Noodsaaklik: Die slegte nuus van die evangelie deur Johan Retief, ’n lesersindruk

  • 1
...
Alhoewel Die slegte nuus van die evangelie nie ’n boek vol aardskuddende nuwe bevindinge is nie, is dit volgens my wel ’n belangrike en noodsaaklike boek.
...

Titel: Die slegte nuus van die evangelie: My reis na verlossing
Skrywer: Johan Retief
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781776172061

Johan Retief se boek Die slegte nuus van die evangelie het begin as ’n artikel wat uitgebrei is na ’n boek. Die oorspronklike artikel was skynbaar veel minder persoonlik van aard. Daar sal waarskynlik lesers wees wat deur die inhoud van die boek geskok en/of teleurgestel sal word. ’n Mens kan veral aanneem dat mense wat die outeur persoonlik ken, moontlik ’n emosionele reaksie op die boek kan hê. Miskien ook hier en daar iemand wat totaal oningelig is oor wat deesdae in die wêreld aangaan. Maar ek sou dink dat die deursneeleser goed vertroud sal wees met heelwat van wat in die boek geskryf staan. Nadat die boek gepubliseer is, het die akademikus Christina Landman in ’n artikel op Netwerk24 gereageer deur te vra: “Eerstens, hoekom is dit gepubliseer? Dis regtig ’n vervelige boek. Daar is nie een oorspronklike idee in nie.”[1] Die tradisionele kerk herhaal gereeld dat die kritiese teologie nie iets nuuts is nie. Min ongelowiges hoor egter die kerk wanneer hierdie waarneming gemaak word, want min ongelowiges luister nog enigsins na wat die kerk te sê het. Ek moet egter ietwat met Landman saamstem. Daar is inderdaad nie besonder baie in Retief se boek wat ’n mens juis as nuut of vars kan beskryf nie. My observasie kom egter met ’n belangrike vrywaring: Dieselfde geld vir wat menige teoloog week na week in koerante, jaar na jaar in boeke, en Sondag na Sondag op kansels opdis. Daar is ook binne die kerk van vars en nuwe idees maar baie min sprake. Die lees van Johan Retief se veelbesproke boek het my dus ietwat ambivalent gelaat. Maar dit wil tog lyk, as jy kyk na hoe gewild die boek is, dat daar ’n groot behoefte aan dié soort boek bestaan.

Die slegte nuus van die evangelie is ’n boek wat gelaai is met tipiese kritiese teologie. Ek was nogal beïndruk met die voorwoord van George Claassen. Daar is ’n addisionele voorwoord deur Ben du Toit, wie se 2020-boek, God is daar ’n ander antwoord?, duidelik as ’n voorganger van Retief se boek voorgehou word. Dit is miskien nodig om iets te sê oor die woord evangelie. Die titel van die boek suggereer dat die evangelie as slegte nuus beskou kan word. Maar watter evangelie is hier ter sprake? Dit is in die eerste plek die Calvinisme wat hier ter sprake is. Die Gereformeerde tradisie is die een waarin Retief hom sy lewe lank bevind. Dit is belangrik, want daar is onderling reusagtige verskille tussen Christelike denominasies. Die denominasies verskil tot so ’n mate dat die een dikwels nie die ander se geloof met gemak as legitiem kan erken nie. Uiteraard het die dinge wat Retief alles skryf wyer implikasies as die Gereformeerde tradisie. Hy skryf egter as voormalige Gereformeerde Christen. Joan Hambidge reageer ook negatief op Die slegte nuus van die evangelie en skryf verder: “In my lewe het ek beweeg van die NG Kerk tot ateïsme en danksy die Boeddhisme by iets anders uitgekom.”[2] Maar “iets anders” is tog nie die evangelie nie? Die evangelie is die evangelie! Hambidge stel egter wel goeie vrae oor die boek, vrae soos: Veroorsaak die evangelie werklik depressie by mense? Maak die evangelie werklik die volgelinge daarvan onverdraagsaam? Onderdruk die evangelie werklik mense se rasionele denke?

