Dolf van Niekerk (1929– )

  • 1

Bron: https://lowvelder.co.za/396319/woorde-innituin/


Gebore en getoë

Rudolf Johannes van Niekerk is op 22 Februarie 1929 op Edenburg in die Vrystaat gebore. Dolf was kwalik ’n maand oud toe sy ma, Bettie, oorlede is. Sy pa, ook Rudolf Johannes, wat ’n kleremaker was, is later weer getroud. Uit hier die huwelik is Dolf se halfsuster Maria gebore, maar sy is oorlede toe sy twee jaar oud was. Sy pa was 47 toe hy aan emfiseem oorlede is. Hy het nooit gerook nie, maar die kryt wat hy gebruik het in sy beroep, het in sy longe gaan sit.

Dolf vertel aan Elise Tempelhoff in Beeld (20 Februarie 2009) dat hy en sy pa se verhouding "besonder liefdevol" was. "My pa het ons nét toegelaat om nuus te luister omdat die radio se batterye maklik pap geraak het. Een aand terwyl ek besig was om vir my matriekeksamen te studeer, het my pa in die kamer ingekom en vir my gesê: 'Ouboet, jy kan vanaand ’n  bietjie radio luister'.

"Hy het die radio aangeskakel. Ek het ’n wonderwerk beleef: Oor die radio was ’n regstreekse uitsending van die Chileense simfonie-orkes wat Beethoven se vierde klavierkonsert uitgevoer het. Daardie aand het my honger en dors vir musiek begin."

Hy matrikuleer in 1946 aan die Hoërskool Edenburg. Ná twee vorige huwelike is Dolf in 1967 met Susan getroud en uit sy eerste twee huwelike is vyf kinders gebore en hy het sewe kleinkinders. Hy woon in Murrayfield in Pretoria.

Dolf van Niekerk vertel aan Elise Tempelhoff (Beeld, 20 Februarie 2009) toe hy as kind sy verstand gekry het, "het ek bewus geword van die eenheid van die gees en die omgewing – die natuur – waarbinne die gees ervaar, groei of onrustig raak; waarbinne die mens kan breek, kan heel, maar waartoe hy niks kan voeg nie."

Verdere studies en werk

In 1949 behaal Van Niekerk sy BA-graad cum laude aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat. In 1950 sluit hy hom aan by die SAUK as omroeper/regisseur. Drie jaar later debuteer hy in die letterkundige tydskrif Standpunte. In 1954 behaal hy sy Hons BA-graad in Wysbegeerte, weer eens cum laude, aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy begin ook in alle erns prosa skryf, benewens radiowerke wat hoorspele, hoorbeelde en vervolgverhale insluit.

Met die daarstelling van die Departement van Landbou se radiodiens Landbouradio in 1957 word hy aangestel as radiobeampte en later hoof van hierdie diens. Intussen begin hy weer studeer en in 1967 behaal hy sy MA in Wysbegeerte cum laude aan die Universiteit van Pretoria met ’n verhandeling getitel Vryheid as fundamentaal-eksistensiële prinsipe in "Aantekeningen uit het ondergrondse" van FM Dostojewski. Hy voltooi sy studies in 1982 met die verwerwing van sy doktorsgraad aan die Universteit van Pretoria met die tesis Bewaring as sedelike prinsipe in die Suid-Afrikaanse bodembenuttingsituasie: ’n kultuur-filosofiese studie.

In 1969 word Dolf bevorder tot assistentdirekteur in die afdeling Landbou-Inligting van die Departement van Landbou, en in 1972 tot adjunkdirekteur. In 1978 word hy direkteur van die Direktoraat Landbou-Inligting – ’n pos wat hy beklee tot sy aftrede in 1994. Sy departement stuur hom by drie geleenthede oorsee om ’n studie te maak van kommunikasiedienste binne landbouverband.
Dolf vertel self dat daar oomblikke in ’n mens se lewe kom waarvan die invloed op ’n mens se lewe eers later blyk. In sy matriekjaar hoor hy vir die eerste maal ’n klavierkonsert, spesifiek Beethoven se vierde. In dieselfde jaar bring sy neef, John van der Berg, die uitsaaier en skrywer, vir Dolf se pa ’n kopie van NP van Wyk Louw se Lojale verset. Dolf is universiteit toe “met ’n dors na musiek, ’n liefde vir die geskrewe woord, en ’n honger na die wysbegeerte”.

