Geloofsgesprekke in die Tsitsikamma deur Julian Müller, ’n lesersindruk

  • 6

Titel: Geloofsgesprekke in die Tsitsikamma
Skrywer: Julian Müller
ISBN: 9781991232311
Malherbe Uitgewers
Koop hierdie boek by Graffiti.

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

...
Hierdie belydenis van onder andere Jesus wat gebore is “uit die maagd Maria”, “die opstanding van die vlees” en die “ewige lewe” maak vir baie gelowiges nie meer sin in die wêreld waarin ons vandag leef nie.
...

Die Apostoliese Geloofsbelydenis (of Twaalf Artikels) is een van die christelike geloof se kernbelydenisse. Gelowiges bely dit Sondag na Sondag in kerke regoor die wêreld.

In talle kerke word hierdie belydenis wat ook as die “Apostolicum” bekend staan, Sondae hardop deur die lidmate bely.

Hierdie belydenis van onder andere Jesus wat gebore is “uit die maagd Maria”, “die opstanding van die vlees” en die “ewige lewe” maak vir baie gelowiges nie meer sin in die wêreld waarin ons vandag leef nie.

Ek kon met die beste wil ter wêreld nooit glo dat al die grafte eendag regtig sal oopgaan en triljoene mense, van speenoud tot stokoud, skielik weer uit die dood sal opstaan nie. Waar op dees aarde sal daar in elk geval plek wees vir die spul mense? het ek van jongs af al gewonder.

Daar is vandag derduisende kerklidmate regoor die wêreld wat dit Sondae met hulle tong bely maar ook nie meer in hulle harte glo nie.

Ironies genoeg word daar in die kerk baie meer ruimte toegelaat vir predikante om kritiese vrae oor die Bybel te vra as om die Belydenisskrifte en Formuliere van Eenheid te kritiseer. Laasgenoemde het al meermale veroorsaak dat dominees aangekla word van dwaalleer en verketter word deur die kerk, soos wat onlangs weer met ’n teologiedosent aan die Universiteit Stellenbosch gebeur het.

Elke predikant wat gelegitimeer word in die gereformeerde kerke moet plegtig belowe om nie regstreeks of onregstreeks iets daarteen te leer of te skryf nie. Hulle belowe ook om enige iets wat teen hierdie leer stry, te weerlê en uit die kerk te weer.

Die Twaalf Artikels word nie by die naam genoem in die legitimasie-eed nie, maar wel in die Heidelbergse Kategismus (vraag 22 en 23) wat deel is van die legitimasie-eed.

In Julian Müller se jongste boek Geloofsgesprekke in die Tsitsikamma keer hy die hele appelkar om wat betref die Twaalf Artikels. Hy bespreek dit een vir een by wyse van afsonderlike geloofsgesprekke in die Tsitsikamma met ’n anonieme of denkbeeldige kollega wat met dieselfde vrae as hy daaroor worstel.

...
Dit is die gevolg van jare se toenemende onvergenoegdheid met ou uitgediende leerstukke en ’n drang om geloofwaardig oor geloof te skryf, verduidelik hy.
...

Dit is die gevolg van jare se toenemende onvergenoegdheid met ou uitgediende leerstukke en ’n drang om geloofwaardig oor geloof te skryf, verduidelik hy.

Die teologie wat Müller op die tafel plaas, is in sy eie woorde halfmak. Dit is nie heeltemal mak nie, maar ook nie heeltemal wild nie. Die metafoor “halfmak” word van die skrywer Petra Müller oorgeneem en van toepassing gemaak op die soort teologie wat onderliggend is aan al die gesprekke in sy boek.

Daar word gepoog om soekend en versigtig alternatiewe te bedink wat resoneer met die tradisie én die huidige denkklimaat.

Vir twyfelende gelowiges wat nog soekend is na ’n geestelike tuiste buite die georganiseerde godsdiens, is dit ’n boek wat tot hulle sal spreek. Vorige boeke uit Müller se pen soos Om te mag twyfel en Geloof anderkant Sondag het in my eie en baie ander mense se harte die saadjie help ontkiem om anders te begin dink oor geloof.

Hierdie boek is soos sy vorige boeke bedoel vir daardie groeiende groep gelowiges wat ontnugter en teleurgesteld is deur die kerk. Baie noem hulself steeds christene, maar kan nie meer met die georganiseerde godsdiens en ’n strenge kerklikheid identifiseer nie.

Diegene wat reeds volledig afskeid geneem het van die tradisionele christelike godsdiens, soos Ben du Toit in sy boek God is daar ’n ander antwoord?, sal dit waarskynlik as ’n storm in ’n teekoppie beskou wat die intra-godsdienstige gesprek net nog meer verdeel.

