Jan Bosman, gebore op 12 Junie 1964 in Pretoria, het matriek geslaag by die Hoërskool Kempton Park en na sy nasionale diensplig skryf hy in by die Randse Afrikaanse Universiteit. Hy het sy BA Politieke Wetenskappe en ’n BA (Hons) Ontwikkelingstudies hier voltooi. Gedurende die studietyd by RAU was hy primarius van die manskoshuis Afslaan en het hy vir twee jaar op die studenteraad gedien, waarvan die tweede jaar as onder-voorsitter van die studenteraad.
Hy begin sy loopbaan in 1991 by die Nasionale Party van Transvaal as jeugsekretaris en word in 1993 aangestel by die federale raad van die Nasionale Party as mediabeampte waar hy later dien op die verkiesingspan van die voormalige staatspresident, FW De Klerk, as mediakoördineerder. Hier was hy verantwoordelik vir alle politieke medianavrae, sowel as die bestuur van al die logistieke reëlings en samestelling van verkiesingsprogramme vir mediatoere en massabyeenkomste in die 1994 algemene verkiesing.
In 1999 sluit hy aan by Louis Luyt, voormalige president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, waar hy optree as woordvoerder vir Luyt en die Federale Alliansie wat ten doel het om opposisiepartye bymekaar te bring. In die tyd is hy ook woordvoerder vir Ellispark Stadion Maatskappy. Na die algemene verkiesing word hy deur Luyt gesekondeer na die Demokratiese Alliansie waar hy vir ’n paar maande dien as Direkteur: Parlement vir die Demokratiese Alliansie.
In Mei 2001 sluit hy aan by die provinsiale regering van die Wes-Kaap se Ministerie van Plaaslike Regering. Hy ontvang in die tyd ook ’n toekenning van die nasionale departement vir die beste kommunikasie in die munisipale infrastruktuurprogram. Na die algemene verkiesing van Mei 2004 word hy aangestel as die hoof van die Ministerie van Landbou in die Wes-Kaap.
Hy word aangestel as besturende direkteur van die Afrikanerbond in Maart 2007. Die posbenaming verander op 1 Maart 2010 na hoofsekretaris van die Afrikanerbond.
Een van sy belangstellings is die bevordering van eenheid deur diversiteit. Hy ontvang erkenning van Solidariteit in November 2017 as een van 100 Afrikaners wat Afrikaans bevorder en spesifiek vir sy bydrae tot die ontwikkeling van Afrikanerdenke. Hy skryf tans gereelde bydraes vir Maroela Media en Pretoria FM en publiseer gereeld artikels in ander Afrikaanse koerante.
Hy is ook betrokke in die gemeenskap:
- Lid van die gemeenteraad van die NG Kerk Randburg-Suid (voorsitter 2013 – 2015)
- Tans lidmaat van die Gereformeerde Kerk Linden
- Heemraadslid van die Unika Voortrekkerkommando (2011 – 2016)
- Ontvang in Oktober 2016 ’n penning vir uitstaande jeugdiens vanaf Unika Kommando en word beskermheer vir die kommando.
- Lid van die beheerliggaam van Unika Laerskool, sedert Maart 2012 en voorsitter in die tweede termyn, Maart 2015 – Oktober 2017.
- Lid van die Hoërskool Randburg beheerliggaam sedert Maart 2018 en dien tans as ondervoorsitter.
- Trustee en lid van die dagbestuur van Rapport Onderwysfonds
- Direksielid van MentorVennoot – ’n organisasie wat mentorskap en entrepreneurskap onder jongmense bevorder.
Hy is getroud met Marike (registrateur van die Handel-, Regs- en Bestuursfakulteit by Wits Universiteit) en die egpaar, wat in Randburg bly, het ’n seun Pieter-Jan (19) en 'n dogter Marlé (17).