In ’n onderhoud met AJ Opperman met sy 90ste verjaardag (Die Burger, 22 Februarie 2019) vertel Dolf van Niekerk dat dit eintlik by die SAUK was waar sy skryfloopbaan begin het. "Ek en Pieter de Bruyn, radioman en akteur, sou by die SAUK saam sit en planne beraam. Dan sê ons vir onsself: Kyk, ons moet die radio wen vir Afrikaans. Ons gaan Afrikaans skryf en die radio gaan Afrikaans praat."

Op daardie stadium het Dolf nog glad nie sy hand aan prosa gewaag nie. Hy het net gedigte geskryf. En toe ontmoet hy vir Audrey Blignault, vertel hy aan Opperman. "Sy was redakteur van ’n tydskrif, Die Huisvrou. Toe vra Audrey op ’n dag vir my: 'Dolf (ek was vroeg in my 20's, wat weet ek nog van skryf?), wil jy nie vir my ’n kortverhaal vir die tydskrif skryf nie?' Ek sê maar hoe nou? Sy sê probeer, hoekom nie? En daar skryf die astrante mannetjie ’n verhaal vir Die Huisvrou. Onder ’n skuilnaam. Dit was die eerste prosa, kan ek maar sê, wat die ou man gepleeg het."

Tydens sy jare as omroeper begin hy vir die radio skryf en hoor hy musiek. Sy radioskrywery loop uit op die skryf van gedigte en prosa, en die letterkunde en wysbegeerte raak onlosmaaklik verstrengel “in die vergestalting van gedagtes en idees”. Daar is redelik lang tussenposes tussen sy verdere studies in die wysbegeerte, en volgens Dolf is dit ook maar goed so, “gemeet aan die vreugde wat ek uit die verhandeling en proefskrif geput het”.

Dolf se liefde vir die land as Godgegewe bron van lewe vir mens en dier kom weer tot uiting in sy verbintenis met die Departement van Landbou.

In 1965 ontvang Van Niekerk die SAUK-prys vir hoorspele vir sy reeks hoorbeelde Land van ons vaders. Regter JF Marais sê in sy huldigingswoord die “aanbeveling berus in die eerste plaas op Dolf van Niekerk se onberispelike vertolking van ’n opregte, gesonde vaderlandsliefde … Hy het met ’n fyn sin vir die gepastheid van elke détail van elke onderdeel van sy onderwerp, en die draagkrag daarvan, telkens ’n afgeronde beeld gegee van een of ander noemenswaardigheid in ons geboorteland – uit die geskiedenis of die aktuele hede … Hy het as’t ware die land self laat praat, die hele land van ons vaders … Ek kan nie nalaat om van Dolf van Niekerk se voortreflike styl en woordgebruik melding te maak nie … Dit is die bevredigende harmonie tussen die vindingryke siening van sy gegewens, sy keuse van toon en kleur en die subtiele roersele van ’n sterk vaderlandsliefde wat die komitee tot hierdie werk van Dolf van Niekerk as pryswaardig laat besluit het.”

In 1958 word Dolf se eerste boek, Gannavlei, gepubliseer, maar voor dit, vertel hy aan Riaan Cruywagen op kykNET dat hy vroeg in 1953 drie gedigte geskryf het wat deur DJ Opperman gekeur is om in Standpunte te verskyn. Gannavlei is op sy radiovervolgverhale Die rebelle van Gannavlei en Die eerste burger van Gannavlei gebaseer en handel oor die lief en leed van eenvoudige mense op ’n klein plattelandse dorpie. Die kwessie van buitestaanderskap wat ’n kenmerk in baie van Van Niekerk se boeke is, is al te bespeur in Gannavlei waar die twee hoofkarakters (Dawid en Duif) deur hulle asosiale gedrag buitestaanders is, "al val hierdie roman nog met sy romantiese toonaard, kleindorpse milieu en oordrewe beeldgebruik binne die kader van die ouer prosa. Die uitbeelding van die buitestaanders bring egter ’n mate van vernuwing in die tradisie van die kleindorpse vertelling. Die gelyktydige ontwikkeling van verskeie uiteenlopende motiewe gee ’n episodiese bou aan die roman, terwyl die verwisseling van die verteller vanaf die ongekwalifiseerde 'ons', later een van die dorpsgenote en nog later ’n aktiewe karakter nie strook met die regstreekse aanbieding van Dawid en Duif se binnegedagtes nie. (Rob Antonissen: Kern en tooi. Nasou, 1963)

