Hoekom is mans bang? In gesprek met Dibi Breytenbach oor Heks

  • 0

Foto: Verskaf

...
Dit is tot ’n mate ook die storie van Heks. Wat ’n mens met die eerste opslag lees, is een ding, maar onder die teks lê sy spieëlbeeld. Dit was ’n baie lekker speletjie wat ek met myself gespeel het.
...

Dibi Breytenbach se nuwe roman, Heks, is ’n genrekraker, maar dit gaan ook ’n paar manne onbewustelik laat keer vir hul knaters. Breytenbach bekyk egbreuk vanuit ’n vars nuwe hoek en verskaf ’n ryk aantal mitologiese lae aan ’n teks wat maklik en lekker lees.

Vir té lank het die patriargale drie-eenheid van kerk, staat en mag die vrou, haar wysheid en haar seksualiteit onderdruk. Enige afvallige vrou is as verdag afgemaak, dikwels ook vermoor. Leigh Whaley (2011) wy in haar boek Women and the practice of medical care in Early Modern Europe, 1400–1800 ’n hele hoofstuk aan “The wise-woman as healer: Popular medicine, witchcraft and magic”. Die hoofstuk open met:

This chapter concentrates on wise-women, who were healers and, to a lesser extent, midwives, and who were often designated as “witches”. In the Early Modern era, these women could find themselves accused of practising witchcraft even though healing was their chief objective. The witch-hunt as applied to wise-women can be interpreted as another step in the removal of women from healing.

Ook in Afrikaans word daar opnuut gekyk na die heks as ’n positiewe figuur. Op 27 Maart 2024 het Willemien Brümmer in ’n rubriek, “Hoekom vier ons nie plooie en warm gloede nie?”, baie positief oor “middeljarige ‘heksies’” geskryf. Brümmer verduidelik dat daar bewegings is wat seker maak daar “word ruimtes geskep waar vroue privaat, veilig en vreugdevol bymekaar kan kom om mekaar se geselskap te geniet en die verskillende oorgangsfases (menopouse) te kan vier”. Sy praat ook van die Unitariese Kerk se “‘croning’-rituele” waar ’n vrou se “wysheid gevier word. Haar energie word gerig sodat sy ’n heler, gids en rolmodel vir jonger vroue kan word.”

Brümmer, ’n spesialis-gesondheidsjoernalis, skryf die rubriek teen die agtergrond van die vroulike brein wat nuut en vars, ook veel wyser, begin kyk na die lewe tydens menopouse.

Hoekom dink mans ’n wyse vrou is ’n gevaarlike vrou?

Izak de Vries het sy lende omgord en aan Dibi Breytenbach ’n paar vrae gestuur.

Dibi, Heks is ’n lekkerleesboek, maar ook een wat die samelewing se negatiewe persepsies van ’n heks toets. Hoekom het jy dit gedoen?

Ek gaan begin met ’n aanhaling uit my eie boek met erkenning aan Robert Graves:

Daar was geen manlike gode in voorhistoriese Europa nie... Die wêreld is regeer deur ’n moedergodin wat gevrees, gehoorsaam en bemin is. Sy was die mistieke en enigste lewegewer, haar herd die eerste bymekaarkomplek en moederskap haar grootste geheimenis... Geen man sou dit waag om sy hand of sy tong vir die moedergodin of haar verteenwoordigers op aarde te lig nie. Nie toe nie.

Maar geleidelik verbeter mans se status... En met verloop van tyd word die manlike geslag toegelaat om sekere van die stamnimf se uitvoerende pligte waar te neem deur haar betowerde mantel te dra. Só ontwikkel koningskap geleidelik, enersyds die afstanddoening en andersyds die oorname van die moedergodin se mag.

Die oorgawe.

En dit is waar die fokop begin het.

