Eerste slukkie: God Is daar ’n ander antwoord?

  • 4

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Oor die skrywer

Ben du Toit is ’n voormalige kommunikasie-direkteur van die NG-sinode van die Wes- en Suid-Kaap. Hy in 1950 in Malawi gebore. Hy behaal die grade BA en BTh aan die Universiteit Stellenbosch, asook MA (cum laude) en DPhil aan die Universiteit van Port Elizabeth ná buitelandse navorsing by die Graduate Theological Union in San Francisco, VSA.


Opsomming

God Is daar ’n ander antwoord?
Ben du Toit
Teologie
978 0 6396 0108 3
R295.00

Hierdie manuskrip was nie bedoel om gepubliseer te word nie. Dit was aanvanklik ’n bestekopname van die skrywer se betrokkenheid by en blootstelling aan die NG Kerk-familie waarin hy gebore is, grootgeword en uiteindelik as predikant gedien het.

Ben du Toit se eerste boek, God? Geloof in ’n postmoderne tyd, is in 2001 met die gesogte Andrew Murray-prys vir Christelike publikasies bekroon. Dit het ’n woordeskat gebied vir talle ander mense se reis. Amper twee dekades later neem hy die vraag oor God en die relevansie van godsdiens en geloof verder.

Vir baie mense sal hierdie boek nie ’n gemaklike leeservaring wees nie. Daar sal egter lesers wees wat ’n eie bevrydende ervaring in hul verhouding met die kerk, geloof en met God sal beleef deur die boek te lees. En wat ’n woordeskat sal vind.

Net soos Du Toit se eerste boek baie mense minder alleen met hulle teologiese ongemak en kritiese vrae laat voel het, kan hierdie boek ’n wonderlike verrassende volgende fase van hul lewens inlei, soos dit tans met die skrywer die geval is.

Die afronding van die teks het plaasgevind aan die begin van die wêreldwye Covid-19-pandemie. Hierdie boek toon hoe die vraag na die betrokkenheid van God gevra word, net soos telkens in die verlede tydens ander krisisse.

Net soos wat die Covid-19-pandemie ’n nuwe era inlui, kan hierdie publikasie ’n nuwe denkraamwerk ten opsigte van geloof inlui.

Hier word baie name genoem en na vele stemme geluister. Uiteindelik gaan dit nie oor hulle as individue nie, maar wel, kollektief, oor Die Kerk – ’n bepaalde verteenwoordiging van die verskynsel wat Godsdiens genoem word. Maar inderwaarheid gaan dit nie eers oor hulle nie, maar oor God – terwyl die enigste manier waarop ons iets van God kan weet, deur die woorde en lewens van mense is.

Die boek is ’n openhartige, deurleefde en provokerende teks van ’n bekende en gerekende teoloog. Dit verskaf ’n woordeskat en hoop vir diegene wat krities teenoor teologie staan. Die teks gee ’n binneblik op die NG Kerk en onlangse debatte en aktuele kwessies binne die kerk en samelewing, soos die gaydebat.


Uittreksel

Tamar, bly stil!

Tamar het stof op haar kop gegooi. Sy het haar lang mantel geskeur, haar hand op haar kop gesit en sover sy loop, het sy geskreeu. Haar broer Absalom het toe vir haar gesê: “Was jou broer Amnon by jou? Toe maar, my suster, bly nou maar stil. Hy is jou broer. Moet jou nie hieroor verknies nie.”

Tamar het toe in haar broer Absalom se huis gaan bly en sy was ’n wrak.

2 Samuel 13:19–20

Wat hier staan, wat ek nou hier skryf, was nie ’n artikel of iets dergeliks, ’n geskrif wat al voorheen gepubliseer is nie. Dis eerder ’n preek. Nou se preek. Wat ek nou maak. My laaste preek uit die Bybel.

Hierdie gedeelte in die Bybel is seker een van die ontstellendste gedeeltes in die Goeie Boek. Die hele gedeelte vanaf hoofstuk 11 tot 13 van 2 Samuel. Dit is nogal ’n gedeelte van die Bybel waarna daar dikwels deesdae verwys word in sekere kontekste van die Ou Testamentiese navorsing asook in die gesprek oor die feminisme, die patriargie, oor geweld teen vroue (en kinders). Dit gaan oor die skande in Koning Dawid se huishouding.

Ons het hierin met twee verhale te make waarin dit oor dade van seksuele aard gaan. Die eerste deel (hoofstuk 11) gaan oor die koning se vergryp aan ’n ander man se vrou, Batseba. Hoe gewillig sy daartoe was, sal ons nooit weet nie, maar nadat Dawid fyn beplan het om van haar man, Uria, ontslae te raak – om hom op die gevaarlikste plek in die oorlog te laat aantree en sodoende sy dood te veroorsaak – het hy Batseba vir homself toegeëien. Maar nie sonder nog ’n tragedie nie: die dood van die eersteling van Dawid en Batseba.

Die meeste van ons wat in die kerk grootgeword het, ken die storie van die profeet Natan, wat na Koning Dawid gekom het om hom op ’n baie slim manier tereg te wys deur vir hom die verhaal van ’n ryk man en ’n arm man te vertel: die gewetenlose ryk man met die baie skape wat die arm man se enigste skaap steel met die oog op ’n feesmaal vir sy vriende. En dan Natan se woorde aan Dawid: “U is die man.”

