Ecce deus! deur Johan Retief: ’n lesersindruk

  • 0

Ecce deus! deur Johan Retief (Naledi)

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Titel: Ecce deus!
Skrywer: Johan Retief
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781067234331

Ecce deus! volg op Johan Retief se Die slegte nuus van die evangelie. In Ecce deus! voer Retief weer ’n hele aantal argumente met ’n soortgelyke oorhoofse boodskap as wat sy vorige boek voer. Retief wil in kort gelowiges waarsku dat godsdiens misleidend en gevaarlik is. Hy begin sy boek met ’n voorwoord waarin hy die vraag stel: “Do believers – both Jews, Christians, and Muslims – really know who the god is that they worship?” (5).

........
Met sy argumente skort daar niks, maar sover die kritiek teen godsdiens gaan, is die inhoud van hierdie boek nie genuanseerd nie, en gevolglik ook nie besonder interessant nie. Ecce deus! sal eerder as ’n besondere basiese en inleidende kritiese oordeel tot godsdiens beskryf kan word.
........

Alhoewel God as heilsaam voorgehou word deur godsdienstige instellings, weerspreek die verhale in die Bybel en die Koran daardie aanspraak, aldus Retief. Dan volg daar lang gedeeltes, beginnende by die Ou Testament, waar Retief voorbeeld na voorbeeld uitlig waar God se optredes as onregverdig, wraaksugtig en liefdeloos voorkom. Met sy argumente skort daar niks, maar sover die kritiek teen godsdiens gaan, is die inhoud van hierdie boek nie genuanseerd nie, en gevolglik ook nie besonder interessant nie. Ecce deus! sal eerder as ’n besondere basiese en inleidende kritiese oordeel tot godsdiens beskryf kan word. Die indruk wat geskep word, is dat gelowiges ook grotendeels salig onbewus is van die teenstrydighede in hulle heilige boeke. Dit mag so wees dat ’n gedeelte van die gelowiges onbewus is van die feite. Dit is byvoorbeeld glad nie ongewoon dat groot getalle gelowiges nie regtig goed vertroud is met wat presies in hulle heilige boeke geskryf staan nie. Maar dit is gewoon onwaar om te beweer dat gelowiges deur die bank onkrities staan teenoor hulle godsdienste. As ’n hoogs gekwalifiseerde teoloog, is Retief waarskynlik vertroud met historiese karakters soos Marcion van Sinope (85–160 nC) wat die Ou Testament verwerp het, en geargumenteer het dat Jesus nie dieselfde god is as die god van die Ou Testament nie. Die diskrepansies tussen die sogenaamde “ou” en die “nuwe” testamente is miskien nie die onderwerp van die deursnee selgroep en erediens nie, maar daar is vele gevalle waar gelowiges met hierdie diskrepansies worstel (waarskynlik eerder agter geslote deure in gesprekke met dominee by die pastorie, in plaas van op die markplein). Die semi-nomadiese wêreld van antieke Israel, met die amper eindelose stroom volksmoorde, seksmisdade en diskriminasie teen vroue, laat gereeld vir gewone Bybellesers met vrae en kopsere.

Maar Ecce deus! stoomroller voort. In een van die mees onoortuigende gedeeltes in Ecce deus! voer God dan ’n lang dialoog met Jesus oor die arbitrêre wyses waarmee daar met die Israeliete omgegaan word in die Ou Testament. En waar Retief ophou met die Bybel, voer hy sy argument verder met die Koran. Soos wat God inkonsekwent oorkom in die Bybel, presies so kom God (vir die doeleindes van hierdie bespreking gebruik ons nie die Arabiese woord vir God nie) ook oor in die Koran. Vrees, geweld, wraak en diskriminasie is aan die orde van die dag. Weer eens skort daar nie met die argumentasie nie, maar die teks lees ’n bietjie soos die argumente in ’n Facebook-debat tussen gelowiges en ongelowiges wat mekaar nooit sal vind nie. Sinneloos en nimmereindigend. Pampoen is al gedoen, wil mens later uitroep.

