God Is daar ’n ander antwoord? deur Ben du Toit: ’n lesersindruk

  • 2

God Is daar ’n ander antwoord?
Ben du Toit
LAPA Uitgewers (Wenkbrou)
ISBN: 9780639601083 (Sagte band)
ISBN:  9780639601120 (e-boek)

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.

Ben du Toit se bekroonde boek God? Geloof in ’n postmoderne tyd (CLF-uitgewers) het reeds in 2000 verskyn, maar mense praat vandag nog daaroor. Dit is natuurlik omdat die boek krities gestaan het teenoor baie van die ou gevestigde idees binne die kerke dat daar so baie reaksie op die boek was, en selfs vandag nog is. Met die verskyning van God Is daar ’n ander antwoord? sal enige mens verskoon word as jy sou verwag dat Du Toit maar eenvoudig sou voortborduur op die kritiese teologie, sy idees dalk fyner en deegliker uiteengesit. Dit is egter nie wat in hierdie boek gebeur nie. Daar is nie ellelange teologiese besinninge soos wat ek verwag het nie.

Die boek is in drie dele opgedeel. Deel een is getiteld “Aanloop”. In hierdie gedeelde trakteer Du Toit die leser op ’n outobiografiese oorsig van sy lewe, maar meer spesifiek sy verbintenis met die Nederduitse Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika (die NG Kerk). Du Toit skryf oor die kwessies wat sedert sy studentejare in Stellenbosch tot aan die einde van sy loopbaan brandpunte sou bly, in die besonder die verdeeldheid van die NG Kerk-familie en die apartheidsteologie wat van die kerk ’n muishond in die oë van die wêreld gemaak het.

Die tweede deel is getiteld “Oorgang” en is eintlik maar net ’n voortsetting van deel een, en Du Toit besin verder oor sy bemoeienis met die NG Kerk. Na afloop van sy teologiese studie aan Stellenbosch dien hy in verskeie ampte van die kerk. Hy kom later veral onder die invloed van Wenzel van Huyssteen van die Universiteit van Port Elizabeth (nou NMU), wat ’n belangrike invloed op hom sou uitoefen in die daaropvolgende jare.  Hy bemoei hom in sy verdere studies veral met die onderwerp van Skrifgesag, ’n onderwerp wat dikwels vermy word. Du Toit is uiteindelik aangestel as predikant in sinodale diens vir kommunikasie, parlementêre lessenaar en argivaris vir die Kaapse sinode. Hy som uiteindelik sy drie grootste teleurstellings tydens sy jare as kerkamptenaar kortliks op, naamlik die mislukte pogings tot kerkeenheid, die sogenaamde Woordfees-debakel van 2013 en die buitengewone Algemene Sinode van 2016, waar die kerk besluit het om die 2015-besluit ten opsigte van die aanvaarding van homoseksuele verbintenisse om te keer (die saak het uiteindelik in die hof gedraai en daar is bevind dat die NG Kerk moet teruggaan na die 2015-besluit, lees meer hier).

Hierdie eerste twee dele vorm egter maar ’n beskeie 60 bladsye van die altesaam 226 bladsye van die boek. Du Toit neem die leser dus op ’n kort, maar belangrike voëlvlug van sy eie pad met die kerk, voordat hy aanbeweeg na die veel meer omvattende deel drie onder die titel “En die antwoord is”. Dié deel verskil drasties van die eerste twee, maar deel een en twee lê ’n belangrike fondasie. Miskien is die mees opvallende aspek van die eerste twee dele die gedagte wat Du Toit na vore bring dat sy eie generasie van kerkleiers nie daarin kon slaag om die uitdagings binne die kerk te oorbrug nie. Dit bring vir Du Toit voor die vraag hoekom dit wil voorkom asof God nie werklik in die harte van mense werk nie. Hoekom is daar na al die dekades nog maar weinig vordering gemaak op die pad na kerkhereniging? “Is ons bereid om die moeilike, haas ondenkbare vraag te vra, naamlik nie net na die betrokkenheid van ’n bonatuurlike, buiteruimtelike wese by die wel en wee van mense nie, maar na sy bestaan as sodanig?” (53).

