Quo vadis Mosambiek?

  • 3

In a broad perspective, two periods can be distinguished in the relations of the Portuguese colonial state with its Muslim colonised populations and Islam more generally. From the late nineteenth century, when Portugal was engaged in the “scramble for Africa”, until the first half of the colonial wars (1961–65), Muslims in Guinea-Bissau and Mozambique were conceived as a major threat or simply overlooked as irrelevant. (Machaqueiro 2013: 843)

Kaart van Mosambiek: Nationsonline.org 

In Desember 1973 het ek en ’n goeie vriend ’n epiese reis (road trip deesdae) met my 1967-model Peugeot 404 na Zimbabwe en Mosambiek onderneem.

Die bevrydingstryd in Mosambiek was op daardie stadium in volle swang, maar dalk weens jeugdige bravade of naïwiteit het ons nie geskroom om selfs die gebiede ten noorde van Beira te besoek nie. In daardie noordelike gebiede het ons op ’n goeie dag by ’n jong plaaslike entrepreneur se vrugtestalletjie direk langs die teerpad stilgehou. Ons wou ons voorraad vars avokado’s, piesangs en papajas aanvul. Terwyl ons nader stap om na die uitgestalde produkte te kyk, verdwyn die jongman plotseling via ’n kronkelende voetpaadjie in die aangrensende ruie bosse in. Die redes vir sy op die vlugslanery bly onbekend aan ons tot vandag toe. Ons soek toe maar noodgedwonge die produkte uit was ons benodig, en plaas die geskatte waarde van die vrugte in Portugese eskudo op die tafel en vertrek om voort te gaan met ons reis.

In Beira besluit ons om na die hawe te gaan kyk. Die Beira-hawe beskik immers oor historiese waarde, omdat die 3 200 km lange spoorlyn tussen Kaapstad en Beira in 1902 voltooi is. Ongelukkig was ons kartonhouer met rooi en wit produkte van ’n Bolandse wynkelder vir skemerkelkiedoeleindes uit die Montagu-omgewing nog in die kattebak van die 404 en by die uitgangshek is ons roetinegewys voorgekeer, die voertuig is deursoek en is ons (tot ons verbasing) van onwettige dranksmokkelary in Beira se hawe aangekla. Na ondervraging wat soos ’n ewigheid gevoel het deur twee hawe-inspekteurs en ander offisiere, is ons goedgunstiglik en genadiglik vrygelaat.

Op 11 Mei 2020 skryf Sarel van der Walt ’n rubriek in Die Burger met die titel “Islamitiese militante houvas in dele van Mosambiek”. Hy beskryf ’n reeks gewelddadige aanvalle in noordelike Mosambiek deur Islamitiese militante wat as ’n (waarskynlike) wegbreekgroep van Renamo beskou word. Die Zimbabwiese weermag is op ’n gereedheidsgrondslag geplaas, omdat die militante die grens tussen Mosambiek en Zimbabwe kan oorsteek. Baie plaaslike inwoners in Noord-Mosambiek, veral in die provinsie Cabo Delgado, het reeds tydens hierdie aanvalle gesterf en meer as 150 000 mense in die streek is ontwortel. Die vraag word gevra wat die rol sou kon wees van die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap in hierdie verband. Moet ’n gesamentlike militêre operasie van stapel gestuur word om die geweld te onderdruk? Watter bedreiging hou hierdie beweging vir Suidelike Afrika in? Die militantes beheer reeds die strategiese hawe Mocimboa da Praia. Hierdie beweging handhaaf ’n radikale siening van Islam. Kan dele van Suider-Afrika hierdeur gedestabiliseer word? Die Mosambiekse regering het reeds hulp uit Rusland by wyse van ’n privaat militêre organisasie, die Wagnergroep, ontvang, maar laasgenoemde het tydens die eerste konfrontasie met die rebelle lelik in die stof gebyt, die aanwending van militêre hommels en ander gevorderde wapentoerusting nieteenstaande.

Van der Walt (2020) berig weer op 5 Junie dat die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap die situasie in Noord-Mosambiek indringend bespreek het, en indien die Suid-Afrikaanse weermag versoek sal word om in Cabo Delgado te gaan veg, die land dit beslis nie alleen kan doen nie.

’n Vinnige oorsig van enkele ander onlangse berigte wat onlangs (tussen 24 Maart en 5 Junie Mei 2020) oor hierdie onderwerp gepubliseer is, bring die volgende inligting na vore:

Adrian Frey rapporteer op die webtuiste van die Club of Mozambique dat die gewapende groepe onder die dekmantel van radikale Islam jongmense in noordelike Mosambiek as lede vir hul splintergroepe werf. Die werwing vind plaas onder die plaaslike bevolking wat tradisioneel as gematigde Moslems beskou word. Die geteikende jongmense is uiters armoedig, hoofsaaklik werkloos en laag- of ongeskoold. Hulle word gevolglik maklik deur beloftes van werksgeleenthede en studiebeurse omgekoop. Die hoofdoel van hierdie insypeling is om radikale Islamitiese wetgewing in die noorde van Mosambiek van stapel te stuur.

