Die Islamitiese verset in Cabo Delgado in Noord-Mosambiek

  • 4

Foto van Mosambiekse gebou: Pexels.com; foto’s van kaarte – verskaf (dieselfde foto’s van die kaarte in die collage hierbo waarop die bewoording duidelik sigbaar is, verskyn weer laer af ondertoe in die artikel)

Onrus in Mosambiek

Mosambiek was vir amper 500 jaar ’n Portugese kolonie. Vóór daardie tyd was daar ook Swahili-stadstate onder Arabiese invloed in die kusgebiede tussen Sofala in die suide (digby Beira) en Cabo Delgado (op die suidoewer van die Rovumarivier) in die noorde. Hierdie handelsentra het verder noord tot by Mogadishu gestrek. Dit het plekke soos Kilwa, Zanzibar, Pemba, Mombasa, Lamu en Mogadishu ingesluit. Dié handel was gefokus op goud, ivoor en slawe. Vandag is dit olie en gas.

Die handelaars was afkomstig van Indië, Persië en Arabië, spesifiek van Muscat en Oman. Die handelaarsklasse was altyd oorwegend Moslems onder die gesag van die Sultanaat van Zanzibar. Die Portugese invloed dateer sedert die 16de eeu. Hulle was en is Europees en Katoliek. Die gebiedsnaam Cabo Delgado is ook Portugees. Die begin van die einde van die Portugese bewind in Mosambiek was toe Frelimo-vryheidsvegters in September 1963 ’n Katolieke sendingstasie in Cabo Delgado aangeval het. Ná ’n bloedige stryd van 12 jaar het Mosambiek in 1975 as ’n eenparty- Marxistiese staat onafhanklik geword. Dit het egter nie vrede gebring nie.

Die Westers-gesteunde Renamo-versetbeweging onder die leiding van Alfons Dhlakama het ’n burgeroorlog in die "Renamo-driehoek" (Beira, Tete en Nacala) ontketen wat tot in 1992 geduur het. Die Vatikaan het, namens die Katolieke Kerk, ’n bemiddelingsrol gespeel. Vrede is herstel. ’n Veelpartystelsel met ’n markgedrewe ekonomie is ingestel. Buitelandse beleggers het toegetree, veral nadat olie en gas in Cabo Delgado ontdek is. Drie jaar gelede, in 2017, is die stabiliteit van Mosambiek nogmaals versteur met die nuus dat ’n "geheime" Islamitiese versetgroep vir nuwe terreur in Cabo Delgado verantwoordelik is. Plaaslike etniese groepe, soos die Makonde, is Moslem. Intussen het Armando Guebuza president geword (2005–2015). Onder sy leiding het groot korrupsieskandale rugbaar geword. Die belangrikste hiervan was dat die Guebuza-regering lenings van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) ontvang het vir spesifieke doeleindes (byvoorbeeld vir visserye), maar dat dié gelde in die sakke van Frelimo-elites beland het. In 2016 was Mosambiek se regeringskuld US$10,4 oftewel R160 miljard. Die uiteinde was dat die Mosambiekse regering geswartlys is deur internasionale finansiële instellings soos die IMF.

Daar het egter ’n bewindsverandering gekom.

Ná die verstryking van die Guebuza-bewind in 2015 is Filipe Jacinto Nyussi van Cabo Delgado, ’n Makonde van geboorte, as president ingehuldig. In 2020 is hy herverkies. Die sanksies teen die regering van sy voorganger is egter nie opgehef nie. Intussen is die belangrikste opposisieleier, Alfonso Dhlakama, in 2018 oorlede. Daar was dus ’n "leierloosheid" in die land. Die ekonomie het verder verswak. Die grootste ligpunt was egter die ontdekking van enorme gasreserwes in Cabo Delgado. Dit is in hierdie gebied waar ’n Islamitiese insurgensie na bewering in 2017 uitgebreek het. Dit het in die bewindstyd van Filipe Nyussi plaasgevind.

Drie vrae is relevant: Wie of wat is die plaaslike bevolking in hierdie gebied? Wie is die nuwe beleggers? En wie of wat is verantwoordelik vir die insurgensie? Die antwoorde is dalk nie so maklik nie.

.........

Drie vrae is relevant: Wie of wat is die plaaslike bevolking in hierdie gebied? Wie is die nuwe beleggers? En wie of wat is verantwoordelik vir die insurgensie? Die antwoorde is dalk nie so maklik nie.

..........

