
Agtergond: Johnson Martin | Pixabay
Titel: Bybelstories in perspektief
Skrywer: Sakkie Spangenberg
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781928530220
Welkom Bybelstories in perspektief by hierdie baie belangrike en nodige gesprek oor godsdienstige konsepte in ons immer ontwikkelende en emansiperende Afrikaanssprekende gemeenskap. Mag die ontvangs en lees daarvan vir vele mense, kinders en volwassenes, help met ’n meer realistiese verstaan van ons werklikheid – en talle se lewens daardeur verryk word.
Hierdie publikasie van Sakkie Spangenberg spreek implisiet ’n baie interessante menslike verskynsel aan wat steeds binne die konteks van die ontwikkelende kenniswêreld waarin ons leef, ’n hardnekkige inhiberende invloed het op die moontlikheid van ’n bevryde lewe van die greep wat godsdiens en spiritualiteit op moderne Homo sapiens het.
Die meeste van ons het grootgeword (en dit gebeur steeds) met die kinderverhale uit ons tradisionele kulturele literêre skat, uit die mitologie en Bybel aan ons oorvertel – of deesdae aangebied in ’n verskeidenheid van kreatiewe visuele beelde van allerlei aard. Gaan kontroleer dit gerus deur kanale 300 tot 312 deur MultiChoice op die TV op te roep om te sien wat alles beskikbaar is. En soos ons ouer word, gebeur dit vanselfsprekend dat deur die realiteite van die lewe – die waarneming deur logika en rasionele insigte – die ouerwordende kind die vermoë ontwikkel om tussen werklikheid en fiksie te onderskei. Dit gebeur vanself. Nie deur ’n dekreet van ’n onderwyser of ouer nie, maar doodgewoon deur die waarneming van die realiteite van die lewe. ’n Dier kan nie regtig praat nie, leer ons. Daar is nie magiese kragte wat met die swaai van ’n towerstaf buitengewone dinge laat gebeur nie. Hasie en skilpad het nie regtig afgespreek op ’n resies nie. Plaasdiere wonder nie regtig onder mekaar oor wie of wat die son vreet as dit sonsverduistering is nie. Inteendeel, elkeen gaan maar sy eie gang, ofskoon sommige ietwat verward is en vreemd optree oor die skielike donkerte.
Dit gebeur met ons hele kinderwêreldverhaal-oeuvre, behalwe (binne Christelike huishoudings) met Bybelverhale. Nou ja, met sommige daarvan wonder ons weldra (soos Bileam se pratende donkie in Numeri 22:28 en die reuse en halfgodmense van Genesis 6:4) of dit regtig is, maar dit word eenkant toe geskuif, iewers geparkeer met die houding van dat daar iemand sal wees, dalk ’n dominee of teoloog, wat wel vir ons die saak in perspektief sal plaas. Sulke dominees en teoloë het natuurlik al intussen op die toneel verskyn en het ons onder andere geleer dat die Bybel nie net gewone geskiedskrywing is nie, maar uit vele literêre soorte (genres) bestaan. Een daarvan is verhale wat vertel is om sekere waarhede aan die volgende geslag oor te dra – lank voordat daar geskryf en gelees kon word. En so word ons gaandeweg geleer om onderskeidend te lees. Maar net tot op ’n sekere punt. Want verhaal en geskiedskrywing word somtyds ongemaklik vermeng.
Te danke aan Sondagskool en gereelde eredienste en Bybelstudies in die kerk word die opperwaarheid van die inhoud van die Bybel vasgelê – dat die Bybel as bundel geskrifte anders hanteer behoort te word as (sê nou maar) die Griekse mitologie, of die Egiptiese en Persiese verhale van ’n sondvloed en wonderbaarlike oorlewing.
En dis hier waar Sakkie Spangenberg se publikasie wil help om sake in perspektief te stel. Terwyl die woorde van David Kramer se lied “Die ou aarde” oral met die aanbieding vervleg word, skryf Sakkie tweelingstories wat hy as’t ware teenoor mekaar stel: oor die plat aarde en die ronde aarde; die jong aarde en die baie ou aarde; die sewe dae teenoor miljoene dae, ens.
