"Bewaar jou siel as jy my in ’n boks probeer sit" – ’n onderhoud met Rolanda Marais

  • 0

Gedurende die laaste 13 episodes van die gewilde regsdrama, Fynskrif, word daar gefokus op die karakters se persoonlike en familielewens en moet almal uiteindelik besluit wat hulle werklik in die lewe wil hê.

Remona Voges het met Rolanda Marais, wat die karakter Christelle vertolk, oor die finale seisoen wat tans op kykNET uitgesaai word, gesels.

Foto van Rolanda: verskaf

Daar het oor die afgelope paar jaar ’n klomp Afrikaanse films en TV-programme die lig gesien. Watter van die produksies waarby jy betrokke was, het jou die mees opgewonde gemaak?

Trackers was definitief ’n hoogtepunt vir my gewees. Nie net die skaal daarvan nie, maar die karakter was regtig ’n droomrol.

Verkies jy om aan TV-reekse of films te werk? En waarom? Of is dit baie dieselfde?

Mens skiet heelwat langer aan ’n reeks, so jy spandeer baie meer tyd met die karakter, terwyl ’n film voel soos ’n “oomblik in tyd”. Albei is vir my lekker. Op die ou end hang dit af van die tipe karakter wat ek speel. Ek hou van komplekse karakters – dit bied my soveel meer opsies as dit kom by interpretasie.

Jy is ’n groot modeliefhebber. Waar kom jou liefde vir vintage-klere vandaan? 

My ouma Emmarentia was baie lief vir mooi klere. En ek kon ook my ma vir ure dophou as sy besluit wat om aan te trek. Ek hou van die stories en nostalgie wat kom met vintage-klere. Dit plaas ’n bietjie geskiedenis in die hede. Ek is mal daaroor om oud en nuut te kombineer. ’n Lekker uitrusting kan my dag sommer net beter maak. Hoe jy aantrek sê so baie van jou as mens. Dis ’n manier vir my om myself aan jou voor te stel sonder om ’n woord te sê.

Foto’s van Rolanda: verskaf

Jy is ook ’n ma. Hoe balanseer jy al jou werk met ’n gesinslewe?

Dis bitter moeilik, want filmstelle begin dikwels voor die son opkom tot sonsondergang, so ons het vreemde ure. En dit is relentless. Mens stort jou hele wese in ’n projek en om huis toe te kom na ’n klein mensie wat jou aandag net so nodig het, is ’n moeilike balans. Ek kan hierdie werk doen net omdat ek wonderlike ouers het wat kan instaan wanneer ek en my man beide op stel moet wees.

En nou tydens lockdown hou jou dogtertjie jou seker baie besig? Wat doen julle graag saam?

Ja, ons is heeldag besig met verbeeldingspel of om koekies te bak. Ek kyk ook graag saam met haar Japannese animasiefilms soos My neighbor Totoro. Die illustrasies is so mooi en die stories magies. Maar ja. Die inperking is erg vir haar. Sy mis interaksie met maatjies. Dis ’n moeilike tyd vir almal, maar ek probeer ook fokus op hoe bevoorreg ons eintlik is om so baie tyd saam te hê.

Rolanda en haar dogtertjie (foto: verskaf)

Het die feit dat jy ’n ma is, die manier waarop jy sekere rolle vertolk, beïnvloed?

My spel het definitief verander. Ek dink daar’s ’n verdieping en ’n soort gemak in my werk. Om ’n ma te wees maak jou te moeg om oor klein dinge opgewerk te word, en dit geld ook vir die manier waarop jy jou werk aanpak.

Hoe was die ervaring om in ’n grootskaalse produksie soos Trackers betrokke te wees?

Dit was ’n wonderlike ervaring. Dis lekker om deel te wees van ’n projek wat deur meer as net Suid-Afrika gesien gaan word.

Jy verskyn reeds in die tweede seisoen van Fynskrif, maar jou karakter begin eintlik eers in die derde seisoen tot haar volle reg kom. Kan jy ’n bietjie oor jou karakter, Christelle, vertel? En oor die ontwikkeling van haar en Corné (Beer Adriaanse) se verhouding?

Christelle is ’n lekker mens, sonder fieterjasies. Sy het ’n donker sin vir humor en kan nie cheesy clichés hanteer nie. Sy is ’n onderwyseres met vele talente. Sy trek Corné se siel uit oor die feit dat hy haar soos ’n warm patat gelos het op hulle matriekafskeid. Ek dink sy is totaal verbaas deur die gevoelens wat sy ontwikkel het vir hom. Hulle is ’n lekker paar. Hulle hou van Xbox speel, bier drink en pizza eet. Daar is ’n wedersydse respek.

Corné (Beer Adriaanse) en Christelle (Rolanda Marais) in Fynskrif (Foto: verskaf)

Christelle is eintlik bietjie van ’n tomboy. Is dit ook hoe jy in die regte lewe is? Verkies jy romantiese etes by kerslig of game nights met bier en pizza?

Ek is beslis nie ’n tomboy nie, en ek hou van ’n bietjie wine en dine ... So ek en Christelle verskil in daai opsig. Ek is wel, nes sy, nie ’n pushover nie, en beslis nie gemaklik met die tradisionele rolle van die man en vrou nie. Moet my nie ondermyn oor ek ’n vrou is nie, en bewaar jou siel as jy my in ’n boks probeer sit.

Wat is jou gunsteling- Afrikaanse boek?

Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux.

Fynskrif word elke Dinsdag om 20:00 op kykNET kanaal 144 uitgesaai.

Kyk die lokprent vir Fynskrif se derde seisoen hier:

Lees ook:

"Ek probeer die lewe lig hou" – ’n onderhoud met Cintaine Schutte

"We live charmed lives" – ’n onderhoud met Tinarie van Wyk-Loots

"Die onmiddellikheid van die verhoog is soos ’n dwelm" – ’n onderhoud met Nicole Holm

Fynskrif 3: ’n onderhoud met Neels van Jaarsveld

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top