Met die verskyning van die roman Die son struikel in 1960 voeg Dolf hom by die groep skrywers wat as die Sestigers bekend sou staan. Hy sê dat hy Die son struikel in ’n oomblik van “waansin” geskryf het. Vir Dolf is Sestig se prosa en poësie die uitvloeisel van ’n beweging en individue se poging om spontaan uiting te gee aan elkeen se manier om na die realiteite van hulle tyd te kyk en daaroor te skryf. In Die son struikel is die tema van outsider-skap wat ’n eienskap van daardie jare was, baie sterk op die voorgrond. Vir Elize Botha het selfs die buiteblad en die voorkoms van die boek in die teken van Sestig gestaan. Anna Vorster was verantwoordelik vir die buiteblad  en Afrikaanse Persboekhandel met Bartho Smit aan die stuur het dit gepubliseer.

Hierdie novelle behandel die trauma van oorlog (die Rebellie van 1914 tot met die geweld tydens die Randse mynwerkerstaking van 1922) op ’n buitestaander-figuur. "Die styl van die roman is in kort, staccato-agtige sinne wat in die bewussynstroomtegniek die gevoelens en innerlike lewe van die hoofkarakter, Diederik Versveld, weerspieël. Hy is ’n volslae outsider wat geen plek het op aarde nie en sy lewe in angs en eensaamheid deurbring. As baie jong seun is sy ouers in die Anglo-Boereoorlog dood en hy word in afsondering deur sy ouer broer groot gemaak, maar met sy broer se dood word hy alleen die wêreld ingestoot, op soek na ’n eie identiteit en ’n plek om te behoort. Hy worstel dan in sy onvolwassenheid en eensaamheid met die kernvrae van die lewe, soos wie God is en wat die sin van die lewe is. So word hy ’n simbool van die groter onafgerondheid en onvolwassenheid van die mensdom en verkry sy worsteling universele betekenis as uitbeelding van die enkeling se stryd teen kragte en situasies wat hy nie verstaan nie en wat sterker as hy is.  

"Die omringende karakters is verteenwoordigend van die magte van die kerk, staat en volk, wat as die bedreigende 'hulle' deurentyd op die periferie aanwesig is. Die 'hulle' propageer rebellie en staking en gee op hierdie wyse die historiese werklikheid aan die novelle, terwyl Diederik in sy volkome afwysing van hierdie magte en onttrekking in homself die sin van die geskiedenis ontken, opnuut gebore wil word en in die dood raad met God wil hou. Daarom dat hy vir die omringende karakters kan sê dat hy nie een van hulle is nie en terwyl hy staak, hy nie saam met hulle staak nie. Deur sy volstrekte weiering om mee te doen aan enige aksie is Diederik Versveld die mees konsekwente outsider-figuur in die Afrikaanse letterkunde. Met hierdie roman lewer Van Niekerk ’n wesenlike bydrae tot die vernuwing wat Sestig in ons prosakuns gebring het," skryf LS Venter in Beeld van 5 Maart 2001.

Met Die son struikel fokus Dolf van Niekerk weer eens op “die buitestaander/outcast”. "Die buitestaander se groot verlange is om nie ’n buitestaander te wees nie, maar deur omstandighede is hy gewerp in ’n situasie van eensaamheid waaruit hy nie kan ontsnap nie. Die grootste behoefte van die buitestaander/uithuisige figuur is om 'tuis' te kom. Die jong rebel, Diederik Versveld, is ’n buitestaander – alleenmens, enkeling, vreemdeling op aarde. Hy is op soek na lig – hoop, uitkoms, rede. Ná sy broer se wrede dood gedurende die 1914-rebellie, begin hy by die goudmyne werk waar hy onwillig betrek word by die mynstakings. Hy word willoos deur die onstuimigheid van sy tyd rondgeslinger, maar vir hom is daar niks wat ’n standpunt werd is nie – hy is niemand, niks, nêrens." (http://protea.bookslive.co.za/blog)