Alex Vines wys in die Mail & Guardian daarop dat die aanvalle deur Jihadiste wat met die Islamitiese Staat geaffilieer is, uitgevoer word. Tydens die aanval op Quissanga is 30 lede van die Mosambiekse veiligheidsmagte gedood. Die vlag van die Islamitiese Staat is tydens hierdie aanval vertoon. Reeds in 2017 was die dorp vir ’n kort periode beset deur Ahlu Sunnah Wa-Jama (of al-Sunnah), wat die begin van die terreuraanvalle ingelui het. Sedertdien het die militantes se selfvertroue toegeneem. Die Mosambiekse veiligheidsmagte se moreel is laag en hul aptyt vir gewapende konfrontasie ontbreek. Die verliese in Mocimboa da Praia en Quissanga het die troepe gedemoraliseer.

Frey berig weer op 12 Mei op die Club of Mozambique se webtuiste oor ’n nuwe aanval op die dorpie Tapara in die Quissanga-distrik. Tien huise is afgebrand en ’n motorfiets is gesteel, maar daar was geen ongevalle nie.

Volgens Fidelis Mbah (kyk aljazeera.com, 4 Maart 2020) is Mocimboa de Praia ongeveer 90 km vanaf die natuurlikegasprojekte van die internasionale maatskappye Exxon, Mobil en Total geleë. Die geskatte kapitaalwaarde van hierdie beleggings in noordelike Mosambiek beloop ongeveer 60 miljard Amerikaanse dollar. Die aktiwiteite van die militante bedrywighede hou vir hierdie soort projekte vanselfsprekend groot risiko’s in.

Agence France-Presse haal die volgende opspraakwekkende uitlating aan wat deur een van die militante leiers geuiter is: “We don’t want a government from unbelievers, we want a government from Allah.” Hierdie waarskuwing som die letter en gees van die verslaggewing in enkele onlangse pers- en elektroniese berigte goed op.

Matsinhe en Valoi (2019), navorsers van die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), bied ’n opsomming van die feitelike situasie in Mosambiek op grond van ’n navorsingsprojek wat deur die ISS onderneem is. Die aanvalle word gerig op die armste gemeenskappe in Mosambiek. Dit is hoofsaaklik plaaslike jeugdiges wat ’n alternatiewe vorm van die Islamitiese geloof bedryf. Die plaaslike imams verwerp hierdie nuwe vorm van ekstremisme en het die betrokke jeugdiges uit die moskees verban. Aanvanklik het die Mosambiekse regering die toenemende radikalisering geïgnoreer, maar het met verloop van tyd met militêre ingryping gereageer om die opstand te onderdruk. Die plaaslike bevolking beweer dat infiltrasie oorgrens met Tanzanië plaasvind en dat al-Shabaab die Mosambiekse jeug radikaliseer. Armoede, swak geletterdheid en min of geen dienslewering nie skep ’n bevorderlike teelaarde vir ekstremisme. Die jeug beweer dat werksgeleenthede in die nabygeleë natuurlikegasbedryf aan mense van ander provinsies, en veral van Maputo toegeken word.

Die volgende aksies word deur die ISS aanbeveel: Die Mosambiekse regering behoort doelmatig in plaaslike infrastruktuur te belê; die inwoners van Cabo Delgado en Quissanga (wat as vergete provinsies bestempel word) behoort by die res van die bevolking geïntegreer te word; belê in die onderwys; diversifiseer die ekonomie om ekonomiese, politieke en sosiale uitsluiting te voorkom; verklaar ’n amptelike noodtoestand; die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap en die Afrika-Unie behoort ’n weldeurdagte beleid op te stel en te implementeer om ekstremistiese geweld in die streek te voorkom.

Die pad vorentoe vir Mosambiek en die impak van Islamitiese radikalisering op sy noordelike gebiede is beslis nie ’n kwessie van maanskyn en rose nie. Die vraagstuk is gegrond in die interaksie van komplekse maatskaplike, ekonomiese, politieke en ideologiese faktore. Dit is ’n komplekse sisteem. Sonder visionêre en vernuwende leierskap kan Mosambiek se vergete provinsies dalk verlore provinsies word.

Bibliografie

Agence France-Presse. 2020. Extremists in Northern Mozambique declare goal of caliphate. Voanews.com, 13 April. 

Frey, A. 2020. Mozambique attacks: Groups use “cover of Islam” to gain acceptance ‒ Islamic Council. Club of Mozambique, 4 Mei. 

Frey, A. 2020. Mozambique: Insurgents attack village in Quissanga district. Club of Mozambique, 12 Mei. 

Machaqueiro, MA. 2013. Foes or allies? Portuguese Colonial Policies towards Islam in Mozambique and Guinea. The Journal of Imperial and Commonwealth History, 41(5):843–69. 

Matsinhe, DM en E Valoi. 2019. The genesis of insurgency in Northern Mozambique. Pretoria: Institute for Security Studies. 

Mbah, F. 2020. “We are dying”: Residents lament attacks in Northern Mozambique. Aljazeera.com, 24 Maart.

Van der Walt, S. 2020. Islamitiese houvas in dele van Mosambiek. Die Burger, 11 Mei, bl 9.

Van der Walt, S. 2020. SA sal hulp nodig hê in Mosambiek gevegte. Die Burger, 5 Junie, bl 2.

Vines, A. 2020. The insurgency in Northern Mozambique has got worse. Why? Mail & Guardian, 31 Maart. 

  • 3

Kommentaar

  • Insiggewend en onrusbarend. Byna onder ons neuse en gevaarlik naby. Wat my onrustig maak is in die vorige bedeling was daar 'n radikale Moslem gedrewe organisasie in die Kaap omgewing bedrywig. Wat het van hulle geword of wie het hulle inkorporeer. Die persone in beheer is te besig met hul eie kattekwaad om aan ander gebeure aandag te skenk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top