Die tweede verhaal (in hoofstuk 13) is dié van Tamar, Dawid se dogter, wat deur Amnon, een van haar broers, verkrag word. Dit nadat Amnon van sy begeerte na sy suster by sy neef Jonadab gebieg het en dié hom die slinkse raad gegee het om siek te speel en dan sy suster na sy kamer te lok om vir hom kos te gee.

Dit gebeur toe presies so. Amnon verkrag sy suster, maar daarna verag hy haar met ’n diepe afsku en jaag haar uit sy kamer. Ná die vernedering van haar verkragting en haar broer se daaropvolgende veragtelike optrede skreeu sy haar protes uit in die strate met geskeurde klere en as op haar kop.

Haar ander broer, Absalom (met klaarblyklik reeds ’n sterk vermoede van wat gebeur het), vra haar uit, waarop sy bevestig dat Amnon haar verkrag het.

En Absalom se reaksie? “Toe maar, my suster, bly nou maar stil. Hy is jou broer. Moet jou nie hieroor verknies nie.”

En so vind sy “skuiling” in haar broer Absalom se huis. En die laaste wat ons van Tamar hoor?

Tamar was ’n wrak.

Maar nou: Wie of wat is hier die eintlike olifant in die vertrek? As dit oor die Bybel gaan, is die karakters daarin (mos) eintlik sekondêr, nie waar nie? In hierdie samestelling van talle en talle oorvertellings, geskrifte en samevoeging van dokumente (wat uiteindelik as die Bybel, as die Woord van God aanvaar en as sodanig bely word), is God tog die hoofrolspeler; die een aan wie alles in die hemel en op aarde behoort, die Almagtige, die Alwetende, die Skepper, die God van liefde.

Die mans in hierdie verhale tree soos varke op, volslae gewillig daartoe met slinkse testosteroongevulde vanselfsprekendheid; uitverkoop aan die patriargie en chauvinisme, terwyl die menswaardigheid van die vroue eenvoudig geminag word.

Maar, indien ons die geloof in God as skepper en onderhouer kon sekwent wil handhaaf, is hulle (die mans) nie die eintlike probleem nie. Daar’s ’n olifant in die vertrek waaroor niemand mag, of wil, praat nie. Die werklike spreekwoordelike olifant in die vertrek is … God self – die Almagtige, die Alwetende, in wie se hande volgens die oortuiging van gelowiges hulle lewens gehou word. Maar, oor Hom mag in hierdie verband nie gepraat word nie. Oor God moet stilgebly word want, onthou, Hy’s jou hoeder, die een wat jou oppas, onder wie se vlerke jy veilig moet kan skuil, na wie toe jy kom as jy vermoeid en belas is.

Los dus jou protes, asseblief. Kom af van die strate en kom bly rustig en veilig in jou ander broer se huis. Ons praat nie hieroor nie. Dis soos dit is. Geen vrae nie. Geen protes.

Oor Hom in verhouding tot die onreg wat ongehinderd voortgaan, mag ons nie praat nie. Moenie sy naam noem terwyl talle oorloë in sy naam woed nie; of as dieselfde Dawid vroeër honderd voorhuide van verslane Filistyne aan Saul as huweliksprys bring ter wille van Mikal (Koning Saul se dogter) nie; nie as honderde babatjies doodgaan wanneer Jesus in Bethlehem gebore word nie – en die weeklaag opklink uit Rama, want die moeders wil nie getroos word nie; nie as duisende mense deur die eeue in kruistogte omkom en godsdiens teen godsdiens opstaan vir millennia nie; nie toe die volkere van Afrika mekaar in die verlede wreedaardig uitgemoor het ter wille van grond nie; nie as Xhosas en Zulu’s, Boer en Brit sterf ter wille van beheer oor grond, goud en diamante nie; nie as tienduisende vroue, kinders en plaaswerkers in konsentrasiekampe en op plase sterf in die Anglo-Boereoorlog nie; nie as die 1913-Grondwet duisende Afrikane van hulle land vervreem nie; nie as meer as 6 miljoen Jode tussen 1941 en 1945 uitgemoor word ter wille van Hitler se meerderwaardige Herrenvolk nie; nie as daar by Sharpeville en Boipatong en tydens die 1976-opstande honderde veronregte mense deur die apartheidsregering doodgeskiet word nie; nie as die polisie onbeheersd losbrand op mynwerkers by Marikana nie; nie as Mugabe oorneem in Zimbabwe en ’n onbekende aantal Matabeles uitmoor en die land uiteindelik in die grootste ellende dompel terwyl hy en sy opvolgers in weelde lewe in ’n land waar die ekonomie uitgewis is nie; nie as honderde oor naweke in townships doodgeskiet word in bendeverwante geweld nie; nie as sinnelose, wreedaardige aanrandings en selfs moorde elke dag in ons stede en op plase gepleeg word nie; nie as die ANC oor meer as twee dekades deur wanbestuur, bedrog en selfverryking die Suid-Afrikaanse ekonomie geleidelik so vernietig dat ons tot op die randjie van ’n totale ineenstorting gekom het en tans gevaar loop dat populistiese retoriek uiteindelik hierdie land finaal die afgrond instuur nie; nie as ’n Corona-virus die hele wêreldbevolking met vernietigende gevolge tref nie.