In Die moeder (1965) word vertel van ’n groepie oorlewendes wat na ’n kernontploffing saam in ’n toegesluite kompartement is. "Die tyd is iewers in die toekoms, in die laaste fase van die groot botsing tussen Oos en Wes om Afrika. Die ek-verteller neem bestek op van sy lewe in ’n relaas van gebeure wat deurmekaar die verlede en hede belig en sodoende langsaam die hele prentjie skets. Suiderkruis kan gesien word as die volmaakte kernbom-installasie, ’n soort tweede Ark. Die hoofkarakter was as spioen betrokke in ’n aanval op die leier van die Suiderkruis-organisasie en word daarna deur ’n jong vrou van die teenspioenasie, Maria, in beskerming geneem. By haar verwek hy ’n kind. Sy gaan front toe en hy word as klerk gebruik by Suiderkruis, waarna die kernbom ontplof. Aan die einde sien hy vir Maria op ’n televisieskerm, die vrou by wie hy ’n kind verwek het, met die duidelike simboliek van ’n nuwe Christus wat as verlosser vir die oorgeblewenes gebore gaan word en só hoop bied aan die vervalle mens wat gans verlore blyk te wees." (Rob Antonissen: Spitsberaad. Nasou, 1966)

Amper 30 jaar verloop voordat daar weer ’n roman uit Dolf van Niekerk se pen verskyn het. Koms van die hyreën wat in 1994 gepubliseer is, is ’n novelle waarin veral die probleem van grondbesit aangespreek word, met die boer, die staat en die oorspronklike Sanbewoners, die Kousops van die Twagroep, wat almal daarop aanspraak maak. 

"Johannes du Plessis kyk magteloos toe hoe sy erfplaas deur die genadelose droogte afgetakel word en dan lê landboubeamptes nog ’n klag teen hom weens oorbeweiding. Hy is noodlottig gebonde aan hierdie stuk grond wat nie meer in sy lewensbehoeftes kan voorsien nie. Dis in hierdie omstandighede wat Kousop sy grond kom opeis, wat sy voorgeslagte na bewering deur onwettige verkwanseling verloor het. Kousop word gearresteer na ’n reeks veediefstalle en Johannes word by sy aankoms by die tronk herinner aan die wandade van sommige Afrikaners tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die droogte word ’n metafoor vir die sondeval, met grond en reën as genadegawes. Wanneer Kousop se moeder sterf, laat Johannes hom toe om die lang nagwaak by die lyk op sy plaas te hou. Op hierdie nag, wat versoening en insig tussen die partye kon bring, kom egter die verwoestende hyreën. Die skrikwekkende donder, blitse en hael bring egter nie verlossing nie, maar is geweld van ’n ander aard, wat ’n gesprek tussen die Afrikaner en die San verydel. Eindelik word die natuur ’n mede-karakter in hierdie boek, waarin daar geen klinkklare antwoorde is nie, maar baie om oor na te dink." (George Weideman, Insig, Desember 1994/Januarie 1995)

In 1968 word Dolf se eerste jeugverhaal, Skrik kom huis toe, gepubliseer, wat JC Kannemeyer as “een van die allerbeste jeugverhale in Afrikaans” beskryf. Dolf slaag daarin om met sy verhale vir die jeug die grense van hierdie genre te skuif deurdat die verhale wat hy skryf, nie die jong leser onderskat nie. Skrik kom huis toe vertel die verhaal van Albert Muller wie se pa weer getroud is. Hy en sy stiefma kom nie baie goed oor die weg nie. Sy kan nie kinders van haar eie hê nie en haal haar verbittering op Albert uit. Ook kry hy geen ondersteuning van sy pa nie.

Daar is egter twee dinge in die lewe wat vir Albert van betekenis is: Ma-Bet op die dorp wat vir hom soos ’n tweede ma is en hom verstaan en sy duiwe. Sy gunstelingduif se naam is Skrik omdat sy stiefma altyd sy duiwe laat skrik het. Soos die verhaal ontwikkel, ontwikkel die duiwe tot simbole. Wanneer Skrik dus huis toe kom, dui dit op versoening tussen Albert en sy stiefma. Deurdat Skrik die jong mens se gevoelslewe en emosies met groter insig en op ’n dieper noot verken as wat tot op daardie stadium in Afrikaans gebeur het, kan dit as ’n baanbrekerswerk beskou word. (Wikipedia)

In 1985 word Skrik opgevolg met Karel Kousop en Die haasvanger. Vir laasgenoemde ontvang hy die MER-prys, asook die Scheepersprys vir Jeuglektuur. Veral die MER-prys lê hom na aan die hart, want sy ontmoeting met MER toe hy ’n jong man van 23 was, het tot ’n vriendskap van amper 30 jaar gelei.

