
Boekomslae: Making a killing deur Bonnie Espie (Kwela); The world according to Merle deur Merle Levin (Melinda Ferguson Books); en Lost property deur Megan Choritz (Melinda Ferguson Books)
Wat maak dat mens ’n boek skryf? Drie debuutskrywers, wat almal baie verskillend is, vertel FynArts wat hulle geïnspireer het.
Bonnie Espie, skrywer van Making a killing, sê haar boek is geïnspireer deurdat sy getrek het na Stanford met sy The Owl and the Egret boekwinkel. Making a killing is cosy crime, so, humor speel ’n rol. Hier is ook al die lekker elemente wat mens verbind met die genre. ’n Klein dorpie, eksentrieke inwoners, ’n hond en boekwinkel. En dit gaan die leser nie slapelose nagte gee nie, eerder vermaak. Bonnie sê, “Dis ’n komiese interpretasie. Ons weet wie die moordenaars is, en ons kyk toe hoe hulle planne ontvou om van die liggaam ontslae te raak onder moeilike en soms belaglike omstandighede.” Bonnie is reeds aan die skryf aan Making a killing se opvolg.
Die aktrise en dramaturg Megan Choritz het haar roman Lost property geskryf in ’n donker tyd. “Lost property het uit my gevloei,” vertel sy. “Dit was die einde van my huwelik, COVID, en alles wat in Suid-Afrika aan die gang was, het gemaak dat ek sommige baie moeilike vrae stel.”
Megan het ondersoek “hoe ons persoonlike narratiewe bestaan binne ’n groter raamwerk van geskiedenis, ras, geslag en ons medemens.” In die proses van skryf het haar wonde genees. Daar is hoop en skoonheid in die boek, “Maar dis nie die tipe waarin mens ’n sonsondergang binne ry nie.”
The world according to Merle is gebore weens ’n problematiese trek. Merle Levin het haar hart hieroor uitgestort teenoor die uitgewer Melinda Ferguson, wat op haar beurt haar vertelling so komies gevind het dat sy haar ’n kontrak aangebied het. “Skryf vir my in daardie stem van jou,” het sy beveel.
Merle is alles behalwe die stereotipiese prentjie wat mense van ’n 75 jarige-ouma het. Sy het al om ’n kampvuur in die Kalahari met San Boesmans gedans, en in yskoue water geswem. Op die dag wat FynArts haar bel, is haar huis in ’n warboel, maar sy klink rustig. Sy verduidelik dat haar krag kom vanuit “dankbaarheid om te leef” en haal Leonardo da Vinci se woorde aan. “Tie your course to the star and you will navigate any storm.”
Meer besonderhede, die volledige program, kaartjiebesprekings en inskrywing op ons nuusbrief is op hermanusfynarts.co.za beskikbaar.
Besprekings kan ook by Webtickets, Hermanus Toerisme en landwyd by Pick n Pay gedoen word.
Lees ook:
Die LitNet Tuishuise Inwoonskrywer: Bibi Slippers oorgehaal vir die muse van die Karoo