Die plaaslike bevolking van Cabo Delgado

Die plaaslike bevolking van hierdie gebied is die produk van die "stormloop" vir Afrika-gebiede wat in die 1880’s tussen Portugal, Brittanje en Duitsland plaasgevind het. So het Mosambiek ’n baie lang kuslyn van 2 470 km wat strek vanaf die Rovumarivier – die suidelike grens van Tanzanië – tot by die Ingwavumarivier aan die noordelike grens van KwaZulu-Natal. Vanuit ’n etniese perspektief is daar minstens drie streke in Mosambiek: die Nguni-sprekendes van die suide wat uit die Shangaan en Ronga bestaan en woonagtig is tussen die Komati- en Save-riviere (Sabi), die Shona-sprekendes tussen die Save- en Zambezi-riviere in die sentrale gedeeltes (die monding is by Beira) en die Swahili-sprekendes tussen die Nampula-spoorlyn in die suide en die Rovumarivier wat ook die grens met Tanzanië in die noorde is. Dit sluit die Niassa- en Cabo Delgado-provinsies in wat ook albei Swahili-sprekend is. Dis ook die huidige konflikgebied met ryk olie-en gasontdekkings.

Die etniese groepe wat deel vorm van die Cabo Delgado-provinsie is die Makua, Lomwe, Yao en Makonde wat ook in Tanzanië en Malawi aangetref word. Die meeste is, soos vermeld, Swahili-sprekendes wat meestal Moslems is. Die grootste dorpe in hierdie "Swahililand" is die kusdorpe van Pemba en Mocimboa da Praia wat sedert die ontginning van olie en gas bedrywige hawedorpe geword het. Dit is geloofwaardig dat Islamitiese terreur in Cabo Delgado kan ontstaan, veral in die lig daarvan dat die res van die land hoofsaaklik Katoliek is.

Kaart: verskaf

Wie is die beleggers?

Die belangrikste beleggers in die olie- en gasvondste in Cabo Delgado is die Franse oliemaatskappy Total en die Amerikaanse oliemaatskappy Mobil. Tot redelik onlangs was Sasol ook bedrywig met eksplorasiewerk in veral die Mosambiekkanaal, maar hy het onttrek. Die redes vir Sasol se disinvestering is onduidelik, maar het waarskynlik te doen met onwinsgewendheid in ’n tydperk van relatief lae olie- en petrolpryse en/of die politieke risiko van Islamitiese terreur in die streek. (Die Sasol-eksplorasiewerk in die "Brulpadda"-gebied van die Indiese Oseaan suidoos van Mosselbaai gaan steeds voort.)

Wie is die insurgente?

Daar is tergende vrae rondom wie die opstandelinge in Cabo Delgado is. Dit word dikwels beskryf as ’n "geheime organisasie" met "gesiglose leierskap" wat twee name het: Al-Sunna wa Jamah (ASJ) en Ansar al-Sunna (AAS). Beide dui op Somaliese konneksies. Hieruit kan afgelei word dat hulle nie Sjia-Islamiste soos die Ajatollas (Iran), Hezbollah (Lebanon) of Houthi (Jemen) is nie.

Die plaaslike Moslems is ’n vertakking van die Soenni/Soefi-"broederskappe" in Afrika en elders waarvan Boko Haram in Nigerië, die Baath in Irak en al-Sjabaab in Somalië (die Unie van Islamitiese howe) die vernaamstes is. In die Moslemwêreld is daar Kalifate en Sultanate, in dié geval die Sultanaat van Zanzibar. Die al-Sunnah wa Jamah (ASJ) wat in Cabo Delgado aktief is, val ook in die Oos-Afrikaanse Kalifaat wat strek vanaf Mogadishu in Somalië tot in Sofala (digby Beira in die suide). Dit sluit kusstede soos Mombasa, Zanzibar en Mocimboa da Praia in. Die insurgente kon enige gegriefdes gewees het.

Wie beveg die insurgente?

’n Kardinale aspek is of die plaaslike bevolking noodwendig Islamitiese volgelinge is en/of Frelimo-ondersteuners is, onder andere omdat Filipe Nyussi, die president, ’n gebore Makonde van Cabo Delgado is. Daar sou verwag kon word dat die Frelimo-regering ook ’n goeie begrip van plaaslike omstandighede moet hê omdat hulle self die antikoloniale bevrydingstryd in 1963 in dieselfde gebied begin het. Die huidige Frelimo-weermag van Mosambiek sou dus ook met die plaaslike bevolking kon assosieer omdat hulle dit ken. Hulle is egter nie die hoofspeler in die sekuriteitsopset nie. Die WHAM-doktrine ("winning hearts and minds") is vir hulle grootliks irrelevant. Dit is omdat hulle nie ’n primêre rol speel nie, omdat die teeninsurgensiewerk deur grootliks private militêre maatskappye ("huursoldate") wat van buite af gekontrakteer is, onderneem word.

Volgens onbevestigde berigte is daar drie private militêre maatskappye wat gekontrakteer is: die Suid-Afrikaanse Dyck Advisory Group, die Amerikaanse Blackwater Group van Erik Prince en die Russiese Wagner Group. Wie hulle finansier, is onseker. Frelimo of die oliekorporasies? Waar is hulle in die gebied? Die kusdorpe of gasvelde? Beskerm die "huursoldate" die plaaslike bevolking of word hulle deur die buitelandse oliekorporasies gehuur om slegs die installasies te beskerm?

.........