In Die haasvanger plaas die skrywer weer eens ’n gesin en die emosionele probleme binne die gesinsopset (met ’n ma en ’n pa wat uitmekaar is) voorop. Lourens, die seun, se bynaam, Kiewiet, sinspeel op sy verbondenheid aan die natuur. Weer eens fokus Van Niekerk op die buitestaanderskap deur dat Kiewiet ’n alleenloper is wat na die natuur vlug om weg te kom van die ongelukkige huislike toestande.

Kiewiet begin deelneem aan atletiek en deur die gedeelde belangstelling ontmoet hy vir Janet met wie hy ’n tentatiewe verhouding begin. Sy pa is ook in ’n nuwe verhouding en daar is vooruitsigte van die koesterende sekuriteit waarna Kiewiet smag. Ook begin hy sy ma se optrede beter verstaan wat daarop dui dat hy ook besig is om te groei. "Veral opvallend is hoe knap die innerlike lewe en gedagtes van die seun weergegee word, en daarmee saam die groei op pad na volwassenheid." (Elsabe Steenberg, Tydskrif vir Letterkunde, Maart 1986)  

Saam met Nic van Rensburg verwerk Dolf van Niekerk hierdie werk vir die verhoog en is dit onder andere in die destydse Nico Malan-teater in Kaapstad opgevoer. Hulle het gebruik gemaak van rolprentinsetsels om tonele soos op die atletiekbaan uit te beeld, waar dit moeilik of onmoontlik sou wees om dit op die verhoog te doen.

Die Tweede Wêreldoorlog en die emosies van andersdenkendes in Suid-Afrika van daardie tyd vorm die agtergrond van Dolf van Niekerk se volgende jeugverhaal Karel Kousop. Die storie word in die eerstepersoon vertel deur Gerrit, ’n jong seun, maar die eintlike hoofkarakter is Karel Kousop, ’n San-seun wat grootword as deel van ’n blanke gesin. Al het Karel se eie pa uit die leër gedros en word gesoek vir moord, bly hy nog steeds gebonde aan sy agtergrond. Hy is ook nooit regtig gemaklik by die wit gesin nie, al aanvaar hulle hom ten volle.  

"Hy handhaaf sy eiewaarde lewe as unieke mens en word nie aan die nuwe omgewing gelyk gemaak nie," skryf Elsabe Steenberg in Tydskrif vir Letterkunde van Maart 1986. Die boek was in 1986 op die kortlys vir die Rapportprys.

Dolf van Niekerk se veelsydigheid as skrywer het al geblyk toe van sy kortprosa in tydskrifte soos Tydskrif vir Letterkunde gepubliseer is.  In 1963 word  sy eerste bundel kortprosa onder die titel Skepsels gepubliseer en in 1965 is dit met die Eugène Marais-prys bekroon.

TT Cloete het in Oktober 1963 se Standpunte oor Skepsels geskryf: "Die drie verhale (kort novelles) in Skepsels is die titelverhaal, 'Bitterbos' en 'Jan Fiskaal'. Hierin word karakters beskryf wat as gevolg van mislukking of verlies van een of ander aard ’n onbevredigde lewe lei. Telkens het hulle eie geskiedenis ook ’n bepalende invloed op huidige gebeure."

Ander kortverhaalbundels van Dolf van Niekerk is Kort lewe van ’n reisiger (1979) wat vyf kortverhale bevat wat die buitestaander se sielkundige sorge uitlig, Koors (1997) wat twaalf verhale oor die liefde bevat, maar wat veral fokus op die opbreek van verhoudings en die probleem wat persone met werklike kommunikasie ervaar.

