"Ek is eintlik net ’n nerd" – ’n onderhoud met Nina Swart

  • 1

Gedurende die laaste 13 episodes van die gewilde regsdrama, Fynskrif, word daar gefokus op die karakters se persoonlike en familielewens en moet almal uiteindelik besluit wat hulle werklik in die lewe wil hê.

Remona Voges het met Nina Swart, wat die regie van Fynskrif  behartig. Dié reeks se finale seisoen word tans op kykNET uitgesaai.

Nina Swart in die regisseurstoel op die stel van Fynskrif (Foto: verskaf)

Hallo Nina! Die meeste mense sal jou onthou as “die wilde Wilmien” van 7de Laan jare gelede. Jy was ook al in verskeie ander TV-produksies te sien. Jy het jouself egter intussen as regisseur gevestig. By watter produksies (behalwe Fynskrif) was jy onlangs betrokke? Kan jy asseblief meer daaroor vertel?

Ek het destyds (2003), tydens my laaste jaar by 7de Laan, opleiding onder Pierre van Pletzen ontvang as regisseur. Dit was my eerste en laaste ervaring van met akteurs werk totdat Fynskrif oor my pad gekom het.

Mense buite die bedryf is nie altyd bewus van die feit dat daar eintlik net twee kategorieë van televisie bestaan nie, naamlik “scripted” (dramas, sepies, films, advertensies, ens) en “unscripted” (realiteitsreekse, leefstylprogramme, speletjieprogramme, dokumentêre, ens).

Ek was maar nog altyd as regisseur betrokke by realiteits- en leefstyltelevisie. Ek het vroeg in my loopbaan as regisseur (op die stel van Boer soek ’n vrou se eerste vyf reekse!) ’n passie ontdek vir onderhoudvoering. Dít, tesame met my belangstelling in die tegniese aspekte van TV, en die feit dat ek so baie van stories hou, het my van nature laat inval by realiteitstelevisie en dokumentêre.

Hoogtepunte in my regieloopbaan sluit in: die reeks In ons midde wat gehandel het oor mans wat hul vrouens vermoor (dit was ’n uiters belangrike, maar uiters uitmergelende projek); my betrokkenheid by drie reekse van Survivor SA (ek het as inhoudsregisseur gewerk en saam met die deelnemers op die strande gesit!); en, mees onlangs, die reeks Trap! Dis my Huis! (wat gebaseer is op ’n baie interessante internasionale formaat, en wat op tegniese sowel as inhoudsvlakke, baie stimulerend was). Tussendeur het ek ’n legio leefstylprogramme aangepak wat my op ’n persoonlike vlak baie geleer het van kosmaak en klerestyl.

Foto: verskaf

Jy en jou suster, Lise, is beide in die vermaaklikheidsbedryf. Het jou ouers dié belangstelling by julle gekweek of waar kom dit vandaan?

Ek dink ons ouers het ’n belangstelling in álles aangemoedig. Ons het oor alles rondom ons gehoor van kleins af, en is aangemoedig om vrae te vra en meer uit te vind oor alles. Aanvanklik het ons redelik “uitbundige” persoonlikhede gelei tot ’n aanname dat ons twee in die vermaaklikheidsbedryf sal aard. Maar beide van ons het vroeg in ons loopbane besef dat om aktrise of aanbieder te wees, nie eintlik is wat ons wil doen nie. Op ons individuele maniere het ons al twee teruggekeer na wat ons éintlik geleer het, naamlik nuuskierigheid. So het Lise vandag haar eie radioprogram (en besigheid), Wie is ek?, en ek, as regisseur, ry en reis die wêreld vol om te kyk en hoor hoe mense dinge doen en situasies hanteer.

Jy het eers vanaf die tweede seisoen die regie van Fynskrif begin behartig. Was dit vir jou ’n groot uitdaging om by die produksie in te val?

Genugtig, ja, dit was ’n enorme uitdaging! Nie net het ek nog nooit saam met enige van die mense wat betrokke was by die produksie gewerk nie (al is ek al vir jare vriende met Louis en Albert, het ek amper geen van die tegniese span geken nie), maar ek het ook geen werklike ervaring van dramaregie gehad nie. En boonop was daar die verwagting dat ek moes voortbou op die sukses van ’n ongelooflike eerste reeks! Ek was verby angstig!