Die heks van Heks slaan op hierdie sterk, antieke beeld. Die oergodin waarmee elke vrou in haar stil oomblikke en diep in haar hart baie bekend is. In Griekse mitologie word sy gevind in die sogenaamde drie-enige, driedubbele godin bestaande uit Persephone, wat jongmeisieskap, groei en vernuwing verteenwoordig en deur die stygende maan gesimboliseer word; Aphrodite, wat die vrugbare vrou in haar fleur is en die volmaan as simbool het; en Hecate wat die einde van ’n siklus impliseer en deur die donkermaan verteenwoordig word. Kortom, gesamentlik verteenwoordig die drie die lewenskringloop van die mens. In neopaganistiese terminologie is hulle meer bekend as die sogenaamde “maiden, mother, crone”. En crone vertaal in Afrikaans as heks. Daar is nie ’n ander woord daarvoor nie.

Die heks van Heks is een wat deur die tribulasies van jongmeisie – en moederskap – die aanspraak van manlike wesens (ek steel by Ingrid Winterbach) en die eise en etikette van gemeenskap en konvensie tot by wysheid en outonomie gegroei het. Sy voel ’n vy vir die persepsies van die samelewing, want toe sy haar nog daaraan gesteur het, was sy daaraan ondergeskik. Nie as gehoorsamer van ’n reël nie, maar as die mindere mens ten opsigte van die persoon wat die rhabdos van persepsie swaai. Die groeiproses het haar geleer dat konvensie ’n baie vlietende, subjektiewe magspel is, wat haar soos Hephaestus se verruklike vangnet aan inperkings van mensgemaakte aard gebonde hou. Spieëls en rook. Onderwerping daaraan is nie noodwendig die waarheid nie. Dis ’n vals werklikheid.

Of die samelewing haar as positief of negatief etiketteer, is irrelevant. Sy het daar verbygegroei.

Heks is ’n boek wat handel oor egbreuk. Jy is natuurlik nie die eerste wat egbreuk beskryf nie. Tony Tanner (2019) het ’n dik boek geskryf hieroor. Op bladsy 12 van Adultery in the novel sê sy: “Adultery as a phenomenon is in evidence in literature from the ear­liest times, as in Homer [...]. It is a dominant feature of chivalric literature; and it becomes a major concern in Shakespeare’s last plays. [...] But it seems to me that adultery takes on a very special importance in the late-eighteenth- and nineteenth-century novel.” Op die volgende bladsy sê Tanner: “If society depends for its existence on certain rules governing what may be combined and what should be kept separate, then adultery, by bringing the wrong things together in the wrong places (or the wrong people in the wrong beds), offers an attack on those rules, revealing them to be arbitrary rather than absolute.” Jou teks, Heks, lees lekker, maar het jy bewustelik die samelewing se reëls uitgedaag hiermee?

Miskien was ek ’n bietjie moedswillig. Maar dan wil ek graag terugverwys na die aanhaling uit Plato se Simposium waarmee die boek open:

Love is born into every human being; it calls back the halves of our original nature together; it tries to make one out of two and heal the wound of human nature. Each of us, then, is a “matching half” of a human whole [...] and each of us is always seeking the half that matches him.

Die verteller in Heks is van meet af vasgevang in ’n huwelik wat deur die konvensie van die tydvak van die era – die tagtigs, met sy versmorende engheid – op haar afgedwing is. En die verhaal gaan oor hoe sy haar “ander helfte” op ’n onkonvensionele en volgens sommiges, immorele, manier raakloop. En dan geluk vind, nie alleenlik in die verhouding self nie, maar in die keuse wat sy uitoefen om daarmee voort te gaan. ’n Verhouding waarin sy op die oog af nie gedwing is nie, maar wat sy gekies het. En sy neem ten volle verantwoordelikheid daarvoor aan die einde van die boek wanneer sy twee dinge kies wat sý wil doen vir haarself, vir niemand anders nie. Sy gaan ontbyt eet, want sy hou van eet, en dan gaan sy haar minnaar verlei. So, ja, dit is waarskynlik ’n uitdaging van die samelewing se reëls, maar dan moet ek byvoeg dat enige vrou wat onbeskaamd en onafhanklik dink en keuses uitoefen, sonder om die borsrok van wat die mense daarvan gaan dink aan te trek, waarskynlik ’n uitdaging vir die samelewing is.