In 1998 (met ’n herdruk in 1999) verskyn Dolf van Niekerk se bundel kortverhale oor die Anglo-Boereoorlog onder die titel Brandoffer. Vir hierdie bundel het Van Niekerk sy inspirasie gevind by navorsing wat hy by die Oorlogsmuseum in Bloemfontein gedoen het en in stories wat persoonlik aan hom vertel is. Die bundel bevat vier verhale en 36 kort tekste wat bestaan uit aangehaalde briewe en ander dokumente en verwerkings in verhaalvorm van vertellings, dagboekinskrywings en bestaande literatuur. President Steyn se brief  in antwoord op lord Kitchener se bewerings dat die Boere die skuld van die oorlog moet dra, vorm die proloog tot die bundel. Die titel van die bundel is ’n verwysing na die brande wat die plase en huise verwoes het, asook ’n verwysing na die offer wat aan die Here gebring moet word.

In Brandoffer kom Van Niekerk se liefde vir die geskiedenis tot uiting. Hy het as kind sy eerste indrukke van die oorlog by sy ouma gekry, en met al die vertellings het hierdie oorlog vir hom al werkliker geword. Elke verhaal in die bundel is op die waarheid gegrond en dit is dalk wat die bundel so treffend eerlik maak.

Gretel Wybenga skryf: "Dit is veral die offer wat die vroue en kinders betaal het wat in die verhale weerklank vind en meeste verhale word uit die oogpunt van die vrou aangebied. In onopgesmukte en ontroerende wyse word hier vertel van die verskriklike smart wat die oorlog meebring en die oorwinnende aanvaarding van die offer wat gebring is." (Rapport, 31 Januarie 1999)

Die bundel Drielaag is ’n versamelbundel van kortverhale van hom, Mikro en HS van Blerk. Van sy kortverhale word in verskeie versamelbundels opgeneem, waaronder Die terugkeer van ’n soldaat in Windroos en Kortverhale vir verkenning. Ander versamelbundels waarin sy kortverhale opgeneem word, sluit in Drif onder redaksie van Lindeque de Beer, Dekade: Resente Afrikaanse kortverhale van FV Lategan, Vertellers van Merwe Scholtz, Mooiloop van Gerrit Rautenbach, Kortgolf van Tom Gouws en PH Roodt en Steekbaard en Uit die kontreie vandaan, beide van Abraham H de Vries. Sy skets oor "Paul Kruger se laaste hoofstad" word deur Chris Barnard opgeneem in Die Transvaalse Laeveld. "Die anatomie van ’n eerste dood" is jeugherinnerings oor die dood van sy halfsuster, wat hy spesiaal skryf vir opname in Herinnering se wei, ’n stuk wat later ook in Vuurslag opgeneem word. Hy lewer ook ’n bydrae tot die versamelbundel Amfiteater, waarin werk van oudstudente van die Universiteit van Pretoria opgeneem word.

Land van ons vaders bevat van sy eie en ander medewerkers (insluitende Abraham H de Vries, AAJ van Niekerk en HS van Blerk) se radiopraatjies oor die geskiedenis en natuur van Suid-Afrika. Woord in die môre bevat uitgesoekte essays wat in die radioreeks Uit my peuselboek uitgesaai is, en sluit 'Oujaar 1977' in waarmee hy ’n Artes-toekenning as beste radioteks verower het. Die bundel word in twee afdelings verdeel, naamlik 'Gister' en Van nou'. Diverse sketse, wat voorheen oor die Afrikaanse Diens van die SAUK uitgesaai is, word saamgebundel in ’n Bietjie Luisterkuier

Die aarde waarop ek loop bevat biografiese sketse, waarin hy skryf oor mense wat sy lewe verryk het soos Mikro, John en Willem van der Berg, MER, DJ Opperman en ander. LS Venter (Beeld, 8 Maart 2004) skryf: "Dieverhale het ’n fyn verbloemde chronologiese gang, vanaf die 'oom'-verhale van kleintyd, verhale uit sy skool- en studentejare en later die ontmoetings tydens sy uitsaaidae. Hierdie chronologiese gang en die beskrywing van die impak van die ontmoeting op hom veroorsaak dat die verhale ook besondere betekenis het as outobiografiese sketse."

Met sy poësie lewer Dolf van Niekerk ’n groot bydrae tot die Afrikaanse poësieskat. Ná sy vroeë debuut in letterkundige tydskrifte publiseer hy eers in 1975 sy eerste bundel gedigte getiteld Karoosange.

Vir André P Brink (Rapport, 6 Julie 1975) is daar in Van Niekerk se gedigte ’n fyn waarneming en suggestie te bespeur en word dit in ’n "gestroopte styl" weergegee. Vir Rika Cilliers (Beeld, 18 Augustus 1975) is Karoosange "liries van aard en bestaan hoofsaaklik uit kort verse", terwyl Johann Johl (Standpunte, Oktober 1976) meen dat dit "sober filosofie of die natuur aan die bod bring".

