Elders gesien: Die ruimer ons in ’n toekoms wat gesond maak

  • 0

...
Afrikanerskap in terme van ons ervaring is per definisie uitsluitend, maar meer nog, die skep van hierdie identiteit is deel van die boumateriaal van “settler colonialism” in Suid-Afrika.
...

Reggie Nel het oorspronklik hierdie stuk op Facebook geskryf

Oor die afgelope paar weke het die Amerikaanse “empire” weer die wonde oopgeskeur oor Afrikanerskap en Afrikaans-wees hier in ons land. Uiteraard is dit nie ’n verassing nie.

Maar kom ons kyk dieper en lees dit teen ’n groter agtergrond. Daar is ’n patroon: Die keiser wil verskeur – dit  gaan oor brute mag en die uitbreiding van die Ryk, sy ryk(-dom). Ek het daarom ook die weersin en weerstand daarteen hier in ons land met belangstelling gevolg. Dis lofwaardig.

Maar weer eens moet ons dieper kyk, want die vraag is: Wie neem leiding? En ek wonder wie word ingesluit, wie nie. Anders gestel, wie is hierdie “Afrikaner” met ’n spesifieke taal, geskiedenis en kultuur? Hoe kom dit, die identiteitsvorming, ook vandag tot uitdrukking in die keuses wat gemaak word? Soms onbedoeld.

Nou moet ek “disclose”: Ek word ook soms genooi om Facebook-groepe te “join”, om blaaie te “like”, en ja, ook kry ek sms’e vanaf Solidariteit en AfriForum om die “Swart Gevaar” te stop. (Uiteraard gebruik hulle nie hierdie terme nie, want dit is mos nie polities korrek nie, en boonop, dit is te kru en platvloers om so jou onderrok te laat uithang.) Miskien is dit my van wat mense verwar. Ek weet nie altyd nie. Polities en kultureel het ek my egter nie so ver kon kry om myself te skaar by enige van hierdie bewegings nie. Maar nou is die vraag: Hoekom nie? Is hierdie reaksie in my bloot, of nog steeds, ’n simptoom van die internalisering van ’n bruin (kleurling-) rasidentiteit, of van ’n algemene apatie teenoor hierdie stryd teen die nuwe gesig van die “empire”?

Miskien is daar ander redes?

Ten diepste dink ek egter dat die insigte van “conscientisation” van “Black consciousness” nog steeds vir my te swaar weeg – ook in hierdie tydsgewrig.

Vir Steve Biko was die term “swart” (so verstaan ek hom) nie direk gekoppel (soos in die volksmond vandag) met ’n spesifieke rasseklassifikasie nie. Hy sien die term “swart” eerder as simbolies vir dit (en diegene) wat sistemies afgeskryf word en tog nog met waardigheid opstaan teen hierdie magsgreep.

Swart is ’n bewussyn. Dit was dus (anders gestel) ’n dieper verbintenis met en tot onderdruktes en daarom ook hulle transformatiewe aksie. Afrika-wortels maak saak, as ’n verbintenis om hier ’n verskil te maak, veral waar “Afrika” uiters negatief beskou word en sistemies aan die agterspeen suig. Die term “Afrika” kom egter ook in die benaming “Afrikaner” voor. Hoe nou gemaak?

Ek kon egter nog nooit myself sien en versoen met hierdie benaming, met Afrikanerskap nie, ook nie vir die mense met wie ek grootgeword, met wie ek nou identifiseer en met wie ek in die toekoms wil instap, aanpak of opbou nie.

Afrikanerskap in terme van ons ervaring is per definisie uitsluitend, maar meer nog, die skep van hierdie identiteit is deel van die boumateriaal van “settler colonialism” in Suid-Afrika. Daar kon geen “settler colonialism” gewees het sonder hierdie identiteitsvorming nie.

Miskien gaan ek te ver terug, maar die punt is, identiteitsvorming is nie ingebak in ons (gemengde) gene nie, dis nie verewig nie; ons kan en moet keuses maak daaroor en ons moet ons sosialisering en kultuurvorming, en daarom ons bevoorregting, by tye bevraagteken. Dis ’n ander bewussyn.

...
Diegene wat nou in bevoorregte posisies is, word uitgedaag om, teen die grein van die sug na selfbelang en selfhandhawing in, hulself op die spel te plaas, in diens te staan.
...

Identiteitsvorming vir nou, en vir my gevoel, moet eerder vir ons anker in ’n verbintenis tot die strewe en werk vir geregtigheid, veral vir diesulkes aan die onderkant van die samelewing. Diegene wat nou in bevoorregte posisies is, word uitgedaag om, teen die grein van die sug na selfbelang en selfhandhawing in, hulself op die spel te plaas, in diens te staan.

Dis waaroor dit gaan. Dit beteken vandag, in my oordeel, om nie agter keisers aan te hardloop of om, hoed in die hand, by hul vergulde deure aan te klop, of hulle hande te vryf nie. Dis anders as die bou van “empires” – ons het nou ’n geleentheid tot ’n kykweer, ’n geleentheid waar ons in stadige aksie eerder raaksien wie is onse mense en met wie wil ek stap en met wie bou ek ’n onse toekoms … Die ruimer ons in ’n toekoms wat gesond maak, wat heel, wat lewensmoontlikhede oopsluit.

  • Reggie Nel is dekaan in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.
Lees ook:

Afrikaner, Afrikaan, Afrikaans

Die Boetman-woede wat nooit heeltemal gaan lê het nie

Ruimhartigheid kan ons ook hierdie keer help versoen

Is Afrikaners slagoffers?

Ons is nie almal so nie – ’n reaksie op die sogenaamde "Afrikaner Verklaring"

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top