"We live charmed lives" – ’n onderhoud met Tinarie van Wyk-Loots

  • 0

Gedurende die laaste 13 episodes van die gewilde regsdrama, Fynskrif, word daar gefokus op die karakters se persoonlike en familielewens en moet almal uiteindelik besluit wat hulle werklik in die lewe wil hê.

Remona Voges het met Tinarie van Wyk-Loots, wat die karakter Lara Kruger vertolk, oor die finale seisoen wat tans op kykNET uitgesaai word, gesels.

Tinarie van Wyk-Loots (foto: verskaf)

Tinarie, jy is al sedert Fynskrif se eerste seisoen by die reeks betrokke. Hoe was dit om deel te wees van die eerste regsreeks in Afrikaans? Wat was jou persoonlike hoogtepunte van die reeks in sy geheel?

Fynskrif is inderdaad ’n reeks uit eie reg en dit is definitief iets anders as wat ons tot dusver op Suid-Afrikaanse televisie ervaar het. Dit voel vir my asof dit ’n meer universele konteks het. Dis storiegedrewe, dit is exciting en episodies, maar dit voel definitief asof dit die eerste keer is dat ons so iets in Afrikaans aanpak, en dit was vir my geweldig opwindend. Dis wonderlik om saam met sulke ongelooflike akteurs en ’n fantastiese tegniese span te werk. Albert en Louis is regtig net incredible wanneer dit kom by die storie en die menslikheid van die karakters. Hulle doen ongelooflik baie navorsing en hou dit lig. Almal is regtig fantastiese mense – dis soos my familie.

Om enkele persoonlike hoogtepunte uit te sonder is eintlik nogal moeilik. Dit was beslis ’n hoogtepunt om saam met wonderlike regisseurs te werk. En ek sien altyd daarna uit om vir die eerste keer saam met mense te werk – dis altyd ’n gewaarwording en mens leer so geweldig baie. Om saam met van my beste vriende in die wêreld en in die industrie te werk was natuurlik ook ’n hoogtepunt. Ek geniet dit baie om mense te sien vir wie ek lief is, en almal is so ongelooflik talentvol en ek leer so baie by hulle. Ek het regtig baie dankbaarheid vir die kringe waarin ek beweeg.

Storiegewys is dit altyd vir my ’n hoogtepunt om vir Jacques en Marguerite, my klein Kruger-gesinnetjie, te sien. Dis baie lekker om saam met hulle te werk. Ek sou nie sê die kankerstorielyn was ’n hoogtepunt nie, maar dit is iets wat my definitief geraak het, omdat dit ’n pad is wat ek ook self al gestap het.

Jacques Bessenger vertolk die rol van Lara se man, Jaco (foto: verskaf)

Dit is oorheersend ’n ernstige reeks met ernstige temas. Hoe was die atmosfeer op stel?

Ons het ’n fantastiese atmosfeer op stel. Dit is geweldig ondersteunend en daar is ontsettend baie respek van die tegnici en my mede-akteurs se kant af. Dit is ook belangrik om te noem hoe puik die produksiespan is. As ’n akteur is dit vir my wonderlik om so mooi na omgesien te word. Ek wil nie sê dat dit raar is in die industrie nie, maar dit beteken verskriklik baie wanneer dit wel gebeur. Ons hou alles baie lig – niemand neem hulself ooit te ernstig op nie, maar wanneer almal moet fokus, dan fokus ons. Ek moet sê: As ons almal bymekaar is, kan ons nogal balhorig wees, hoor! Dan sukkel die produksiespan partykeer om ons te beheer. Ek dink ’n klomp akteurs tesame is soos om katte te probeer kry om almal saam in ’n kraal te probeer ingaan!

Jou karakter, Lara, en Ben (gespeel deur Neels van Jaarsveld) is broer en suster. Hulle is baie komplekse karakters met ’n ewe komplekse verhouding. Kan jy ’n bietjie hierop uitbrei, asseblief?

Ek dink alle verhoudings is maar kompleks, veral tussen sibbes en familie, want jy kan hulle nie kies nie. Die resultaat is dikwels gekompliseerde verhoudings. Lara en Ben se verhouding is ekstra kompleks omdat hulle ’n tweeling is en ook omdat hulle ’n seun en dogter is. Ek dink selfs al wil ons maak asof dit nie gebeur nie, is ons maar nog steeds besig om te peusel aan die vaandel van geslagsongelykheid. Ek glo natuurlik dat mens die hele wêreld se probleme kan oplos as mens begin met geslagsgelykheid – as ons mekaar en ons medemens as gelykes sien. Maar nietemin, I digress.