In deel drie is dan die harde kouwerk. Hier stuur hy ’n sosiologiese, antropologiese ondersoek van stapel na die oorspronge van godsdiens. Telkens wys hy op die teenstrydighede van godsdiens. Hoe ’n gebedsgroep in Bloemfontein die koronavirus versprei. Die naïewe maniere waarop gelowiges redeneer oor geloofsake. Om oor godsdiens te redeneer met gelowiges het egter weinig sin, want Du Toit kom tot die gevolgtrekking dat “alle godsdienste ’n fundamentalistiese vertrekpunt het en dat mens daarom nie werklik daarmee in ’n vrugbare rasioneel insigtelike gesprek kan tree nie” (66). Hy borduur dan voort op die mislukkings van die generasies. Dat die ouer generasies onregverdigheid binne die kerk toegelaat het, daarmee kon Du Toit nog in ’n mate saamleef. Soos wat die ouer generasies se soort gedrag toenemend ook onder die eie generasie se gedrag voorgekom het, het dit egter al meer ontstellend en ontnugterend geword. Die mag wat saam met die posisies van leierskap kom, het al menige mens blind gemaak en gekorrupteer. Hierdie feit is welbekend in die politiek, maar dit is ook ’n nare werklikheid in die kerk.

Maar dan gaan delf Du Toit dieper oor godsdiens. Hy haal vervolgens aan uit die skrywer Karen Armstrong se magnum opus, A history of God (Mandarin Paperbacks, 1997, bl 9), waar sy skryf: “In the beginning human beings created a God who was the First Cause of all things and the Ruler of the heaven and earth.” Die mens is ouer as godsdiens, skryf Du Toit, en daar is biologiese verklarings hoekom mense in gode begin glo het. Godsdiens bevorder groepsverhoudinge (waar daar eenstemmigheid is oor die bepaalde godsdiens, natuurlik). Godsdiens bied troos aan die mens. Dit verskaf aan prewetenskaplike gemeenskappe redes vir waar die mens vandaan kom en dit gee ook aan ons berusting oor wat na die dood wag, en wat van ons afgestorwe geliefdes word.

Du Toit besin voorts oor vrae soos hoekom die mens, ten spyte van al ons gevorderde kennis, tog steeds vasklou aan ons godsdienste. Hy kritiseer die neiging onder baie mense om godsdienstigheid te verruil vir spiritualiteit. Hy vra die vraag of die kerke se omvattende welsynsprogramme so uniek is. Hoe word ongelowiges se maatskaplike bydraes immers gemeet? Uiteindelik kom Du Toit uit by ’n definisie van sy eie godsdienstige idees. Hy sien homself nie as ’n ateïs nie, maar as ’n postteïs en verklaar: “Dit is vir my ál wonderliker om elke dag te leef, bevry van die vrees vir ’n transendente, metafisiese godheid of mag of energie wat my lewe bepaal” (168).

Hy verveel egter nooit in hierdie boek nie. Die boek is ook nie bloot net een lang stroom snydende kritiek teen die kerk nie. Dit is eintlik ’n boek van soek. Soek na antwoorde. ’n Boek van selfrefleksie. ’n Boek wat ou vrae afstof en uiteindelik nie net tot ’n nuwe gevolgtrekkinge kom nie, maar ook daardie gevolgtrekkinge deeglik rasionaliseer. Maklike leesstof is dit nie, maar dat dit ’n uiters tydige boek is, is gewis.

Lees ook:

NG Kerk “verleë” na hofuitspraak oor gays

Resensie van Ben du Toit se God Is daar ’n ander antwoord?

Skrywersonderhoud: Ben du Toit oor God Is daar ’n ander antwoord?

Eerste slukkie: God Is daar ’n ander antwoord?

  • 2

Kommentaar

  • Linda Zaaiman

    Interessant dat Ben se boek verskyn het na sy aftrede. Indien vroeër, sou sy ruim pensioen in gedrang gekom het.

  • Barend van der Merwe

    Ek kan my net indink hoe die klomp wolwe in die kerk sou probeer het om hom te verguis. Dis hoe die dinge mos maar loop. En dié is nou die een laaste stok wat nou oorbly om hom mee te staan piets. Die tug van die kerk mos. Maar ek moet ook nou bysê, ek kry nie die indruk dat Du Toit tydens sy jare as kerkamptenaar rondgesit het en chappies kou het nie. Hy het hard gewerk. Waarskynlik harder as baie ander mense. En ek beskou dit as braaf om sy nuwe standpunt bekend te maak. Ek dink ook nie dat sy argumente ongeldig is nie. Hy het baie verduur, ontsaglike teleurstellings beleef, en kan met baie goeie reg vra, waar was god? Dis trouens baaaie eerlik. Eerliker as baie ander, wat liewers stilbly om nie so gekasty te word nie.

    Dat daar van mense verwag word om liewer stil te bly, liewer oneerlik te wees, dit vertel mens ook iets van die kerk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top