Kristel Loots het in 2013 Die ander vrou geskryf. Ons ontmoet Loots se hoofkarakter die oggend ná haar troue met die man wat van haar die volgende gemaak het: “Die ander vrou, die egbreker, die flerrie, die feeks wat ’n huisgesin opgebreek het, die skelmpie, die skarlakenvrou, die een wat gestenig sou word as dit nog wettig was.” Jy, weer, maak van jou karakter ’n heks; sy is woedend, sy eis haar regte op, maar sy is eweneens ook neerhalend oor ’n “ander vrou” wat in ’n hardewarewinkel werk. Was dit ’n bewuste manier om jou hoofkarakter in perspektief te plaas?

Ja en nee. Die neerhalende verwysing na die klerk is eintlik ’n vergoeiliking van die hoofkarakter se gewete. Toe sy nog vasgevang was in die beperkings van konvensie, beskryf sy haarself as “luuks ingebroei in die geveerde nes van die gemeenskap van die heiliges”. En “sy had ’n afkeer aan egbrekers”. Maar toe sy betrokke raak by M, die eerste treë op die Breë Weg gee, moet sy haar sogenaamde “sonde” in konteks plaas. Want sy en M is nie soos Pokkels en die klerk nie. Hulle is nie so kommin nie. Want kommin mense het affairs. Die verhouding dwing haar tot nederigheid, laat haar besef dat sy nie so moreel onkreukbaar is as wat sy altyd gedink het sy is nie. Sy erken dit ook: Wanneer sy Pokkels se winkel besoek, besef sy dat sy net soos hy is – trouens, sy praat van hulle as “’n klein bende owerspeliges” – en verwys ook daarna dat sy nie meer kan oordeel nie, “want sy het haar in ’n posisie van jammerlike nederigheid ingespyker”. Die neerhalende verwysing na die klerk is dus ’n vertrekpunt vir die groei van morele superioriteit na nederigmaking meer as enigiets anders.

In ’n vorige vraag het ek na Homeros verwys. Die Griekse gode het lekker die eg gebreek. Maar goed, min mense weet daarvan – ons het dit onlangs weer gesien tydens die Olimpiese Spele in Frankryk. En hier bring jy ’n totaal nuwe stel gode in na ons. Ek weet feitlik niks van Slawiese gode nie en was gefassineer hierdeur. Hoe op aarde het jy op die spulletjie afgekom?

Mitologie was nog altyd een van my groot passies, van my kinderdae af. Dit het derhalwe die verwysings en omskrywings van die Griekse mitologie maklik en plesierig gemaak. En ek was goed bekend met die avonture van Baba Yaga, want dit is ook een van die kinderverhale waarmee ek grootgeword het. Toe ek egter begin navorsing doen oor die hekse van Oekraïne, het my paaie gekruis met Skithiese mitologie wat ’n baie enger en swakker opgetekende mitologie is as dié van die Grieke. Daar is egter heelwat oorvleueling, veral in sekere geografiese gebiede, want die Grieke het die suidelike kus van Oos-Europa al duisende jare gelede gekoloniseer. Daar kan gesê word dat die Skithiese en Griekse gode bure in aangrensende godedomme was.

