Die opkoms en ondergang van die NG Kerk deur Jean Oosthuizen: ’n lesersindruk

  • 35

Die opkoms en ondergang van die NG Kerk
Jean Oosthuizen
Uitgewer: Penguin Random House
ISBN: 9781776093267

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Die opkoms en ondergang van die NG Kerk is ’n gewigtige titel. Daar het in die verlede talle publikasies die lig gesien wat die ontstaan van die NG Kerk in besonderhede gedokumenteer het. Die verhaal van die kerk in die laaste twee dekades is ook gedeeltelik in verskeie publikasies gedokumenteer – ek dink byvoorbeeld aan die teoloog Andre Bartlett se Weerlose weerstand  (Protea Boekhuis 2017). Die opkoms en ondergang van die NG Kerk is egter nie ’n volledige geskiedenis van die kerk nie, maar volledigheid is ook nie die doelwit van die boek nie. Daar is wel ’n baie kort hoofstuk wat ’n bietjie gaan delf in die kerk se verre verlede. Oor die koloniale verlede van die kerk is daar net sowat ses bladsye. Oor die NG Kerk in die 20ste eeu darem drie keer soveel. In die res van die boek val die fokus op die NG Kerk se onlangse verlede.

Maar waarom ’n hele boek oor die NG Kerk? mag mens dalk vra. Vir baie mense is die kerk vandag ’n vreemde oorblyfsel uit die verlede. Byna soos ’n skeepswrak. Iets waarin argeoloë dalk sal gaan rondkrap. Maar nee, nog nie heeltemal nie. Die kerk van vandag is meer soos ’n skip wat ronddryf. Sonder ’n spesifieke koers. Vir volkome buitestanders sal die bemoeienis met die kerk seker nie sin maak nie. Mens moet die kultuur van wit en Afrikaans (ek wil-wil die woord “Afrikaner” gebruik) verstaan om te verstaan hoekom die onderwerp van die kerk nog vir so baie mense so na aan die hart lê. En ook die geskiedenis van Suid-Afrika. Die geskiedenis van kolonialisme en apartheid. Mense wat 30 jaar gelede gelewe het, sou waarskynlik nooit in hulle wildste drome ooit kon geraai het dat die magtige NG Kerk eendag ten gronde sou gaan nie. En dit in net ’n aantal dekades. Dit was net enkele profetiese stemme wat die einde van die NG Kerk kon voorsien. Filosowe en digters. Vir die gemiddelde mens was die einde van die NG Kerk net so ondenkbaar soos die einde van die Nasionale Party (NP). Die NG Kerk het juis dikwels bekendgestaan as “die NP in gebed”, en saam met die Afrikaner-Broederbond (AB) het die drie ’n taamlik omstrede drie-eenheid gevorm.

Maar die NP is vandag nie meer daar nie. Dit is ingesluk deur die ANC, en die AB het ’n reuse-gedaanteverwisseling ondergaan.

Baie het verander die afgelope 30 jaar, maar nie wanneer jy op ’n Sondagoggend deur die deure van ’n NG Kerk stap nie. Natuurlik het klein dingetjies verander. Mense trek dalk vandag gemakliker aan vir kerkdienste. Hulle sing nuwer liedere as jare gelede. Daar is soms ’n vrou op die kansel. En kinders gebruik deesdae ook nagmaal. Maar wanneer mens ’n kerk besoek, dan stap jy eintlik byna terug in die tyd. Dieselfde ou debatte woed vir dekades, soms selfs eeue, en kom nooit tot ’n einde nie. Daar is ’n alewige toutrekkery oor beuselagtige dogmatiese leerstellinge wat eintlik maar niks anders is as kerkpolitiek en ’n spel om mag nie. Neem byvoorbeeld die onderwerp van Satan. Baie mense het al lankal vrede gemaak daarmee dat Satan ’n mitiese figuur is. Maar binne die kerk woed daar gedurig ’n stryd oor Satan. En selfs oor of hy ’n stert het of nie.

