42: Die antwoord op die uiteindelike vraag van die lewe, die heelal en alles

  • 2

Titel: 42: The answer to the ultimate question of life, the universe, and everything
Skrywer: Deep Thought
ISBN: 979-8-9868670-0-8
Cosmic Meerkat; 1ste uitgawe (24 Oktober 2022)

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

In die begin was daar ’n knal. ’n GROOT OERKNAL.

So begin 42: The answer to the ultimate question of life, the universe, and everything se eerste hoofstuk getiteld “Genesis”.

Genesis beteken die ontstaan ​​van iets naamlik die begin, geboorte of skepping daarvan. Dit is nie toevallig dat hierdie boek en Die Bybel se eerste hoofstukke albei “Genesis” genoem word nie.

Die Bybel se “Genesis” begin met die woorde: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.”

Reg van die begin af is daar ’n subtiele korrektief op die bybelse “Genesis” in hierdie boek met slegs die syfer 42 op die stofomslag. Die subtitel The answer to the ultimate question of life, the universe, and everything verskyn op die agterplat.

...
Dit is geen twisgesprek met die Bybel-skrywers nie.
...

Dit is geen twisgesprek met die Bybel-skrywers nie. Dit is eerder ’n terugskouende korreksie daarop met die kennis waaroor ons vandag beskik, waarmee die skrywers van Die Bybel nie toegerus was nie.

By beide Die Bybel sowel as in 42 se stofomslae soek ’n mens tevergeefs na ’n opspraakwekkende buiteblad of die outeur se naam in groot vet letters. Trouens, jy sal nêrens die outeur se naam in die boek vind nie. Albei boeke (Die Bybel en 42) poog om antwoorde te gee oor die ontstaan en betekenis van die lewe en die dood.

Eersgenoemde is ’n versameling antieke boeke van eeue gelede uit ’n voorwetenskaplike era, maar spreek volgens die meeste gelowiges steeds die laaste woord oor die lewe en die dood en die ontstaan daarvan – asof daar oor al die eeue geen nuwe kennis bygekom het nie.

Hierdie boek kyk vanuit ’n wetenskaplike oogpunt na die ontstaan van ons piepklein planeet en die onbegryplike groot heelal waarvan ons almal deel is. Anders as Die Bybel is daar geen finale antwoorde in hierdie boek te vind nie, maar wel verskeie wetenskaplike verklarings. Daar word ruiterlik erken dat die laaste woord nog lank nie gespreek of geskryf is nie.

Dit is die subtiele vergelyking met Die Bybel en die doelbewuste anonimiteit van die skrywer wat dadelik die leser se aandag trek.

Nuwe kennis is ’n aanhoudende proses, daarom nooi die skrywer die lesers in sy boek se voorwoord uit om hulle kennis en terugvoer by wyse van e-pos met hom te deel, hetsy positief of negatief.

In die voorwoord verduidelik hy dat nie hy of enige iemand anders op absolute kennis kan staatmaak nie; kennis bly altyd ’n aanhoudende proses.

Die boek bestaan uit drie dele en 42 hoofstukke. Deel een fokus op die heelal sedert die oerknal tot by die ontstaan van intelligente lewe op aarde. Deel twee handel oor alles van die basiese boustene van alle materie en die natuurkragte wat daaragter sit, tot die brein en bewussyn. Deel drie van die boek is meer filosofies en handel oor vrae soos hoe ons met die kennis tot ons beskikking ’n goeie en morele lewe behoort te leef sonder om aan ’n transendente bonatuurlike wese hoef te glo.

...
Die skrywer met die nom de plume Deep Thought se regte naam is David Vandenheever. Hy is ’n Suid-Afrikaanse akademikus.
...

Die skrywer met die nom de plume Deep Thought se regte naam is David Vandenheever. Hy is ’n Suid-Afrikaanse akademikus en medeprofessor in biomediese ingenieurswese aan die Mississippi State University in die VSA.

Lesers wat vertroud is met die wetenskapfiksie-romanskrywer Douglas Adams se The Hitchhiker's Guide to the Galaxy sal die syfer 42 onmiddellik herken. Dit is die antwoord wat ’n superrekenaar gegee het op die vraag; wat is die antwoord op die uiteindelike vraag van die lewe, die heelal en alles? Teen die einde van die boek onthul die superrekenaar Deep Thought dat die antwoord op die groot vraag van die lewe, die heelal en alles “twee-en-veertig” is.

Dit is doodnatuurlik vir die mens om na te dink oor die diep en knaende vrae van die bestaan ​​en betekenis. Dit is vrae wat aangewakker word deur Homo sapiens se natuurlike lus vir kennis en begrip; kennis van hoe die wêreld werk, maar ook kennis en begrip van ons plek in die heelal en hoe ons behoort te lewe.

42 bied voorlopige antwoorde op hierdie vrae, want in die wetenskap is alle antwoorde onderworpe aan nuwe insigte namate daar nuwe kennis bykom. Die boek is ’n samesmelting van kontemporêre denke oor wat dit is om mens te wees en hoe ons as mense behoort te lewe om van die wêreld ’n beter en gelukkiger plek te help maak. Dit maak gebruik van die hele mensdom se pogings in die verlede en hede om ’n omvattende en samehangende siening van die wêreld te gee, vanaf die oorsprong van die heelal, tot die lewe en die dood, en alles tussenin.

In ’n e-posgesprek wat ek met hom gevoer het, verduidelik Vandenheever (dit is hoe hy sy van deesdae spel omdat drie los woorde as van vir die Amerikaners geen sin maak nie en verwarring skep) waarom sy regte naam nêrens in die boek voorkom nie.

