"Die onmiddellikheid van die verhoog is soos ’n dwelm" – ’n onderhoud met Nicole Holm

  • 0

Gedurende die laaste 13 episodes van die gewilde regsdrama, Fynskrif, word daar gefokus op die karakters se persoonlike en familielewens en moet almal uiteindelik besluit wat hulle werklik in die lewe wil hê.

Remona Voges het met Nicole Holm, wat die karakter Inge vertolk, oor die finale seisoen wat tans op kykNET uitgesaai word, gesels.

Nicole Holm as Inge in Fynskrif (foto: verskaf)

Nicole, jy het eers in die derde seisoen by die Fynskrif-geselskap aangesluit. Hoe was die ervaring vir jou?

Ek was verbouereerd aan die begin. Ek het redelik lanklaas televisiewerk gedoen, so ek het “uit oefening” gevoel. Dan het ek ook ingeloop in ’n proses wat al maande aan die gang was. Dit is soos om saam met ’n vreemde familie in te trek. Almal is baie nice, maar jy weet nog nie lekker waar om die skottelgoed weg te pak en of hulle bid voor ete nie. Soos ek my voete begin vind het, het my skietdae van my gunstelingdae in die week geword!

Jy vertolk die rol van die flambojante Inge. Kan jy ’n bietjie meer oor haar karakter vertel?

Sy is ’n leergierige ma van twee wat nou, na ’n lang afwesigheid, weer die regswêreld betree. Sy is onverskrokke in haar omgang met die lewe en sien geen sin daarin om doekies om te draai nie. Sy is wel baie empaties en is bereid om na mense te luister

Inge herinner ’n bietjie aan Hanlie van Die boekklub. Sy is ook ’n moederfiguur, maar hul karakters verskil eintlik hemelsbreed van mekaar. Stem jy saam? 

Ja, beide is moederfigure, maar Hanlie is effe onseker van haarself en gee regtig om wat mense van haar dink; Inge nie.

Inge gee vir Adele (vertolk deur Christia Visser) 'n drukkie (foto: verskaf)

Wat was vir jou die lekkerste deel daarvan om die rol van Inge te vertolk?

Beslis nie die hoëhakskoene nie. Ek het gehou van die feit dat sy emosioneel stabiel is!

Jy het al vantevore gesê dat televisiewerk nie regtig vir jou is nie. Wat het intussen verander?

Ek vermoed ek het meer selfvertroue gekry. Ek sê ek hou nie van televisie nie, want ek dink televisie hou nie van my nie! Make no mistake, verhoog kraai steeds koning, maar ek het besef televisie is nie so kwaai soos ek gedink het nie.

En wat is dit van die verhoog wat jou so aantrek?

Die onmiddellikheid van die verhoog is soos ’n dwelm. En miskien is daar wel ’n element daarvan. Dat ek verslaaf is aan die adrenalien?!?

Wat is jou  persoonlike hoogtepunte in jou loopbaan tot dusver?

Sommige goed is hoogtepunte omdat dit so lekker was, sommiges omdat dit ’n leerskool was en sommiges oor die inhoud van die stuk my na aan die hart lê. Jan en Jorie, Drie susters, Die kortstondige raklewe van Anastasia W, Ons is almal freaks hier en Tweespoor, om maar net ’n paar te noem. Daar is regtig vele ander.

Lizz Meiring (Christine) Meyer-Rödenbeck (Anel) en Nicole Holm (Bianca) in Drie susters

Jy is al vir lank by die universiteit betrokke. Hou jy van die akademie?

Ek is gaande na klasgee. Ek was nie aanvanklik nie; dit het my ’n paar jaar gevat om die regte temperament (en genoegsame kennis!) vir klasgee te kry.

Jy is al lank in die bedryf, Nicole. Wat is die beste raad wat ’n dosent of medekunstenaar al vir jou gegee het? En watter raad het jy vir jong kunstenaars?

Ek glo werklik mens sê vir niks nee nie. Een ding lei na ’n volgende ding, so selfs al voel jy daai job betaal te min, of jy wil nie regtig stelle verf nie, dóén dit. Kom op enige manier in die kamer en dan kry jy dalk ’n sitplek by die tafel.

Waarmee hou jy jouself tydens die inperking besig?

Ek gee tuisonderrig aan my twee agtjariges en aanlyn klasse vir my studente. Verder het ek my oefenmasjien herontdek, kook ek regtig baie kos, bewonder die groentetuin wat my partner gebou en beplant het, en lees beslis te veel nuus. Ek het ook ongelukkig begin Tarot-video’s op YouTube kyk.

Kyk die lokprent vir Fynskrif se derde seisoen hier:

Lees ook:

"We live charmed lives" – ’n onderhoud met Tinarie van Wyk-Loots

Fynskrif 3: ’n onderhoud met Neels van Jaarsveld

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top