Die belangrikste deel van Oosthuizen se boek is vir my hoofstukke 5 tot 9. In hierdie hoofstukke word Oosthuizen se werk as joernalis by die NG Kerk se amptelike koerant Kerkbode gedokumenteer. Kerkbode is die oudste bestaande Afrikaanse koerant in Suid-Afrika en het die eerste keer op 13 Januarie 1849 verskyn. Koerante, in daardie jare en vir baie jare daarna, was maar niks anders as propagandamasjiene nie. Mens kan weer eens nie sê dat Oosthuizen se blik op Kerkbode volledig is nie, want volledigheid is ook nie die oogmerk nie. Dit is meer ’n persoonlike blik op sy ervaringe. Dit word egter baie gou duidelik dat die redakteurs van Kerkbode hulle oor die jare in ’n posisie van groot invloed bevind het. Dit was veral so in die jare toe die kerk op sy sterkste was. Die NG Kerk se verlede is intiem verweef met dié van wit Afrikaanssprekendes, en kerkamptenare het tradisioneel ’n prominente en invloedryke posisie in die samelewing gehad. Van Kerkbode se vorige redakteurs was later prominente politieke leiers, soos Andries Treurnicht. Ander, soos Johannes du Plessis, is vanweë hulle teologiese liberalisme deur die kerk uitgewerk. Oosthuizen was, soos sommige van sy voorgangers, ’n professioneel-opgeleide joernalis, wat waarskynlik nie aldag goed gepas het by die idee van ’n mondstuk vir die kerk nie. Hulle het hulle rol as waghond ook graag verken, tot groot konsternasie binne die kring van heiliges. Oosthuizen se ervaringe word vertel, en bou op na ’n klimaks met die sogenaamde Woordfees-debakel, wat tot groot opskudding in die media gelei het.

Behalwe Oosthuizen se ervaringe met Kerkbode skryf hy ook oor sy betrokkenheid by Kletskerk. Weens die digitale aard van Kletskerk is hierdie gebeure die soort wat in vergetelheid verval. Kletskerk het ’n belangrike platform geskep waar kerkloses en ongelowiges in gesprek kon tree met gelowige lidmate – iets wat nie binne die formele strukture van die kerk juis gebeur nie. Oosthuizen verreken en evalueer ook die NG Kerk se reaksie op die internet in die algemeen, nie net Kletskerk nie, en ook hierdie evaluasie is nie gunstig nie.

In die laaste hoofstukke keer die onderwerp na brandende vraagstukke soos die gesag van die Bybel en homoseksualiteit. Die filosoof Willie Esterhuyse en digter Lina Spies se paaie weg van die NG Kerk vorm die gesprekspunt in hoofstuk 15, terwyl die laaste hoofstuk oorgeneem is uit die boek Hier staan ek, wat reeds in 2011 verskyn het en waarin Oosthuizen sy idees oor die kerk en godsdiens deel.

Die NG Kerk se verweefdheid met Afrikaner-nasionalisme het dié kerk duur te staan gekom en gebring tot by ’n posisie waar dit waarskynlik nie in sy huidige vorm sal bly voortbestaan nie. Die gemiddelde ouderdom van die deursneelidmaat is besig om drasties te styg, en baie gemeentes sukkel om kop bo water te hou en sluit selfs hulle deure. Die kerk wat ’n sentrale rol gespeel het in die ontwikkeling van soveel gemeenskappe, voer ’n sukkelstryd teen ’n ontploffing van kennis, en slaag nie daarin om by veranderende tye aan te pas nie.

Alhoewel die titel dalk ietwat misleidend mag wees, is Die opkoms en ondergang van die NG Kerk ’n belangrike bydrae oor die moderne geskiedenis van die NG Kerk. Die boek is keurig versorg in maklik verteerbare Afrikaans en kombineer die persoonlike ervaringe van Oosthuizen as joernalis by Kerkbode met dié van die groter verhaal van die NG Kerk ná 1994.