...
Die oorgrote meerderheid van die boek bespreek baie van die ou bekende argumente van die kritiese teologie.
...

Die probleem is dat Die slegte nuus van die evangelie hierdie sake wel aanraak, maar nie in detail bespreek nie. Die oorgrote meerderheid van die boek bespreek baie van die ou bekende argumente van die kritiese teologie. Baie van hierdie sake is argumente waarvoor die kerk maar min goeie antwoorde het, byvoorbeeld:

  • God is na die beeld van die mens geskape, nie andersom nie.
  • Die Bybel is aangepas met tyd, en vertalings is gedoen om die kerk se teologie te komplementeer.
  • Die skrywers van die Bybel se getuienisse is vol teenstrydighede en is glad nie betroubaar nie.
  • Die Bybel is in kort ’n boek oor die Israelse nasionalisme.
  • Die Bybelskrywers het inligting oorgeneem uit ouer bronne en ander kulture, byvoorbeeld die Gilgamesh-epos.
  • Jesus was nie ’n Christen nie. Hy het homself nooit as god voorgehou nie.
  • Jesus en Paulus se teologie verskil dramaties van mekaar.
  • Paulus was beïnvloed deur Plato en ander Griekse leermeesters, en so is die konsep van ’n onsterflike siel in die kerk ingedra.
  • Die triniteitskonsep is nêrens in die Bybel te vind nie.
  • Verskillende Christelike groepe het verskillende Bybels.
  • Van die kerk se belangrikste dogmatiese leerstellinge berus op enkele verdagte teksverse, wat by nadere ondersoek tot hoorsê genegeer kan word.
  • Politici het ’n leeueaandeel gehad in die ontwikkeling van die kerk se doktrine. Kritieke besluite is op kerkvergaderinge geneem om politieke stabiliteit te handhaaf, eerder as met die waarheid in gedagte.
  • Gelowiges is ook ateïste, net in al die ander godsdienste as hulle eie een.

’n Mens sou hierdie lysie nog heelwat kon uitbrei, want Retief (en die kritiese teologie) se saak is omvangryk. Retief skryf ook oor die Boeddhisme en verwys na die teorie dat Jesus heel moontlik deur die Boeddhisme beïnvloed kon gewees het. Daar is verder getuienis dat Jesus moontlik selfs na Indië kon gereis het. Daar is ook idees dat Jesus moontlik sy kruisiging kon oorleef het. Ook daardie idees is al deur kritiese teoloë gepubliseer. Al hierdie inligting is reeds bekend aan mense wat al lank in die historiese Jesus se doen en late rondkrap. Wat egter uitstaan, is dat Retief tussendeur sy eie ervaringe by dit alles inwerk. Dit is hierdie gedeeltes wat die boek uit en uit die lees werd maak. Trouens, alhoewel ek verstaan hoekom al die inligting en argumente uit die kritiese teologie bygevoeg is, sou ek veel meer van Retief se eie ervaringe wou lees. Uit die boek kan ’n mens aflei dat Retief baie gesien en ervaar het. Hy het skouers geskuur met Desmond Tutu en ander fassinerende kerkleiers in die stryd teen apartheid. Hy het as amptenaar aan die Universiteit van Wes-Kaapland ook veel beleef. Dan is daar die openhartige verskoning wat reg aan die begin van die boek aangebied word. Dié tref ’n mens soos ’n uitklophou. En andersins is daar die amper skynbare gemak waarmee die skrywer tot die gevolgtrekking kom – daar is geen god nie. Laasgenoemde is waarskynlik iets wat sommige mense sal skok.

