tweede poging tot ontvlugting uit die banaliteit van haar huwelik is die owerspelige verhouding met die handelsreisiger Barnie, wat met sy gladde mond vir Doris weer soos ’n begeerlike vrou laat voel. Barnie laat Doris egter in die steek, sodat haar kortstondige genot gevolg word deur ontnugtering.

Dan sterf Doris se man onverwags op een van sy gereelde togte na Touwsrivier omdat hy nie sy asmapompie by hom gehad het nie, maar dit bring nie vir Doris die verlangde bevryding nie. Sy het vergeet om die pompie in te pak en voel verskriklik skuldig oor haar versuim. Haar skuldgevoelens laat allerlei vrae by die leser opkom. Was dit sy vrou se werk om die pompie in te pak — kon hy dit nie maar self gedoen het nie? Verder: daar is allerlei suggesties dat die man se swerftogte na Touwrivier, kastig vir die werk, waarskynlik nie so onskuldig was nie — soos Doris, het hy miskien ook sy ontvlugting in owerspel gesoek. Dit is opmerklik dat hy steeds langer in Touwsrivier bly, en ’n mens wonder of sy dood nie miskien deur oormatige opwinding veroorsaak is wat ’n asmapomp noodsaaklik gemaak het nie.

Maar Doris bly skuldig voel, en haar skuldgevoelens is waarskynlik die grootste aanleiding tot haar aansluiting by ’n sektariese godsdienstige groep — dit is haar laaste, ironiese poging om vrede met die lewe te maak. Doris voel ’n groot vrede oor haar daal in die kerk, maar daar is ’n duidelike ironiese distansie van die skrywer se kant. In hierdie “Christelike” kerk sit die kleurlinge apart (bl 148); die man wat hulle welkom heet, het ’n somber swart pak aan (bl 147); en die preek gee ’n plastiese beskrywing van ’n wrede oordeelsdag:

Alles sal in bloed verander, sê die prediker. “Jy sal dors word en die kraan oopdraai vir water, maar dit sal bloed wees wat daaruit stroom” (bl 153).

Die boek sluit af op ’n ironiese hoogtepunt. Doris se gesig blink, sodat Gertie glo dis die Heilige Gees wat in haar gekom het, en sy “spreek in tale” — maar hierdie “wonderwerk” is klaarblyklik ’n sinnelose geklets, ’n buitetalige uiting van verlange wat haar afskei van haar medemens, ook van haar kind, in plaas dat sy deur die taal met ander kommunikeer:

“Halo Christu Ku Marrti Sen Bielef Tar Ty Salem Jawé Christu! Christu!! Rama Koerr Ja, O, Christu! Christu!!”

Naas die verhaal van Doris se pogings om geluk te vind, bevat Ons is nie almal so nie ook heelwat indirekte selfopenbaring van die verteller, die kind Gertie. Gertie leef in ’n wêreld gedomineer deur vroue, in sonderheid haar ma — haar pa is toenemend afwesig uit haar lewe. Oor die algemeen is die mans in die verhaal swakker figure as die vroue. Dit geld in die eerste plek vir Gertie se pa; maar ook vir iemand soos oom Koos, wat so bang is om sy musikale item op die ATKV-fees te lewer.

Oom Koos het probeer loskom, maar my ma en ant Mietjie het styf aan sy arms vasgehou” (bl 73).

Uiteindelik lewer oom Koos wel sy item, maar op die verhoog lyk hy “nes ’n verdwaalde poep in ’n strontstorm” (bl 75).

Daarteenoor het Gertie ’n groot bewondering vir Spider Lady, die fiktiewe vroulike karakter wat mans domineer (bll 52-3). Wanneer Gertie se ma haar mooi maak vir ’n dans, dan lyk sy vir Gertie soos die Spider Lady (bl 82). Gertie ontwikkel ’n steeds groter gehegtheid aan haar ma, en distansieer haar steeds meer van haar pa en van die mansgeslag in die algemeen. Sy skrik haar dood wanneer ’n seun haar broek wil uittrek (bl 127), en hierdie skokkende ervaring word gevolg deur die waarneming van haar ma se owerspelige seksuele omgang met Barnie. Gertie is kennelik ’n lesbiër in wording. Mans word al hoe meer uit haar lewe uitgesluit; wat sy eintlik begeer, is om alleen met haar ma te wees. Haar beskrywing van haar ma se skoonheid aan die einde is byna soos dié van ’n verliefde:

Sy het al mooier en mooier geword met haar blou oë wat heeltemal deurskynend word. Haar gesig het begin skyn en dan het ek geweet dis die Heilige Gees wat in haar ingekom het (bll 158-9).

Soos al die ander karakters, kom Gertie bedroë daarvan af — telkens kom daar iets tussen haar en die ma wat sy verafgood. Wanneer haar pa afwesig raak, kom Barnie by Doris; en wanneer Barnie weg is en haar pa dood, neem die godsdiens hul plek. Onvervulbare verlange kenmerk ook Gertie se lewe.

Die titel Ons is nie almal so nie verwys in die eerste plek na Doris se woedende reaksie wanneer ’n kleurling-gesin uit die gebied gesit word (bl 122). Met hierdie woorde distansieer Doris haar van die rassisme van die mense in die buurt. Maar die ironie wat die hele verhaal deurtrek, is waarskynlik ook in die titel aanwesig. Op bl 126 word ’n tweede keer genoem dat Doris nie soos ander mense is nie. Dit is haar dogter wat dit hier sê, maar die ironie van die saak is dat Doris ontrou in die huwelik is, en dat sy ook nie altyd van rassisme vry te spreek is nie. Miskien wil die titel juis sê: Ons is maar almal so. Almal onvolkome in ’n onvolkome wêreld.

Hiermee dan die einde van die bespreking, en ook van die reeks. Die feit dat ek in hierdie laaste bespreking seker meer aangehaal het as in enige ander bespreking, dui op die genot van die taal van die boek, op die feit dat hier geskryf word op ’n manier wat nie bra geparafraseer kan word nie. Met Ons is nie almal so nie het Jeanne Goosen een van die moeilikste dinge vir ’n skrywer reggekry: om ’n heerlike ligte, humoristiese verhaal te skryf wat tot ’n breë publiek spreek, maar om ook ’n subtiele werk te skep met diepte wat die teksluise kan bevredig.

’n Slotwens: Hopelik het hierdie reeks aangetoon dat die Afrikaanse prosa in die onlangse verlede ’n verhalerykdom opgelewer het. Waar is die mense wat hierdie verhale tot televisiedramas en films kan verwerk? Waar is die finansiële instellings wat die filmbedryf op groter skaal sal steun? Romans soos Op soek na generaal Mannetjies Mentz, Die olifantjagters en Kroniek uit die doofpot vrá om verfilm te word. Mag dit wees, wanneer ons oor tien jaar op die afgelope dekade terugkyk, dat dit die dekade sal wees van die verfilming van die Afrikaanse prosa.

Hierdie artikel het in 2000 op LitNet se Leeskringe verskyn.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top