  • 35

Kommentaar

  • Dalk sou ek ‘n teenoorgestelde siening as my eie wou lees as die sin oor die ‘ontploffing van kennis’ nie daar was nie. Dit laat my te veel dink aan God se waarskuwing na Adam en Eva se val (met verwysing na kennis van goed en kwaad). Die kerk hoef nie te "reformeer" om by die samelewing aan te pas nie. Die kennisontploffing om alles en almal te amalgameer gaan nie jou siel red nie. Christus is die hoof van die kerk en geen dwaalleer sal die kern van gelowiges mislei nie. Gelukkig gee die Heilige Gees ons die gawe van onderskeiding.

  • Johann Basson

    En wie is 'n perfekte mens?
    En wie het alle data, inligting, kennis en wysheid in pag?
    En wie het die perfekte formule vir die oplossing van alle probleme?
    Ek wie is 'n perfekte lid van welke perfekte kerk?
    En wie kan eerste met klippe gooi wat self in welke perfekte glashuis woon?
    En wie wat met die wysvinger wys, sien sy eie drie terugwysende vingers raak?

    Hoeveel keer lees ons nie in die Woord [Rigters] "en die mense het gedoen wat reg was in hule eie oë" nie?
    Net die Skepper kan besluit oor die toekoms van Sy kerk op aarde, insluitende die toekoms van die NG Kerk.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Die kerke is al dekades gelede gewaarsku dat hulle belydenis hersien moet word in die lig van nuwe wetenskaplike ontdekkings. Dit is egter duidelik dat die kerk nie daartoe in staat is om ag te slaan op enige pleidooi nie. Die ou soenofferteologie werk miskien vir jou lekker, maar al meer mense besef dit is net 'n kerknarratief wat niks met die werklikheid te doen het nie. Trouens, ek ervaar die kerk as 'n organisasie wat opsetlik onwaarhede versprei en wat 'n vals beeld van Jesus die wêreld instuur. Ook die Triniteitsleer is vals. Die woord Triniteit staan nêrens in die Bybel nie en is net maar 'n verdere valsheid wat die kerk toedig aan die mense van antieke Judea. Jesus self was nie 'n Christen nie, en beslis ook nie die "hoof van die kerk" nie. Ek moet bysê, dit is onduidelik of Jesus ooit bestaan het. Maar selfs die verdagte geskrifte wat oor hom geskryf was is baie duidelik dat hy nie 'n Christen was nie en ook nie daardie geloof verkondig het nie.

  • Pienkes du Plessis

    Werklik? "Die gawe van onderskeiding." Hoe weet jy dit, Louise? Gaan die heilige gees nou Jean se boek lees en beoordeel?

  • Johnnes Comestor

    Barend skryf: "Dit is egter duidelik dat die kerk nie daartoe in staat is om ag te slaan op enige pleidooi nie." Dit is 'n oordrewe stelling soortgelyk aan die van Juliana Claassens, wat in Oosthuizen se boek aangehaal word, dat die kerk zero verdraagsaamheid het.

  • Sondag na Sondag sê ons in die Nederlandse Geloofsbelydenis ..."en ter helle neergedaal het". Nêrens in die Bybel lees mens dat Jesus ooit in die hel was nie. Hy het wel helse pyn en hartseer ter wille van ons verduur. Die Gereformeerde Kerk het nou hierdie mistykie op proefbasis reggestel.