Die Skithiese mitologie is fassinerend en studies oor Perun, die hoogste god van die panteon en god van donder, bliksem en storms, en Veles, die god van die onderwêreld en van beeste en bedottery, was my inleiding na nog ouer gode soos Mokosh, Dazjbog en Stribog. Dit is soos ’n tydreis in die antieke wêreld in. Navorsing oor die hekse het my in die wonderwêreld van Oos-Europese volksvertellings ingelei, en daar het mitiese kreature soos die rusalkas met hulle groen hare en silwer klere, die kikimora, domowoi en die vuurvoël hulle opwagting gemaak. Die verteller in Heks beskryf Oekraïne as ’n wêreld onder ’n wêreld wat bedreig word deur oorlog en beskerm word deur hekse. Dit is werklik so. Wat ek ook verstommend en baie interessant gevind het, is die sinkretisme – die een geloof ingekleur as ’n ander.

Destyds toe die Oekraïners gekersten is – iewers in die omgewing van 950 nC – het die kerkvaders van die Grieks-Ortodokse Kerk wat die kerstenwerk verrig het, baie van die ou gode se name bloot vervang met dié van kerklike heiliges. Derhalwe het die mense daar ex nomine gebid tot een heilige, terwyl hulle harte nog steeds by die ou gode gelê het. Iets wat voorgee om een ding te wees, terwyl dit eintlik iets heeltemal anders impliseer. Die Russiese woord vir dié soort sinkretisme is dwojewerje. Volgens alles wat ek gelees en gehoor het, is dit selfs vandag nog so. Dit is tot ’n mate ook die storie van Heks. Wat ’n mens met die eerste opslag lees, is een ding, maar onder die teks lê sy spieëlbeeld. Dit was ’n baie lekker speletjie wat ek met myself gespeel het.

Dit bring ons by Oekraïne. Die oorlog tussen jou hoofkarakter en haar man loop hand aan hand met Poetin se inval in sy buurland. Nie net anker dit die boek in ’n sekere era nie, dit verleen ook aan jou die geleentheid om fassinerende dele van die Slawiese mitologie te laat afspeel op plekke wat aan ons bekend geword het tydens die oorlog. Was dit nie vir Poetin en sy boelies nie, sou nie een van ons geweet het van Slangeiland nie. Wat het eerste gekom: die ondersoek na die Slawiese mites, die oorlog, of die idee van ’n storie oor egbreuk?

Destyds toe ek Buit geskryf het, het ek gespot en gesê as ek ooit weer my hand aan ’n roman waag, gaan dit ’n liefdesverhaal wees wat in Pretoria afspeel omdat ek ten minste weet hoe dit daar lyk en daar baie minder geweld in ’n liefdesverhaal is. Desnieteenstaande het ek tog begin met sy opvolg. Een oggend twee-uur het al die geweld net te veel geword en ek het Heks begin skryf as ’n gewone liefdesverhaal wat in Pretoria afspeel, as skryfoefening om my brein net so ’n bietjie te reinig. My probleem is egter dat ek ’n nuusvraat is. Die oorlog in Oekraïne was toe al goed op dreef en het baie van my aandag in beslag geneem. En dit het my aan die wonder gesit, oor die aard van oorlog en die aard van verhoudings. My ander probleem – ek wonder oor goed. En my kop werk gatkant eerste.

En toe wonder ek oor die aard van verraad en dit laat my toe dink oor die slagveld wat ’n huwelik kan word, en toe word Heks ’n storie oor owerspel. En toe wonder ek hoe sal dit wees as ’n mens die kleinste en die grootste oorlog teen mekaar laat afspeel, en toe kom Oekraïne as storielyn by. Maar toe hoor ek van die hekse, en toe kom hulle by. En toe onthou ek Slangeiland wat in antieke tye geskep is deur ’n god vir ’n held en waar die Oekraïners op die eerste dag van die oorlog ikoniese status verkry het, en ek begin wonder oor heldhaftigheid in die aangesig van oorweldigende mag, en toe kom die gode by.