Oor hierdie olifant in die vertrek (God), oor sy aandeel in hierdie gebeure, mag ons nie praat en Hom bevraagteken of impliseer nie, want Hy’s jou broer, jou hoeder: Die een na wie jy moet opsien. Die een voor wie jy in aanbidding moet buig. Die een wat geprys moet word in die kerke, op strate en onder die bome van Afrika. Moenie praat nie, want sy eer moet beskerm word.

En so het Suid-Afrika sonder die “waagstuk” van hierdie vraag aan die suidpunt van Afrika bly woon.

Nkosi Sikelel’ iAfrika.

En Suid-Afrika was ’n wrak.

###

En die antwoord is

For every complex problem there is an answer that is clever, simple, and … wrong.

HL Mencken (1880–1956), Amerikaanse skrywer

In die voorafgaande hoofstuk van hierdie boek kan mens telkens die retoriese vraag hoor: Is God hierby betrokke – en indien wel, op watter manier? Hoe kan ons God hierin sien? Hoe kan ons sy betrokkenheid hierin verstaan? Selfs, aan watter of aan wie se kant sou Hy in die betrokke saak wees? Was Hy in beheer, of nie? Hoe rym dit met sy liefde? Hoe sou ’n mens sy groot plan kon verstaan?

Tydens die nasionale en provinsiale verkiesing van 8 Mei 2019 word ’n onderhoud in die media geplaas met ’n vrou wat verklaar dat sy nie bekommerd is oor wie die verkiesing gaan wen nie, want God sal sorg dat die regte mense verkies word om die land te regeer. En daar is baie gelowiges wat so glo – wat hulle troos en vrede daarin vind.

Dit is egter net verstommend dat hulle nie besef hoe problematies so ’n (geloofs-)uitspraak is nie. Sou dit beteken dat God ook verantwoordelik was vir Robert Mugabe se verkiesing as president van Zimbabwe (wat die oorsaak van soveel menslike ellende was – en na sy dood steeds is)? Sou dit beteken dat God ook verantwoordelik was vir al die korrupsie en plundering deur die ANC-regering die afgelope dekade, aangesien dit Hy was wat gesorg het dat Jacob Zuma president van Suid-Afrika geword het? Is God so direk verantwoordelik vir die daarstelling van alle regerings in die wêreld? Besef mense wat die volle konsekwensies is van hulle geloofsuitsprake vir die integriteit van die God in wie hulle hul vertroue stel?

Ten tyde van die afronding van hierdie manuskrip tref Covid-19 die wêreld. Dit veroorsaak oral paniek – in alle lande. Uiteindelik sal geen land dit gespaar bly nie. Die dodetal styg daagliks dramaties, ook hier in Suid- Afrika. En afgesien van die aanvanklik prysenswaardige en ingrypende maatreëls deur die regering (waarvoor die samewerking van alle inwoners gevra word), kom die oproep (selfs direk van die president) dat daar daagliks om 18:00 gebid moet word vir hierdie pandemie. Oral doen kerke ’n beroep op die gebede van alle mense. Die sosiale media wemel daarvan. Nou kan ’n mens vra: Waarvoor moet gebid word? Dit word selde uitgespel, want die oomblik as ’n mens dit doen, doem die kompleksiteit van die saak op. Ek verbaas my weer eens hoedat miljoene mense wêreldwyd nie besef hoe sinloos hulle argumente en hulle verwagtings van (hulle) God klink wanneer ’n mens krities daarna kyk nie. Moet God die virus wegneem? Moet God die virus stuit? Word God versoek om Suid-Afrika te spaar? My mense?

Hierdie misterie (oor die betrokkenheid van God) verdiep verder as berig word dat een van die mees dramatiese geleenthede vir die infektering en verspreiding van hierdie virus in Suid-Afrika aan toegewyde Christene te wyte was. Van 9 tot 11 Maart 2020 word daar ’n groot internasionale konferensie by die Divine Restoration Church in Bloemfontein gehou. Prominente politieke en Christen-leiers van oral in Suid-Afrika en buurlande soos Mosambiek woon dit by en word geïnfekteer. Dit blyk dat van die oorsese besoekers uit Europa positief vir die virus getoets het en dat hulle die draers daarvan na Suid-Afrika was.

Rapport berig op 5 April 2020 soos volg daaroor onder die opskrif “1 600 ondersoek na gebedsgroep”:

Die nagevolge van die Vrystaatse gebedsbyeenkoms wat bygewoon is deur vyf buitelanders – wat almal Covid-19 onder lede gehad het – is steeds aan die uitkring.

Die Vrystaatse Departement van Gesondheid het teen Donderdag alreeds 1 600 mense opgespoor en ondersoek nadat hulle die Jerusalem Prayer Breakfast bygewoon het of in kontak was met mense wat die virus daar opgedoen het.

Die 85-jarige John Hlangeni, ’n kerkleier by die Global Reconciliation Church, het Maandag Suid-Afrika se derde Covid-19-slagoffer geword toe hy in die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein oorlede is. Sy vrou is ook siek en word in die intensiewesorgeenheid behandel.