Lara en Ben se verhouding is natuurlik ook kompleks omdat hul meeding om hul pa se aandag. Die twee is egter ontsettend lief vir mekaar en uiteindelik is die enigste mense wat vir Ben en Lara verstaan, Ben en Lara – selfs al verstaan hulle hulself nie eers noodwendig nie. Hulle verhouding is, soos die meeste verhoudings maar is, soos ’n reis. So ons stap die reis saam met hulle en kyk hoe hulle dit uitpluis. Elkeen se ervaring is mos maar uniek!

Tinarie van Wyk-Loots en Neels van Jaarsveld as Lara en Ben (foto: verskaf)

Jy is ook ’n ervare verhoogkunstenaar. Wat verkies jy: TV of die verhoog? En waarom?

Ek verkies beslis die verhoog. Ek is ongelooflik lief vir die hele proses om ’n teks te verken en ’n spesifieke storie met jou hele span aan te pak. In televisie kom en gaan jou dagspelers en partykeer sien mens hulle nie eers nie. In teater is jou hele span van die begin af betrokke en dit is vir my besonders. Almal is dáár, almal bou saam aan die storie. Ek is mal daaroor om te weet dat mens oor en oor die geleentheid kry om ’n storie te herinterpreteer en nuwe waarhede te soek. Hierdie herinterpretasies en waarhede verander van dag tot dag afhangende van hoe jy voel of wat in jou eie lewe gebeur. Verhoogproduksies word natuurlik ook deur die gehoor beïnvloed. Ek dink natuurlik dít is die grootste ding van teater: The charm of theatre is that it’s a shared experience, it’s collective. Jy deel dit nie net met jou mede-akteurs nie, maar ook met die gehoorlede wat die storie saam met jou meemaak. Ek dink ook die klein foutjies en veranderinge is wat die ervaring in sy geheel so ongelooflik spesiaal maak. Ek is baie lief vir televisie ook. Ek leer verskriklik baie; ek dink dis ’n wonderlike universele medium. Maar my hart behoort aan die teater. Ons sal maar moet sien wanneer ek weer ’n klein stukkie teater mag doen!

Wat maak jou in die regte lewe gelukkig?

Dit is ’n verskriklik groot vraag wat jy my vra! Jong, ek is baie gelukkig om te kan hê wat ek het. Ek is geweldig bevoorreg. Ek probeer graag geluk vind in dit wat my omring. Ek is op die oomblik hier by my huis. Ek kyk na my visse, hier sit ’n kat by my voete en ek het nou net die hoenders kos gegee. In hierdie oomblik, as ek nou net staan en kyk na alles wat ek het en hoe mooi en rustig en vredevol alles is en hoe bevoorreg ek is om dit so te kan hê, dan voel ek in my hart van harte geweldig gelukkig.

My ma het ’n aansteeklike entoesiastiese persoonlikheid gehad. Dit was absoluut oorweldigend! Sy het só opgewonde geraak oor goedjies wat sy gesien het. Haar entoesiasme vir die lewe en die skoonheid en eenvoud om haar was vir my so geweldig inspirerend. Ek hoop dat ek dit ook het. Dis aansteeklik en oordraagbaar. Ek het dikwels daai soort entoesiasme vir byvoorbeeld ’n mooi sonsondergang of ’n by, of iets wat oopmaak in my tuin! Ek is juis besig om in my tuin te woeker, en as ek ’n saadjie sien opkom, raak ek so opgewonde! Ek dink as mens oor die klein goedjies in die lewe kan opgewonde raak, is dit makliker om geluk te vind

Verder is ek nogal gedrewe, eerder as ambisieus (soos Lara). As ek ’n doel voor oë het, sal ek aanhou probeer tot ek dit regkry. Ek dink egter dis minder ’n geval van gedrewenheid en meer dat ek ’n bietjie soos ’n staffie is: As ek gebyt het, wil ek nie los nie! En ek dink mens moet maar tenacious in hierdie industrie wees, want dit is ’n lang pad wat mens stap, maar mens ontmoet sulke wonderlike mense langs die pad, so dis alles die moeite werd!

Na watter plaaslike akteurs kyk jy op? Wie inspireer jou?

Ek het al saam met my helde en heldinne gewerk en ek wil sommer huil as ek nou daaraan dink! Ek wil nie begin om uitsonderings te maak nie, want dan gaan my lys te lank wees. Maar Anna-Mart van der Merwe, Sandra Prinsloo, Jaco Bouwer, Martinus Basson, Nicola Hanekom, Stian Bam, Albert Pretorius is almal wonderlike mense en kunstenaars. En natuurlik Marius Weyers en Tobie Cronjé. Ek sê altyd: "We lead charmed lives!"

Tinarie as Lara (foto: verskaf)

By watter ander projekte is jy op die oomblik betrokke? En hoe werk mens rondom die COVID-19-pandemie? Is dit moontlik?