  • (1) Ek haal aan: "Maar binne die kerk woed daar gedurig ’n stryd oor Satan. En selfs oor of hy ’n stert het of nie." Ek sou graag wou hoor van stawende feite, wie 'n belaglike debat gevoer het; amptelik, binne die kerk, oor die stert?
    (2) Wêreldwyd kwyn kerke, nie net die NG kerk nie. Baie van die charismatiese kerke se groei is te wyte aan mense wat weg is vanaf die NG kerk, en is eintlik nie nuwe groei nie.
    (3) Daar was in die verlede meer orde wêreldwyd in lande waar Christelike kerke sterk gestaan het. In die ALGEMEEN waar die kerke kwyn, is daar deesdae meer wanorde in daardie samelewings.
    (4) Die Bybel is 'n boek wat enige persoon, volgens sy eie benadering lees. Iemand soos Hitler het sy eie skewe interpretasie gehad. Ons voormalige president het dit in 'n toespraak ook gesê: "God is aan sy en sy party se kant". As dit iemand se benadering is jaag daardie persoon vreeslik aan. Die moment wanneer jy God sien as 'n soewereine Mag, wat nie mense se kant kies nie en dat mense eerder Sy beginsels moet volg, kry jy orde. Die moeilikheid plaaslik het begin toe mense die Bybel "ekstrapoleer" om apartheid of homofobie te regverdig. In die Bybel is dar 'n voorbeeld. Toe Jesus in die tuin verraai is, het Petrus 'n slaaf se oor afgekap, want hy gedink dat hy reg is en dit kon 'n geveg in die tuin veroorsaak het. Jesus het orde herstel om Sy werk te voltooi, deur die slaaf se oor weer te genees.

  • Jean Oosthuizen

    Paul Roos in antwoord op jou vrae:

    1. Die “belaglike” debat waaroor jy navraag doen is in die NG Kerk gevoer toe ds TM Burger wat later president van Transvaal geword het deur die kerk aangekla is. Lees meer daaroor in die boek.
    2. Ek verstaan nie wat jy in punt 2 wil sê of weet nie.
    3. Die nie korrek om te sê daar is in die algemeen meer wanorde in samelewings waar die kerke kwyn nie. Die teenoorgestelde is waar. In lande soos die Skandinawiese lande en Nederland ens waar die kerke kwyn is daar baie meer orde as in byvoorbeeld die meeste Afrikalande waar die kerke groei.
    4. Jy is reg dat die olifant in die vertrek Skrifgesag is en daaroor skryf ek ook in die boek. Die Bybel is natuurlik geen handboek vir morele waardes nie aangesien daar talle voorskrifte in die Bybel is wat alles behalwe moreel is in ʼn beskaafde samelewing.

    Groete
    Jean

  • Pleks daarvan om te argumenteer oor die NG Kerk moet elkeen eerder die vraag afvra, waar pas ek in in Jesus se boodskap, wat te vinde is in Mat 25 verse 31 - 46.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Johannes dit is geensins 'n onregverdige stelling nie. Die kerk se belydenis het vir honderde jare niks verander nie en die kerk steur hom ook nie aan enige kritiek nie.

