"Ek probeer die lewe lig hou" – ’n onderhoud met Cintaine Schutte

  • 0

Gedurende die laaste 13 episodes van die gewilde regsdrama, Fynskrif, word daar gefokus op die karakters se persoonlike en familielewens en moet almal uiteindelik besluit wat hulle werklik in die lewe wil hê.

Remona Voges het met Cintaine Schutte, wat die karakter Katrien Nienaber vertolk, oor die finale seisoen wat tans op kykNET uitgesaai word, gesels.

Cintaine Schutte as Katrien Nienaber (Foto: verskaf)

Hallo Cintaine! Behalwe die feit dat ons nou ingeperk is, het jy tot dusver ’n redelik besige jaar op die verhoog gehad. Kan jy ’n bietjie vertel oor die projekte waarby jy vanjaar betrokke was/is?

Ek het by die Toyota US Woordfees opgetree met my eenvrouvertoning Die dinge van ’n kind van Marita van der Vyver. (Dis verwerk deur Francois Toerien, regie was deur Nicole Holm, die vervaardigers is Arena Produksies en die klankbaan is deur Schalk Joubert behartig.) En dan het ek by die Woordfees ook Tien duisend ton deur Duncan Macmillan met my goeie vriend Albert Pretorius gedoen (regie en vertaling deur Nico Scheepers en vervaardig deur my man Carel Nel). Ek sou ook KKNK toe gegaan het met albei die stukke. Ek sou Vrystaat Kunstefees en Innibos toe gegaan het met Die dinge van ’n kind sowel as na die Suidoosterfees en die Kalfiefees. Dan sou ek ook met ’n nuwe teaterstuk, Dobbel, gedebuteer het by Innibos, maar agv die pandemie is baie van die feeste uitgestel. Tien duisend ton sou ook ander speelvlakke gehad het, maar alles is ’n bietjie on hold agv COVID-19. My hart breek om te weet ek sal nie baie gou weer my voete op die planke kan sit en hierdie wonderlike stories kan vertel nie, maar ons as teatermakers moet net geduldig wees, en hopelik as ons kan terugkeer na feeste of na ander speelvlakke toe sal die sale en teaters vol wees met teaterliefhebbers en teatergangers. Lank lewe teater!
 

Jy is een van die fan favourites op Fynskrif. Hoe was dit om by die produksie betrokke te wees?

Dit is absoluut een van die hoogtepunte in my loopbaan tot dusver. Ek is baie lief vir my karakter Katrien, en haar storielyn is ongelooflik. Om vir drie seisoene ’n hoofkarakter te kan speel met baie vleis, hart en diepte gebeur baie min. Die Fynskrif-familie het baie diep in my hart geklim en dit was so ’n groot plesier om elke dag werk toe te gaan en te doen waarvoor ek lief is. Ek het net nou die dag vir Louis Pretorius en Albert Snyman dankie gesê vir hierdie ongelooflike geleentheid wat hulle nie net vir my nie maar vir baie ander aangebied het. Ek dink hul het ’n pragtige storie vertel met diepte, interessante storielyne, fully-fleshed karakters, belangrike kwessies wat aangespreek word, goeie tekste en ’n storie met hart. Ook so baie werk wat geskep is vir ons industrie. Dis ongelooflik. Ek sal vir ewig dankbaar wees.

Kan jy ’n bietjie oor jou karakter, Katrien, vertel?

Katrien is ’n vuurvreterprokureur wat nie doekies omdraai nie. Sy staan nie terug vir enigiemand nie, tog het sy die kleinste hartjie. Deur die loop van die drie seisoene sien ons hoe sy haar mure stukkie vir stukkie afbreek en haar hart oopmaak en vulnerable is rondom die mense by wie sy die veiligste voel. Ek het baie by haar as mens geleer .

Wat was vir jou die lekkerste deel daarvan om die rol van Katrien te vertolk?

