Gesprek: Multimodale reflektiewe leerdersportefeuljes (MRL) en selfgerigte lees

  • 0

Ronel van Oort (Foto: verskaf)

Onderwysers vra dikwels: Hoe kan ek my leerders se leeservaring verryk? Hoe kan ek letterkunde en leesgeletterdheid kreatief onderrig en dit steeds met die KABV se vereistes integreer? Watter ander soorte tekste kan ek by ’n leesprogram insluit? Waar kan ek praktiese idees kry om leerders toe te rus om selfgerig te lees en oor hulle leeswerk na te dink en dit te deel met ander lesers? Wat is ’n leesportefeulje – is dit dieselfde as ’n leeslys, ’n leesjoernaal of ’n leesdossier?

Ronel van Oort van Noordwes-Universiteit het ook hierdie vrae gehad en intensief daaroor navorsing gedoen om antwoorde te soek. Hier deel sy dit graag en gee praktiese voorbeelde vir onderwysers. Lees gerus haar artikel in LitNet Akademies se Opvoedkunde-afdeling.

Ronel is die skrywer en medeskrywer van vier Afrikaans-handboekreekse vir laer- en hoërskole, asook medeskrywer van ’n handboek vir Afrikaans-metodiek-studente. Sy is die afgelope 12 jaar die leier van ’n gemeenskapsprojek waar haar Afrikaans-metodiek-studente Afrikaans (Tweede Addisionele Taal) aan landelike leerders in haar plaasskooltjie onderrig. Sy het ook in 2018 ’n handpopprojek van stapel gestuur.

Ronel, as voormalige onderwyser en dosent by die Universiteit Stellenbosch wat onderwysstudente geleer het hoe om Afrikaans te onderrig, is ek opgewonde daaroor dat jy antwoorde kan verskaf aan onderwysers se vrae om sodoende nuwe asem in te blaas in hulle leerders se leesportefeuljes en leeservaring. Kan jy vir ons die hoofsaak van jou navorsing opsom?

Ek bespreek in hierdie artikel die aanwending van benaderings tot die onderrig van voorgeskrewe letterkunde, die toepassing van leesbegripstrategieë tydens die lees van literêre tekste, die ontwerp van gepaste geïntegreerde multimodale reflektiewe leerdersportefeuljes- (MRL-) leeraktiwiteite om sodoende moontlik by te dra tot die verbetering van leerders se leesvaardighede.

Hoe sou jy die navorsing wat jy hier gedoen het, prakties wou implementeer by onderwysers van Afrikaans?

Ek sou graag wou sien dat Afrikaansonderwysers die waagmoed sal toon om hulle leerders tot die samestelling van ’n MRL aan te moedig deur die KABV (2011) en voorbeelde in die artikel as grondslag te gebruik om ’n reeks gepaste, asook kreatiewe en prettige aktiwiteite oor ’n bepaalde literêre genre saam te stel.

Wat is daar reeds in die kurrikulum wat jy raaksien waar hierdie inligting geïntegreer sou kon word?

Luister-, praat-, lees-, kyk- en skryfaktwiteite (by implikasie ook die toepassing van taalstrukture en -konvensies) wat die KABV (2011) vir die onderskeie fases aanbeveel, kan met gemak in die samestelling van ’n MRL onderrig word.

Leerders kan onder andere byvoorbeeld die volgende aktiwiteite in ’n MRL uitvoer:

  • ’n onderhoud (praat) met ’n hoofkarakter van ’n kortverhaal voer, terwyl klasmaats daarna luister
  • ’n e-pos (skryf) of ’n WhatsApp-stemnota (praat) aan een van die karakters stuur
  • hulle verbeel hulle is een van die karakters en dié karakter se dagboekinskrywing van ’n aangename/onaangename dag skryf
  • ’n koerantberig oor die hoofgebeure/konflik in ’n literêre teks skryf of as omroeper radionuus lees en na mekaar se nuusberigte luister
  • karakters in ’n literêre teks visueel (kyk) voorstel.