Daar is ’n paar dinge in die boek wat as moontlike foute uitgesonder kan word. Retief skryf op bladsy 104 oor die boek Openbaring en beskryf die outeur van Openbaring dan as “siniel”. Ek kon nêrens so ’n woord opspoor nie (hoewel ek nou geen taalkenner is nie). Dit blyk hier te verwys na die woord seniel, iets soortgelyk aan versteurd, maar nie ’n uitdrukking wat ’n mens meer aldag hoor nie. Seniel is ietwat verouderd en onvleiend, baie soos selfmoord, waarvoor mens vandag eerder selfdood gebruik. Op bladsy 121 skryf Retief dat die NG Kerk in 2015 gay-huwelike goedgekeur het. Dit is foutief. Die kerk het nog nooit gay-huwelike aanvaar nie en erken vandag nog slegs die huwelik as tussen een man en een vrou. Die kerk het wel ruimte gemaak om gay-verbintenisse te seën. Die 2015-besluit is in 2016 omgekeer en Retief verklaar verder dat die Hooggeregshof later, in 2019, die 2015-besluit weer heringestel het op grond van die Grondwet. Sover my kennis strek, was die rede nie die Grondwet nie, maar wel die feit dat die NG Kerk nie hulle eie kerkorde gehandhaaf het nie, en die 2016-besluit toe ongeldig verklaar is.

Alhoewel Die slegte nuus van die evangelie nie ’n boek vol aardskuddende nuwe bevindinge is nie, is dit volgens my wel ’n belangrike en noodsaaklike boek. Die boek argumenteer veral vanuit persoonlike ervaring hoe die evangelie tot depressie kan lei, maar beantwoord die boek die vraag of daar ’n besliste verband is tussen die evangelie en depressie by mense? Ek is nie so seker nie. En is gelowiges besig met die indoktrinasie van kinders? Die samelewing kan gerus meer dikwels laasgenoemde vraag bespreek, maar lekker gesprekke is dit gewis nie. Beperk godsdiens dikwels die mens se vermoë om rasioneel te kan dink? Dit wil ek tog glo is die reine (en heilige) waarheid. Daar was baie ander kritiek teen Retief se boek, onder meer van die joernalis Neels Jackson en kommentaar deur die filosoof Anton van Niekerk. Baie mense wat kritiek lewer, is self egter lankal nie meer besig om die Gereformeerde geloof te beoefen presies volgens die leer van die drie belydenisskrifte van die Gereformeerde kerke nie – die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dortse Leerreëls. Hoeveel Gereformeerde gelowiges weet werklik nog vandag wat alles in hierdie sogenaamde drie formuliere van eenheid geskryf staan? Lees gerus Die slegte nuus van die evangelie en oordeel self.

Eindnotas

[1] Christina Landman: Vier vrae oor Retief se boek oor (on)geloof. 6 Augustus 2022.  https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/christina-landman-vier-vrae-oor-retief-se-boek-oor-ongeloof-20220608 (17 Augustus 2022 geraadpleeg).

[2] Joan Hambidge: Worstel jy met ’n iguana? 11 Junie 2022.  https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/aktueel/joan-hambidge-worstel-jy-met-n-iguana-20220611 (17 Augustus 2022 geraadpleeg).

Lees ook:

Die slegte nuus van die evangelie deur Johan Retief: Sakkie Spangenberg deel sy indrukke

God Is daar ’n ander antwoord? deur Ben du Toit: ’n lesersindruk

Skrywersonderhoud: Ben du Toit oor God Is daar ’n ander antwoord?

Resensie van Ben du Toit se God Is daar ’n ander antwoord?

Eerste slukkie: God Is daar ’n ander antwoord?

  • 1

Kommentaar

  • Annora Eksteen

    Die slegte nuus van die evangelie.

    Baie interessant. Ek het hierdie lesersindruk geniet.

    Self dink ek geloof kan báie skadelik wees, soos dit vir my was, maar eweneens ook ongeloof, aangesien sekeres dan dink hulle kan nou maar moord pleeg.

    En so aan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top