Baie van Müller se standpunte oor belangrike kernsake stem ooreen met dié van Du Toit maar hulle eindpunt verskil. Nie een van hulle glo meer aan byvoorbeeld die maagdelike geboorte, in Jesus se soendood dat hy vir ons sonde gesterf het, sy fisiese en liggaamlike opstanding uit die dood of dat ons eendag bewustelik vir ewig iewers in die hemel of hel sal leef nie.

Albei beskou hulself as post-teïsties maar hulle definisies of uitlewing daarvan verskil van mekaar.

Terwyl Du Toit volledig afskeid neem van ’n Opperwese in enige vorm, kies Müller die roete van die panenteïsme (dit moet onderskei word van panteïsme).

Panenteïsme sê dat die goddelike in alle dinge teenwoordig is. Dit is nie beperk tot die wêreld nie, maar is ook meer as die wêreld. Dit is ’n subtiele, komplekse idee wat nie maklik verduidelik kan word nie, maar dit beskryf in essensie ’n godsbeeld waarin die goddelike geïdentifiseer word met die totaliteit van alles wat bestaan.

Post-teïsme is die oortuiging dat die idee van ’n persoonlike, ingrypende God nie meer nodig, relevant of geldig is in die hedendaagse wêreld nie, veral in die nasleep van wetenskaplike en filosofiese vooruitgang. Dit dui daarop dat mense spiritualiteit of moraliteit kan nastreef sonder die behoefte aan ’n tradisionele konsep van God of bonatuurlike wese.

Dit impliseer nie noodwendig ateïsme of agnostisisme nie, en in Müller se geval eerder ’n verskuiwing in die verstaan ​​van die rol van God of gode in die menslike lewe en die heelal. In plaas van God praat hy van “Die Goddelike” wat hy die onmeetbare “Groot Misterie” noem.

Dat Müller se boek ’n waardevolle bydrae tot die geloofsgesprek lewer vir mense wat nog oor hierdie kwessie worstel, is nie altemit nie. Vir diegene wat reeds afskeid geneem het van gode in enige vorm en die kerk, maak dit weinig verskil.

...
Die krake in die Twaalf Artikels word die een na die ander blootgelê en dit is geen geringe krake nie. Al twaalf die artikels val een na die ander om soos domino’s in ’n ry.
...

Die krake in die Twaalf Artikels word die een na die ander blootgelê en dit is geen geringe krake nie. Al twaalf die artikels val een na die ander om soos domino’s in ’n ry.

Met die lees van die boek kon ek nie help om so ’n bietjie terug te dink aan die ou Nasionale Party wat ook probeer het om apartheid stukkie vir stukkie te hervorm, maar nie besef het as hulle die eerste domino omstamp, die res ook gaan val nie. Dit was ’n moeilike en stadige proses om uiteindelik heeltemal daarvan ontslae te raak.

Müller gee toe dat dit vir hom geloofsgewys ook ’n stadige en pynlike proses is om die ou gevestigde idees af te sterf en na iets nuuts te gryp. “Dit is soos om ’n nuwe taal aan te leer” (bl 21).

Die dele van die Twaalf Artikels wat Müller steeds bely, kan hoogstens metafories verstaan word.

Die vraag wat onwillekeurig by my opkom wanneer ’n mens God van sy almag en alomteenwoordigheid stroop, is hoe ’n mens nog deel kan bly van die christelike tradisie of kerk wat van sy lidmate verwag om dit te bely?

Hoe kry daardie predikante wat steeds Sondae die Twaalf Artikels bely, dit oor hulle hart om dit met die mond te bely as hulle dit nie meer in hulle harte glo nie?

Müller se boek neem die leser aan die hand tot voor die hek waardeur iemand soos Ben du Toit reeds gestap het.

In ’n tyd waar ons in dagblaaie oorval word met godsdiensrubrieke deur populêre teoloë wat hulle lesers ’n teologiese hongerdieet voer met allerhande uitgediende clichés en so ’n rat voor die oë draai, bied Müller se boek heelwat stof tot nadenke. Al wil hy nog nie soos ’n Ben du Toit die Rubicon finaal oorsteek nie, is dit ’n goeie wegspringplek vir verdere gesprek vir diegene wat nog iewers soekend tussen geloof en ongeloof op reis is.

Lees ook:

Resensie van Ben du Toit se God Is daar ’n ander antwoord?

Kom ons bou aan hemel op aarde

42: Die antwoord op die uiteindelike vraag van die lewe, die heelal en alles

Bybelstories in perspektief deur Sakkie Spangenberg: ’n lesersindruk

Skrywersonderhoud: Ben du Toit oor God Is daar ’n ander antwoord?

