
Met die lees van Lawrence Anthony se fassinerende The elephant whisperer (2009), asook Six years with Al Qaeda, soos vertel deur Stephan McGowan (2020), is ek weereens getref deur die diep ingrypende aard van ’n geloof in ’n metafisiese werklikheid waarin en waarmee miljarde mense in verskillende geloofstradisies oor die wêreld heen grootword – wat bepalend is vir hoe hulle die lewe (menslik, sowel niemenslik) beskou. Ek gebruik doelbewus nie die onderskeid van menslik en natuurlik nie, om goeie deurdagte redes.
In Anthony se geval is dit meer subtiel, verskuil tussen die verwondering oor die intelligensie van diere, bepaald dan olifante, wat hy dan byvoorbeeld soos volg beskryf:
We also have to understand that there are things we cannot understand. Elephants possess qualities and abilities well beyond the means of science to decipher. Elephants cannot repair a computer, but they do have communication, physical and metaphysical, that would make Bill Gates’s mouth drop open. In some very important ways they are ahead of us. (ble 2-3)
Om hierdie waarneming verder te “bewys” beskryf hy bekende ervarings deur wildbewaarders wat op ’n bepaalde dag ’n sekere dierespesies wil verdoof met ’n pylgeweer, net om te ontdek dat daardie spesifieke diere nêrens te vinde is nie. Asof hulle ’n soort voorkennis het. Want, intussen was hulle daar, maar het hulle hulself net so verskuil (gered deur hierdie voorkennis), dat hulle nie gevind kon word nie. En dis wat hy dan onder andere bedoel met hierdie buitengewone vermoëns van diere – wat selfs met die woord “metafisika” omskryf word. Daar’s dus ’n kennis, ’n omgang met lewe anderkant (beyond) ons herkenbare fisiese lewe wat parallel aan ons waarneembare werklikheid bestaan.
In Six Years with Al Qaeda word die diep ingebedde metafisiese parallelle “wêreld” meer eksplisiet aangebied, wat daarop dui dat godsdienstige oortuigings nie goeie nuus inhou vir vrede onder Homo sapiens nie:
The other thing to get your head around is the fact that these guys not only believe they have God on their side and that they are doing his work, they also see themselves as being the good guys in a battle against evil. It’s hard to comprehend from a Western viewpoint ... They see themselves as a plucky band of brothers simply doing what God tells them to and taking on the Evil Empire (aka the West). All they see of the West are colonial forces that stick their noses into everyone’s business under the guise of human rights, but are most likely to fly their own flag for world domination, Christianity and economic gain. (bl 92)
Dit is dan ook onthutsend (alhoewel, strategies begryplik) hoedat hy, aanvanklik as oortuigde Christen, besluit om in gevangenskap die Moslemgeloof aan te neem – en dan later beskryf hoedat hy hierdie bekering (conversion) as werklik eg beskou – en steeds met die skryf van hierdie boek handhaaf, selfs na afloop van sy bevryding (uitgeruil vir ander politieke gevangenes). En daarby, hoedat die ander twee mans wat aanvanklik saam met hom gevange geneem is, as ateïste, dit veel moeiliker gehad het om dood en marteling vry te spring, as hy wat hom tot Islam bekeer het.
Hierdie kritiese opmerkings oor hierdie twee boeke wil niks afdoen aan die feit dat dit uitstekende leeswerk is nie. Dis maar net dat ek weereens vanuit die twee heel teenoorgestelde kontekste, deur die boeke uitstekend beskryf, besef het hoedat hier ’n gemene deler is.
Daarom dan nou terug na ons Suid-Afrikaanse gemeenskap – en meer bepaald ons Afrikaanssprekende gemeenskap van alle bevolkingsgroepe: Daagliks is ons met mekaar in gesprek op die verskillende sosiale media-platforms, dagblaaie en tydskrifte. Die lees van hierdie twee boeke het my weereens met ’n mate van skok laat besef hoe diep hierdie bewussyn van ’n metafisiese “wêreld” in ons psige vasgelê is. Sedert geboorte. Versterk deur kerk, moskee en skool. Dit maak nie saak wie se storie vertel word nie. Daar is ’n “bestaan” wat parallel aan ons sigbare, fisies meetbare en rasioneel begrypbare lewe, konsepsueel in die algemene publiek se ervaring van hulle wel en wee afspeel – en meestal selfs bepalend so. Die invloed van godsdiens is so vanselfsprekend en deurslaggewend dat dit eintlik ’n saak van onmoontlikheid is om daarop te hoop dat enigeen van ons met rasionele argumente ’n godsgelowige kan oortuig van die on-sin van ’n lewe geleef onder die alsiende oë van ’n niemenslike wese. By hulle skep dit nie alleen ’n gevoel van ontsag, selfs vrees nie, maar is dit ook hulle troos in lyding en teenspoed. Hoe sal ’n mens dan, wat so afhanklik van hierdie wese leef en ’n spesifieke lering rondom sodanige godsdienstige beskouing (dogma) gehoorsaam, jou willens en wetens daarteen verset, of dit ontken?
Telkens word ons weer en weer voorspelbaar met koerantopskrifte en berigte, met plasings op sosiale media, daaraan herinner dat hierdie diepgewortelde lewensbeskouing nie gaan verdwyn nie. Inteendeel, hoe swaarder dit gaan, hoe erger die ontnugtering met die lewe, hoe nader die dood beleef word, hoe groter die knellende ervaring van werkloosheid en finansiële rampspoed mense omvou, hoe sterker wend hulle hulself tot God of Allah, of hoe dieper delf hulle in hulle spirituele selfbewussyn na vrede, geestelike verligting en (wie weet, dalk, soos die gode wil) uitkoms.