’n Verpleër in die Duduzakliniek in Ekurhuleni aan die Oos-Rand is positief getoets vir die virus en die Departement van Gesondheid het die kliniek Woensdag gesluit. Sy het ook die gebedsbyeenkoms bygewoon.

Volksblad het Saterdag berig dat die 54-jarige gastehuiseienaar wat die vyf besmette buitelanders wat die byeenkoms bygewoon het, gehuisves en vervoer het, ook met Covid-19-simptome dood is.

Dit is betekenisvol dat afgevaardigdes na hierdie godsdiensbyeenkoms die virus ook na die Noord-Kaap en verder in Suider-Afrika versprei het.

Een van die groot vrese in Suid-Afrika (en in Afrika as geheel) was dat hierdie virus ’n vastrapplek sal kry tussen die massas in die informele woonbuurte waar sosiale afstand onmoontlik is, tesame met al die gewone ontberinge van gebrek aan voldoende water en kos en gebrekkige higiëne tipies van armoede-kontekste: ’n resep vir die verspreiding daarvan soos ’n veldbrand. Sou dit dan nie een van die duidelikste voorbeelde van ironie wees dat dit juis toegewyde Christene was wat een van die hoofoorsake van die verspreiding van die virus in Suider-Afrika is nie?

Tog word die kritiese vraag na God nie gevra nie, maar word ’n nasionale versoek tot gebed aan almal gerig.

Aanvanklik mag dit dalk oppervlakkig en moedswillig klink, maar talle vrae kan logies hieruit oor God gevra word. ’n Mens wonder byvoorbeeld hoekom God dan nie heel aanvanklik gesorg het dat die virus nie sy aanslae in China begin het nie. Het God dalk nie geweet daarvan nie? Kon God dit nie keer nie? Of wou God dit nie doen nie – met ’n groter (wrede) plan op die oog? Toe sy volgelinge in Europa op die vliegtuie na die Christenkonferensie in Suid-Afrika klim, het God toe geweet hulle is geïnfekteer, of nie? Indien God vooraf alles weet, was dit deel van sy (bisarre) plan om die kwesbaarstes van Afrika te teiken? Of behoort ’n mens hier liewer ’n ander bekende kaart oor die tafel te stoot, naamlik dié van buig voor die misterieuse wil van God wat aanvaar behoort te word?

Of is die sin van geloof in God dalk eerder (of slegs) te soek in die troos van God se kennis van mense se lot – en wat dan tot uiting kom in die vorm van sy medelye en ondersteuning in die hartseer, angs en verlies van sy volgelinge in hierdie krisis? Is God magteloos in hierdie stryd, of aktief daarin met ’n verborge plan? Intussen hou Hy die prys van ’n ewige lewe na die dood uit as beloning vir mense se geloof.

In die afgelope meer as dertig jaar het ek, as deel van ’n kontingent teoloë in die kerk, konsekwent daarteen gedebatteer dat God as “die outeur van die kwaad” beskou sou word. Nee, die kwaad in die wêreld is die gevolg van menslike keuses, of die noodwendige skadukant van die skepping, of, in sommige kringe, die werk van die boosheid in mense, of in nog ander gevalle, die werk van die duiwel self. Ongelukkig kon geeneen van hierdie argumente met ’n goeie logiese verklaring of antwoord kom wat nie op die een of ander manier die integriteit van God op die spel plaas nie. Behalwe natuurlik, soos reeds gesê, om almal uiteindelik te herinner aan die misterie van God se wil wat ons nooit (aan hierdie kant van die graf ) sal verstaan nie.

Maar om jouself so te beroep op die beperktheid van die menslike verstand (wat buig voor die misterieuse wil van God), amper asof die erkenning daarvan ’n deug is, is vir baie mense geensins meer ’n bevredigende uitvlug nie.

Die ou teologiese trilemma klop onwillekeurig in al hierdie gevalle aan die deur, naamlik: Hoe is dit moontlik dat God tegelyk alwetend, almagtig asook liefdevol kan wees? Dit was (en is steeds meestal) so dat wanneer oor hierdie aangeleentheid in die Christelike geloof en teologie geargumenteer word, daaraan vasgehou word dat hierdie, asook al die ander attribute (kenmerke) van God, inherent deel is van Hom – dat dit waar is van God. So word geglo. Omdat die Bybel so oor God praat, moet al drie hierdie kenmerke van God op die een of ander manier geld. Saam hiermee word ook verklaar dat God soewerein is en Hom nie deur enigeen laat voorsê in sy besluite nie. So moet ons as mense buig voor sy meerdere kennis en wysheid en ons oor die misterie van God se wil verwonder.

Dus word geglo en bely dat God liefde is. Dat God almagtig is. Dat God alwetend is. Daarby is Hy genadig. En regverdig. En alomteenwoordig. Daar word ook geglo dat Hy op grond van sy plan vir mense of die wêreld sekere dinge doen of nie doen nie, ander toelaat of nie toelaat nie. Die “feit” is: Hy is in beheer. As sodanig is die mens in Gods hand. Sy wil sal geskied. Daarvoor moet almal buig. Daarvolgens moet gelowiges bid. Om te bid dat God se wil sal geskied (soos in die Christelike modelgebed aangebied in die woorde “laat U wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde”) – en dat die gelowige hierdie wil sal leer ken en verstaan en aanvaar – is die doelwit van die Christen se gebed.