Dit alles dui op komplekse vraagstukke wat "Peace, Profit or Plunder" betref. ’n Faktor wat wel verander het, is die wêreldwye daling van kommoditeitspryse, soos dié van olie van $200 per vaatjie ruolie ’n dekade gelede tot ongeveer $45 vandag.

..........

Dit alles dui op komplekse vraagstukke wat "Peace, Profit or Plunder" betref. ’n Faktor wat wel verander het, is die wêreldwye daling van kommoditeitspryse, soos dié van olie van $200 per vaatjie ruolie ’n dekade gelede tot ongeveer $45 vandag. Dit maak die vooruitsigte vir petroleumwinste vir sowel die Mosambiekse regering as die Islamitiese staat veel minder aantreklik. (Dalk is die laer olieprys ’n faktor wat die vrede in Cabo Delgado ’n hupstoot kan gee.)

’n Mens hoop maar net dat die Islamiete in die plek van goedkoper olie en gas nie op ’n winsgewender praktyk soos renosterstropery aan die westelike grens van die Maputo-provinsie in die Krugerwildtuin sal besluit nie. Dit is tot onlangs ooglopend deur die skuldbeleërde Frelimo-regering as ’n inkomstegenererende praktyk beskou. Dié winste sou vir die weermaguitgawes in die Cabo Delgado-oorlogsterrein aangewend word. Dis egter te min. Maar hoekom al die geheimhouding?

Fopnuus?

Daar is deesdae ’n bykans ondenkbare scenario wat veral joernaliste aan die dink gesit het: Hoe werk ’n "geheime oorlog" met "gesiglose leierskap"? Volgens hierdie siening is berigte van die Islamitiese "geheime oorlog" in werklikheid fopnuus wat feitlik uitsluitlik deur spreekbuise van die Frelimo-regering in Maputo opgedis word ten einde internasionale simpatie vir hulle saak teen "Islamitiese terreur" te wen. Die skuld is groot en die IMF se swartlys geld steeds. Hiervolgens is berigte oor afgebrande strandoorde, onthoofde plaaslikebevolkingslede en ander misdade teen die mensdom blote versinsels. Dis dalk Mosambiekse soldate wat hierdie misdade pleeg en voorgee dat dit IS is.

Na drie jaar van Islamitiese verset is dit steeds onbekend wie die leiers is: ingevoerde Islamiste van Somalië, plaaslike gegriefdes, of denkbeeldige Frelimo-opstandelinge. Die feit is dat Amnesty International, die Rooikruis, die VN se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge en geloofwaardige nuusagentskappe soos Reuters, Plataforma Media en Human Rights Watch min toegang tot hierdie konflikgebied het, steeds verbied word om met inwoners te praat. Dit punt is: Wat steek die Frelimo-regering weg?

Die sekwensie van gebeure is nogal verdag: ’n Korrupte bewind met groot staatskuld in Mosambiek maak in 2015 plek vir ’n nuwe regering wat al die finansiële skuld van die korrupte bewind erf; wat nou?

.........

Die sekwensie van gebeure is nogal verdag: ’n Korrupte bewind met groot staatskuld in Mosambiek maak in 2015 plek vir ’n nuwe regering wat al die finansiële skuld van die korrupte bewind erf; wat nou?

..........

Skielik breek daar in Oktober 2017 ’n "geheime oorlog" uit: Die skuldiges is die "Cabo Delgado Islamiete". Hoekom is daar nie oorgrensvlugtelinge in Tanzanië nie? Dit is ook onbekend wie die hoofleier is. Dis vreemd, want almal het altyd geweet van Mao Zedong in China, van Wladimir Lenin in Rusland, van Ché Guevara in Argentinië en Fidel Castro in Kuba, van Ben Bella in Algerië, van Jomo Kenyatta in Kenia, van Shekau in Boko Haram en van Nelson Mandela in Suid-Afrika. Die punt is: In enige bevrydingstryd is groot name altyd bruikbare "handelsmerke" en nuttige oorlogspropaganda. Hoekom gebeur dit nie in Cabo Delgado nie? Iets is nie pluis nie.

Lees ook die volgende artikel in LitNet Akademies (Geesteswetenskappe):

Is die skrikbeeld van kernterreur geregverdig?

 

 

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    David Willers

    Ek sit hier in die Verenigde Koningryk. Het nog nie so 'n helder analise van die komplekse situasie in die Britse pers gelees nie. Dankie Willie!

  • Ek is dankbaar vir hierdie insiggewende artikel en die knap analise wat die situasie onder ons aandag bring. Dis kommerwekkend dat dit ons buurstaat is en ons eie media nog net bolangs nuusies afgeskep het. Baie dankie Willie.

  • Op 3 Januarie 2021 skakel ek oor na 'n buitelandse TV-kanaal op DSTV en sien hoe triomfantlik Isis in talle voertuie in die noorde van Mosambiek hul wapens en vlae vertoon.
    Niks op plaaslike TV of kommentaar van die ANC-regering nie, so amper as 'n mens niks sê nie die gevaar sal verdwyn.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top