Gedurende die laaste 13 episodes van die gewilde regsdrama word daar gefokus op die karakters se persoonlike en familielewens en moet almal uiteindelik besluit wat hulle werklik in die lewe wil hê.
Remona Voges het met Neels van Jaarsveld, wat die karakter Ben van Wyk vertolk, oor die finale seisoen wat tans op kykNET uitgesaai word gesels.
Neels, jy is al sedert Fynskrif se eerste seisoen by die reeks betrokke. Hoe was dit om deel te wees van die eerste regsreeks in Afrikaans? Wat was jou persoonlike hoogtepunte van die reeks in geheel?
Dit was absoluut fantasties om deel te wees van die eerste Afrikaanse regsreeks. Dis altyd lekker om betrokke te wees by baanbrekers- en grensverskuiwende werk.
Dit was ’n voorreg om teenoor soveel gesoute en nuwe akteurs te kon speel. Ons land het baie talent en Fynskrif se rolverdeling is uitmuntend. No bad apples in this batch. Almal in elke departement het hul beste gegee.
Jou karakter, Ben, en Lara (gespeel deur Tinarie van Wyk-Loots) is broer en suster. Hulle is baie komplekse karakters met ’n ewe komplekse verhouding. Kan jy ’n bietjie hierop uitbrei, asseblief?
Ek dink wat Fynskrif so fantasties maak, is hoe kompleks die karakters en hul verhoudings met mekaar is. Volrond, realisties, maar tog vermaaklik. Die verhouding tussen Ben en Lara is deurlopend uiters goed ontwikkel.
Dit is nie die eerste keer wat jy en Tinarie saam werk nie. Wat is vir julle die lekkerste deel van hierdie reeks waaraan julle albei gewerk het? Werk julle goed saam as ’n span?
Tinarie is ’n wêreldklas aktrise. Dis ’n voorreg om saam met haar en teenoor haar te speel. Sy bring die beste in jou uit – as mens en akteur. (Ek het eenkeer vir ’n toneelstuk ja gesê sonder om die teks te lees, want ek was onder die indruk sy sou daarin speel. Dis hoe baie ek haar respekteer en in haar glo. Sy was toe nie in die stuk nie! Haha.)
Dit is oorheersend ’n ernstige reeks met ernstige temas. Hoe was die atmosfeer op stel?
Daar was ’n wonderlike atmosfeer en energie op stel, sowel as professionaliteit van al die partye. Baie van die mense het soos familie geword. By tye het ek gewens die reeks kry soveel seisoene soos Grey’s Anatomy. (Mens mag maar droom.) Beslis een van my TV-hoogtepunte.
Jy is ook ’n ervare verhoogkunstenaar. Wat verkies jy: TV of verhoog? En waarom?
In Suid-Afrika kan mens ongelukkig nie kies nie. Jy doen die werk wat na jou kant toe kom tot die beste van jou vermoë.
Neels, Ben is ’n karakter wat dit eenvoudig nie regkry om gelukkig te wees nie, ten spyte van sy ooglopend "perfekte" lewe (soos sy seun, Luke, ook vir hom in die eerste episode van die nuwe seisoen noem). Wat maak jou in die regte lewe gelukkig?
Geluk is somtyds wispelturig, sporadies en soos ’n tuimeltrein.
Ek vind my geluk in die see, my werk, my familie, my vriende, gholf, ’n goeie fliek of selfs ’n glimlag van ’n vreemdeling wat jou vir daai oomblik laat besef die wêreld is nie so ’n slegte plek nie. Mens moet net weet waar om te kyk.

Lara (Tinarie van Wyk-Loots), Ben (Neels van Jaarsveld) en Katrien (Cintaine Schutte) (foto: verskaf)
By watter ander projekte is jy op die oomblik betrokke? En hoe werk mens rondom die COVID-19-pandemie? Is dit moontlik?
Die Koronavirus het ’n absoluut verpletterende en vreesaanjaende impak op ons bedryf. Al my projekte is uitgestel. Ons is wel gelukkig dat van ons werk op platforms soos Showmax en kykNET gesien kan word, en mense het nou veral tyd om in te haal met wat hul nog altyd wou kyk.
Kan jy ’n voorsmakie gee van wat kykers in die finale seisoen van Fynskrif kan verwag – spesifiek wat jou karakter betref?
Fynskrif 3 delf dieper, sny fyner, raak nader. Daar is ooglopende ontwikkeling van elke karakter.
Wat was vir jou die lekkerste deel daarvan om aan Fynskrif te werk en watter seisoen staan vir jou uit?
Fynskrif was ’n onvergeetlike ervaring. ’n Absolute hoogtepunt. Elke seisoen was ’n unieke en spesiale reis.
Fynskrif word elke Dinsdag om 20:00 op kykNET kanaal 144 uitgesaai.
Kyk die lokprent vir Fynskrif se derde seisoen hier:
Lees ook:
"We live charmed lives" – ’n onderhoud met Tinarie van Wyk-Loots
Kommentaar
Dis die beste reeks ooit. Elke episode ’n nuwe hoogtepunt.
Beste Afrikaanse sepie ooit - my hart is baie seer dat dit nou finaal klaar is - so gehoop daar sal nog n seisoen uitkom ... Welgedaan aan almal wat deel gehad het aan hierdie reeks, julle het julle self oortref ...