Het FW de Klerk "bloed aan sy hande"?

  • 1

Dit was seker ’n moeilike besluit vir die regering om te neem: Moet oud-president FW de Klerk ’n staatsgedenkdiens kry of nie? Eindelik is ’n positiewe besluit geneem, maar daar sal opnuut uiteenlopende uitsprake wees oor sy bydrae tot die vreedsame skikking in Suid-Afrika. Was hy ’n visionêre politieke pragmatis wat ’n kwantum-sprong gegee het om die oplossingsmoontlikhede te ontsluit? Of het hy werklik in sy hart ’n morele besluit geneem dat apartheid fundamenteel verkeerd was?

Ek deel ’n klompie persoonlike ervarings wat ek met hom gehad het. Maar ek wil reguit sê sy bydrae tot ’n vreedsame onderhandelde oplossing was enorm. Sy aardskuddende besluit om politieke partye soos die ANC te ontban en politieke gevangenes soos Nelson Mandela vry te laat, was deurslaggewend.

My eerste staaltjie gaan oor ’n hoogs vernederende ervaring wat ek gehad het met De Klerk as toeskouer. In Januarie 1987 het ek as TV-politieke joernalis vir die SAUK die kongres van die Arbeidersparty in Port Elizabeth bygewoon. Dit was die meerderheidsparty in die Huis van Verteenwoordigers, die “bruin” kamer van die parlement. Die party het besluit om prakties te betoog teen die groepsgebiedewet deur in die “slegs blankes”-deel van die Koningstrand te gaan swem. Dit was nogal ’n petalje om die meestal ouer, lywige mans in die koue water te sien ploeter. Maar hulle het die punt gemaak: Hulle kon besluite vir die land help neem in die parlement en eerwaarde Allan Hendrickse was uit hoofde van sy posisie as leier van die meerderheidsparty in die “bruin huis” ook ’n lid van die oorkoepelende kabinet waar hy insette oor landswye sake kon lewer. Maar weens die groepsgebiedewet kon geen “anderskleurige” by ’n gereserveerde strand gaan swem nie. Sulke diskriminasie was onhoudbaar.

Die Maandag terug in Kaapstad was die hel los!

President PW Botha het in die openbaar daarop aangedring dat Hendrickse om verskoning vra. Hoe kan ’n kabinetsminister willens en wetens ’n landswet oortree? Die feit dat dit ’n diskriminerende wet was, het duidelik geen indruk op Botha gemaak nie. Die eerwaarde het my in die loop van die dag laat weet dat hy uit die kabinet gaan bedank. Ek het toe later in die middag ’n onderhoud met hom gevoer as deel van my storie vir die aand se TV-nuusbulletin oor die dramatiese gebeure. Net voordat ek die ateljee ingestap het om my storie regstreeks in die bulletin te vertel, het ons redakteur vir my ’n brief gegee wat toe pas deur president Botha vrygestel is. In die brief word Hendrickse kennis gegee dat hy uit die kabinet afgedank word. Ek het toe die inleiding van my storie aangepas om voorsiening vir dié nuwe wending te maak, maar die res van die storie oor die eerwaarde se bedanking het in my berig gebly. Ná my uitsending wag ons redakteur my in en sê ons grootbaas van die SAUK, Riaan Eksteen, beveel dat ek moet teruggaan in die ateljee en Botha se brief drie keer tydens die nuusbulletin-uitsending voorlees. Ek het beswaar gemaak en gesê dis mos malligheid. Maar ek is meegedeel dis ’n opdrag en ek het nie ’n keuse nie. Die eintlike opdrag vir die brieflesery, het gekom van PW Botha self wat vir Eksteen so beveel het. (Volgens Eksteen was dit sy eie besluit dat dit drie keer gelees word.) Die president was kwaad omdat Hendrickse se bedanking meer aandag as sy afdanking van die eerwaarde in my storie gekry het.

Ek vat toe die brief en stap die ateljee binne. Groot was my verbasing om daar vir destydse Minister van Onderwys, FW de Klerk, aan te tref. Hy het intussen die ateljee ingestap vir ’n regstreekse skakeling met die nuusaanbieder in Johannesburg oor onderwyssake. Ek moes hom toe meedeel: “Jammer Minister, maar nou moet ek eers jou president se brief vir die nasie voorlees – drie keer.” De Klerk was sigbaar geïrriteerd, maar hy moes maar opsystaan. Van die onderhoud oor die onderwys het nie veel gekom nie.

In 1988 tot 1990 is ek “gepos” na Londen as die SAUK se Europese korrespondent. Van die nuusbestuur het my daarvan verdink dat ek stories na buite oor die SAUK loop en skinder het. (Dis onwaar bewys.) Daar is toe besluit om my “uit sirkulasie” te haal. Die feit dat PW Botha nie ooghare vir my gehad het nie, het seker ook ’n rol gespeel. Vir die eerste twee jaar was dit bitter moeilik. Omdat ek die SAUK verteenwoordig het, is ek deur ieder en elk soos ’n muishond behandel. So asof ek persoonlik ’n apologeet vir apartheid en PW Botha was. Selfs lede van eerste minister Margaret Thatcher se Konserwatiewe Party het geweier om met my te praat.

