FW de Klerk het Afrikaners van die juk van die verlede bevry

  • 9

Fotobron: Library Am Guisanplatz (de), Collection Rutishauser, CC BY-SA 4.0

...
FW de Klerk het op 2 Februarie 1990 ’n deur op ’n skrefie vir my en baie ander Afrikaners oopgemaak om saam met redelike en gematigde Suid-Afrikaners hande te vat en saam te bou aan die uitkoms van gedeelde ideale.
...

Baie is geskryf oor die nalatenskap van FW De Klerk na sy dood op 11 November 2021.

Sommige sien hom as ’n volksverraaier; ander, veral uit swart geledere, as ewige rassis; terwyl andere hom geëer het vir sy grootse rol in die totstandkoming van die nuwe grondwetlike bedeling. By sommige is die reaksie louwarm en by andere weer driftig. Ek was bevoorreg om nou saam met hom te werk in die 1993–1998-tydperk en het hom by verskeie geleenthede in die openbaar en soms privaat hoor praat. Oor sy integriteit en sy diep verbintenis tot die geloofsdaad wat hy aangepak het, moet daar nie twyfel wees nie. Dat ook hy sy teleurstellings gehad het oor heelwat aspekte in die huidige bedeling, is beslis ook so, en daaroor is voldoende deur FW de Klerk self gesê en geskryf.

In al die reaksies na sy dood is dit ook nodig om vanuit ’n Afrikaner-perspektief ’n standpunt te stel. Ek weet dat dit nie alle Afrikaners se sentiment verteenwoordig nie en gee ook nie voor dat dit die geval is nie.

Midde in al die kritiek op De Klerk het een indruk nog onbeantwoord en ongesê gebly. Ons mag dalk hóé krities wees oor die uitkomste van onderhandelinge en regeringsbeleid in die huidige bedeling, maar ons moet ook erkenning gee aan FW dat hy Afrikaners bevry het van die albatros van apartheid wat om ons nekke gehang het. Niemand minder nie as Nelson Mandela het dit gesê toe hy op 15 April 1999 in Pretoria met Afrikaners byeengekom het:

Ek weet nie of Afrikaners altyd ten volle besef watter unieke posisie hulle in Suid-Afrikaanse geskiedenis beklee nie. En hoe daardie geskiedenis hulle toerus om mee te werk aan die ontwikkeling van ons land. Afrikaners was op verskillende stadiums van hul geskiedenis veroweraars en verowerdes; slagoffers van verdrukking en beoefenaars van onderdrukking. Met daardie agtergrond en historiese ervaring, en met hul kundigheid, kan hulle ’n besondere rol speel om die land op te bou tot een van voorspoed, geregtigheid en vreedsame saambestaan.

...
Uit bogenoemde perspektief is dit dus belangrik om te aanvaar en te erken dat Afrikaners in ’n stadium van ons geskiedenis wel “beoefenaars van onderdrukking” was.
...

Uit bogenoemde perspektief is dit dus belangrik om te aanvaar en te erken dat Afrikaners in ’n stadium van ons geskiedenis wel “beoefenaars van onderdrukking” was. Afrikaners kon hulself met die aansporing van FW de Klerk uit daardie stadium van ons geskiedenis begelei. Die aanvoorwerk hiervoor het vir jare voor 2 Februarie 1990 reeds begin. Ons kon egter net nie met een geloofsdaad daarin slaag om ontslae raak van daardie juk van apartheid wat van ons as Afrikaners die uitgeworpenes en verstotelinge in ons eie land en internasionaal gemaak het nie.

In sy epogmakende 2 Februarie 1990-toespraak wat Suid-Afrika onherroeplik op ’n ander roete geplaas het, het FW de Klerk die deur oopgemaak vir Afrikaners en met manmoedigheid ’n wekroep tot veral Afrikaners gerig om hierdie gees van vryheid aan te gryp en tot sy volle konsekwensies uit te leef.

Wat is die groot betekenis hiervan? Afrikaners het hul aandeel in die verlede erken en het juis vanuit ’n posisie van mag besef dat dit in Suid-Afrika se belang is om blywende oplossings te soek.

