
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Feesmaalgang
Skrywer: Dietloff van der Berg
Uitgewer: Naledi
ISBN 9781067234553
Feesmaalgang is die digdebuut van Dietloff van der Berg, reeds bekend in digterskringe vir sy vaardige vertalings van Jalāl al-Dīn Rūmī, kortweg Rumi, se werk in Afrikaans. (Lees gerus ’n resensie van Rumi: liefdesverse en aanhalings, Naledi, 2023, hier: https://versindaba.co.za/2023/12/31/resensie-rumi-liefdesverse-en-aanhalings.)
In Feesmaalgang bring Van der Berg hierdie beroemde Persiese digter, wat as die Shakespeare van die Midde-Ooste bestempel word, weer tuis, en nie net met herskrywings of naskrywings van sy werk nie. Van der Berg dig in die styl en tradisie van Rumi. Eerstens is eindrym, soos by Rumi, by tye ’n bindende faktor in sy gedigte – gelukkig nooit so dat dit oorgaan na rymelary nie. Tweedens, en baie belangrik, het ons met mistiek te doen, die begeerte na eenwording met die Goddelike, soos hier (bl 15):
Skinker
Die kromgetrekte druiwestok
bly staan teen elke wingerdvrot en weer
mikrobiese peste af wat probeer
dat sy groei verknotte lote uit sal stoot,
want hy wil vrug dra dat elke mens
asof vervul met wyn dronk kan word
verruk deur die sap wat uit trosse tap
hul vervoer tot wéét hul is geënt in een.
Elke blaar het ’n paar strale van die bron gekry,
maar tragies het die energie
by sommiges geen effek
en het dit bruin gevlek
verdor en afgeval.
Ander se fotosinteer het ranke
met vrug uit laat swel,
maar te blaarbedek
lei botritis tot die tros se vrot.
Skink U son om kaal te bestraal
dat die fotosintese radikaal
vermenigvuldig om druiwe te kan voed
en nagmaalwyn dan vloei in oorvloed.
Hier lees ons van geestelike vervoering by die nagmaal, ’n fees wat eenheid tussen gelowiges bewerkstellig. Die gedig is ook ’n herskrywing van die gelykenis van die saaier (Matt 13, Mark 4, Lukas 8). Tipies, soos by Rumi, eindig die gedig besinnend met ’n gebed.
Van der Berg het ’n Bybelse, Christus- en kruisgesentreerde lewensbeskouing en op bl 49 sien ons dit duidelik:
Boom
...
Die lewenswysheid sal my slegs vind
as ek my verstout
om eenvoudig soos ’n kind
my oor te gee aan vader se genade
en deurkou tot die pitvrug se hout.
Die gedig herinner aan “Die leer van bome” (Lucas Malan) en “Die diensbaarheid van bome” (Johann de Lange), albei gedigte oor hout wat kruishout word.
Heelwat gedigte in hierdie bundel eindig, soos bostaande gedigte demonstreer, besinnend en didakties. Vir ’n leser wat gewoond is aan ’n tradisie van gedigte met oop eindes wat impliseer eerder as vertel, kom dit vreemd, selfs “verkeerd” voor. Dis egter belangrik om Feesmaalgang binne die tradisie van Rumi te lees en te waardeer.
Tog het ek soms gewonder of die eindreëls van ’n gedig nie sterker kon gewees het nie, byvoorbeeld (bl 71):
Nylvaart
Papirus, palms en piesangplantasies
waar mense ook teen hul natuur baklei,
duin verby
in die ewige gang van die rivier
met my en jou as passasiers
wat geluksalig stralend na Luxor
staar na mekaar
en die wonder van die liefde
met soveel genade ook hier ervaar.
Die ryk, dig geborduurde taal in Feesmaalgang – ’n gepaste titel – het my versadig gelaat, soos ná ’n volmaak gebalanseerde fynproewergereg, soos ná ek Sheila Cussons gelees het – geestelik verkwik. Ook die voorblad met sy koningsblou skep ’n koninklike, rojale, feestelike atmosfeer.
Die bundel bestaan uit drie afdelings: Fees, Maal en Gang. Die eerste afdeling is ’n feesviering van liefde, vir die eggenoot, die kinders en die woord, maar ook ’n uitnodiging na ’n fees, waar vervulling net in die onsienlike Skepper-God gevind kan word (bl 24):
Geur
Ek kom na jou my beminde bruid
om jou geur te snuif
en my longe te vul
vir die nuwe dag;
ek kom om in te haal
die suiwerste wierook
wat daar is
die liefde van God
konkreet gemaak in jou
na sy gelykenis.
Afdeling twee handel oor die rondgemaal van die mens nader aan en verder van God. Sentraal tot die bundel is hierdie gedig (bl 53):
Taaltog
Hoe vêr my liefde lê
het al in die baarmoeder begin
na ’n paddavissie sy doel bereik het
en nege maande later toe
daardie wonderlike vrou
my snoesig in haar arms hou
het ’n proses ontvou om uit troebel water
blink visse te kom haal met ’n taal
wat noëties in my hart bly lê.
Al kan ek as professor al die geledinge begryp,
stotter ek nou nog voort
om die onuitspreeklike te verwoord
en probeer steeds om in die mooiste taal
die gewer van als wat lewe te wil dank,
sy lof waarlik te besing,
maar apofaties bly ek
steeds visser na ontrafeling.
Afdeling drie bevat reisgedigte en vra vrae oor ons pad. Hoe en waarheen is ons op pad?
Dié gedig (bl 77) is een van vele hoogtepunte in ’n bundel wat stroom van lewende poësie:
Wassende maan
Rumi
Gaan ligvoet-stygende siel,
gaan op ’n vreemde reis
na die see van betekenis,
want jy is ’n kosbare pêrel.
As jy onthou, het jy deur water en klei gewas;
wees nie vies nie dat jy ook
van hierdie terras verkas.
Was jou vlerke skoon
van hierdie water en klei en gaan ligvoets;
hoekom vlieg jy nie in die stroom
van jou vriende wat gevlieg het nie?
Kom breek die kruik en gaan in die rivier,
o, lewenswater, in;
voor elke kruikbreker hoe lank
sal jy die pottebakker wees?
Stroom van hierdie bergtop
soos ’n stortvloed na die see toe,
want hierdie berg bied aan niemand ’n herberg.
Genoeg, dwaal nie af van die Son nie,
nóg na die Ooste, nóg die Weste,
want deur hom is jy nou ’n wassende,
nou as ’n maan, op sy beste.
Feesmaalgang is ’n welkome toevoeging tot Christelike mistieke poësie in Afrikaans. ’n Driegangmaaltyd wat jy gerus aan jouself mag voorsit.
Lees ook:
Transformasies: Is Rumi ’n mistikus of "social media crack cocaine"?
Die Soefi-denkwêreld van Rumi na aanleiding van sy gedig "Die rietfluitlied"
Estelle Kruger in gesprek met Dietloff van der Berg oor sy bundel poësie en liefdesverse van Rumi


