"Toneelspel is vir my soos dagga vir Snoop Dogg" – ’n onderhoud met Beer Adriaanse

  • 3

Gedurende die laaste 13 episodes van die gewilde regsdrama, Fynskrif, word daar gefokus op die karakters se persoonlike en familielewens en moet almal uiteindelik besluit wat hulle werklik in die lewe wil hê.

Remona Voges het met Beer Adriaanse, wat die karakter Corné Hanekom vertolk, oor die finale seisoen wat tans op kykNET uitgesaai word, gesels.

Beer en sy muse (Foto: Burger Meyer)

Hallo Beer! Jy was destyds die stigterslid van Zinkplaat. Is dit waar jou liefde vir die verhoog vandaan kom?

My dae saam met die band het ongetwyfeld ’n diep liefde vir die verhoog aangewek en ons rondneukery met videokameras het aanleiding gegee tot die besef dat dit pret is om soos ’n nar tekere te gaan terwyl mense jou afneem.

Jou ma is ’n bekende en baie gewilde Afrikaanse skrywer. Hoe was dit om groot te word met ’n skrywersma? Deel jy haar liefde vir die letterkunde?

Ek het in ’n huis vol boeke grootgeword en hoewel ons buitespeelbroers was, was ons totale geeks vir biblioteekuitstappies – en dit is als as gevolg van my ouers. Hoewel my ma eers later begin skryf het, was haar toewyding en masochistiese nagtelike skryfsessies beide ’n voorbeeld en ’n afskrikmiddel vir my. Ons deel veral deesdae ’n voorliefde vir al Patti Smith se boeke en my ma bly een van my eerste lesers.

Jy het ’n graad in joernalistiek. Hoekom het jy teen ’n loopbaan in die joernalistiek besluit?

Die kursus was ’n ongelooflike breinoopmaker vir my en het my horisonne op byna elke moontlike vlak verbreed, maar ek het relatief vroeg in die eerste kwartaal besef ek is meer gemaklik met fiksie as met realiteit.

Zinkplaat se laaste gig by The Barnyard Theater buite Franschhoek in 2013 (Foto: Mark Reitz)

Jou karakter in Fynskrif, Corné, ontwikkel ontsettend baie vanaf die eerste tot die derde seisoen. Kan jy bietjie vertel hoe Corné in seisoen 1 van Corné in seisoen 3 verskil?

Ek vind Corné se wentelbaan baie meevoerend en kan op verskillende vlakke myself daarin herken. Sy boog beeld daardie snaakse paar jare na 30 uit, waar jy tegnies teen nou al jou geite en dinge moes uitgesorteer het, maar eintlik is jy nog ’n emosionele fetus. Dis ’n helse plesier om ’n karakter soos daai episode vir episode soos ’n ui te skil.

Jy speel teenoor groot name soos Rolanda Marais en Dawid Minnaar in Fynskrif. Hoe was die ervaring vir jou in geheel? Enige persoonlike hoogtepunte?

Eerstens was ek baie op my senuwees. Tot dusver in my akteursloopbaan het ek merendeels teenoor mense van my eie ouderdom gespeel of jonger. Rolanda en Dawid is volksbesit en ek kan amper nie ’n tyd onthou waar ek nie bewus was van hulle nie. My eerste dag saam met Dawid was ek so op my senuwees, ek het nie geweet in watter een van sy deurdringende oë ek moet kyk terwyl Corné hom uitskel nie. Rolanda het ek gelukkig redelik goed geken met dié dat haar man, Jozua, een van my goeie vriende is – en boonop een van die hoofredes dat ek ’n draaiboekskrywer geword het – maar selfs dit als kon my nie voorberei vir ’n paar van ons groter tonele nie. As sy die toneel aandraai, dan draai sy hom aan, en dan moet jy net kop hou om by te hou.

Beer as Corné en Rolanda Marais as Christelle in Fynskrif (Foto: verskaf)

Wat het jy by Corné geleer?

Dat jou lewe beter sal word as jy nie meer die middelpunt daarvan probeer wees nie en iets vir die mense om jou probeer doen. Ek het ook geleer dat ek nie ’n werk sou kon doen waarin ek three-piece suits sou moes dra nie.

Wat was een van die mees ongemaklike / vreemdste oomblikke wat jy al op stel gehad het?

Op Kanarie het ek ’n paar eerstes beleef: Om in ’n periodefilm te speel, my eerste naaktoneel en om moontlik die meeste P-bomme in ’n Afrikaanse fliek te kon gooi, maar op die heel laaste dag het iets gebeur waar ons ’n ses-minuut-toneel moes doen. Die plan was dat ek eers in die middel daarvan opdaag en dan moet die twak spat. Na so ’n paar takes was almal dit eens ons het dit in die sakkie, maar toe vind hulle uit my mikrofoon het uitgesteek en dat ons dit na middagete weer moes doen. En asof ’n vloek oor my neergesak het, kon ek nie my deel van daai ses-minuut-toneel weer regkry nie. Met arme Schalk Bezuidenhout en Germandt Geldenhuys wat perfekte takes gooi, donner ek keer op keer in die toneel in en ontspoor die hele spul. Dit was die naaste wat ek al gekom het aan ’n regte-wêreld-weergawe van daai nagmerries waar jy kaal op ’n verhoog staan en blykbaar Rachmaninoff se 67ste sonate op ’n klavesimbel moet speel voor almal wat jy ken, maar jy weet nie eers hoe lyk ’n klavesimbel nie en boonop val jou tande uit. Dit was pret.