Hier kom gebed as sodanig vanselfsprekend ook ter sprake. Die probleemvraag is nou egter hoe en wat die rol van gebed in hierdie verband is. Kan ’n mens se gebed waarin om ’n bepaalde saak gevra word, soos die versoek vir gesondheid, die afwering van ’n virus, vir goeie en deurdringende reën, vir ’n voorspoedige reis, oor die vermoë beskik om God se wil te wysig, of teen die gang van die natuur te laat ingaan? Kan gebed medebepalend wees vir wie die land gaan regeer of nie? Hieroor skryf ek later meer, maar vir die doeleindes van hierdie gedagtegang moet hier aangemerk word dat die verhouding tussen gebed en die wil van God nie ’n ongekompliseerde saak is nie.

Die wil van God – en hoe om dit te verstaan – is dus ’n komplekse saak. Dit is juis daarom vir die kerk (of geloofsgemeenskap) vanselfsprekend om binne ’n bepaalde situasie in die tyd en geskiedenis te reflekteer oor die wil van God vir of in daardie situasie. En die plek (bron) waar hierdie wil van God gevind sal (kan) word, is die Bybel. Die Bybel is vir die Christen die geïnspireerde Woord van God. Veral vir die gereformeerde Christen is die interpretasie van die Woord van kardinale belang. Hier kom die belydenisskrifte se rol ter sprake, want in die belydenisskrifte word die interpretasie van die Bybel deur die kerk vir gereformeerdes gevind. En, so word ons telkens herinner, die NG Kerk is per definisie ’n belydeniskerk. Die kerk word gerig kragtens ons belydenisskrifte. Daarom die ondertekening van die belydenisskrifte deur alle voornemende predikante van die kerk. Later meer oor hierdie komplekse verhouding tussen Bybel en belydenis. Hier is dit nou eers belangrik om te aanvaar dat die wil van God vir die kerk as georganiseerde instituut belangrik is, maar daarom ook vir die individu. God se wil is deurslaggewend vir die gelowige se lewe.

Gelowiges vra daarom daagliks en deurlopend daarna. Die kerk doen dit amptelik in sy vergaderings met groot erns. Daar word gevra hoe die wil van God, as die een wat oor ons lewe en lot beskik, verstaan behoort te word. Dis met die oog hierop dat die (korrekte) vertolking van die Bybel as gesagvolle Woord van God gedurig op die agenda is.

Met hierdie doel voor oë word daar deesdae in die (NG) kerk veral groot gewag gemaak van “geloofsonderskeidende gesprekke/prosesse”. Daarvoor word dan ook vooraf sorgvuldig beplan deur toepaslike tekslesings, gerigte tafelgesprekke, bepaalde stiltetye vir introspeksie en luisterende refleksie, om dan so tot konsensus te kom oor wat die pad van die Here is. Dit is ook bekend (en vir my was dit nog altyd ’n rede tot ongemak) dat sodanige beplanning (inleidings, sprekers, keuse van Bybelgedeeltes) manipulerend van aard is, omdat diegene wat die noodsaaklikheid daarvoor voorstaan en die beplanning daarvoor doen, self met agendas sit wat hierdie keuses bepaal. Hierdie feit word meestal nie in berekening gebring of maklik erken nie. En natuurlik speel dit nie doelbewus en kwaadwillig ’n rol nie, maar dit is wel bepalend.

Wat hierin meestal die mees steurende element is, is die feit dat enige vrae hieroor (soos hierbo aan die begin verwoord), of enige kritiese opmerkings, dikwels gesien word as moedswillige (en selfs kwaadwillige) weerstand teen die oopstel en sensitiwiteit vir die werk van die Heilige Gees, die influisteringe van God – ’n weerstand teen die gewilligheid tot verandering of transformasie. In sommige gevalle – en dit het ek aan my eie lyf gevoel – word die bevraagtekening van hierdie manier van spirituele manipulering doodgewoon as lastig en ongewens ervaar en hanteer. Of sommer net kru gestel, as negativisme. Dit is selfs interessant dat daar in die praktyk van hierdie soeke na die wil van God geen verwysing is na die belydenisskrifte nie. Ek kan amper nie enige geleentheid oproep waar daar in die gewone gang van kerklike besluitneming op enige vlak gepoog is om die belydenisskrifte aan die orde te stel nie – behalwe somtyds waar daar ’n kerkordelike dispuut is (byvoorbeeld ’n klag van leertug teen ’n predikant). Dit in sigself is dus ’n anomalie met betrekking tot die identiteit van die kerk.

Maar die feit is dat daar deurlopend na die wil van God gevra word, amptelik in die geloofsgemeenskap, maar ook in die persoonlike lewens van gelowiges. En hier loop ’n mens jou telkens vas in hierdie trilemma van die verhouding tussen God se almag, sy alwetendheid en sy liefde. Alreeds voor Christus het ’n Griekse filosoof, Epicurus (341–270 vC), oor hierdie onmoontlike formule geskryf – het hy die idee verwerp dat God gelyktydig almagtig, alwetend en liefdevol kan wees. Twee van hierdie eienskappe sluit altyd die derde een uit.