  • Ek wil net noem: (1) Wat ds TM Burger gesê het, is nie meer relevant nie, agv tydsverloop ens. Byna niemand onthou hom as 'n voormalige president nie. Dis soos wanneer mense die Roomse kerk veroordeel omdat hulle mense op brandstapels verbrand. Daardie fout het die Roomse Kerk al erken. Of, dis soos om vandag se Engelse te veroordeel oor wat hulle in die konsentrasiekampe gedoen het. Mens kan nie oor sulke goed debat voer nie, as meeste normale mense van daardie punt af aanbeweeg het. Israel en Duitsland het deesdae goeie betrekkinge op verskeie terreine, dit na wat in Auschwitz gebeur het.
    (2) Dis 'n feit, veral in Westerse lande dat "tradisionele" kerke se lidmaatgetalle verminder, ten spyte van bevolkingsaanwas. In Suid-Afrika is dit ook so. Wat jy ook kry is dat baie van die ex-NG mense by charismatiese kerke aansluit. Dit beskou ek nie as nuwe organiese groei nie, maar mense wat nog steeds in die Bybel, maar op 'n anderste wyse glo. In totaliteit kwyn die christelike kerke, ook in SA. Dan het SA emigrasie ook, wat getalle in kerke ook laat verminder. Nog 'n goeie voorbeeld: Ek sien dat baie jong mense nie meer ander met respek behandel nie. So het 'n onderwyseres op RSG gisteraand gepraat hoe kinders onderwysers behandel, eintlik boelie.
    (3) Nederland? Ek was in Amsterdam, en die lokale mense het daar gekla dat misdaad aan die vermeerder is, hoewel dit nog ver onder SA se vlak is. Denemarke en Swede het ook baie daaroor begin kla.
    (4) Jesus se bergprediking is deur mense soos Ghandi admireer. Hy het iets in die lyn gesê: "As christene maar net sou doen wat in die bergpredikasie gesê is." Geen handboek vir morele waardes? Wat dinge kompleks maak is die Bybel se tydkonteks waarin dit geskryf is. (a) Destyds kon 'n ryk man 'n jong 13-jarige meisiekind as een van sy vroue inneem. Dis toe nie gesien as pedofilie nie. Ek praat dit nooit goed nie. Tog sê die Bybel dat so 'n man sy vrou met respek moet hanteer. (b) Slawerny is 'n interessante kwessie. Dit word nie in die Bybel eksplisiet veroordeel nie. Maar daar was tog genoem dat die eienaar sy slawe goed moes behandel en na sewe jaar vrystel. So ook moes die slaaf met integriteit vir sy eienaar werk. Die Bybel het dus gevra vir 'n goeie werksverhouding.
    Dit hang dus af vanuit watter lens (of ander hoek) jy die Bybel lees.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Pail, dit wat die kerk oor enige iets te sê gehad het in die verlede is vandag irrelevant ja. Ook hulle opinies oor gode en die duiwel en die Bybel.

  • Jean Oosthuizen

    Paul,
    1. Die debat oor die duiwel is nog lank nie afgehandel nie en duur steeds voort in die NG Kerk. Ek skryf breedvoerig daaroor in die boek.
    2. Dis korrek dat tradisionele kerke se lidmaatgetalle in veral Westerse lande konstant besig is om te daal. Dit is ook waar dat die meeste kerkverlaters nie ateïste word nie maar hul spiritualiteit op ʼn ander manier uitleef en wegbeweeg van georganiseerde godsdiens.
    3. Misdaad in sekulêre lande is steeds aansienlik laer as in Suid-Afrika wat daarop roem dat 80 persent van die bevolking Christene is.
    4. Oor slawerny hoef ons nie eers te debatteer nie. Dit is algemene kennis dat dit aanvaarbaar was in die Bybelse tyd en ons weet vandag dit is verkeerd. So is daar ook talle ander goed wat in die Bybel aanvaarbaar is maar nie meer vandag nie.

  • Onthou net dat die meeste mense wat die kerk verlaat dit nie uit oortuiging doen nie. Hulle "fade" eintlik net as gevolg van traak-my-nie-agtigheid of algemene slapheid: as mens Saterdagaande tot watter tyd kerjakker kan jy baie maklik in die gewoonte kom om nie Sondagoggend kerk toe te gaan nie. En as jy lank genoeg daarmee aanhou voel jy jou natuurlik later vreemd tussen die kerkmense.

    Ek ken baie mense wat so weggedryf het, ook familie en vriende. Hulle tref my nie eintlik as gelukkiger met meer sinvolle en vervulde lewens nie. Die meeste van hulle is ook nie juis meer betrokke by die soort sosiale projekte waaraan die kerk tyd en energie bestee en wat ruimte skep vir lidmate om hulle tyd en geld goed aan te wend nie.

    Lees gerus ook Sonja Loots se baie goeie rubriek in laas Sondag se Rapport: Die kinders aan die voete van Mammon.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Slapheid sê jy. Jy klink baie soos die een man wat ek jare gelede op universiteit geken het. Hy het ook eendag breëbors verklaar dat hy darem 'n beter mens is as die ander mense van sy ouderdomsgroep, want hy gaan nog gereeld kerk toe.