........
Retief sien in Jesus in sommige opsigte ’n verbetering op die Ou Testament, veral in die gedeeltes wat meer regverdig oorkom ten opsigte van vroueregte en versoenend praat, maar hy kom ook tot die ongewone slotsom dat Jesus moontlik selfs wreder is as die beeld wat mens van God in die Ou Testament verkry. Dit word gebaseer op die afwesigheid van die konsep van die ewigdurende hel in die Ou Testament.
........

Nie dat Ecce deus! nie ook darem ’n aantal interessante gedeeltes het nie. Retief stop byvoorbeeld nie by die Ou Testament nie, maar plaas ook die Nuwe Testament onder die vergrootglas, en dan spesifiek vir Jesus. Jesus word tipies en tradisioneel as ’n versoenende karakter uitgebeeld, veral met sy uitsprake soos “draai die ander wang” en dat mense mekaar sewentig maal sewe keer moet vergewe. Maar net soos in die geval met die Ou Testament, sowel as die Koran, wys Retief op die teenstrydighede in die evangelies. Jesus wat sy volgelinge aanmoedig om hulleself te bewapen met swaarde. Jesus wat openlik verklaar dat hy slegs gestuur is na die verlore skape van Israel. Retief sien in Jesus in sommige opsigte ’n verbetering op die Ou Testament, veral in die gedeeltes wat meer regverdig oorkom ten opsigte van vroueregte en versoenend praat, maar hy kom ook tot die ongewone slotsom dat Jesus moontlik selfs wreder is as die beeld wat mens van God in die Ou Testament verkry. Dit word gebaseer op die afwesigheid van die konsep van die ewigdurende hel in die Ou Testament. Benewens Jesus, word daar dan ook op die figuur van Mohammed gefokus, en al die bekende kritiek teen Mohammed word ook opnuut opgesom en weergegee. Kritiek teen Mohammed se wreedheid en sy behandeling en benadering tot vroue se regte word nagespeur. Retief ondersoek en wys ook op die invloed van die Zoroastrianisme op die skrywers van die Nuwe Testament, en hoe die teologie van die gemeenskappe ontwikkel het oor tyd. Die progressie van politeïsme na monoteïsme in antieke Israel is egter welbekend, en is al voorheen breedvoerig behandel deur ander skrywers, veral Karen Armstrong en selfs in Afrikaans deur Izak Spangenberg.

In die inleiding tot Ecce deus! skryf Retief ten opsigte van gelowiges:

I hope that, when they do discover who the being really is in whom they believe and whose character they strive to emulate, they will want to free themselves from it. If this happens, I have achieved my goal with this book. (6)

Hierdie doelwit van die outeur laat reeds verskeie interessante vrae ontstaan. Is daar ’n verpligting op die ongelowige deel van die samelewing om die gelowiges oor te wen vir ongeloof, in dieselfde mate as wat godsdienste andersdenkendes volgens teologiese oortuiging moet evangeliseer? Hoe gemaak met al die ryke en uiteenlopende interpretasies waaraan godsdienstige heilige boeke gekenmerk word? Die kerk het ook, kan mens redeneer, ’n lewe van sy eie, ’n lewe anderkant die teologie wat nie veel bedreig word deur eenvoudig die karakter van God te bevraagteken, soos wat in Ecce deus! gedoen word. Byvoorbeeld, die Amerikaanse spiritualiteit-guru en skrywer van die boek No nonsense spirituality, Brittney Lowe Hartley, beskryf godsdiens in evolusionêre terme as ’n sosiale tegnologie van die menslike spesie wat bepaalde behoeftes van die mens aanspreek, onder meer die mens se behoefte aan gemeenskap, struktuur, tradisie, rituele, identiteit (ankers), ensovoorts. Dit is hierdie eienskappe van godsdiens wat daartoe bydra dat godsdienste gedurig weer nuwe bekeerlinge lok en bestaandes behou. Sedert die Protestantse Hervorming, maar veral die laaste drie dekades, het die kerk opverdeel in soveel uiteenlopende denominasies dat amper enige mens deesdae iewers in ’n kerk welkom sal voel. Daar is vandag kerke wat gay mense aanvaar. Baie kerke frons nie meer vir ongetroude paartjies nie en weier ook nie meer om buite-egtelike kinders te doop nie. Selfs ten opsigte van die doop is teoloë soms heel dinamies (met groot uitsonderings, moet daar bygesê word) en doen dieselfde leraar infantbaptisme of kredobaptisme, na gelang van die voorkeur van die bepaalde lidmaat. Daar is selfs kerke, soos die Unitariese kerke, wie se lidmate grotendeels ongelowig is en wat kritiese ingesteldhede by hulle lidmate verder probeer bevorder. En kerkdienste hou sonder om enigsins oor God te praat.