Beer, Gérard Rudolf en Jacques Bessenger in ’n toneel uit Kanarie (Foto: verskaf)

Jy het ’n paar jaar terug die reeks Buurtwag, wat binnekort weer op Showmax te sien is, geskryf. Kan jy meer oor hierdie projek vertel asseblief? Hoe is die idee vir die show gebore?

Buurtwag was my eerste dosis van die heroïnenaald. Dis waar ek besef het dat ek vir die res van my lewe films/televisiereekse wil skryf en regie doen en waar ek in my vriende s’n kan speel. Dit het begin as ’n kortfilm wat gebaseer was op ’n paar ware verhale van wat my vriend se pa'le in ons ou buurt in Durbanville aangevang het. Dit was ’n baie terapeutiese ervaring om terug na my kinderstrate te gaan om die idee van "die lewe is ’n spansport" via ’n klomp uiteenlopende karakters te probeer uitbeeld. Die kykers was nie destyds reg vir ’n klomp 30-somethings wat dagga rook by die dam en vlootfakkels afskiet nie, maar ek het sedertdien al soveel buurtwagte gehad wat my gekontak het met baie meer belaglike stories. Buurtwagte doen oor die algemeen baie goeie werk in ons land.

Jy het nog altyd ’n liefde vir komedie gehad. Hoekom is dit belangrik om gereeld te lag en ook die ligte kant van die lewe raak te sien en te waardeer? Wat laat jou lag?

Vir my is humor die enigste lens waardeur die klug van die mensdom sin maak. Die ander lense sal my ’n vroeë dood laat sterf. Ek lag eerstens hopeloos te veel vir myself – maar ek reken as jy nie gaan nie, gaan niemand nie. Tweedens het my geneigdheid om vir onvanpasste goed te lag my al gereeld in die moeilikheid gekry. As jy die humor in selfs die mees tragiese ding kan vind, kan ek jou waarborg jy sal daai tragedie oorleef.

Op stel tydens seisoen 3 van Hotel (Foto: Petrie Schoeman)

Jy het die horror Parable wat tans op Showmax te sien is, direct. Hoe was dit om agter die skerms van ’n volwaardige film te werk? Verkies jy dit om te regisseer of om toneel te speel?

Dit was ’n onmoontlike projek wat ek so bly is ons almal gevat het. Dit was ongelooflik. My broer, Jaco, het die draaiboek geskryf, my ander broer het ’n sumo-wrestler zombie gespeel, en die span met wie ek gewerk het, was almal my vriende en kollegas met wie ek Buurtwag en Hotel se paaie gestap het. Regie is my hoofdwelm, waar al my groot liefdes op ’n hoop loop, maar dis ook die duurste en skaarsste dwelm. Toneelspel is vir my soos dagga vir Snoop Dogg (of altans Snoop Lion) is. Ek kan nie genoeg daarvan kry nie en dit hou my net op so ’n lekker plek, waar almal my vriende is en die wêreld net meer kleurvol is. Die feit dat die woord "speel" deel is van jou "werk" is nie toevallig nie.

Kyk die lokprent hier:

Wat is die beste bierresep wat jy tydens die lockdown getoets het? Please share!

Basies om ’n sak appels in ’n klomp suikerwater te dompel en dan gis oor te strooi in die hoop dat dit soos Hunter's Dry proe. Dit proe meer soos ’n klomp appels in suikerwater, maar dit doen die ding.

Die inperkingstyd dwing kunstenaars om op kreatiewe maniere met hul crafts om te gaan. Hoe hanteer jy as ’n kunstenaar die situasie?

Om eerlik te wees is ek so gewoond aan by die huis sit en sukkel om te skryf en bekommerd wees oor waar die volgende salaris vandaan gaan kom dat dit hoegenaamd nie ’n aanpassing was nie. Ek het wel besef dat om nie te kan uitgaan in die natuur of tussen vreemdelinge te kan rondbeweeg in ’n winkelsentrum of op straat nie, het my kreatiewe emmer leeg gehou. Ek moes baie lees en films kyk vir inspirasie.

Beer, Edwin van der Walt en Adam Heyns in ’n toneel uit Johan Cronje se film, Wonderlus (Foto: verskaf)

Jy het verlede Vrydag verjaar. Hoe het jy jou verjaarsdag in lockdown gevier?

My nooi, Mila, het my simpel bederf en my buurmense het my gebless met regte bier, nadat my appelbier nie ’n rasende sukses was nie.

Voltooi en bust a rhyme: “My naam is Beer ...

... en dit was ’n eer – Remona se vrae het my baie oor myself geleer.

Noem ’n song of music video wat jou lewe opsom?

The Chemical Brothers feat The Flaming Lips se "Golden Path". Maar ek hoop ter harte ek kan eendag op 90 so ’n badass wees soos Johnny Cash in "Hurt" is, waar hy basies ’n paar maande voor sy dood deur die spinnerakke van ’n vol lewe die kamera in die oog kyk en ons almal se velle van ons lywe af sing. Soos ’n torpedo uit die oerkoek.

Lees ook:

"Bewaar jou siel as jy my in ’n boks probeer sit" – ’n onderhoud met Rolanda Marais

  • 3

Kommentaar

  • Ek is verbaas om te sien dat Dawid Minnaar in Fynskrif was! Nooit opgemerk nie ... Hoe kan ‘n publikasie soos dié so ‘n fout maak? Andersins is dit ‘n goeie onderhoud maar ...

    • Hallo Phyllis
      Dankie vir jou kommentaar.
      Dawid Minnaar vertolk inderdaad die rol van die karakter Pieter, wewenaarkêrel van Jana (Hélène Truter), in die derde seisoen van Fynskrif.
      Vriendelike groete
      Remona Voges

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top