Dit is dus nie ’n nuwe “ontdekking” as gevolg van die opkoms van die moderne wetenskap, of die klem op logiese, rasionele argumente, of iets dergeliks, asof die strewe na logiese denke nou eers in ons moderne era uitgedink is nie. Dit is ’n vraagstuk waarskynlik so oud soos die geloof in (’n) God self.

In God? Geloof in ’n postmoderne tyd het ek in hierdie verband soos volg geskryf:

In die debat deur die geskiedenis oor hierdie probleem het die begrip die “trilemma” rondom God ontstaan. Hierdie beredenering gaan uit van die volgende stelling: dat dit onmoontlik is om tegelykertyd drie dinge van God te kan glo, naamlik dat Hy alwetend, almagtig en liefdevol is. Twee van hierdie eienskappe kan gemaklik saam gedink word. Maar sodra ’n derde (of selfs ’n vierde soos regverdigheid) bykom, maak dit nie meer sin nie. Kom ons gebruik ’n voorbeeld (by voorbaat verskoning oor die skrik- wekkende aard van hierdie voorbeeld):

’n Veertienjarige dogter word deur ’n inbreker gemartel, verkrag en doodgewurg. Indien God alwetend is (en dus vooraf sou geweet het dat dit gaan gebeur) en liefdevol (dus gekant daarteen sou wees dat so iets gebeur), hoekom het Hy dit nie gekeer nie? Is Hy dan nie almagtig nie? Indien Hy liefdevol en almagtig is en dit gebeur wel, terwyl Hy geweet het dit gaan gebeur, hoekom het Hy dit nie gekeer nie? Is Hy dan nie alwetend nie? Indien Hy alwetend en almagtig is, maar dit het tog gebeur, hoe kan Hy dan liefdevol wees?

Daarom is ’n deterministiese denke (met ander woorde dat alles volgens ’n vooraf beplande program gebeur) onaanvaarbaar … omdat dit ten minste ’n groot vraagteken sal skryf oor die liefde van God! Wat sou dit dan buitendien help om te bid, aangesien alles alreeds op vaste spore loop en daaraan niks meer gedoen kan word nie. So ’n God sou … ’n vreesaanjaende monster wees van wie ’n mens jouself liewer wil bevry, as om in Hom te glo en jou aan Hom toe te vertrou.

Wil ’n mens van hierdie soort God bevry wees en liewer sien dat God as liefdevolle “Vader” medelye het met ons en dinamies in die gang van die skepping saam met die mens beweeg, om dan in die oomblikke van nood en angs die gelowige met die belofte van sy liefde en deernis te versorg, kom die vraag op of God dan maar net reaktief optree op gebeure waaraan Hy niks kon doen nie. Dit laat hulle onseker, omdat God, uit so ’n perspektief gesien, ’n magtelose toeskouer is van die verloop van die geskiedenis.

(Ander) sou wou volhou dat die mens self ’n keuse het en daarom verantwoordelikheid moet aanvaar vir wat met jou gebeur. Kies iemand verkeerd, dan is dit sy/haar eie skuld dat dinge verkeerd loop, maar gelukkig is God genadig en liefdevol en kan ’n mens ook in sulke tye op sy ondersteuning en begeleiding staatmaak.

Verder (is dit so) dat gebeure in die lewe volgens bepaalde wetmatighede gebeur (soos aardbewings, droogtes en natuurrampe) waarvoor God tog nie “die skuld” kan kry nie. Dus, wanneer dit gebeur, is God in sy medelye daar om die gelowiges te ondersteun en hulle te help om die sin daarvan in te sien (bv dat dit aanleiding gee tot ’n nuwe bewussyn van God se teenwoordigheid en toewyding aan Hom, of iets dergeliks), daardeur te groei tot mense wat beter toegerus is vir die lewe wat nou maar eenmaal bestaan uit die goeie en die slegte.

(Vir ander) sal so ’n siening weer bedreigend aandoen, want dan is God mos magteloos – al bid ek ook hoe. Dan is Hy mos nie in beheer nie – en by so ’n God is ’n mens dan altyd onveilig.

In die teologie word na hierdie trilemma gewoonlik as die teodisee-vraagstuk verwys, waarin dit gaan om mense se verskillende beskouings van hoe die kwaad gesien moet word in verband met die wil van ’n alwetende, almagtige, liefdevolle God.

Dit was my vroeëre beredenering rondom hierdie saak. Tans is my probleem met hierdie redenasies dat dit alles ten doel het om die geloof in God as’t ware te red. Om God te red, oftewel die konsep van ’n transendentale, metafisiese wese wat oor alle mag beskik en alles wat gebeur, beheer.

Ek was deel daarvan. Het dit met groot toewyding en oortuiging probeer doen: om ons geloof in God, soos geopenbaar in Jesus van Nasaret, sover as moontlik rasioneel insigtelik te maak.

Maar nie meer nie. Op hierdie retoriese vrae van “wat het God daarmee te make” of “hoe is God daarby betrokke”, sou dit ter wille van die integriteit van daardie God waarskynlik ’n beter uitweg wees om te sê dat Hy niks daarmee te doen het nie. Dit maak Hom dan ten minste nie skuldig, of magteloos, of wreed nie. Maar dan is die sin van geloof in God natuurlik sonder enige nut. Dit sou die hele (godsdiens-)projek in duie laat stort. Dan sou mens met reg kon vra of die geloof in God enige sin maak (die olifant in die vertrek met “Tamar, bly stil!”). Die ironie is dan dat die enigste manier om die sin van ’n geloof in God “te red” is om te verklaar dat Hy nie ’n werklikheid is nie – om dus nie alleen sy betrokkenheid uit te skakel nie, maar om God as sodanig uit te skakel.

