
Gesprek van Estelle Kruger met Ronel van Oort oor haar artikel:
Wat was jou eie ervaring in die onderwys voordat jy die akademie betree het?
Ek was vir 15 jaar ’n Afrikaans- en Geografie-onderwyseres voordat ek by my universiteit aangestel is. Dit was vir my wonderlike jare en die besef van hoe ’n groot verantwoordelikheid dit is om leerders te onderrig, het my immer diep getref. Jy werk met kinders vir wie jy die lewe kan oopmaak, vir wie jy hoop kan gee, selfvertroue kan gee, kan vertroos ... Ek het ook altyd onthou dat as jy aan leerders hulle huistaal onderrig, jy die naaste van alle vakke aan hulle harte kom.
Jou PhD se fokus op die inklusiewe ontwikkelingsgeskiedenis van Afrikaans sedert 1652 het reeds aangetoon dat jy ’n belangstelling in die historiese ontwikkeling van sake het. Vertel asb vir ons waar hierdie belangstelling van jou vandaan gekom het.
Jy is heeltemal reg, Estelle. Ek dink die Suid-Afrikaanse sosio-historiese en -politieke omstandighede was/is bepalend van hoe ’n verskeidenheid sake verloop het/steeds verloop. Die sosio-politieke milieu aan die suidpunt van Afrika sedert 1652 het byvoorbeeld ’n bepalende rol in die ontwikkeling van Afrikaans en haar variëteite gespeel, maar ook ten opsigte van wat deur die jare in ons Suid-Afrikaanse skoolstelsel gebeur het.
My PhD het uit my onderwyservaring voortgespruit. Afrikaansonderwysers moet soms poësie wat in variëteite van Afrikaans (soos Kaapse Afrikaans en Griekwa-Afrikaans) geskryf is, onderrig. Sou ’n Afrikaansonderwyser egter gevra word waar dié variëteite vandaan kom of hoe dit ontstaan het, weet niemand nie ... Ek het eerstens besef dat indien onderwysers (en leerders daarby geïmpliseer) slegs basiese kennis van die ontwikkeling van Afrikaans sedert 1652 in die Afrikaansklas kan verkry, die oorsprong van hierdie wonderlike variëteite vir hulle baie meer betekenisvol word, en tweedens dat dié kennis tot versoening tussen groepe in Suid-Afrika kan bydra.
Wat is die agtergrond van jou betrokkenheid by hierdie studie? Hoe het jy bewus geraak van die probleem dat die KABV (2011) vir Afrikaans (Huistaal) moontlik nie opvoedkundig- en sosio-ekonomiesverantwoordbaar is nie?
Ek doseer al die afgelope 17 jaar onder andere metodiek vir studente wat Afrikaans as hoofvak neem. Dit beteken dat ek ook deur al die kurrikula-veranderings en -herverpakkings gegaan het. Ek het in die eerste plek gevind dat studente wat met kurrikula gewerk het wat deur ’n prosesbenadering tot kurrikulumontwerp beïnvloed is, baie meer kreatiewe en innoverende leerervarings saamgestel het; baie meer moeite gedoen het; en goeie vakkennis besit het. Dié studente moes vakinhoude baie goed ken om suksesvol te kurrikuleer en betekenisvolle leervarings te ontwerp. Tweedens moes hulle die leerders voor hulle baie goed ken om toepaslike lesse vir leerders met verskillende belangstellings, sosio-kulturele agtergronde en intelligensies aan te bied. Dit het uitdagende voorbereiding geverg, maar hulle het die uitdaging aangegryp en dit het die beste in hulle na vore laat kom. Studente wat met ’n kurrikulum werk wat in hoofsaak deur ’n produkbenadering tot kurrikulumontwerp beïnvloed is, steun swaar op die handboek en kom daarsonder onseker voor. Die aanbieding van lesse aan die hand van die handboek veroorsaak voorspelbaarheid en dat hulle hulle voorbereiding afskeep. Dit voel vir my hulle ontbreek ’n bietjie aan entoesiasme ...
In verband met die opvoedkundig- en sosio-ekonomiese verantwoordbaarheid meen ek met die KABV se voorskriftelikheid, dat dit streng kalendertye bevat en oral in die land op eenvormige wyse aangebied word – so ook die performatiewe aard van onderwys vandag – bestaan die moontlikheid dat leerders dalk nie as individue met verskillende intelligensies, agtergronde, belangstellings, toekomsverwagtings en ideale geag word nie. Ek dink nie ’n kurrikulum hoef oral in die land op eenvormige wyse aangebied te word nie. Kurrikulum-onderhandeling behoort plaas te vind om die beste onderrig wat ’n bepaalde gemeenskap benodig, te bied.
Hoe het jy gegroei het van ’n produkgebaseerde na ’n prosesgebaseerde kurrikulumbenadering as jy een van die mense is wat grootgeword (skoolgegaan) het met die Sillabus vir Afrikaans Eerste Taal (1985)? Verduidelik asb.