........
Hoe word tradisionele kerke se monopolie gebreek? En hoe bou gemeenskappe alternatiewe tot al die destruktiewe godsdienste? Maar meer realisties glo ek sal wees die vraag: Hoe hervorm mens godsdienste verder?
........

Indien ek sou poog om ’n boek te moes skryf wat geloof in God by andere probeer ontmoedig (en nie dat ek sou nie), dan sou ek iets totaal anders probeer het. Ek sou dalk gaan probeer kers opsteek het by die neurowetenskap. Daar is byvoorbeeld die fassinerende geval van die Kanadese Siamese tweeling Krista en Tatiana Hogan, wat in 2006 gebore is en in wie se breine daar ’n strukturele brug van neurale weefsel gevind is waarmee die tweeling skynbaar sensoriese inligting met mekaar kan deel. Die feit dat hulle skynbaar sintuiglike ervarings kan deel, mekaar se gedagtes en emosies kan voel en selfs mekaar se dade kan antisipeer, laat wetenskaplikes die uniekheid van die mens as individu opnuut bevraagteken. Neurologiese sinchronisasie en gedeelde bewussyn weerspreek immers die gedagte van die unieke, onsterflike gees of siel.

As deel van sy pogings, takel Retief gevolglik uiteindelik ook die vraag van moraliteit, en argumenteer voorspelbaar dat godsdiens en moraliteit nie met mekaar verwar moet word nie. Weer eens is sy argumente goed en selfs waterdig. Suid-Afrika is ’n diep godsdienstige land en tog krioel dit van nie net misdaad nie, maar gruwelike geweldsmisdaad. Weer eens kom die skryfwerk egter uiters pedanties voor, tot so mate dat dit waarskynlik nie die deursnee gelowige eintlik enigsins van stryk af sal bring nie. Kerke is dinamies en span tegnologie in om hulleself te bemark, en die kerke is hoogs georganiseerd en spreek bepaalde behoeftes aan binne gemeenskappe. Daarenteen is die ongelowige/skeptiese/ateïstiese gemeenskap totaal ongeorganiseerd en disfunksioneel. Die sekulêre gemeenskap speel egter ook ’n belangrike rol daarin om die aard en funksionering van godsdienste te bevraagteken. Baie soos die opposisie in die parlement. In ’n poging om relevant te bly, verkeer kerke onder noemenswaardige druk om tradisionele teologiese standpunte te hervorm. Daar is waarskynlik meer effektiewe maniere om met gelowiges in gesprek te tree as die manier waarop dit in hierdie boek gedoen word. En omdat godsdienstige instellings in spesifieke menslike behoeftes voorsien, moet die vraag dalk eerder ondersoek word: Hoe word tradisionele kerke se monopolie gebreek? En hoe bou gemeenskappe alternatiewe tot al die destruktiewe godsdienste? Maar meer realisties glo ek sal wees die vraag: Hoe hervorm mens godsdienste verder?

Lees ook:

LitNet wag op jou lesersindruk!

Noodsaaklik: Die slegte nuus van die evangelie deur Johan Retief, ’n lesersindruk

Die slegte nuus van die evangelie deur Johan Retief: Sakkie Spangenberg deel sy indrukke

Die opkoms en ondergang van die NG Kerk deur Jean Oosthuizen: ’n lesersindruk

Lesersindruk: Feesmaalgang deur Dietloff van der Berg

’n Teologiese besinning oor Annemarie van Niekerk se Onder ’n bloedrooi hemel

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top