En die groot ding van die gode – hulle is vreeslik menslik. Daar is bykans nie ’n aspek van menslike gedrag wat nie by wyse van mitologie verklaar of genuanseer kan word nie. Dit was heerlik om hulle op hierdie manier in die manuskrip te betrek. Eintlik het die storie maar baie organies gegroei. Dit is moeilik om te sê wat presies eerste gekom het. Dit is soos die grappie van die hoender en die eier.

Jy is natuurlik nie die eerste persoon wat politieke vergrype verbind met seksuele praktyke nie. Seamus Heaney se gedig “An act of union” is ’n verbysterende teks. En meer onlangs het die militêre held in Yorgos Lanthimos se bisar film Poor things eksplisiet die besit van die vroulike liggaam verbind aan die gewelddadige oorname van ’n ander land se grondgebied. Jou hoofkarakter word egter juis nie gewelddadig ingeval deur ’n ander man nie, sy soek en vind juis troos by die egbreker. Was dit vir jou belangrik dat sy, ’n sterk vrou, haarself bewustelik en gewillig aan ’n ander gee in weerwil van die wette en die norme van die samelewing?

Inderdaad. Iewers droom die verteller van een van die Oekraïense karakters wat sê dat ’n mens jou eie geluk maak. Die bewustelike besluit van die verteller om haarself uit haar ongelukkige omstandighede te kies ná die kognitiewe besef dat die keuse hare is om te maak, vorm ’n baie belangrike onderafdeling van die verteller se reis na selfverwesenliking. Vroeg in die boek stel sy dit só:

Is ek jammer dat ek my uitgespaar het vir G? Ek dink so. Nou. By nabetragting en die wysheid van die jare besef ek dit is nie omdat ek oor ’n losbandige ingesteldheid beskik nie, maar omdat die beskikking oor en die uitoefening van my vrye wil my deur indoktrinasie ontneem is.

Die groeiende besef maak haar woedend. Sy is toenemend bewus van die onreg wat deur konvensie teenoor haar gepleeg word. Wanneer sy en M in die geheim ’n wildreservaat gaan besoek en haar man, G, die antagonis, vir werksdoeleindes in Londen is, verbaliseer sy vir die eerste keer haar woede só:

Behalwe vir The Red Storm Company is daar niks wat my dringende aandag verg nie. En vir hulle is ek kwaad. Vir G is ek nog kwater. Woedend. En vir myself? Die kwaadste van almal. Dienende Martha se gat.

Die skille van die konvensionele bestaan wat tot haar sielsongelukkigheid lei, val stelselmatig van haar oë af. Later in dieselfde hoofstuk sê sy:

Die son skyn steeds, selfs deur ’n verslete karos. Vyf en twintig jaar van G se vrou en die ma van sy kind wees, het die velkombers oor my skouers dun geskuur. Soms, as ek gelukkig is, skyn daar nog iets van my deur die versletenheid. Maar ek is ook hier. Soms wil ek dit sê en soms wil ek dit skree. Ek is ook hier. Ek vat my terug, besluit ek.

Daardie laaste sin is ’n kort opsomming van die karakterboog. Die verteller neem eienaarskap van haarself, ten spyte van die dwangbuis van konvensie. En dit is uiteindelik waaroor die storie gaan. Miskien ’n soort rebellie of cri de coeur ... Nou is ek regtig moedswillig!

Daar is natuurlik ’n ander oorlog in hierdie boek. Jou hoofkarakter begin, byna soos Don Quichot, die hele skoonheidsindustrie bestorm. Is ’n deel van hekswees ook die bewussyn dat ’n vrou gemaklik mag wees oor hoe sy lyk en nie hoef te voldoen aan mans se verwagting van hoe sy moet lyk nie? Die hoofkarakter se man verneder haar omdat sy kwansuis oorgewig is. Die nuwe lover hou van haar lyf ...