Soos ek in die artikel aandui, kan die KABV (wat oorwegend kenmerke van ’n produkbenadering tot kurrikulumontwerp bevat) as ’n tweesnydende swaard beskou word. Aan die eenkant help dit die onervare onderwyser om kurrikuluminhoude suksesvol te onderrig, maar aan die ander kant kan dit vir die ervare onderwyser wat kurrikulumonderhandeling verkies, baie beperkend wees. Ek het grootgeword met die Sillabi vir Afrikaans Eerste Taal (oorwegend kenmerkend van ’n produkontwerpkurrikulum) en as jong onderwyseres aan die hand daarvan begin Afrikaans onderrig.
Namate ek meer ervare en bekwaam geword het, het ek ook die Sillabi (1985, 1995) as beperkend ervaar. Maar toe vind die U-draai (waarvan ek in die artikel praat) plaas. Dit was ’n radikale verskuiwing weg van die behavioristiese, streng voorskriftelike Sillabi vir Afrikaans Eerste Taal na (sosiaal)kontruktivistiese kurrikula soos Kurrikulum 2005 (Taal, Geletterdheid en Kommunikasie) en die Hersiene Nasionale Kurrikulumverlaring (2002) wat kenmerke van ’n prosesbenadering tot kurrikulumontwerp bevat het.
Onderwysers was nie meer so aan handboeke gebonde nie; hulle kon op professionele wyse self toepaslike en tersaaklike leerinhoude genereer wat relevant, betekenisvol, sosio-maatskaplik en opvoedkundig verantwoordbaar vir die bepaalde klasgroep voor hulle is. Ek dink die feit dat menige onderwysers en handboekskrywers wel begin het om prosesgebaseerd met kurrikulumonderhandeling om te gaan het moontlik te doen met opvoedkundige verantwoordbaarheid.
Wat die KABV (2011) met kenmerke van ’n produkbenadering tot kurrikulumontwerp betref, wil dit voorkom of Afrikaansonderwysers in die huidige Suid-Afrikaanse onderwysbestel se professionele bevoegdheid en sosio-maatskaplike en opvoedkundige verantwoordbaarheid onderspeel word.
Dit is tog moontlik dat huidige kurrikuleerders van Afrikaans (Huistaal) op die hoogste vlak in dieselfde tydraamwerk as jy en jou medeskrywers van hierdie handboeke skoolgegaan het. Waar (wanneer) en hoekom het die begin van die U-draai wat jy beskryf plaasgevind ? Motiveer asb.
Die U-draai het as gevolg van sosio-politieke omstandighede in Suid-Afrika plaasgevind. Die post-apartheidsonderwysowerhede wou ’n nasionale skoolkurrikulum daarstel wat apartheidsonderwys opponeer, ’n simbool van hoop vir nuwe generasies gee (“peoples education for people’s power”), leerders sosio-ekonomies bemagtig en ontwikkel vir ’n demokratiese bestel. Die gevolg was Kurrikulum 2005 wat ten opsigte van kurrikulumontwerp dramaties van die vorige sillabi verskil het.
Dink jy onderwysers is nie (meer) toegerus om (self) as kurrikuleerders op te tree wat prosesgebaseerd onderrig nie? Wanneer het hierdie situasie ontstaan? Was daar fout met hulle opleiding of indiensopleiding?
Ek dink nie ons kan dit voor die deur van onderwysersopleiding lê nie. Tans word ’n nasionale kurrikulum gevolg wat deur ’n produkbenadering tot kurrikulumontwerp beïnvloed is. Dit behels onder andere voorskriftelikheid ten opsigte van kurrikulumvereistes en ’n handboekgedrewe onderrigbenadering. Geakkrediteerde handboekreekse is van so ’n aard dat dit alles bevat wat die nasionale kurrikulum vereis. Ek dink ons Afrikaansonderwysers word dalk tans nie meer genoegsaam uitgedaag nie. Streng kurrikulumvereistes en die slaafse navolging van handboeke kan moontlik daartoe bydra dat onderwysers hulle eie inisiatief, kreatiwiteit, opvoedkundige en sosio-maatskaplike verantwoordbaarheid en selfs professionaliteit ’n bietjie inboet. Onderwysersopleiding moet egter nie uit die oog verloor dat privaatskole nie noodwendig die nasionale kurrikula volg nie, en dat daar genoegsame voorsiening gemaak moet word vir kurrikulumonderhandeling en selfkurrikulering.
Hoe kan onderwysers meer persoonlik en kreatief betrokke raak by die inhoud van die geakkrediteerde handboeke wat hulle verplig is om te gebruik?
Ek dink dat onderwysopleiding ’n kritiese evaluering van die skoolkurrikula en handboeke behoort in te sluit, en dat onderwysstudente moet weet dat verskillende benaderings tot kurrikulumontwerp bepaalde voor- en nadele het.