Op 2 Februarie 1990 het alles dramaties verander. Met president FW de Klerk se verreikende aankondigings om partye soos die ANC te ontban en gevangenes soos Nelson Mandela vry te laat, het die houding teenoor Suid-Afrikaners drasties verskuif. Ek en my kameraman het na Trafalgar Square by die Suid-Afrikaanse ambassade gegaan waar honderde mense fees gevier het oor die aankondigings. Ons het met van die mense gepraat en bykans elkeen het De Klerk lof toegeswaai.

Op 11 Februarie 1990 met Nelson Mandela se vrylating, was daar selfs meer joligheid. Ons het toevallig die twee Pahad broers van die ANC, Essop en Aziz, raakgeloop. Dit was die eerste keer dat ons openlik met iemand van die ANC kon praat en dit uitsaai. Die Pahads het my reaksie op Mandela se vrylating gevra. My antwoord was: Ek is ook bevry. Die BBC se TV-nuus het my gevra om deel te wees van ’n paneelbespreking oor die dramatiese gebeure. Ek het president De Klerk groot krediet gegee en Mandela se vrylating verwelkom.

Ná dié gebeure het ek toegang gehad tot wie ek ook al wou. President De Klerk het eintlik veel meer erkenning in die buiteland as in sy eie land gekry. Só het ek in Augustus 1990 ’n internasionale kongres oor haat in Oslo, Noorweë, bygewoon. Die hoofspreker was Nelson Mandela, maar saam met hom op die verhoog was Leon Wessels. Hy was toe Adjunk-Minister van Buitelandse Sake. Dit was die eerste keer dat senior ANC- en Nasionale Party-verteenwoordigers saam op een verhoog in die buiteland opgetree het. Albei het hulle verbind tot vreedsame onderhandelings om ’n skikking te bereik. Verskeie ander verteenwoordigers – soos van Israel, Palestina en Ierland het gesug: as hulle maar net ’n Mandela en De Klerk gehad het, sou hulle probleme lankal opgelos kon wees. 

In daardie jaar het De Klerk verskeie lande besoek om hulle oor die hervormingsproses in te lig en vir, onder meer, ekonomiese bystand en die opheffing van sanksies te vra. Hy is oral met net die grootste vriendelikheid ontvang – en ons as joernaliste wat saam gereis het ook.

Dit was ook die geval in die stamland Nederland wat een van die skerpste kritici van apartheid was. ’n Groot koerant in die land, Het Parool, het my gevra om ’n meningstuk oor die betrekkinge tussen die twee lande te skryf. Ek het die hoop uitgespreek dat Afrikaanssprekendes as taalgenote van Nederland opnuut bande kan smee ná die vestiging van ’n regverdige bestel in Suid-Afrika. Apartheid was ’n beleid wat mense grootliks met Hendrik Verwoerd vereenselwig het. Hy het as jong seun uit Nederland na Suid-Afrika gekom. Nou het nog ’n man met Nederlandse familiewortels, FW de Klerk, die inisiatief geneem om apartheid af te skaf.

 De Klerk het welverdiend saam met Mandela in 1993 die Nobelprys vir Vrede gekry.

In die aanloop tot die verkiesing in 1994, het ek ’n potjie met president De Klerk geloop wat ons verhouding ’n tyd lank versuur het. Een van die besluite by die Kodesa Onderhandelings was dat al die tuislande wat in navolging van apartheid ingestel is, afgeskaf sou word om weer deel van Suid-Afrika te word. “President” Lucas Mangope van Bophuthatswana het geweier. Cyril Ramaphosa onderhandelaar van die ANC, het hom toe gedreig en gesê as hy nie saamwerk nie, sal die tenks ingestuur word. President FW de Klerk het hom vervies en in ’n verklaring daarop gewys dat Ramaphosa geen gesag oor die weermag het nie. Dit was hy, De Klerk, wat die hoofbevelvoerder was.

Ons het toe De Klerk vir ’n onderhoud gevra. My eerste vraag was dat hy gemeendadig was aan die toepassing van apartheid en die skep van ’n magsbasis vir mense soos Mangope. Nou moes hy sy eie mislukte beleid van jare herroep en Mangope so ver kry om sy posisie prys te gee. Hoe gaan hy dit regkry? Hy het dadelik teruggekap dat ek soos vele joernaliste net na die negatiewe van apartheid verwys en nie na die opregte poging van die Nasionale Party om in afsonderlike ontwikkeling die geleentheid vir alle volke in Suid-Afrika te skep tot selfregering nie. Ek het hom in die rede geval en doodeenvoudig die vraag herhaal oor wat hy omtrent Lucas Mangope gaan doen. Maar hy het weer soos ’n slim regsgeleerde die vraag aangeval pleks van om dit te beantwoord.