Nie alleen bied dit interessante leesstof nie, maar Sakkie poog ook daarmee om gewone mense iets van die kompleksiteite van die ontwikkelende moderne wetenskap te help verstaan. En hier moet ek erken dit raak ingewikkeld – wat hierdie wetenskaplike dissiplines inderwaarheid dan ook is. Dalk is hierdie boek meer geskik vir nuuskierige en leergierige volwassenes as vir kinders. Dit mag wees dat die goedontwikkelde onsinverklikkers van ons kinders en kleinkinders, wat in ’n hoogs ontwikkelde tegnologiese en wetenskaplike konteks grootword, alreeds lankal aangeskakel is en dat iets soos ’n plat aarde, of ’n jong aarde wat in sewe dae tot stand kom, of Adam en Eva as die (enigste) eerste twee mense, of reuse en ’n son wat stilstaan (terwyl die son in elk geval stilstaan) al lankal deur hulle gerelativeer is.
Die probleem is egter (vir kinders binne ’n Christelike opvoeding – asook wanneer hulle ouer word, self ouers word) dat God steeds, gesien as die outeur van al hierdie konseptuele voorstellings, geglo en aanbid moet word as die Skepper en onderhouer van alles. Eintlik verwonder ’n mens jou dat daar nie groter spanning en ongemak by jongmense hieroor opgemerk word nie – dat talle van hulle steeds gemaklik en selfs gedwee inval in voeë van die tradisionele denke – en voortgaan om probleemloos hierdie anomalie in hulle lewens te huisves.
Sakkie gee egter nog een tree verder en toon aan hoedat die verkeerde lees en letterlike verstaan van hierdie Bybelse verhale die vroeë Christelike kerk daartoe gelei het om die bekende Christelike meesternarratief van die sondeval (verdorwenheid van die mens) en verlossing (deur Jesus se kruisdood) te formuleer as ’n openbaring van God self. En steeds leer die kerk dit ten spyte van hierdie nuutverworwe kennis en inligting.
Ek hoop dat hierdie publikasie van Naledi talle mense sal help met die aanskakel van hulle onsinverklikkers, nie alleen met die onderskeiding tussen fiksie en werklikheid nie, maar om die onderskeie rolle van hierdie twee in ons lewens in perspektief te plaas.
Lees ook:
Bybelstories in perspektief deur Sakkie Spangenberg: ’n lesersindruk



Kommentaar
Beide boekies lewer 'n bydrae om te verstaan dat bybel en kerklike dogmas, met al sy mites en rites en liturgie, iets heel anders is as die bevindinge van die wetenskap se rasionele bewysvoerings. Dat dit vir ons Calvinistiese geïndoktroneerde christene so lank geduur het om so 'n eenvoudige lewenswaarheid te begryp, is die ware misterie. Want die feite was nog altyd vryelik beskibaar.
In bv. die ou Afrikaans Kinderensiklopedië van 50 jr gelede het my paleontoloog-vader al biologiese evolusie breedvoerig verduidelik. Maar miskien is dit tog ook nie so vreemd nie, want in dié tydperk het beide kerk en staat ons gevoed op n dieet van 'n eng dogmaties Christelik-Nasionale lewensuitkyk.
Dit gaan waarskynlik minstens nog 'n geslag neem om so 'n stiksienige dogmatiese atmosfeer te ontgroei. Die geweldige sielswroeginge en staat van ontkenning waarin die voorheen bevoorregte witmense tans nog verkeer, is genoeg bewys van die mens se onvermoë om vinnig aan te pas in en by veranderde omgewings.
'n Interessante verskynsel is die duidelik-waarneembare tendens dat die godsdiens-pendulum so skerp geswaai het van streng Calvinisme na kerklosheid, en selfs 'n argelose ateïsme. Ek sou dink die sielestryd sou lei tot 'n verdieping in die mens-God-verhouding, maar vreemd genoeg word god konsepsieel heeltemal verwerp. Die voor die handliggende verklaring is dat die sg. godsdienstige persone van die apartheids-era se godsbegrippe op baie oppervlakkige grond berus. (senior kerleiers skryf selfs boekies om hulle dwalinge te bely!) En daarom kan mens tereg beweer dat 'n boekie soos Isak Spangenberg sin 'n belangrike inleiding tot 'n tuisonderrigkursus teologie 101 vir volwassenes kan dien.