Dit is duidelik dat daar nie ’n geleidelike oorgang was tussen die produkgebaseerde Sillabus van 1985 en die Uitkomsgebaseerde benadering (NKV 2005) tot taalonderrig nie. Hoe anders sou dit gedoen kon word volgens jou mening?
In retrospeksie sou dit dalk wensliker gewees het indien daar eers ’n hibriede benadering gevolg is (wat ’n kombinasie van ’n produk- en prosesbenadering tot kurrikulumontwerp behels). Maar die sosio-politieke omstandighede van die post-apartheidsera moes, om duidelike verstaanbare redes, ’n radikale verandering ten opsigte van die ou skoolstelsel gemaak het.
Wat dink jy sal die gevolg wees daarvan dat die KABV (2011) se voorskriftelikheid leerders se kreatiwiteit, verbeelding en vernuwende denke inperk?
Ek dink in die eerste plek dalk die voorspelbaarheid van die KABV. Ek het waargeneem dat lesse in die Afrikaansklas daagliks op dieselfde wyse aangebied word en verloop. In die tweede plek die gebrek aan werklike interaksie tussen die onderwyser en leerders en leerders en leerders as gevolg van die tydsgebondenheid van die KABV. Onderrig behoort binne menslike interaksie plaas te vind, maar tans vind hoofsaaklik onderwysgesentreerde onderrig plaas. Derdens dink ek die performatiewe, eerder as die opvoedende aard van onderwys, kan moontlik daartoe bydra dat leerders se kreatiwiteit, verbeelding en vernuwende denke ingeperk word.
Dit is duidelik dat taalonderwysstudente bemagtig moet word om kurrikulumonderhandeling te kan doen. Hoe sou jy hierdie konsep in 25 woorde aan taalonderwysstudente verduidelik om hulle te motiveer?
Betekenisvolle kurrikulumonderhandeling behels interpretasie, herinterpretasie, aanpassing en toevoeging van kurrikula. Unieke klasgroepe, individuele leerders, hulle agtergrond en ervaring word gebruik om kennis en leerderbegrip te konstrueer.
Hoe dink jy kan onderwysers van Afrikaans (Huistaal) bemagtig word om self onderwysinhoude te ontwerp?
Ek dink die heel belangrikste is dat onderwysers se professionaliteit erkenning moet geniet, maar dit impliseer terselfdertyd dat onderwysers hulle professionaliteit moet bewys deur werksetiek en opvoedkundige verantwoordelikheid.
Wat het jy van jouself geleer in die proses van hierdie studie en publikasie van die artikel?
Portuurkritiek het baie daartoe bygedra dat ek ’n baie beter artikel tot stand kon bring.
Is daar enige nuwe navorsingsprojekte op jou horison?
Ek wil graag kyk hoe die onderskeie sillabi en kurrikula poësie deur die afgelope 25 jaar hanteer het.
Kan jy vir ons ’n paar praktiese idees gee om op LitNet te laai vir onderwysers om entoesiasties te wees oor hulle klasaanbiedings, en hul eie en leerders se kreatiwiteit en kritiese denke te laat blom?
- Die belangrikste: Voorkom voorspelbaarheid. Kies gereeld jou eie tekste. Indien die tweeweeklikse siklus ’n koerantberig behandel, kies ’n resente koerantteks oor ’n aktuele onderwerp wat leerders interesseer en wat pas by die betrokke klas voor jou se lewensomstandighede.
- Doen dieselfde met poësie, spotprente, kortverhale, advertensies, ens.
- Ontwerp jou eie leeraktiwiteite (steeds soos wat die kurrikulum vereis), maar aan die hand van ’n interessante werkkaart, skyfies, toepaslike eienskappe, tegnologie (iets anders as die handboek se vrae en die metode wat die handboek gebruik).
- Begin die periode met ’n verrassing. Doen iets wat leerders nie verwag nie. Wys ’n toepaslike prent, video; vra ’n treffende vraag, raaisel; gebruik toepaslike kenmerke; speel ’n gepaste liedjie; dramatiseer ’n gedig, ens.
- Gebruik dikwels strokiesprente en poësietekste om geïntegreerde taal te onderrig.
- Gooi gereeld ’n klip in die bos om leerders tot gesprekke oor daaglikse gebeure uit te daag.
- Probeer om in die Intermediêre en Senior fases jeugverhale volledig saam met leerders deur te lees en laat leerders leesdossiere daaroor saamstel wat geïntegreerde skryfaktiwiteite insluit. (Ons het sulke goeie Afrikaanse jeugskrywers, gebruik hulle tekste.)
- Maak gebruik van koerante in die klas. Daardeur kan op effektiewe wyse byvoorbeeld geïntegreerde taal vasgelê word. Koerante bevat resente taalgebruik, neologismes, interessante uitdrukkings, beeldspraak en figuurlike taalgebruik. Vestig leerders se aandag daarop.
- Doen meer as wat van jou verwag word, dit gaan die moeite werd wees. As jy entoesiasties is oor die taal, sal dit aansteeklik wees.