Intussen dink ek egter dat dit belangrik vir ons behoort te wees, dié wat onsself gelukkig ag om in ’n totale bevryding van hierdie metawêreld te leef, om ons in ons publieke reaksies hierop ons daarvan te weerhou om met banale woordgebruik ons misnoeë daaroor te kenne te gee. Natuurlik erken ek die reg van enigeen om kerke en gelowiges se standpunte en uitsprake en besluite, veral wanneer dit die menswaardigheid van mense minag, as onlogies, irrasioneel en moreel aanvegbaar te ontbloot. Hulle skep meestal self die draaiboek vir ’n toneel van die absurde. Maar, hulle besef dit nie; kan dit in hulle verblinde, gekondisioneerde psiges nie insien nie. En juis daarom moet ons hulle nie op ’n manier aanspreek waarin dit mag blyk dat ons inderwaarheid ons eie onvolwassenheid op onbeteuelde wyse blootstel nie.
In my boek, God – Is daar ’n ander antwoord (2020), waarin ek juis ook die onvermoë van godsdiens om in ons huidige konteks van kompleksiteit ’n oplossende en versoenende rol te speel aandui (juis omdat dit deel is van die oorsaak van die probleem), pleit ek dus daarvoor dat ons met ’n etiek van kindness en decency (die Engelse woorde druk dit wat my aanbetref net beter uit) sal optree teenoor ander. Juis wanneer ons verskil.
Een van Aartsbiskop Desmond Tutu se tydlose gesegdes teen die St Georges Katedraal in Kaapstad aangebring, lui: “If you want peace, speak to your enemies, not your friends.”
Vir ons wat onsself nie wil laat definieer in terme van wat ons glo of nie glo nie, maar bloot ernstig opgeneem wil word as mede-menswaardige wesens, is die “hemel” nie ’n hersenskim in die toekoms waarop ons hoop na die dood nie, maar iets wat ons nou alreeds tussen ons wil realiseer in die manier waarop ons met mekaar leef – en verskil.
Geskryf op Valentynsdag 2023
Lees ook:
Skrywersonderhoud: Ben du Toit oor God Is daar ’n ander antwoord?


Kommentaar
Ek het aanvanklik gedink dis die neerbuigende verwysing na diegene wat nie "meta-bevrydenes" is nie, wat uitstaan in Du Toit se skrywe, maar dis die laaste paragraaf wat 'n mens die meeste opval. Dis ironies genoeg 'n uitstekende samevatting van die Goeie Nuus – die einste Evangelie wat Du Toit verwerp: "... die ‘hemel’ [is] nie ’n hersenskim in die toekoms waarop ons hoop na die dood nie, maar iets wat ons nou alreeds tussen ons wil realiseer in die manier waarop ons met mekaar leef – en verskil." Inderdaad. Wat 'n wonderlike relaas vir die Seun van die Mens.
Ek stem heelhartig saam dat gesprekke oor godsdiens, dogma, kerkbelydenisse ens. met respek en beskaafdheid gevoer moet word. Dis teenproduktief om die ander persoon te probeer oortuig van jou standpunt, gegewe die feit dat godsdienstige bewysvoering nie geskied volgens die normale rasionele metodiek nie.
Dit gesê, is dit nodig om aan Ben du Toit uit te wys hoe hy self skuldig is daaraan om in ’n publieke ruimte op "banale" wyse diepgewortelde godsdienstige beskouings, uitsprake en lewenswyses van (spesifiek) Afrikaanses te tipeer as onsinnig, irrasioneel vasgevang in ’n lewe van vrees voor die "alsiende oë" van ’n "alsiende wese, wat meesal self die draaiboek vir die toneelspel van hul absurditeite skep". En in hulle verblinde, gekondisioneerde psiges kan hulle dit nie eens self insien nie.
Wat Du Toit hier doen is die ou metode om neerhalend te verwys na gelowiges (as dommes). Hy stel ’n strooipop van ’n God op: gewoonlik ’n ou man iewers daar bo met ’n notaboek waarin hy alle mense se oortredinge/sondes opskryf. En dan gaan hy eendag (of met afsterwe) oordeel wat jou skuld is en jou dan daarvolgens straf. As jy soet was, erf jy die ewige lewe (iewers in die stratosfeer in ’n fisiese plek wat hemel genoem word). Die "wonderlike" ding is dat jy al jou vriende en familie daar sal vind vir ’n heerlike weersiens. Maar as jy sondig en ongelowig gelewe het op aarde, gaan jy reguit hel toe waar die duiwel die plesier het om te sorg dat jy vir ewig brand.
As dit is wat "geloof" in die Godheid beteken, staan ek voor in die ry om dit as onsin te verwerp. Ek sidder om daaran te dink dat dit is wat Du Toit sy lewe lank as leraar vir ons Afrikaanses gepredik het. Ek is wel bewus dat hy ’n Damuskus-oomblik belewe het, maar toe so oorweldig is deur die metafisiese aard van die geestelike domein, dat hy alle metafisika as uit die bose afgeskryf het. En die wetenskap, gebaseer op menslike denke, plus ons sintuiglike waarnemings, omarm het as die Absolute Waarheid.
Daarmee het ek vrede, maar om ou uitgediende dogmas op te dis as synde die jongste stand van sake in die teologie en spirituele filosofie, is regtig nie bevorderlik nie om daardie Afrikaanses, waaraan hy aktief deelgeneem het om in die duister te hou, tot ’n hoër vlak van spirituele denke, insig, kennis, ervaring en belewing te help. Wat hoopgewend is, is sy laaste sin om aan die "hemel" die inhoud te gee as ’n toestand waar ons hier en nou in liefde, vrede, welwillendheid en respek met mekaar as naastes sal saamlewe.