Bestendig maar kritiek

  • 0

Knap na Kersfees word dit rugbaar dat my pa, wie se hart drie jaar gelede opgepak het, steeds leef, danksy die hart-long-masjien waaraan hy gekoppel is. Die media gryp in en kort voor lank word my pa ’n ikoon.

Sedertdien is daar daagliks nuus oor die radio en TV oor ou Bibberende Piet se toestand: Bestendig maar kritiek. Ons word ook nie met rus gelaat nie. My snikkende ma spreek die horde nuusmanne en fotograwe toe. Dit was ’n bittere Kersfees sonder my pa, en armoede druk, vertel sy. Ons Kersmaal het uit brood en kaas bestaan. Die Kersboom het verlate en gestroop in die woonkamer gestaan – geen liggies, geen geskenke, nie ’n enkele Kerskaartjie of ballon nie. Maar, vertel my ma, die liefde tussen haar en haar seuns het hulle sterk laat staan.

Op ’n vraag van iemand of my pa nie voel die masjinerie moet liefs afgeskakel word nie, het sy uitgeroep: “Nee, o nee! Dis ons liewe Vader se wil dat my man lewend moet bly! Hý het sy eie tyd!” Ons word skielik oorval met geskenke. Dis kospakkies, klere, kruideniersware en selfs geld. Ook by die hospitaal wemel en woel dit. Oral verskyn daar baniere met goeie wense, ruikers en ruikers blomme, vrugte, briewe en kaartjies. Ook ’n paar kore daag op en sing begeesterende liedere in stemme. By ons huis gebeur dieselfde – teen die mure, die deure en vensters, en selfs op die dak – en daar word gesing en gebid.

Die nuus bereik ook die buiteland en van heinde en verre word ons oorval deur die welmenende pers en mense om te deel in die sterwende ikoon se lewe. Ons kom wêreldwyd onder die loep, selfs van vervreemde familielede met wie ons jare gelede of nog nooit kontak gehad het nie. Watter wonderwerk tog nie! Drie jaar lank gekoppel aan ’n hart-longmasjien en Bibberende Piet leef steeds!

Lang artikels en onderhoude met plaaslike medici en wetenskaplikes word die wêreld ingestuur. Die hartspesialis kry uitnodigings na alle lande in die wêreld. In Amerika verskyn hy op televisie en op alle koerante se voorblaaie saam met Mejuffrou Wêreld. Die hoofopskrifte bly deurgaans dieselfde: Bestendig maar kritiek! Dis vir ons gesin moeilik om al die aandag te hanteer, maar dis asof my ma floreer. Sy staan almal te woord met ’n blosende gelaat. “Dis ons Hemelse Vader se wil dat my man bly leef. So gee hy hoop aan talle siekes oor die wêreld.”

My oudste broer is geheel en al gekant teen alles wat met ons en my pa gebeur en vind dit absurd. Telkemaal smeek hy my ma om my pa te verlos van die masjinerie. Hy bly morbied en ongelukkig. “Nee,” sê my ma maar weer, “dis ons Hemelse Vader se wil dat Pappie bly leef en ons durf nie inmeng nie. Dit sal ’n onvergeeflike sonde wees.”

Die geskenke, blomme, baniere en kore vermeerder by die dag. Al wat leef juig en sing. My ma besoek die hospitaal daagliks en doen elke keer verslag. Af en toe gaan my pa se een oog oop en dan jubel die wêreld. Nog meer plakkate en baniere word uitgeryg, en bo in die ruim vlieg helikopters met goeie wense. Bibberende Piet se toestand verbeter effens, berig die pers, maar sy toestand bly kritiek.

Ook die hospitaal word wêreldberoemd! Die verpleegpersoneel word saam met my pa gefotografeer en die saalsuster vertel met trots dat die pasiënt twee-uurliks omgedraai word. Hy word ’n paar keer per dag van kop tot tone gemasseer met wonderolies om die bloedsomloop te stimuleer. “Nie één bedseer nie!”

My oudste broer word nou behandel vir erge depressie. Hy soebat en pleit vir ’n einde aan die saak sodat my pa die ewige rus kan binnegaan. Daar is so ’n geweldige reaksie, goeie wense en navrae, dat dit my ma nou noop om op Facebook te gaan. Onder meer skryf sy haar motor het nou finaal opgepak en sy stap maar daagliks die drie kilometer na die hospitaal. Haar skoene is al deurgeloop. ’n Ryk egpaar van ’n dorpie aan die Kaapse kus – edel van inbors en met ruim harte – skenk vir haar ’n nuwe motor. My oudste broer beskuldig my ma daarvan dat sy bedel sonder om te bedel.

Op ’n dag kom my broer met ’n ultimatum: “Óf Ma laat die masjinerie verwyder en kry end met die sirkus, óf ek vat die pad.” ’n Paar dae later kry ons my oudste broer dood. Hy het hom opgehang aan ’n balk in die garage. Ons roep my ma om te kom kyk. Vir ’n ruk lank staar sy afwesig na die lyk.

“Dis ons liewe Vader se wil,” sê sy en gaan die huis binne om haar op te dollie vir haar daaglikse besoek aan my breindood pa.

 

• "Bestendig maar kritiek" het reeds in die Beeld verskyn met Jeanne Goosen se 75ste verjaarsdag op 13 Julie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top