Maar (en dis ’n belangrike “maar”) die wonderlike ding van mense wat werklik uitstekend is met wat hulle doen, is die grasie en “generosity of spirit” en bereidwilligheid om te deel en die kalmte waarmee hulle die mense om hulle benader. Die eerste paar dae is soos ’n waas, maar ek is daar deur met die hulp van my span en die wonderlike akteurs. En natuurlik was die feit dat Louis en Albert heeltyd naby was om raad te gee, ook geweldig gerusstellend gewees. Ek sidder eintlik as ek nou daaraan terugdink. Ha!

Dalk is ek net domastrant, want ek het voortgeploeter en maar net probeer om aan die tegniese span en aan die akteurs die dinge te gee wat ek destyds waardeer het as aktrise, naamlik vertroue en vryheid, maar ook duidelike perke en verwagtinge. Op een of ander manier het ons almal aan die ander kant uitgekom sonder te veel probleme, en dit is toe te skryf aan die mense om my (wat altyd, altyd professioneel en wonderlik was) en die tekste waarmee ons gewerk het (wat eenvoudig briljant is!). Ek het só baie geleer, maar die belangrikste les was dat ek nie altyd alles weet nie, en dat ek maar mág vra as ek onseker is. Dit was tegelyk bevrydend en gerusstellend.

Nina merk die laaste skoot wat sy ooit saam met die span geskiet het (Charlton George as Dolf is ook in die foto) (Foto: verskaf)

Hoe was die ervaring om die regie van Fynskrif te behartig? Dit moet heelwat anders wees as om die regie van byvoorbeeld  leefstylproduksies te doen? Hoe het jul die proses met Fynskrif benader?

Jy is heeltemal reg – dit is baie anders.

Met ’n drama “sien” ’n mens die toekoms anders, en jou voorbereiding is dus, as regisseur, anders.

As ek byvoorbeeld ’n realiteitsreeks aanpak, weet ek min of meer dat ek volgende week Dinsdag ’n “merge” moet skiet (soos op byvoorbeeld Survivor), maar ek het geen idee wat gaan gebeur, of wat die storielyne gaan wees wat gaan uitstaan nie. Al wat ek kán beplan, is hoeveel kameras daar moet wees, waar hulle moet staan en wat al die potensiële permutasies kan wees waarvoor ons moet uitkyk sodat ons dit kan verfilm. Wanneer Dinsdag dan aanbreek, is ’n mens op die uitkyk vir alles wat moontlik anders kan wees as wat jy beplan het en jy verander dinge op die oomblik, sodat jy dit nie mis nie en in die finale episode kan gebruik.

Met ’n drama, aan die ander kant, weet jy dat jy volgende Dinsdag ’n ete-toneel gaan verfilm vanaf 14:00 met x aantal akteurs. Jy weet (bepaal) waar elkeen gaan sit, wat hulle gaan sê en hoeveel maal die toneel oor en oor geskiet moet word om elke belangrike detail vas te vang. Wanneer Dinsdag dan aanbreek, is ’n mens op die uitkyk vir dinge wat moontlik anders kan wees as wat jy beplan het, en jy pas daarby aan en verander dinge op die oomblik, sodat jy dit nié in die episode hoef te gebruik nie.

Ek weet nie of dit sin maak nie? Kortom: Die rol van die regisseur is beslis anders met drama as met realiteitstelevisie. Ek dink ook ek is nog besig om uit te pluis presies hoe, maar dis ’n heerlike uitdaging en leerkurwe, omdat ek nie meer bang is om nie te weet wat volgende gaan gebeur nie (realiteit), en ook nie meer bang is om op my span (akteurs, tegniese personeel en die teks) te steun vir hulp en raad ten einde presies te kry wat ek wil hê nie.

Fynskrif was ’n heerlike proses, omdat almal so kreatief is! Ek kon soggens nie wag om op stel te kom om te sien hoe elke departement (garderobe, kuns, kamera en beligting) vir my gaan verras met idees rondom die verfilming van elke toneel van die dag nie. Dan kon ek saam met hulle praat oor opsies en ons kon saam die beste planne maak. Ek voel steeds soos ’n groentjie, maar die ervaring het my geleer dat ek daarvan hou om “scripted” werk ook te doen.

Nina se perspektiewe op die dag van Dolf (gespeel deur Charlton George) en Gertrude (gespeel deur Elana Afrika) se troue (Foto: verskaf)

Mis jy die verhoog of om jou lyf aktrise te hou? Is toneelspel iets wat jou nog na aan die hart lê?