Die temamusiek vir hierdie gedeelte van die boek – en waarop ek dit geskryf het – was die “Dies irae” uit Verdi se Requiem. Dit is woedende musiek, want hierdie deel van die roman het my self so moerig gehad dat ek gestoom het. My hoofkarakter is tot ’n sekere mate ’n vroulike, moderne Donna Quixote. Sy is so op die oorlogspad dat sy al wat ’n windmeule is, stormloop. Tog hou die oorlog teen die kosmetiekmaatskappy op ’n baie spesifieke manier verband met die kleiner, domestiese oorlog wat sy teen haar man voer. Sy raak toenemend bewus van die siniese manier waarop vrouens se inherente minderwaardigheidsgevoelens oor hoe hulle voel en lyk deur mans, vrouens en gewetenlose kosmetiekvervaardigers uitgebuit word – sy noem dit die groot leuen van lelikheid. Want vrouens word aanhoudend op die agtervoet geplaas om aan ewig veranderende onrealistiese verwagtings te voldoen. Mooi vrouens word wysgemaak dat hulle nie mooi genoeg is nie, en dat daar vir die lelikes geen hoop is nie. Om die waarheid te sê, kan niemand eintlik eers sê wie is mooi en wie nie. Selfs daardie standaard verander gedurig. En vir wat? Die enigste mense wat daarby baat, is dié wat die leuen in stand hou. Natuurlik is dit enige vrou – enige méns – se reg om gemaklik te wees in die vel waarmee hulle die wêreld ingestuur is. En net soos met enigiets, rus daar ’n verantwoordelikheid aan die eienaar van ’n liggaam om dit in stand te hou. Dis nie iets om mee te mors nie, moet my nie verkeerd verstaan nie. ’n Voertuig wat goed onderhou is, hou langer. Maar dit beteken nie dat iemand anders die reg het om voor te skryf hoe jou voertuig moet lyk nie. Sommige mense ry met viertrekvoertuie, ander met klein stadsmotors. Albei kom uiteindelik waar hulle moet wees. Daar is groot vrede te vinde in die besef dat andere se verwagtings en vermetelheid oor ander se voorkoms – nog meer so as dit profytgedrewe is – net soos konvensie papierdun en van vlietende aard is. Weer eens ’n magspel van ’n aard. Ek wil hê jy moet so lyk, want dan doen jy wat ek wil hê. Hoekom moet ek doen wat jy wil hê? Vir wat? Want dan kan ek met jou toor. Se dinges. As ’n mens heksdom bereik, sien jy dit vir wat dit is. Dalk het ek te veel Foucault gelees – dat diegene met mag diskoerse tot hulle eie voordeel skep, terwyl hulle hulle intensies verskuil. Soewereine magsmisbruik op die kleinste skaal.

’n Heks laat nie met haar toor nie.

Gekoppel aan die vorige vraag, sou ’n mens kon noem dat PG du Plessis se roman uit 1998, The married man’s guide to adultery, nogal ondersoek ingestel het na die “adulterations” van ons samelewing; daardie inlieg van skadelike idees in ons menswees. Sou jy dink dat die skoonheidsbedryf se “adulteration” van hulle produkte ten koste van vroue dalk ’n metafoor kon wees vir die manier waarop mense allerlei goed van mekaar verwag, ook in sosiale en familiale verband?

Baie beslis. Dit is dieselfde soort ding. Weer eens Foucault. Dit is die mees basiese aard van menseverhoudinge. Ek soek iets by jou en jy by my. Goed of sleg. En ek gaan iets doen om dit te kry. Of jy gaan iets doen om dit by my te kry. En ek en jy gaan altwee narratiewe skep om die gepaste gevolg te bewerkstellig. Deur die “teiken”, by gebrek aan ’n beter woord, deurgaans ongebalanseerd te hou deur die wankelmoedige aard van tydelike standaarde, word ’n diskoers geskep ten voordeel van die standaardskepper, terwyl hy of sy sy of haar opset verberg. Hoe meer die “teiken” probeer om die standaard te bereik, hoe minder kry hy of sy dit reg, want die einddoel hou aan skuif. Die meeste van die tyd kom mense nie eens agter dat hulle besig is met ’n magspel nie. Dit is eindeloos fassinerend.