“Soos Die Bybel is hierdie boek nie noodwendig een persoon s’n nie. Nege-en-negentig persent van wat ek skryf, is nie my oorspronklike idees nie, maar is ’n samevatting van die kennis en wysheid van seker duisende mense oor dekades heen,” verduidelik hy.

42 is vir hom die antwoord op die soeke na ’n boek waar ’n mens buite Die Bybel na antwoorde kan gaan soek as riglyn vir die lewe. Daarom het hy Die Bybel se voorkoms ook vir sy eie boek behou – wat tradisioneel swart is met slegs die titel en geen skrywersname op nie.

42 is my antwoord tot so ’n boek wat kan dien as riglyn vir die lewe. Dit beantwoord die groot vrae en gee riglyne vir hoe ’n mens moet leef. So het ek ook ’n bietjie inspirasie geneem van Die Bybel en hoe dit lyk. ’n Swart boek met net ’n titel – geen name op nie. Ek wou iets soortgelyks doen. Aanvanklik was my idee ook net ’n swart stofomslag met die titel, maar toe besluit ek om dit darem ’n bietjie meer interessant te maak, en daarom die donker beeld van die hemelruim. Nie te besig nie. Met net ’n wit titel,” verduidelik hy in ons gesprek.

Die betekenis van die bestaan ​​en die aard van die kosmos word al deur die mens bevraagteken sedert vuur ontdek is. Terwyl talle boeke daaroor, soos Die Bybel ook, eeue en selfs millennia gelede geskryf is, handel Deep Thought oor daardie vrae vanuit ’n hedendaagse perspektief. Dit sluit in vrae oor die oorsprong van lewe, die oerknalteorie, swart gate, entropie, evolusie, en die rol van die kunste in die groter skema van dinge.

...
Dit is ’n opwindende ontdekkingsreis op soek na antwoorde op van die mees fundamentele vrae wat die menslike verstand besig hou.
...

Dit is ’n opwindende ontdekkingsreis op soek na antwoorde op van die mees fundamentele vrae wat die menslike verstand besig hou oor uiteenlopende kwessies wat wissel van godsdiens tot wetenskap, filosofie en die kunste.

Onderwerpe wat onder die vergrootglas kom, sluit in die menslike bewussyn, die idees van vrye wil en determinisme, moraliteit, die ewigdurende strewe na geluk, en nog baie meer.

Die wetenskaplike teorieë word ondersteun deur goed-nagevorste en eweknie-geëvalueerde teorieë wat ontleen is aan kwantumfisika, partikelfisika en van die mees invloedryke en noemenswaardige name in die wetenskaplike gemeenskap – byvoorbeeld Albert Einstein.

Vir lesers soos ek, wat minder bekend is met die detail van ingewikkelde wetenskaplike teorieë, is van die kennis soms byna te oorweldigend om met een slag in te neem. Dit word egter in die mees verstaanbare en dikwels humoristiese taal verduidelik.

Die derde deel van die boek vanaf hoofstuk 21 is meer van ’n filosofiese aard. Dit bekyk vrae waarmee elke mens hom of haar mee kan vereenselwig. Eksistensiële vrae soos die ontstaan van moraliteit en die doel daarvan word onder die loep geneem.

Kwessies soos geluk, die kunste, deernis en liefde, die lewe en die dood en hoe dit die mens se lewe kan verryk, asook die vraag waarom is daar iets en nie niks nie, word bespreek.

Hierdie boek is vir hom meer as ’n boek, verduidelik die skrywer aan my. Dit is vir hom ’n projek wat hopelik lank in die toekoms, selfs tot ná sy dood, sal voortleef as ’n antwoord op die vrae wat ons voortdurend ontwyk. Toekomstige generasies moet dit bywerk soos nodig, sê hy. Daarom wil hy nie alleeneienaarskap neem van die inhoud nie omdat dit, anders as Die Bybel, oor ’n duisend jaar heeltemal anders sal lyk.

Soos wat mense soms kruise om hul nek dra of kruise as tatoes kry, so hoop hy sal die syfer 42 eendag ’n simbool kan word vir vrydenkers as antwoorde op die uiteindelike vraag van die lewe, die heelal en alles wat deur die wetenskap getoets is.

  • 42 is by Amazon beskikbaar in sagteband in gedrukte vorm of kan as e-boek op Kindle afgelaai word. Dit is ook beskikbaar in verskeie e-boek-formate, soos epub, mobi, pdf en die skrywer kan gekontak word by 42thebook@gmail.com.
Lees ook:

  • 2

Kommentaar

  • Uitstekende resensie.
    Die boek klink soos 'n verfrissende briesie wat dogma en doktriene vermy en net omgaan met wetenskaplik-gefundeerde feite.
    Dis vanjaar my krismisboks aan myself.

  • Ek het weer hier gelees.
    Ek het Stephan Joubert se Groot Gedagte destyds (1998) gekoop en gelees - so ek het nie die nodigheid ingesien om hierdie een te koop nie.
    Ek haal Jean hier bo aan: "die boek is meer filosofies en handel oor vrae soos hoe ons met die kennis tot ons beskikking ’n goeie en morele lewe behoort te leef sonder om aan ’n transendente bonatuurlike wese hoef te glo".
    Die 42? - Google gerus Doulas Adams se Hitchhiker's Guide to the Galaxy en lees hoe en wanneer die idee by Douglas ontstaan het.
    Weereens en soos elders genoem - let op die toevallige tydstip waarop die 'lesersindruk' aangestuur is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top