
...
Net Harari se ruimhartige oplossings – en Madiba se verbintenis tot samehorigheid, soos Cloete sê – kan ons ook hierdie keer help om die wa deur die Amerika-“AfriSol” vs Ramaphosa-drif te trek wat, op die vooraand van Versoeningsdag, soveel verdeeldheid onder Suid-Afrikaners veroorsaak.
...
Ons is op die vooraand van Versoeningsdag. Suid-Afrika het weer ’n “ruimhartige” versoeningsoomblik nodig, soos dié van 30 jaar gelede.
Yuval Noah Harari, historikus, filosoof en skrywer, stel ’n anderste soort oplossing vir die jare lange konflik tussen Israel en Palestina voor as die nou al oorbeklemtoonde mantra: “Twee state vir twee volke”.
Opgesom in vyf woorde, soos vervat in die opskrif by sy artikel in verlede naweek se FT Weekend, lui sy voorgestelde oplossing so: “Only generosity can secure peace.” Generosity: vrygewigheid, gulhartigheid, mededeelsaamheid – en liefdadigheid. Dit vereis allereers dat iets prysgegee word voordat daar op iets aangedring word, soos wat meermale in konfliksituasies die gewoonte is.
Nou besef ’n mens natuurlik enige verwysing, ontleding of die waag van ’n mening oor die Israeli-Palestina-grondgeveg is soos om oor gloeiende kole te loop en te hoop dat jou voete ongeskonde daarvan sal afkom. In hierdie skryfstuk is daar geen sulke bedoelings nie. Die bedoeling hier is slegs om Harari se oproep tot ruimhartigheid na te volg, in dié geval met betrekking tot die konflik tussen die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings – en die uitkringende effek daarvan op groepsverhoudings in ons land.
Soos wat Harari uitwys, is daar foute in die meesterverhale van sowel die Israeli's as die Palestyne. Wat dus nodig is, is dat albei partye hulle moet afvra: “If I were on the other side, what would I need in order to live in security, prosperity and dignity?”
Dit is hoe hy by die noodsaaklikheid van enige van die bostaande vertalings vir “generosity” aan albei kante uitkom: “A good peace for Israel (...) is a peace that gives Israelis good neighbours [...] and that can happen only if Palestine is a real country rather than a collection of fenced-off compounds.” Omgekeerd vereis dit van die Palestyne “something more precious – legitimacy”. Hy verduidelik dit: “Israelis live in constant fear of annihilation [...].”
Dié vrees vir uitwissing, aldus Harari, is geregverdig in ’n breër magskonteks wat Israel – hoewel plaaslik sterker as Palestina – “verdwerg” teenoor die groter Arabiese of Moslem-wêreld. Indien Palestina dus opreg Israel se bestaansreg erken, sal dit die weg voorberei vir die hele Arabiese en Moslem-wêreld om dieselfde te doen, reken hy. “Only then could Israelis breathe freely, which will enable the Palestinians to finally enjoy calm as well.”
Hier te lande word tans ’n ander soort konflik ervaar, wat spruit uit die bilaterale boggherop tussen die staat en pres Donald Trump. In sy toespraak aan die nasie vroeër vandeesweek wou pres Cyril Ramaphosa sy mede-Suid-Afrikaners opnuut laat glo, soos hy nog deurentyd volhard, dat Trump se uitlatings en optrede teen ons land op “blatante waninligting” gebaseer is. Dié “ongegronde en valse bewerings” oor ’n veronderstelde “volksmoord” teen Afrikaners en die Zimbabwe-styl “gryp van wit mense se grond” word aangehits, voer die Ramaphosa aan, “deur ’n groep en individue in ons land en in die buiteland”.
Wie dié groep en individue is, het hy nie gesê nie, maar dit verg nie uitsonderlike ontledingsvermoë om die afleiding te maak dat dit die Solidariteit Beweging en AfriForum is na wie hy verwys nie. Wie die individue mag wees, kan ons ook net raai: moontlik Corné Mulder van die VF Plus se afvaardiging van drie wat ook Amerika besoek het? Maar dan sou Ramaphosa seker “politieke partye” by sy lys naamlose verdagtes ingesluit het.
Of wat van ’n sakeman wie se naam ook al in dié opsig beswadder is – nie slegs in die Ramaphosa-era nie, maar ook so ver terug as die Zuma-termyn? André Pienaar van C5 Capital is ’n belegger in tegnologie en ’n prominente rolspeler in kubersekeheid en in die ruimte- en kernkragbedrywe. Dit is hoe hy voorgestel is in Oktober 2021 in ’n “eksklusiewe” onderhoud met Max du Preez se Vrye Weekblad (weergawe 3.0), waarin Pienaar uiteindelik substantief belê het.