    Dit was ouens soos daai wat my gehelp het om te besef dat daar nie regtig 'n god is nie. Daardie soort hoogmoed sit die kerkbanke vrot en vul 'n mens met walging.

  • Beste Barend
    Dit gaan mos nie oor goed, beter, beste nie. Kyk wat sê Jesus in Luk 18:
    10 Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was 'n Fariseër en die ander een 'n tollenaar.
    11 Die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: ‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie.
    12 Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.
    13 Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: “O God, wees my, sondaar, genadig.”
    14 Ek sê vir julle: “Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.”

  • Michiël Geldenhuys

    Dankie Jean! Die huidige debakel (nie juis debat) oor homoseksualitiet in die NGK is maar een van die spiespunte wat op die kerk-senuwee druk. Dit gaan veel dieper as net seksuele oriëntering, dit raak die skrifgesag aan (is dit die Woord van God, of is dit woorde oor god), dit oefen druk uit op die dogma en dit bring die verhouding van religie en wetenskap in gedrang. Maar wat is die alternatief? Dalk 'n nuwe en anderste beskouing oor die transendente en die spiritualiteit van die mens wat uitloop op ‘n anderste mens-belewenis en sosiale orde! Dalk was die filosowe reg: "God is dood!"

  • Barend, ek dink jy verstaan my (dalk doelbewus?) verkeerd.
    In terme van aan-hulle-woorde-en-dade-sal-hulle-geken-word sien ek nie danige verskille tussen kerkmense en nie-kerkmense nie. In elke groep is daar ’n wye spektrum van denkende, meelewende, vrygewige, regverdige mense aan die een kant maar ook baie selfgesentreerde, inhalige, rassistiese, seksistiese, homofobiese, onplesierige en misdadige mense aan die ander kant.
    Maar ek ken ook jonger ongelowige mense wat hulle ouers se standvastige geloof as ’n soort anker ervaar en wat veral hulle moeders vra om tog nie op te hou om vir hulle en hulle kinders te bid nie ...
    Miskien baat dit ons en julle om ons hoog-heiligheid te laat vaar.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ek sal maar liewer niks sê oor hoe die Bybelverse weer op ons neerreën en wat ek daarvan dink nie. Sommige mense sit vas in die verlede.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Ek dink dit is genoeg om te sê dat ek my nie aan Bybelversies steur nie. Bybelversies is ook gebruik om apartheid te ondersteun en vroue te onderdruk en tot vandag nog diskrimineer die kerk lustig teen gaymense op grond van die Bybel. Maar soos ek sê sommige mense sit vas in die verlede en daar sal hulle seker bly ook.

  • Michiël Geldenhuys

    Barend, sê jy dan dat die Bybel die woorde oor God is, of is dit die Woord van God?

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Die Bybel is geen god se woorde nie. Daar is nie eens so iets soos god nie. Dis net maar ou verhale uit antieke Israel. En gediggies en so aan.

    Nou ja groete daar. Ek sien nie die punt van redeneer oor die saak met mense wat nog dink die Bybel moet soos 'n wetboek aangewend word nie.