So het dit aangekarring totdat ek op die heel einde gevra het: “President De Klerk, wil jy nie, of kan jy nie, die vraag beantwoord nie?”

Hy sê toe: ”Ek sal met hom praat.”

Daarmee was dit die einde van die onderhoud. Hy was natuurlik kwaad vir my en ek was seker ’n bietjie moedswillig om met so ’n gelaaide vraag af te skop. Maar hy moes hom ook nie laat verlei het om op ’n gelaaide vraag te reageer nie. Met die onderhoud het ’n mens die indruk gekry dat hy steeds “groot apartheid” ondersteun.

Ons volgende ontmoeting was tydens die debat tussen hom en Nelson Mandela vroeg in April 1994. Dit was ’n groot eer om die voorsitter van die debat te wees. Sekondes voordat ons op die lug gegaan het, het die uitvoerende regisseur my laat weet dat 800 miljoen mense in die wêreld na die onderhoud sou kyk. My maag het ’n paar draaie gemaak, maar ek het my gedwing om op die taak te fokus. Die debat was nie so opwindend nie, want die ANC en die NNP het weke lank oor die formaat onderhandel: hoeveel tyd elke deelnemer vir ’n openingstandpunt sou kry, wie eerste sou praat en laaste, tyd vir repliek, wie die joernaliste wat vrae vra sou wees, hoeveel elk kon vra, ensovoorts. De Klerk en Mandela het hulle gehou by die onderhandelde formaat en alles het glad verloop. Altwee het goed gedoen, hoewel Mandela seker met sy uitreik na De Klerk op die einde ’n wenskuif gemaak het.

As ’n mens vandag na die debat kyk, is dit jammer om te sê dat so min van die beloftes nagekom is. Mandela het in die besonder onderneem om korrupsie te beveg. Hy draai seker in sy graf om oor alles wat deesdae aangaan.

Ná so twee jaar van die nuwe Suid-Afrika het F.W. de Klerk bedank as mede-adjunk-president en sy party uit die regering van nasionale eenheid gelei. Dit was ’n bitter ongelukkige besluit. So het verskeie van die kabinetslede my al persoonlik meegedeel -- soos Roelf Meyer, Pik Botha en Dawie de Villiers. Die RNE was ’n spesifiek gestruktureerde stelsel wat konsensus, nasiebou en versoening bevorder het. Daar was nooit weer so ’n praktiese, doelgerigte regeringspoging om aan versoening te werk nie.

Die Waarheid en Versoeningskommissie moes so ’n liggaam gewees het, maar dit het net ten dele die waarheid en min versoening gelewer. Ná De Klerk se getuienis voor die kommissie, het die voorsitter, aartsbiskop Desbond Tutu, sy teleurstelling uitgespreek dat De Klerk nie begrip gehad het vir die wreedheid van gruwels wat die veiligheidsmagte gepleeg het nie. Tutu het nie De Klerk se getuienis geglo dat hy nie van sulke vergrype geweet het nie.

In 2012 het De Klerk in ’n onderhoud met Christine Amanpour van die Amerikanse TV-stasie CNN, reguit gesê hy het nie verskoning gevra vir die Afsonderlike Ontwikkeling van NP-beleid nie, net oor vergrype en die seer en lyding wat daardeur veroorsaak is. Kritici het dit gebruik as bewys dat hy nooit van apartheid afstand gedoen het nie. Op 2 Februarie 2020 het De Klerk op ’n vraag van ’n SAUK-joernalis gesê hy kan nie saamstem dat apartheid ’n sonde teen die mensdom was nie. Hewige reaksie het gevolg. Die leier van die EFF, Julius Malema, het die parlementsopening, wat deur die oud-president bygewoon is, ontwrig en geëis dat De Klerk die huis verlaat omdat hy “bloed aan sy hande” gehad het. Selfs De Klerk se eie stigting het die uitspraak veroordeel en die uitvoerende direkteur, Theuns Eloff, het bedank.

FW de Klerk het in sy laaste video-boodskap, wat ná sy dood in November vrygestel is, die oortuigendste ooit gelyk toe hy met emosie weereens verskoning vir apartheid gevra het. Hy het die stelling gemaak dat hy reeds in die vroeë tagtigs in ’n soort bekering diep in sy hart tot die besef gekom het dat apartheid moreel onaanvaarbaar was. Ek moet sê ekself het nooit die indruk gekry dat hy so ’n omwenteling ondergaan het nie. Ek het in verskeie onderhoude met hom probeer vasstel of hy ’n Damaskus-ervaring gehad het, waar, wanneer en hoekom? Ek kon nooit ’n antwoord kry nie.

FW de Klerk is ongetwyfeld ’n historiese figuur wat krediet moet kry as seker een van die leiers wat die land van oorlog en ekonomiese verval help red het. Dis net jammer hy het daardie beeld self skade aangedoen met van die stellings wat hy aan die einde van sy lewe gemaak het.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top