Dit was egter nie net FW de Klerk se aankondiging van 2 Februarie 1990 wat Afrikaners bevry het nie. Op 17 Maart 1992 (amper 30 jaar gelede) het wit Suid-Afrikaanse kiesers aan ’n referendum deelgeneem met die vraag:

Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ’n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?

Die referendum is op 20 Februarie 1992 aangekondig en ’n ongekende mobiliseringsveldtog het gevolg. Sowat 85% van wit kiesers het opgedaag om te stem, en van die 2 804 947 uitgebragte stemme het ’n oorweldigende meerderheid, 68,73% van die kiesers, “ja” gestem. Hiermee het ’n meerderheid wit kiesers, waaronder Afrikaners, onlosmaaklik deurslag gegee aan die uitvoering van ’n proses wat De Klerk op 2 Februarie 1990 begin het. Afrikaners het hul posisie van mag prysgegee in die soeke na ’n permanente politieke oplossing.

Deur die 2 Februarie 1990-toespraak en die daaropvolgende referendum het ons onsself bevry van die verlede wat so swaar om ons nek gehang het. As Afrikaners is ons vandag onlosmaaklik deel van die groter Suid-Afrikaanse samelewing. Die intense woelinge van die 1980’s in die Afrikaner-politiek en in dit wat in 1990 begin is, het Afrikaners op die morele hoë grond geplaas in die deurlopende worsteling met die konsepte van selfbeskikking, soewereiniteit, menswaardigheid, gelyke behandeling en akkommodasie van aspirasies, versoening, skikking en kompromie. Ons kon daarom met morele gesag deelneem aan die soeke na en vestiging van ’n staatkundige model wat die politieke aspirasies van alle Suid-Afrikaanse burgers op ’n moreel regverdigbare wyse sou akkommodeer.

...
Afrikaners kon self optree om die foute van die verlede te herstel, en deur ’n berekende risiko te neem het ons die hoë grond betree van waar ons met gesag oor die hedendaagse Suid-Afrika kommentaar kan lewer en nog steeds voorstelle kan maak om ons situasie te probeer verbeter.
...

Afrikaners kon self optree om die foute van die verlede te herstel, en deur ’n berekende risiko te neem het ons die hoë grond betree van waar ons met gesag oor die hedendaagse Suid-Afrika kommentaar kan lewer en nog steeds voorstelle kan maak om ons situasie te probeer verbeter. Afrikaners kon in die woorde van Nelson Mandela die era van onderdrukking en apartheid agter ons sit, en ons kan vandag nog steeds as bevryde Afrikaners die wêreld en Suid-Afrika in die oë kyk.

FW de Klerk het op 2 Februarie 1990 ’n deur op ’n skrefie vir my en baie ander Afrikaners oopgemaak om saam met redelike en gematigde Suid-Afrikaners hande te vat en saam te bou aan die uitkoms van gedeelde ideale. Oor hoe Suid-Afrika sou gelyk het indien die aankondigings en onderhandelinge nie plaasgevind het nie, kan ons vandag net bespiegel.

Met sy opregtheid, beginselvastheid en insig in die problematiek van die tyd het FW de Klerk die regte besluite geneem met die aankondigings van 2 Februarie 1990. Met die wetenskap van terugblik hoef ons dalk nie almal saam te stem met die uitkoms en die belewenis van die grondwetlike bedeling nie. Maar as bevryde Afrikaners kan ons vandag met morele gesag van die regering en van andere vereis om gehoor te gee aan die grondwetlike waardes van gelykheid, die bevordering van menseregte en vryhede en nierassigheid. Dit is wat werklike versoening vir die land en sy mense teweeg sou bring.

  • Jan Bosman is hoofsekretaris van die Afrikanerbond, hierdie skrywe is ’n persoonlike perspektief.
Lees ook:

Die pers, die Broederbond en FW se besluit

FW hét ’n keuse gehad

FW de Klerk en die laaste Rubicon

Reguit met Robinson: ’n Zoom-gesprek met Leon Wessels

FW de Klerk, die mens

Het FW de Klerk "bloed aan sy hande"?