Soos daar uit die bogenoemde voorbeelde gesien kan word, bied elke literêre teks unieke en oneindige moontlikhede tot geïntegreerde leeraktiwiteite.

Afrikaans-metodiek-studente in Ronel van Oort se plaasskooltjie (Foto: verskaf)

Van watter struikelblokke is jy bewus wat die proses in die vorige vraag sal bemoeilik? Met ander woorde, wat is die uitdagings in die huidige onderrigpraktyk hiervoor?

Eerstens die oorvol kurrikulum, min tyd wat in die letterkundeklas aan die lees en voorlees van tekste bestee word, swak leesvermoëns van leerders, ongemotiveerde en moeë onderwysers.

Hoe kan hierdie navorsing se praktiese moontlikhede aan vakadviseurs oorgedra word?

In die eerste plek hoop ek dat vakadviseurs artikels in vaktydskrifte lees om op hoogte van nuwe navorsing te bly. In die tweede plek hoop ek dat vakadviseurs die samestelling van ’n MRL aan die Departement van Basiese Onderwys (DBO) kommunikeer. In die derde plek hoop ek dat die DBO die samestelling van ’n MRL as deel van die kurrikulum oorweeg.

Wat sou jy inbou in ’n indiensopleidingskursus hieroor vir onderwysers van Afrikaans?

Ek sou graag dat Afrikaansonderwysstudente tydens hulle opleiding, asook onderwysers tydens ’n indiensopleidingkursus, self ’n leesdossier oor (’n) bepaalde literêre teks(te) saamstel. Ek reken indien dit gedoen word, kan Afrikaansonderwysstudente en -onderwysers sien hoeveel genot dit kan verskaf.

Hoe het dit gebeur dat jy by die Nederlanders uitgekom en geleer het?

Ek het die Nederlandse leesdossiermodel raakgelees terwyl ek navorsing gedoen het oor leesmotivering. Dit het my op twee wyses geïnteresseer. Eerstens motiveer/dwing die samestelling van ’n leesdossier leerders om literêre tekste te lees en tweedens word daar van leerders verwag om geïntegreerde skryfaktwiteite in ’n leesdossier te gebruik.

My oorwoë mening is dat leerders gemotiveer moet word om literêre tekste te lees. ’n Aangepaste multimodale reflektiewe leerdersportefeulje (MRL), gegrond op riglyne wat die Nederlandse leesdossier bied, gepaste onderrigbenaderings tot letterkunde (soos konstruktivistiese en resepsie-estetika-benaderings) asook die gebruik van verskillende leesstrategieë bied moontlikhede om leerders te motiveer om literêre tekste te lees.

Voorts is ek van mening dat die samestelling van ’n MRL vir Suid-Afrikaanse leerders (waarin hulle aan KABV-gesteunde en skeppende leeraktiwiteite deelneem) moontlik gemotiveer kan word om literêre tekste te lees. Verder skep die samestelling van ’n MRL die verwagting dat dit leerders tot selfgerigte lees kan inspireer.

Elke literêre teks, of dit ’n gedig, roman, kortverhaal of drama is, bied in hierdie verband oneindige moontlikhede vir geïntegreerde leeraktiwiteite.

Suid-Afrikaanse letterkundeonderwysers hoef glad nie die Nederlandse leesdossiermodel tot op die letter na te volg nie, maar kan op eie inisiatief gepaste en skeppende leeraktiwiteite (wat op ’n bepaalde literêre teks van toepassing is) vir leerders saamstel.

Voordat daar aan die samestelling van ’n MRL gedink kan word, moet die letterkundeonderwyser eerstens aandag gee aan die skepping van ’n gunstige leeromgewing en ’n leeskultuur, ’n positiewe ingesteldheid teenoor lees bewerkstellig, gepaste tekskeuses vir leerders kies en van tegnologie gebruik maak.