  • Johnnes Comestor

    Barend, op 26 Oktober het ek die volgende stelling van jou as oordrewe bestempel: "die kerk nie daartoe in staat is om ag te slaan op enige pleidooi nie." Jou reaksie op 30 Oktober is dat dit geensins 'n onregverdige stelling is nie. Jy beweer dit in die konteks van Jean Oosthuizen se boek waarin hy aantoon dat die NG Kerk baie lidmate verloor het juis omdat die kerk ag geslaan het op pleidooie, bv oor homoseksualiteit. Die NG Kerk het van 'n volkskerk getransformeer tot 'n genootskap wat vir lief met globalisme neem. Met verloop van tyd sal jy agterkom dat jy baie dinge nie weet nie, jy nie jou mate van insig moet verabsoluteer nie en dus liewer nie moontlike geldige opmerkings van ander LitNet-lesers met skynbare minagting sonder meer moet verwerp nie. Beskeidenheid kan 'n bate wees.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Johannes jy het nie mooi gelees nie. Ek het dit tog duidelik gestel dat ek verwys na die belydenisgeskrifte van die kerk wat vir eeue lank onveranderd bly en ook nooit sal verander nie. Dieselfde ou valshede oor die Bybel, oor Jesus ens ens word steeds maar elke Sondag in die kerk herhaal en dit sal so aanhou. Dit gaan nie gou verander nie, indien ooit. Die tradisie in die kerk is om sulke oproepe dood te swyg. Dit is hoe dit altyd gedoen word en dit is hoekom enige debat oor die saak futiel is.

    Selfs oor homoseksualiteit het die kerk skynbaar net enkele weke 'n ander standpunt gehad, en toe maar weer teruggeswaai na hoe dit altyd was. Die kerk het per definisie 'n reaksionere agenda. Alle kerke is maar so. Die Katolieke ook.

  • Ek glo dat enige iemand wat probleme met die vorige en huidige NG Kerk het, net bietjie gaan sit en hom of haarself een vraag afvra. Is God daar vir my of is ek daar vir God? (Barend vd Merwe jy kan maar uitsit op die vraag.) 'n Kerk is mense. Mense is sondig, ongelowig en ongehoorsaam. Maak vrede met jou Skepper en dan sal jy daarna ook vrede met jouself begin ervaar. Ek stel nie in die minste belang oor die vraagstukke waarmee die Kerk deesdae opgeskeep sit nie. Dit is menslike vraagstukke. Ek is meer bekommerd oor my verhouding met God. My doel op aarde is om Hom te vind en te behaag. Hy het Sy Seun vir my aan die kruis laat sterf.

  • Michiël Geldenhuys

    Besin oor die eenvoudigste eerste. Die Bybel, soos enige ander geskrifte oor die transendente, is mens-woorde soos hulle die goddelike in 'n sekere tydsperspektief ervaar het. Wat gebeur nou indien hierdie een "vaste bron" nie meer so fundamenteel korrek is nie? O ja, dis net metafore! Regtig, dan kan die kruis-verhaal ook moontlik 'n storie wees. Soos Barend dit alreeds gestel het, daar is dan miskien nie 'n god nie. Hoe dink ons nou oor byvoorbeeld moraliteit indien ek my nie meer op die 10-gebooie of die Koran kan beroep nie. Waar staan ek nou? Waarom leef ek nou juis op hierdie aarde?

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Jou redenasie maak glad nie sin nie aangesien die kerke juis hulle opinies oor alles en almal as god se wil vir die wêreld verkondig.

    Die kerk se struikelblok is hulle vals belydenis. Onder meer al die onwaarhede wat oor die Bybel verkondig word. Dit sal nooit verander nie.

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    FC ek kan nie mense help wat sukkel met begrip nie. Het jy al Oosthuizen se boek gelees? As jy nog nie het nie stel ek voor jy kry vir jou 'n kopie. As jy nie saamstem met wat daarin geskryf sfaan nie, dan gaan 'n gesprek tussen my en jou niks bereik nie en geen doel dien nie.