FW de Klerk vra vir oulaas verskoning vir die pyn van apartheid

’n Daad het geskied: FW de Klerk se nalatenskap

FW de Klerk en die twee video’s

  • 9

Kommentaar

  • Jan-Piet en Ria Bosman

    Ons kan ons ten volle met Jan Bosman se sienings oor die rol wat FW de Klerk gespeel het om die "morele skuld" van die Afrikaner vóór 1990 af te werp, alhoewel daar nog vele in SA en in die buiteland was en steeds is wat die albatros van apartheid vir ewig om ons nekke sal wil hang. Knap bydrae van Jan.

  • Mnr Bosman. U weet tog seker dat daar weinig volke in die wêreld is wat nie ’n geskiedenis van onderdrukking van ’n ander het nie. Soms is dit blote oorheersing, soms vraatsug na ander se goed, soms bloot self-beskikking en -beskerming; veral as die onderdrukker by verre in die minderheid is. Dink maar aan die Amerikaners en Indiane, die Australiërs en Maori's, die Israeliete en Palestyne, die wit Amerikaners en nie-wittes, vele volke wat deur die Sosialiste/Marxiste en Nazi's onderdruk en vermoor is, voortdurende faksie-oorloë en onderdrukking in Afrika. Daar is nog talle voorbeelde. En die grootste kolonialiseerder en onderdrukker van alle tye: Engeland. Vandag nog is dit oral aan die gang. Moet dus tog nie die Afrikaner volk so verguis vir optrede wat die wêreld kenmerk oor eeue heen nie. Daar is nou talle van u portuur wat uit die kas klouter en vir almal wat wil hoor (as daar is, bygesê) vertel hoe hulle in die agtergrond gearbei het om die NP en sy beleid omver te werp en wat Mnr De Klerk nou verafgood. Los nou maar ou koeie en die jakkals-prys-sy-eie-stert stories van die verlede. Groete

  • De Villiers Hauptfleisch

    Baie van ons veroordeel of prys FW vir sy besluit van 1990. Maar niemand noem die name van die ander verligtes soos Pik en Barend nie. Ek glo nie FW sou die besluit op sy eie geneem het as hy nie geweet daar was baie ander in sy kabinet wat hom ondersteun het nie. Hoe dit ook al sy ek het destyds "ja" gestem en ten spyte van wat alles intussen met ons land gebeur het onder die ANC-regering is ek steeds oortuig daarvan dat FW destyds die regte besluit geneem het en ons van Apartheid bevry is. Vorentoe kan dit net beter gaan. Vir die ANC is die skrif reeds aan die muur.

  • En met al sy opofferings, kyk in watter chaotiese toestand is ons land nou.
    Verduidelik dit vir my.

  • Hennie van Deventer

    Hoe sekere Afrikaners dit aan hulleself moreel kan verantwoord dat hulle FW de Klerk se daad van geregtigheid so blindelings verooreel, bly 'n raaisel. Dankie, Jan Bosman, vir hierdie broodnodige skrywe.

  • En die chaotiese toestand gaan al hoe erger word. Die ANC is nog lank nie klaar met die vernietiging van Suid-Afrika nie.

  • Hans Richardt

    FW de Klerk het een-man-een-stem vir swartes gegee. PW Botha het na 1983 stemreg aan Indiërs en bruines gegee en Art 36 van Ontugwet oor gemengde huwelike geskrap. Daarom kon Elna se van Boesak word. Daar was ook gemengde woonbuurte, soos die een waar Chris Hani se sluipmoord was. Swartes en almal anders moes hul groen RSA id's gebruik om te kon stem.
    Wat FW wel vermag het, was om Grondwet te skep wat meer as die Stem, vlag en drie kamer parlement beskryf het.

  • Johannes Cilliers

    Mnr, Bosman, dankie vir u skrywe. In die proses wat FW de Klerk in Februarie 1990 afgeskop het, was een van die belangrike kernelemente die beloftes wat hy aan die blankes gemaak het. Mense het hom vertrou en Ja gestem.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top