Een van die heel grootste probleme in hierdie verband, naamlik om ’n logiese, verhelderende, konstruktiewe gesprek hieroor binne die konteks van godsdiens te voer, is die fundamentalistiese aard van alle godsdienste – daarom ook die teologiese denke binne die gereformeerde tradisie. Ek het my hele beroepslewe daaraan gewy om saam met ander na maniere te soek om hierdie gesprek wel te laat plaasvind en te laat slaag. Die uitgebreide elektroniese dokument “Woorde en woorde” is ’n redelike weerspieëling hiervan. My blootstelling aan Wentzel van Huyssteen, sy invloed op my en my blootstelling aan die interdissiplinêre gesprek hieroor het my aangemoedig om motivering te soek vir hierdie gesprek: in die kerk, asook in die teologie. Ek was oortuig daarvan dat die wetenskap ons daarin sou kon help. Veral die wetenskap wat in sy multidissiplinêre aanwending ál verder weg beweeg het van die positivistiese verwagtinge van die vroeëre ontwikkelinge van die moderne wetenskap.

Die bedoeling met die interdissiplinêre teologiese refleksie oor die wil van God was om daarmee integriteit aan die teologie en die geloof in God te verleen, om teen die destruktiewe aard van fundamentalisme te redeneer en nie daaraan as slagoffer te val nie. Om as’t ware aan die impasse wat die onkommunikeerbare fundamentalisme (van godsdiens) op die tafel sit, te ontkom deur goeie redes aan te voer vir die waarskynlikheid van die Christelike geloof – en dan veral binne die konteks van die gereformeerde tradisie. Om ook, aansluitend hierby, die unieke aard van die mens as inherent ’n spirituele wese te verdedig. Om dit as unieke eienskap van Homo sapiens aan te dui, in onderskeiding van die res van die “skepping”. Die mens het die vermoë tot abstrakte denke, tot estetiese uitdrukking van allerlei aard (sang, musiek, rotstekeninge, skilder, beeldhouwerk, digkuns, verbeelding). Spiritualiteit is dus ’n unieke menslike kwaliteit en – sou ’n mens kon redeneer – ’n unieke behoefte tot harmonie met die spirituele sfeer waarbinne die mens sigself (amper keuseloos) bevind.

Tans is ek hiervan onseker. Nie onseker daarvan dat die mens al hierdie estetiese vermoëns het in onderskeiding van die res van die soogdiere op aarde nie. Dit is tog wel so. Maar onseker of dit noodwendig beteken dat die mens per definisie ’n spirituele of godsdienstige wese is. Speel persoonlikheidstipes of die bepaalde tradisionele en sosiale konteks ’n rol daarin dat sommige ’n groter behoefte aan spirituele ervarings het as ander?

Meer nog is ek daarvan oortuig dat alle godsdienste ’n fundamentalistiese vertrekpunt het en dat ’n mens daarom nie werklik daarmee in ’n vrugbare rasioneel insigtelike gesprek kan tree nie. Later meer oor die onafwendbare fundamentalistiese karakter van godsdiens.

Eers wil ek my egter haas om te erken dat ’n mens sekerlik ter onderskeiding van meer en minder fundamentalistiese godsdienste kan praat. Daar is geloofstradisies wat ’n groter mate van gemaklikheid met kritiese vraagstelling het as ander. En in die NG Kerk-tradisie waarin ek my opleiding ontvang het, was daar tye en plekke waar hierdie kritiese gesprek wel kon plaasvind. Daar is wel bepaalde wetenskaplike dissiplines wat van groot nut was en steeds is vir die teologie om gesprek moontlik te maak (waarby ek later sal kom). Dit het veral te doen met die vertolking van tekste, met die hermeneutiese proses.

Een van die mees bepalende faktore wat hierdie gesprek egter moeilik maak, is die erkenning en herkenning van kompleksiteit – en daarom ook van diversiteit. Daarom die aanhaling van HL Mencken (1880–1956), ’n Amerikaanse skrywer, aan die begin van hierdie hoofstuk: “For every complex problem there is an answer that is clever, simple, and … wrong.”

Ek bespreek hierdie soeke na klaarheid oor God nou verder aan die hand van die volgende opskrifte.

Lees ook:

Resensie van Ben du Toit se God Is daar ’n ander antwoord?

Skrywersonderhoud: Ben du Toit oor God Is daar ’n ander antwoord?

  • 4

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Die belangrikste is dat hierdie 'n gesprek is wat gevoer moét word en boeke soos die een is belangriker as wat dalk besef word. As mense oop is vir oortuiging en in goeie trou dink en redeneer, sal daar verseker meer verskuiwings in denke oor die saak kom. Nie omdat gelowiges wíl nie, maar omdat logika en rede die deurslag gee. Dis egter dikwels, en juis as gevolg hiervan, dat mense dit nie wil doen nie. Hulle is gemaklik met wat hulle ken en dit wat van kindsbeen af aan hulle voorgehou is. Dit stel die minste eise aan die individu in 'n tyd waar mense in elk geval met vele ander probleme worstel. Boonop loop hulle dan ook nie die risiko van verwerping deur 'n geloofsgemeenskap (wat maklik oordeel) en as 'n soort "veiligheidsnetwerk" dien nie. Ons sal dit moontlik ook in kommentaar hier te siene kry.