  • Beste Barend
    Kom ons kyk gou na die kern van Jean Oosthuizen se boek. Dit kom hoofsaaklik op die volgende neer: https://www.penguinrandomhouse.co.za/book/die-opkoms-en-ondergang-van-die-ng-kerk/9781776093267
    Omdat ek as diaken in die Gereformeerde en Hervormde kerk en ouderling in die NG Kerk gedien het, het ek met 'n wye spektrum van mense en denkwyses kennis gemaak.
    Laat ons nie stilstaan by wat Jean Oosthuizen glo of nie glo nie. Die Bybel is redelik duidelik oor die feit dat die mensdom oor die aarde versprei het. Of dit nou deur 'n spraakverwarring of trek na beter streke vir voortbestaan was, is nie tersake nie.
    Daar het dus 'n natuurlike geografiese skeiding tussen verskillende bevolkingsgroepe op verskillende kontinente ontstaan en sou ontmoeting tussen die groepe ,dikwels ook in Suid-Afrika tot bloedige botsings lei.
    So het klimaatsverandering en ontmoeting tussen die Neanderdalmens en meer moderne Afrikamens tot ondergang van die Neanderdalmens gelei. In Israel is 60 000 jaar oue Neaderdalbene ontdek. Dit wys daarop dat selfs Israel bewoon is deur mense anders as die afstammelinge van mense wat tans daar woon en glo soos die swart mense van Suid Afrika dat hul die oorspronklike inwoners was.
    Dat dit verkeerde afleidings is bly uit die ontdekking van bvby die Blombosgrot in Suid-Afrika met veel ouer kunswerk en bewoning as waarop enige groep tans op kan aanspraak maak, gevind is.
    Laat ek nie verder afdwaal nie. Hoe verkondig 'n mens die verlossingsevangelie van Jesus Christus (Oosthuizen glo nie in sy maagdelike geboorte en hemelvaart nie) aan die verskillende bevolkingsgroepe wat elk hul eie taal, kultuur, geskiedenis en skeppingsteorieë het?
    Selfs Paulus het daarmee gesukkel en sou 'n mens kon aanneem dat hy die evangelie verkondig het tussen mense met 'n veel hoër ontwikkelingsvlak en kennis as wat Jan van Riebeeck bv aan die Kaap aangetref het.
    Is 'n mens nou besig as jy die verlossingswerk van Jesus Christus verkondig in die mense se eie taal en hul eie omgewing en aanknoping te soek by hul begrippe oor die skepping ens besig om groepe van mekaar te vervreem of om hul deel van die Koninkryk van God te maak?
    Ja apartheid het misluk en het in 'n onderdrukkende bestel verander maar dit doen nie afbreuk aan die feit dat die evangelie verkondig is aan talle mense en dat die koms van die Christene na die Kaap dit ook moontlik gemaak het.
    Dat die boodskap dikwels verkeerd vertolk is,is duidelik want waarom sou die ANC-lede glo dat Jesus by sy wederkoms in ANC-klere gekleed sou wees en dat hul sou regeer tot sy wederkoms en Jesus eintlik ’n modern vryheidsvegter was.
    Vergeet van die NG-kerk of enige ander kerklike instansie. Dit gaan daaroor of jy Jesus Christus en sy verlossingswerk onvoorwaardelik aangeneem het. Doen jy dit sal jy by die wederopstanding en laaste oordeel jou bevind in die kerk – die bruid van Jesus Christus en saam met alle gelowiges uit alle volke, kleure en geure, vir ewig met jou Skepper versoen wees. Dit is die 'hemel'.
    Die teenoorgestelde is die 'hel'; 'n vervreemding van jou Skepper en verwyt want jy het geweet, maar verwerp. Dit is egter as die ergste depressie, want op aarde gaan dit verby maar in die 'hel' nooit nie.
    Lees gerus die gelykenis van arm en ryk man.
    Lekker dag.

  • Van den Vos Reynaerde

    Frank Emke skryf:
    'Sondag na Sondag sê ons in die Nederlandse Geloofsbelydenis ..."en ter helle neergedaal het".
    Frank bedoel tog sekerlik die Apostoliese Geloofsbelydenis, wat waarskynlik uit die tweede eeu nC dateer, en wat deur talle Christelike kerke gebruik word, insluitend die Katolieke, Anglikane, Luterane en Metodiste. Dit is beslis nie uniek aan die NG Kerk nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top