'n Brief vir Ben du Toit

  • 6

Kommentaar

  • Ai, oom Julian, jy was ons Universiteitsoord-dominee, die dae toe jy nog in die oneindige almag en reddende genade van ons grote God geglo het soos die Bybel vertel. My man is na 42 jaar steeds een van daardie paar leraars wat dieselfde glo en verkondig. Ek is dankbaar ek hoef nie my kop te breek om God se grootheid te probeer verstaan, verskoon of te negeer nie. Maar dis die laaste dae, die dae na Christus se koms. Die Bybel verduidelik selfs hierdie veranderinge in denkpatrone. Ongelukkig is daar een waarheid volgens ons bron.

  • Nog een van die voorhardlopers wat nie die wedloop kon voltooi nie - bý die wenpaal tou opgegooi.
    Die prys aan die kruis was hoog, met die gevolg dat die dwarslat vir gelowiges gelig is, wat dit vir loues en afvalliges nog hoër maak.
    Dis seker nie toevallig dat Jean sy 'lesersindruk' so kort voor die Pase neerpen en aanstuur nie.
    Die Here Jesus Christus het nie my verdediging nodig nie - net my dankbaarheid.
    Mooi loop.

  • Kyk, nou is ek seker dat die Christendom nie net krimp nie, maar dat hy binnekort heeltemal gaan verdwyn. Die kerkdiens op Sondag is so 'n vervelige gedoente, en nou debatteer twee hooggeleerde teoloë dit om dit nog verveliger te maak. Die geloofsbelydenis moet nou konsuis tussen komma tot by punt nog bergprediking en water in wyn en loop op water en sweef van bergtop tot Jerusalem en hoë bergtoppe saam met die duiwel, by kry.
    Gelukkig is ek 'n ateïs. Kerkdienste en gode, of hulle nou drie is of nie, het niks met my te make nie. My Bybel is 'n lekker deurstop. Kerkdienste laat ek maar aan my ou natgeswete bybelonderdiearmbuurman oor.

  • Bernhard Ficker

    Dis uiters tragies dat eens gelowige dominees soos Ds Julian Muller en andere wegsink in die moeras van liberale ongeloof. Die tragedie is dat hulle boeke aanhou om verwoestingswerk te saai lank na hul dood, en vele tokkelokke en onsekeres oor die rand van ongeloof af te gooi in die verdoemenis in!

  • Henrietta Klaasing

    Die vrypostigheid waarmee een na die ander postteïs deesdae "uit die kas klim" en afskeid neem van die tradisionele geloof, vind ek interessant. Hulle moet baie seker van hul saak wees dat daar geen negatiewe gevolge van die kant van kerkleiers gaan wees nie. Ek glo liewer wat in God se Woord staan: “As die dooies nie opgewek word nie, is Christus ook nie opgewek nie. En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense” (1 Kor 15:16‭-‬19 – Afrikaanse vertaling, 1983). In dieselfde hoofstuk (verse 5-8) gee Paulus ’n lys van meer as 500 mense aan wie die opgestane Jesus Christus verskyn het. In enige hofsaal sal hierdie aantal getuies veel meer wees as wat nodig is om die akkuraatheid van ’n gebeurtenis vas te stel. Verder het baie van hierdie ooggetuies gely en gesterf omdat hulle glo dat Jesus uit die dood opgestaan het.

  • Jean Oosthuizen

    Ek moet bieg ek het hierdie voorspelbare reaksies uit dieselfde koor van ou oom Ficker tot tangte Klaagster gemis. Gelukkig het Crito my daarop gewys toe ek sy stuk toevallig raaklees 🙂

    Crito skryf:

    “Dit breek my hart, liefste Wyk, om vir jou te moet sê dat jou ideaal van vrye, ope gesprekvoering daagliks opnuut sneuwel. Om die publiek se reaksie op ’n resensie te lees, is soos om die rekmerke onder die lycrakeurslyf van ons volk se siel te tel.
    Jean Oosthuizen, ’n man aan wie se sorg die NG Kerk op hul dag Die Kerkbode toevertrou het, het op LitNet die teoloog Julian Müller se boek Geloofsgesprekke in die Tsitsikamma bespreek. Wat dink jy, Wyk, het volgende gebeur? Nee, jy’s verkeerd. Niemand het die kwellings wat Oosthuizen geopper het, gebruik as snellers vir ’n intellektuele gesprek nie. Almal het die ad hominem-roete gevolg. Slaat plat die man wat durf waag om oor geloof na te dink. Weg met Julian Müller! Verbrysel sy skedel en byt hom aan die hakskeen. Ek hoor jou stem, nogeens: Laissez-le passer, cette image et le temps!”

    Al wat ek kan sê is I rest my case. Jáá swaer!

    https://www.litnet.co.za/my-liefste-wyk/?fbclid=IwAR1feXEwCN1DGSYaSpr9e8AdjjEOPWeGsDAFIClcvkitgxRLYiaLXQl2ND4

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top