O nee, glad nie. Nadat ek laasjaar vir ses maande met die voorste akteurs in die land gewerk het aan Fynskrif, het ek opnuut besef dat ek eintlik net ’n gehoorlid wil wees wat toekyk hoe die “regte” akteurs te werk gaan! Regie is die beste en lekkerste posisie van waar ’n mens dít kan sien.

Wat maak jou opgewonde oor jou bedryf? Hoe verskil dit van 20 jaar gelede toe jy begin het? (Is dit al só lank?)

80 jaar, Remona, nie 20 nie! Ha! Nee, ek speel.

Die grootste verskil is seker maar die manier waarop my vriende en kollegas nou gesien word as die leiers in hul veld. Dit voel soos gister wat ons in bondels om groot tafels gesit het en gepraat en gedroom het oor die toekoms en oor wat ons gaan doen, en nou sit ons (in kleiner bondels) en praat oor jong akteurs en skrywers en opkomende talent.

Ek onthou hoe dit was om gementor te word deur ervare mense in die bedryf, en nou vra mense vir my vrae asof ek ’n mentor kan wees. Bwaaa! Ek klink soos ’n ou tannie wat verwonderd is oor die feit dat ek nou ’n ou tannie is. (Dalk is dit waar.)

Ek dink ook die bedryf het verander in terme van die hoeveelheid kompetisie wat daar is. Toe ek jonk was, was dit die beginjare van gefokuste mediadekking vir spesifieke reekse. Sosiale media het nie bestaan nie. Jy was een maand die gesiggie op hiérdie tydskrif se voorblad, en volgende maand op ’n ander een. Vandag word jy gevra hoeveel Instagram-followers jy het voor jy sommige oudisies mag doen! Ek is oneindig, en werklik dankbaar vir elkeen wat my deur die jare ’n kans gegee het en aangestel het. Ek dink nie die kompetisie was destyds so straf soos nou nie, en daar was (voel dit my) minder mense wat beskikbaar was vir elke posisie, en ek is kanse gegun wat my loopbaan bevorder het wat ek nie nou dink ek sou kry nie. Ek is verlig dat ek nie nou in die wêreld moet uitgaan en myself en my talente hoef te verkoop nie. Ek sou pateties wees en tien teen een in ’n ander rigting ingegaan het en dalk ’n sweminstrukteur geword het. Of ’n delibestuurder.

Daar was 20 jaar terug ook minder TV. Minder opsies vir mense om te kan werk in verskillende genres en op verskillende gebiede. Destyds was jy ’n akteur wat een of twee maal ’n jaar na feeste toe gegaan het met jou produksie. Jy het met bewondering gekyk na die gevestigde akteurs wat wonderlike werk op TV en in films en op die verhoog doen, en gehoop jy kry eendag ’n kans om saam aan ’n projek te werk. Vandag is daar ’n legio kunstefeeste en ’n verskeidenheid TV-kanale wat konstant nuwe werk soek. Jy kan werk as kamera-assistent op een ding, en ’n hoofrol speel in ’n ander. Jy kan leer hoe om grimering te doen en ook ’n YouTube-ster wees. Jy kan jou praktiese talente gebruik in ’n rekwisietedepartement, en stemopnames doen vir radio-advertensies. Die grootste verskil is dat jy meer as een ding mag (móét) wees om te oorleef in die industrie.

Op Fynskrif se stel (Foto: verskaf)

Wie het tot dusver die grootste invloed op jou as regisseur gehad? En watter raad het jy vir ander jong regisseurs?

Is dit “coy” om te sê almal met wie ek al ooit gewerk het in enige kapasiteit, het my geslyp? Ek steel idees en werkswyses by almal. Groot Dief Swart. Ek probeer altyd alles onthou wat ander regisseurs van my verwag, en vir my gesê het. So, my regiestyl is ’n kombinasie van goeie gewoontes wat ek langs die pad opgetel het by ander regisseurs.

Wat my egter die meeste bybly, is wanneer ek onthou hoe om dit nié te doen nie. My eerste werk ná universiteit was om vir twee maande ’n seremoniemeester (MC) te wees in ’n show in ’n hotel in Kaapstad saam met ’n cover band. Die regisseur was die tromspeler, en saans, tydens elke vertoning, het hy (terwyl ons “Simply the best” van Tina Turner gespeel het) kliphard van agter die drumkit vir my geskree hoe swak ek is en hoe ek besig is om die hele show op te neuk. Dit het my geleer dat ek nooit op mense wil skree nie, en dat ek altyd gaan probeer om op die positiewe te konsentreer voordat ek die negatiewe gaan aanspreek of probeer verander.