Watter ooreenkomste het jy gesien by hoe die Nederlanders leesportefeuljes implementeer en wat daarvan moontlik is by die onderrig van Afrikaans?

In ’n tradisionele Nederlandse leesdossier word onder andere die volgende tekste geïntegreer:

  • ’n leeslys (van gelese verhale, gedigte en dramas)
  • resensies van literêre tekste
  • inhoude van klasbesprekings oor ’n literêre werk
  • verdiepingsopdragte (soos verhaalontleding, bestudering van verhaalelemente en -struktuur, karakterbeskrywing, milieutekening, chronologie of die afwyking daarvan)
  • kreatiewe opdragte.

Nederlandse kenners op die gebied van leesdossiersamestelling beskou die verdiepingsopdragte as die hart van die leesdossier, maar stel dit ook baie duidelik dat aktiwiteite wat slegs uit verhaalontleding bestaan, nie die doel van die leesdossier bereik nie.

In die samestelling van ’n MRL moet leerders eerder die funksies en doel van byvoorbeeld

  • ’n sekere wyse van karakterbeskrywing en ’n bepaalde milieutekening in literêre tekste raaksien, en
  • die doel van paarrym, alliterasie, simbole, stylfigure, ens in poëtiese tekste ontdek.

Voorbeelde van geïntegreerde kreatiewe skryfaktwiteite wat in ’n MRL aangewend kan word, hang baie af van die uniekheid van die betrokke literêre teks. Enkele voorbeelde behels:

  • die ontwerp van ’n omslag vir die boek
  • ’n visuele voorstelling van die titel van ’n verhaal of gedig
  • sketse of beskrywings van karakters se uiterlike voorkoms
  • ’n koerantberig wat oor die gebeure in die verhaal berig
  • ’n brief aan een van die karakters
  • die samestelling van ’n breinkaart oor byvoorbeeld die verhaal- of gediginhoud, karakters, gebeure, temas en die boodskap wat in die literêre teks voorkom.

Wat is egter die verskille wat jy raaksien tussen die onderrigwerklikheid in Nederland en ons s’n hier ter lande?

Die onderwyswerklikhede van Suid-Afrika en Nederland is geensins vergelykbaar nie as gevolg van vele faktore. ’n Belangrike faktor is die verskillende sosio-ekonomiese omstandighede van die lande. Dit beïnvloed onder andere leerders se toegang tot literêre tekste.

Literêre tekste is geredelik in Nederlandse huise, klaskamers en biblioteke beskikbaar. Verder nooi gereelde kleurryke boekuitstallings in boekwinkels Nederlandse ouers (wat oor genoegsame fondse beskik) uit om literêre tekste vir hulle kinders aan te koop.

In Suid-Afrika verrig uitgewers van kinder- en jeugboeke wel ’n belangrike taak in skole om leerders tot lees te motiveer. Uitgewers bring skrywers en hulle boeke fisies na skole, maar dit is ongelukkig nie vir die meerderheid skole beskore nie.

In Nederlandse skole word daar van leerders verwag om meer literêre tekste per jaar te lees as wat van Suid-Afrikaanse leerders verwag word. Daarom verkry Nederlandse leerders groter blootstelling aan die Nederlandse literêre kanon as Suid-Afrikaanse leerders aan die Afrikaanse literêre kanon.

Jy is ’n kenner op die gebied van Afrikaansonderrig, waarvan al die handboeke waarvan jy skrywer of medeskrywer was, getuig. Is daar nuwe navorsing op jou horison – dalk weer ’n handboek wat jou bevindinge kan integreer? Of ’n artikel?

Ek en my kollega, Elize Vos, is tans besig met ’n artikel oor geïntegreerde konstruktivistiese onderrigbenaderings om jeugverhale selfgerig aan Afrikaans Huistaalleerders te fasiliteer.

 

Lees ook:

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top