Bybelstories in perspektief deur Sakkie Spangenberg: ’n lesersindruk

  • 2

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Bybelstories in perspektief
Sakkie Spangenberg
Naledi
ISBN: 978-1-928530-22-0

Daar is min boeke waaroor die mensdom so kan redekawel as die Bybel. ’n Mens kan maar net gaan kyk hoeveel godsdienstige groeperinge voortgespruit het uit die Bybelse oproep “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels” (Matteus 28:19). En daar bestaan reusagtige verskille tussen hoe gelowiges die Bybel lees en interpreteer. Sommige sien die Bybel as ’n letterlike geskiedenisboek wat as bewys dien dat die aarde net sowat 6 000 of dalk 10 000 jaar oud is. Ander gelowiges kan mens beskryf as ou-aarde-kreasioniste. Sommige versoen selfs die Bybelse verhale met die leer van evolusie, en sien evolusie maar net as die metode waarmee God in die geskiedenis ingegryp het om die “kroon van die skepping”, naamlik die mensdom, voort te bring. En hierdie is maar nog net die begin van die verskillende interpretasies. Dit dek nog slegs sommige van die kosmologiese en biologiese interpretasies van die Bybel. Wanneer mens nou eers by die werklike teologiese vrae kom, dan wys die geskiedenis vir ons hoe gelowiges soms vir weke, selfs maande lank vergaderings (“sinodes” in kerktaal) kon hou oor vrae soos of God die Vader en Jesus een van substansie is, of vroue op die kansel hoort, of babas gedoop mag word en of die duiwel inderdaad ’n stert het of nie.

Aan die ander kant van die spektrum is daar weer die aggressiewe ateïste wat sou verkies dat die Bybel, net soos sigarette, liefs met ’n waarskuwing op verkoop moet word.

Waar begin ’n mens om tussen al hierdie verwarring te sif om by die waarheid oor die Bybel uit te kom? Of moet ons dalk, soos die postmoderne filosoof, die idee van waarheid op die ashoop gaan gooi? Een ding is seker, as jy van mening is dat die Bybel selfverklarend is en dat geen konteks nodig is om dit te verstaan nie, dan sal ’n boek soos hierdie jou nie geval nie. Bybelstories in perspektief is, soos menige kinderboek (bv die Harry Potter-boeke), ook uitstekende leesstof vir volwassenes. Die skrywer het weinig bekendstelling nodig en is bekend as jare lange teoloog en akademikus, veral verbonde aan die Universiteit van Suid-Afrika. Spangenberg werk vanuit die vertrekpunt dat die sosiologiese en politieke konteks van die antieke Midde-Ooste krities belangrik is om van die Bybelse tekste sin te maak.

Hoekom is die Bybel nog so belangrik vir ons vandag? Kennis van die Bybel is van kritieke belang, want “Vroeër jare is die Bybel beskou as die belangrikste boek wat ’n mens kon lees” (bl 13). Trouens, vir baie mense is dit in 2021 steeds die geval. Die Bybel word steeds vandag deur groot getalle mense beskou as die “Woord van God”. Om die geskiedenis beter te kan verstaan, is kennis van die Bybel dus kosbaar. Bybelstories in perspektief plaas die Bybel teen die agtergrond van hoe die mens oor tyd tot ander insigte gekom het oor vrae soos: Hoe oud is die aarde? Wat is die vorm van die aarde? Hoe pas die aarde in die groter kosmos in? Omdat die Bybel vir baie eeue as die hoogste gesag beskou was, het primitiewe antieke kosmologiese idees floreer. Die boek, wat in agt hoofstukke opgedeel is, beskou eers die tradisionele antwoorde op die vrae, en volg dit dan op met hoe die mensdom tot nuwe insigte oor die natuur en die kosmos gekom het.

Van besondere belang is die slothoofstuk, “Wanneer mense Bybelstories verkeerd lees”. In dié kort opsommende hoofstuk word daar gewys op van die bekendste anakronismes in die Bybel, daardie gegewens wat later bygevoeg was, maar nie histories enige sin maak nie. So byvoorbeeld is daar die klassieke geval van Moses wat oor sy eie heengaan sou moes geskryf het indien hy werklik die skrywer van die eerste vyf boeke van die Bybel was. Dit is belangrik om die verskil tussen die leefwêreld van die “Ou” en die “Nuwe” Testament te besef, skryf Spangenberg. Die Ou Testament is geen Christelike boek nie.

Die belangrikste eienskap van hierdie kinderboekie, wat maar 89 bladsye beslaan, is dat dit moontlik sal help om mense meer genuanseerd oor die Bybel te laat dink. Die bittere oorgang van die Judese geloof na dié van die Christelike, is ook nie iets wat oornag gebeur het nie. Daar is skrywers wat argumenteer dat ook die Nuwe Testament nie werklik deur Christene geskryf is nie,[1] en dat die vroeë kerk heelwat tyd geneem het voor dit werklik “Christelik” geword het. Om met ’n kritiese oog na die Bybel te kyk, maar ook om die historiese skat van antieke verhale daarin te kan ken, en te kan herwaardeer, is die twee grootste gedagtes wat Bybelstories in perspektief opnuut by my laat.

[1] J Galambush, The reluctant parting: How the New Testament’s Jewish writers created a Christian book. Harper Collins Publishers, New York, 2005.

Lees ook:

Bybelstories in perspektief deur Sakkie Spangenberg: ’n lesersindruk

  • 2

Kommentaar

  • Marthie Momberg

    Dis 'n baie belangrike en nodige bydrae, baie dankie Sakkie. Ek plaas vandag nog 'n bestelling by Naledi Uitgewers.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top