Dit was vir my baie interessant, veral aan die begin van seisoen een, dat mense keer op keer gesê het, “Oe, maar Katrien is ’n feeks, sy is so hard en mislik, wie sal met haar kan huishou?”, en al wat ek wou sê, is: “Gee kans, wag net ’n bietjie. Daar is gewoonlik ’n rede hoekom mense is soos hulle is en reageer soos hulle reageer. Sy gaan nog baie van haar hart vir julle oopmaak.” Elke mens het sy eie verdedigingsmeganismes om deur die lewe te kom. Dit was vir my interessant om daai lae van Katrien te ontdek en om te speel met wanneer sy haar mure opbou en wanneer sy dit weer laat val. Dit was ook mooi vir my hoe sy deur die loop van al drie seisoene haar eie stem vind, haar eie beste vriendin word en veg vir die belangrike mense in haar lewe sowel as vir wat vir haar belangrik is. En ook dat sy haarself nie altyd so ernstig hoef op te neem nie. En dat daar mense op haar pad gestuur is om haar ’n bietjie op haar gat te skop en vir haar te leer: “Dis oukei om daai mure te laat val en net te vertrou.”

Cintaine Schutte as Katrien en Neels van Jaarsveld as Ben (Foto: verskaf)

Hoekom vind mense soveel aanklank by die reeks?

Ek dink hulle kry die geleentheid om ’n vlieg teen die mure te wees van die Van Wyk en Vennote-praktyk en ook op die mure van die karakters se huise. Jy word ingenooi in hierdie mense se huise, lewens en harte. En jy kan besluit hoe gemaklik of ongemaklik jy jouself wil maak in hierdie karakters se wêreld. Daar word nie doekies omgedraai nie. Louis en Albert ... hulle noem ’n ding op sy naam. Mens moet ook nie vergeet dat daar ongelooflik harde werk in hierdie reeks ingesit is nie. En dis hoekom ek so trots is op hierdie reeks – mens werk met van die land se beste akteurs, produksiespanne en tegnici, en hulle almal is die beste mense met die mooiste harte. En ek glo mens sien dit alles duidelik op die skerm.

Jy is (redelik) onlangs getroud met Carel Nel. Baie geluk! Julle het in die eerste twee seisoene van Fynskrif teenoor mekaar gespeel. Hoe was dié ervaring? Werk julle dikwels saam?

Ja, ons is 2 November 2019 getroud en is al amper nege jaar saam. Ons het in die eerste en tweede seisoen saam gespeel. Ek en Carel het al baie saam gewerk – film en teater. Dis altyd ’n eer en plesier om saam met hom te werk. Ek het baie respek vir hom as akteur. Sy werksetiek, sy keuses, sy manier van dink en sy passie vir sy craft en skill is aantasbaar en dit druk my om ’n beter aktrise te wees. Ons push en inspireer mekaar konstant. Dit help ook om mekaar so goed te ken. Soms skiet mens ongelooflik vinnig en dit help as jy jou mede-akteur so goed ken, want daar is onvermydelik ’n vangnet van absolute vertroue.

Cintaine en Carel op hul troudag (Foto: Jenni Elizabeth)

Jy is iemand wat daarvan hou om te reis. Wat is jou gunstelingplek op aarde? 

Elke plek en destination het sy eie charm en magic. Dis baie moeilik om te vergelyk. Maar as ek móét kies, sal Boedapest, Istanboel en Viëtnam plekke wees wat diep in my hart gekruip het. 

Cintaine en Carel op reis (Foto's: verskaf)

Noem drie goed waarsonder jy nie kan leef nie.

My familie en vriende, my man Carel en my kat Lily.

As jy ’n hele dag saam met ’n Hollywood-akteur kon spandeer, wie sou dit wees en wat sou julle doen?

Leonardo DiCaprio – hy is nie net ’n ongelooflike akteur nie, maar ook ’n ongelooflike environmentalist. Ek sou graag met hom ’n dag op stel spandeer of ’n masterclass acting workshop met hom wou doen. En as ek kon, ’n dag met Audrey Hepburn – bottels sjampanje saam met haar drink en net agteroor sit dat sy my haar lewenstorie vertel.

Waarmee hou jy jouself tydens die inperking besig?

Ek mediteer, doen baie joga en pilates. Ek lees ook lekker baie en het begin Zoeloe-lesse neem. Ure lange video calls met vriende en familie. Ek journal. Ek eksperimenteer met nuwe disse en ek probeer die lewe lig hou.

Fynskrif word elke Dinsdag om 20:00 op kykNET kanaal 144 uitgesaai.

Kyk die lokprent vir Fynskrif se derde seisoen hier:

Lees ook:

"We live charmed lives" – ’n onderhoud met Tinarie van Wyk-Loots

"Die onmiddellikheid van die verhoog is soos ’n dwelm" – ’n onderhoud met Nicole Holm

Fynskrif 3: ’n onderhoud met Neels van Jaarsveld

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top