Al die projekte waarby ek betrokke was of is, is op die oomblik op ys. Indien Aardklop gebeur, sal die toneelstuk wat ons aanvanklik by KKNK sou geopen het, daar debuteer. Dis ongelooflike nuus, maar ek dink ons sal eers moet kyk en sien of ons vir die volgende 24 maande ons teaters se deure gaan moet sluit soos die Londense plaag van des ouds!

Daar is min wat ek kan doen om die situasie te verander, en ek verstaan absoluut hoekom dit is soos wat dit is. Ek dink die wêreldwye storie is op die oomblik baie groter as wat ons kan dink, so ons byt almal vas en staan sterk en doen ons bes. Ons sal weer aan die ander kant uitkom. Ek dink nie die belang van teater sal ooit minder word nie, maar ek dink ons moet ook verantwoordelik omgaan in hierdie tye, so ons sal maar sien wat gebeur. Ek wil niks verklap voor iets nie definitief gaan gebeur nie. Ek doen wel nou en dan ’n bietjie stemwerk en ek het ’n mikrofoon van my eie hier by die huis. Ek het my kar binne-in vol komberse en jasse gepak met ’n mikrofoontjie binne-in. So ek het eintlik my eie persoonlike sound studio hier in my kar vir stemwerk en opnames!

Verder is dit altyd lekker om by my huis te kan wees. Ons werk is so wispelturig en ons is gewoond daaraan om vir lank van die huis af weg te wees, so tyd by die huis is altyd vir my kosbaar en in hierdie noodgedwonge tyd selfs meer. Ek doen seker maar wat almal doen: Ek maak suurdeegbrood en ek skoffel in die tuin, sit op die stoep en drink tee (soos ek nou doen) en vat dinge een dag op ’n slag.

Kan jy ’n voorsmakie gee van wat kykers in die finale seisoen van Fynskrif kan verwag – spesifiek wat jou karakter betref?

Ek dink die drama neem ’n wending tussen die drie reekse. Daar word meer gefokus op die persoonlike lewens van die prokureurs en hoe hulle hul daaglikse lewens lei. Ons stap ’n klein bietjie meer van ’n harde pad saam met hulle. Daar is liefde en leed. Ons sien ’n bietjie dieper in hul harte en kry ’n beter idee van hoekom hulle is soos hulle is. Dit is mos maar hoe die mens werk: Ons wil die binnewerkings van mense sien. Dis hoekom ek so sterk glo in stories en teater en televisie en vermaak ― ek glo dat as ons ons stories met mekaar deel, ons meer insig in ons medemens kan hê. So ek hoop jul geniet die pad van die fynskrif van die lewe saam met ons – dit is mos maar eintlik wat ons wil sien.

Lara moet in seisoen drie baie moeilike vrae aan haarself stel. Wat is vir haar belangrik, wat is haar prioriteite en wat maak regtig vir haar saak? Sy moet ook haar eie kompas verstel, want sy besef almal kan nie altyd volgens haar maat dans nie. Sy moet haar eie rigiditeit laat gaan. Omdat sy so selfkrities is, is sy geneig om krities teenoor ander te staan. Ek dink dat seisoen drie haar die geleentheid gee om haar eie swakhede raak te sien, en omdat sy hierdie swakhede raaksien, kan sy ook meer empatie en insig hê in die mense om haar se lewens. Lara se persoonlike pad saam met haar ma is natuurlik ook vir haar ’n groot uitdaging.

Lara se ma en pa, Hans en Rene van Wyk, word deur Chirs van Niekerk en Susanne Beyers vertolk (foto: verskaf)

Wat was vir jou die lekkerste deel daarvan om aan Fynskrif te werk en watter seisoen staan vir jou uit?

Dis moeilik om ’n enkele reeks uit te sonder, want elkeen was geweldig spesiaal. My daaglikse hoogtepunt is wanneer ek soggens werk toe ry en daar aankom en die oranje cones in die verte sien staan. Dan sien ek vir Malie wat vir my waai en my wys waar ek kan parkeer. Dan sê ek goeiemôre vir die ouens by die koffie en dan sien ek vir Luhan (my derde AD) wat my nader waai. Dan gaan jy grimeringe toe en dan sien mens almal saam met wie jy die dag gaan werk. En dan is die hoogtepunt weer aan die einde van die dag as jy jou call sheet kry, sien jy weer wat vir die volgende dag voorlê. Ek is net dankbaar, dankbaar, dankbaar.

Fynskrif word elke Dinsdag om 20:00 op kykNET kanaal 144 uitgesaai.

Kyk die lokprent vir Fynskrif se derde seisoen hier:

Lees ook:

Fynskrif 3: ’n onderhoud met Neels van Jaarsveld

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top