Sonder om pasmaats te probeer maak van die Israel-Palestina-situasie en die Trump-Ramaphosa- geopolitieke geveg, want jy kan dit eenvoudig nie doen nie, is daar tog elemente in Harari se artikel oor dié Midde-Oosterse konflik wat hier van toepassing gemaak kan word. Die teenwoordigheid van “foute in die meesterverhaal” van alle betrokkenes is een daarvan; die afwesigheid van ’n ooreengekome benadering oor hoe om die partye tot oplossingsgedrewe “ruimhartigheid” te bring, is nóg een.
In die Trump-narratief is die “fout” sy aandrang daarop dat Afrikaners uitgemoor word. Hieroor word daar van die Solidariteit Beweging en AfriForum-groepering verwag om die “fout” in hul eie meesterverhaal reg te stel deur dit pertinent te stel dat geen só ’n situasie, soos deur Trump beskryf, afspeel nie, eerder as om slegs te ontken dat hulle nie die verspreiders van hierdie “ongegronde en valse bewerings” is nie.
In die Ramaphosa-narratief word die “fout” beskou as sy weiering om te erken dat Amerika sy mes vir die Suid-Afrikaanse staat in het oor méér koppestampkwessies as slegs Trump se uitlatings. Die vinger wat hy Sondagaand en voorheen gewys het, wys dus terug na homself (én die ANC se buitelandsebeleidsingesteldheid), word uit Solidariteit- en AfriForum-geledere geargumenteer.
Hier is ’n derde element ter sprake – en dit is die kommentariaat se rol in die Trump-SA-“AfriSol”-twis. In die meeste gevalle skyn dit asof mense wie se taak dit is om die massas te help om kwessies beter te verstaan, self gebuk gaan onder eie menings.
Die dag voor Ramaphosa se Sondagaand-“familievergadering” byvoorbeeld het Du Preez hom in reaksie op Trump se nuutste “volksmoord”-uitlating tot binne-in die spervuur getwiet:
I have to go to Woolworths this morning for ciabatta and humus. Dear @afriforum, please inform me if it is safe? Or will I be slaughtered by an angry black mob in the cheese aisle because I’m a white Afrikaner?
Waartoe hierdie soort standpuntinname lei, selfs wanneer dit tong-in-die-kies of sarkasties bedoel is, is ’n verlate middelruimte, waarin meermale gepraat word oor hoe die kloof tussen uitgangspunte vernou kan word. Jacob Cloete, ’n politieke ontleder aan die Universiteit van Wes-Kaapland, het Donderdagoggend in ’n onderhoud op RSG se ontbytprogram Op en wakker ’n dapper poging hiertoe aangewend: “Soos ek dit sien, is dat AfriForum nou vasgevang is in ’n wêreldpolitiek wat gepaard gaan met die Suid-Afrikaanse regering se ondersteuning van Palestina en die hofsaak teen Israel.”
Maar ook maan hy: “AfriForum moet versigtig wees as hulle vir Suid-Afrika omgee – en hierdie Suid-Afrika waarvan ek praat, sluit bruin, swart en Indiër ook in, so as ons omgee vir hierdie Suid-Afrika, die een wat Mandela geskep het, die reënboognasie, dan moet daar beter gesprek gevoer word met die Suid-Afrikaanse regering, maar ook met ander groepe. Ander groepe kan sóveel bied aan AfriForum in terme van die geweld wat baie Afrikaners op hulle plase ervaar.”
Cloete weet dalk nie, maar die “AfriSol”-groepering vertel gereeld hoe hulle briewe aan die President se kantoor nie eens ’n erkenning van ontvangs kry nie. Wat die waarde van sy voorstel van groter gesprekvoering tussen dié groepering en ander groepe – “bruin, swart en Indiër” – laat styg.
Gesprekvoering is wat Suid-Afrika gedurende die oorgangsjare in staat gestel het om ’n brug te bou oor die sloot tussen die ou bedeling en die nuwe bedeling. Ons wou uiteindelik “veiligheid, voorspoed en waardigheid” vir almal verseker. Ná jare se konflik, ook gekenmerk deur ’n magswanbalans soos dié tussen Israel en Palestina, moes “ruimhartigheid” daarom ingespan word om die destydse “foute in die meesterverhaal” van die voormalige bewind en dié van die bevryder te oorkom.
Net Harari se ruimhartige oplossings – en Madiba se verbintenis tot samehorigheid, soos Cloete sê – kan ons ook hierdie keer help om die wa deur die Amerika-“AfriSol” vs Ramaphosa-drif te trek wat, op die vooraand van Versoeningsdag, soveel verdeeldheid onder Suid-Afrikaners veroorsaak.
- Heindrich Wyngaard is ’n burgerregte-aktivis en ’n openbare intellektueel.
Lees ook:
“Wie (se fout) is ek?” Mymeringe (nee, stukkies) oor identiteit