Nina kyk op die monitor na ’n toneel van Ben (gespeel deur Neels van Jaarsveld) en Katrien (gespeel deur Cintaine Schutte) (Foto: verskaf)

Wat is in jou drome vir die toekoms?

In hierdie stadium, waar die bedryf só naby aan lamgelê is deur die pandemie, is my drome meer eenvoudig as voorheen. Ek het nou vir twee maande “gerus”, en ek sien uit na die projekte waaraan ek binnekort gaan begin werk. Dis ’n mengsel van drama en realiteit, en ek voel ek gaan weer kans kry om alles wat ek weet, toe te pas. Dis wanneer ek op my gelukkigste is. En dis altyd maar my eintlike droom. Ek wou nog altyd net, in die eerste plek, werk. Enige werk. Lekker werk. Leer. Planne maak. Wérk. Nuwe mense en nuwe maniere van doen ervaar (op stel). Ek was nog nooit juis kieskeurig oor waaraan ek werk nie, want ek kon altyd iets daaruit put. 

As dinge weer normaal is, sal ek my graag eendag weer wil toespits op onderhoude. Om met mense te gesels op kamera is vir my geweldig bevredigend, en ek kry nie altyd die kans daarvoor as ek regie doen nie. So dis ’n droom. Vir eendag.

Jou belangstellings strek wyd. Kan jy ’n bietjie meer vertel oor goed waarin jy belangstel buiten werk en televisie?

Geskiedenis, melktert, sudoku, honde, karre, jazz, kaas, sterre, wetenskap, politiek, sosiopolitieke kwessies, poësie, ASMR, agter-die-skerms-dokkies, fotografie, braai, mense. In geen spesifieke volgorde nie. As ek elke dag net kan omgaan met een van die dinge op hierdie lys, voel ek gelukkig. Maar ek is ’n werksverslaafde, en ek is op my gelukkigste wanneer ek ’n projek het waaraan ek kan dink en beplan, so ek het nie altyd tyd om aan die lysie aandag te skenk nie. Ek is eintlik net ’n nerd.

Jy is ook baie lief vir musiek. Waar kom dié liefde vandaan?

Musiek is die kortpad vanaf realiteit na my emosionele ervaring van die wêreld. Soms oorweldig dit my, en ander kere laat ek my lei. Ek weet nie waar die liefde vandaan kom nie. My hele familie hou van musiek, maar hulle hou op soveel verskillende maniere daarvan dat ek nie kan sê dit het spesifiek dáár begin nie. Ek glo daar is ’n liedjie, en ’n genre en ’n styl van musiek vir elke oomblik van die dag. ’n Klankbaan. En ek hou van ’n klankbaan. Dis al wat ek weet.

Groepfoto van Nina (heel regs) en die "Kruger-gesin" (Tinarie Van Wyk Loots, Jacques Bessenger, Marguerite van Eeden) saam met Jorrie van der Walt (heel links), die uitstekende kameraman wat die reeks so wonderlik geskiet het (Foto: verskaf)

Noem iets oor jouself waarvan baie min mense weet?

Ek wil graag ’n TikTok-kanaal hê waarop ek “mime” op alles. Soos Sarah Cooper met Donald Trump, en soos mense in hul eie musiekvideo’s moet maak asof hulle sing. Ek dink … nee, ek is oortuig daarvan ... dat ek regtig goed is daarmee, maar ek is te skaam om vir enige iemand my pogings te wys.

Lees ook:

"Toneelspel is vir my soos dagga vir Snoop Dogg" – ’n onderhoud met Beer Adriaanse

"Bewaar jou siel as jy my in ’n boks probeer sit" – ’n onderhoud met Rolanda Marais

"Ek probeer die lewe lig hou" – ’n onderhoud met Cintaine Schutte

"Die onmiddellikheid van die verhoog is soos ’n dwelm" – ’n onderhoud met Nicole Holm

"We live charmed lives" – ’n onderhoud met Tinarie van Wyk-Loots

Fynskrif 3: ’n onderhoud met Neels van Jaarsveld

 

  • 1

Kommentaar

  • Baie interresant. Nina is vir my een van die asemrowendste vrouens wat ek al gesien het. (Sy ken my nie, so sy kan my nie betaal nie). Jy kan baie goed in die lewe koop of probeer koop behalwe “misterie” klas, grasie en styl. Sy is een van die bevoorregtes wat met al die eienskappe geseënd is. Hoop sy hou aan met wat sy doen en behaal vele hoogtes. Doe zo voort.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top