John Shelby Spong, een van die groot teoloë van die vorige eeu, het in sy boek Living in sin? (1988) geskryf dat huwelike deur drie lewensfases gaan. Een: die tyd voor kinders. Twee: kinders. Drie: die tyd ná kinders. Party paartjies kan saam groei en verander deur al drie, sommige paartjies kan nie. As jy nie saam kan verander nie, dan gaan jy óf ongelukkig by mekaar bly óf skei. Hy was taamlik radikaal vir ’n priester, maar is dit nie ook wat jy implisiet in Heks verduidelik nie?

Inderdaad. Veral as die fondasie van meet af wankelrig is, soos dit in Heks die geval is. Die verteller druk dit só uit:

Tyd en die banaliteit van die alledaagse torring die onsigbare bande wat mense bind los, veral as dit van die begin af maar lossies geknoop is. Uiteindelik bly daar bloot toiings van die oorspronklike oor. Een oggend staan jy op en staar in die oë van jou eggenoot en merk in hom die eggo’s van die dieselfde leegte as in joune. Vanselfsprekendheid is die duiwel se poetslap.

Die verteller is baie bewus van hierdie hartseer stand van sake en ook van die eise van maatskaplike konvensie wat ’n mens in die drukgang van tragedie inforseer. Later in die roman stel sy dit só:

Ek haal nog ’n sigaar uit my handsak. Ek rook te veel. Hopeloos te veel. Dink terug oor die vyf en twintig jaar wat verby is. Dit was nie alles sleg nie. Miskien, as ek en G nie getroud was nie, sou ons vriende kon wees. Miskien. Wie weet. Miskien as hy anders was, of ek, meer wêrelds – dapperder – het ons ons besluite self geneem, sonder die radioaktiewe bestraling van ons dampkring se verwagtings, bevry van die borsrok van kerklike konvensie. Miskien. Maar ons is nie. En ons het nie. En nou is ons hier.

Ek wil terugkeer na Willemien Brümmer se verduideliking dat menopouse ’n bevrydende tyd kan wees in ’n vrou se lewe en dat die heks as wyse vrou eintlik iemand is wat gevier moet word. Wat is jou boodskap vir mans wat met hierdie hekse moet saamleef?

Trap lig. ’n Heks vergeet nie. ’n Heks vergeet nóóit. Gedenk die heks van Konotop. Ons toor vir jou. Want dit is die mag van hekse ...

Bronne

Breytenbach, D. 2024. Heks. Kaapstad: Queillerie.

Brümmer, W. 2024. Hoekom vier ons nie plooie en warm gloede nie? Netwerk24, 27 Maart. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/hoekom-vier-ons-nie-ons-plooie-en-warmgloede-nie-20240326

Du Plessis, P.G. 1998. The married man’s guide to adultery. Kaapstad: Tafelberg.

Loots, K. 2013. Die ander vrou. Pretoria: LAPA.

Spong, J.S. 1988. Living in sin? A bishop rethinks human sexuality. New York: HarperCollins.

Tanner, T. 2019. Adultery in the novel, contract and transgression. Baltimore: John Hopkins University Press.

Whaley, L. 2011. Women and the practice of medical care in Early Modern Europe, 1400-1800. Londen: Palgrave Macmillan.

Lees ook:

Buit: ’n onderhoud met Dibi Breytenbach

Buit deur Dibi Breytenbach: ’n resensie

Konflik in Mosambiek – ’n ondersoek na die aard en dinamika van die teeninsurgensie-operasies in Cabo Delgado

Die Islamitiese verset in Cabo Delgado in Noord-Mosambiek

Quo vadis Mosambiek?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top