    Dit gesê, elke mens glo wat hy (wil) glo om 'n verskeidenheid van redes en faktore. Niemand het die reg om iemand bloot op gond van wat en/of in wie hy glo, te veroordeel, af te breek of die spot te dryf nie. Of dit nou vanuit 'n geloofs-oogpunt of vanuit 'n menslike, waardesisteem oogpunt geskied. Wat wel seker is, is dat die grense besig is om te verskuif. Kerke is in baie gevalle self hiervoor verantwoordelik en mens sien dit in die afname van lidmate in baie gemeentes. Wat ook seker is, is dat van alle onderwerpe onder bespreking, hierdie die mees sensitiewe een is. Eenstemmigheid sal daar nooit wees nie. Dit is nie in die geaardheid van die mens nie. Hopelik kan verskille daarom met verdraagsaamheid en basiese ordentlikheid hanteer word.

  • Ben du Toit met hierdie weergawe van jou staan jy 100% in my skoene , dit wat ek reeds 14 jaar weet .

  • Dit is verskriklik dat mense hiermee sukkel. Nou kom hulle ook van die kansel af en maak of die ou testament aan hul gerig is asof hulle die hoorders van die tyd was.
    Nou van wanneer af is so?
    Hoe is dit dat mense die geskiedenis en verhale wat uitsluitlik wentel om 'n uitverkore volk wat in 'n geslote verbond leef met 'n Skepper, by gebrek aan 'n beter woord, hul eie maak?
    Nee die ou testament is 'n weergawe van 'n volk wat presies doen en leef en dieselfde foute maak soos al die geslagte wat van die mensdom wat hierdie planeet bewoon steeds maak en sal maak tot die einde toe.

    Dink so daaroor. Indien al die strafmaatreëls nie bestaan het in die ou testament en dit nie mens se gebrokenheid weerspieël het nie, sou daar uit die totale chaos 'n Verlosser gebore gewees het?

    Verstaan nou mooi en kom by, elke mens word gelowig en kom tot bekering, maak 'n ommekeer binne die geskiedenis en wetenskap van sy tyd. Ons eie voorouers, die heidene, wat nog ver was het dinge aangevang wat veel erger is as wat die mense van die uitverkore volk aangevang het, dit het egter nie gekeer dat van hulle tot bekering gekom het en die Jesus, wat uit en te midde van al die gebrokenheid en gemors gebore is as hul enigste Verlosser en Saligmaker aan te neem nie.

    Dit gaan nie daaroor of die wetenskap sekere dinge vermeld in die Bybel as waar of onwaar bewys het nie, dit gaan daaroor of jy aanvaar dat Christus'n werklikheid is en jy as volgeling van Hom 'n christen is en so na verwys word en nie andersom nie.

    As ek dan die ou testament lees, begin ek nie aan Christus se bestaan te twyfel nie, maar lees ek 'n spieëlbeeld van 'n gebroke wêreld van waarin ek vandag nog lewe, waar mense in een van groot pandemies van ons tyd nog steeds kyk hoe hul vinnig 'n ekstra randjie ten koste van ander kan maak nie.

    Ja daar staan geskrywe:

    Tamar, bly stil!
    Tamar het stof op haar kop gegooi. Sy het haar lang mantel geskeur, haar hand op haar kop gesit en sover sy loop, het sy geskreeu. Haar broer Absalom het toe vir haar gesê: “Was jou broer Amnon by jou? Toe maar, my suster, bly nou maar stil. Hy is jou broer. Moet jou nie hieroor verknies nie.”

    Tamar het toe in haar broer Absalom se huis gaan bly en sy was ’n wrak.

    2 Samuel 13:19–20

    Maar vandag lees ek.
    "Page 1. Development of a Nationally Accessible Assistance and Support Network For Victims of Rape and Sexual Abuse. Page 2. Interpol has named South Africa the “Rape Capital of the World” Rape and sexual abuse affects men, women and children from all walks of life".

    Dan verneem ek hoe na baie jare die seksskandale van baie bekendes na vore kom wat ook vir hul slagoffers gesê het 'bly stil' en dat Tamar se geskiedenis nie uniek is nie maar oor en oor herhaal en onder die mat gevee word.

    Moet ek nou omdat my voorouers sekere metodes gebruik het om te bepaal of 'n mens 'n heks is of nie en mense gemartel het vanweë sekere geloofsstandpunte, nou tot die slotsom kom daar is geen God, geen Christus, dat dit alles net een groot stuk bedrog is of aanvaar dat daar ten spyte van alles daar 'n Verlosser gebore is in 'n wêreld wat om my skreeu "Tamar bly stil"?

  • Hannelie Van Zijl

    Dr Ben,

    Ek weet net - elke knie sal voor Hom buig en elke tong sal bely dat Hy alleen God is.
    Sterkte.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top