Die titel illustreer vir TT Cloete (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 1976) reeds die "eenvoudige landelikheid en pretensieloosheid van hierdie verse".

Dubbelster verskyn meer as 20 jaar later (in 1996) en van die gedigte van sy eerste bundel verskyn weer hier saam met 40 nuwe verse.

In Rapport van 18 Augustus 1996 skryf George Weideman as volg oor Dubbelster: "Die sentrale tema van die dubbelster simboliseer die keersye van lewe en dood, wat veral in die aarde en die natuur weerspieël word. In eenvoudige maar treffende verse dig hy dan ook hoofsaaklik oor die natuur, met voëls, skoenlappers en selfs brommers, skape en ander diere as onderwerpe saam met die wind, wolke, reën, blomme en stilte en afsondering. Hierdie temas ontlok dan ook verskeie godsdienstige gedigte. Hy begin die bundel met familieportrette oor ’n ouma, ma en pa, waarmee hy dan die mens en sy plek in die natuur vestig. Die aangrypende sonnetreeks van nege gedigte, 'Elegie vir verlore aarde', behandel ’n greep uit die geskiedenis van die oorspronklike Noord-Amerikaners."

Tien jaar verloop voordat Dolf van Niekerk se derde digbundel in 2006 die lig sien onder die titel Nag op ’n kaal plein. Hierdie bundel is ’n digterlike verwerking van die skrywer se jeugjare op Edenburg in die Vrystaat en het ontstaan toe die skrywer na baie jare weer sy tuisdorp besoek het. Oor sy inspirasie vir die bundel sê Van Niekerk self: “[D]aardie nag toe ek op die kaal plein onder die maan staan, begin dit rondom my lewe, is dit asof almal wat lankal dood en weg is, na my toe terugkom”.

Hy vertel ook aan AJ Opperman (Die Burger, 22 Februarie 2019): "My ouers is daar in die begraafplaas begrawe. En daardie aand ná ete gaan stap ek waar ek as kind op die plein gestap het. En glo jy nou vir my: Ek staan daar en ek kyk om my ... en dis asof al die mense wat ek geken het uit hul huise kom. Ook dié wat gesterf het. Die kinders wat ek geken het. En daar is almal om my."

Thys Human (Tydskrif vir Letterkunde, 2009) beskryf Nag op ’n kaal plein as ’n "woordgalery van gestorwenes én sterwendes: bekommerde boere, bedroefde geliefdes; ’n kleremaker, winkelier, skoolmeester, orrelis, kunstenaar, predikant en skrywer. Anders as die outobiografiese vertellings in Die aarde waarop ek loop (2003), het die meeste van dié 'portrette' hulle egter in digvorm aan Van Niekerk opgedwing. Nag op ’n kaal plein bestaan uit 26 genommerde verse wat tot só ’n mate tematies by mekaar aansluit en met mekaar oorvleuel, dat hulle ook aaneenlopend gelees kan word as ’n enkele gedig met 26 ongeveer ewe lang afdelings."

Human sluit sy bespreking af: "Die bekoring van Nag op ’n kaal plein is veral geleë in die bedrieglike eenvoud van die taal en beelding in dié kort bundel. As aangrypende besinning oor 'die misterie van die lewe/en die wonder van die dood', verteenwoordig dit ’n hoogtepunt in Van Niekerk se oeuvre."

Vier van Dolf van Niekerk se vyf kinders was in November 2017 betrokke by ’n produksie getiteld Nag op ’n kaal plein waar sy poësie aangebied word met musiek en toneelspel. Die regisseur van die stuk was sy oudste kind, Stephanie, wat hierdie produksie reeds 10 jaar tevore in haar geestesoog gesien het toe sy hierdie bundel van haar pa gelees het.

"My pa was in sy 70's toe hy sy tuisdorp, Edenburg, weer besoek het en in die nag op die dorpsplein gaan staan het. Dit was die oorsprong van die bundel wat TT Cloete beskryf het as ’n 'Afrikaanse poëtiese pronkstuk en juweel'," vertel Stephanie aan AJ Opperman (Beeld, 10 November 2017).

"Die bundel het met tye ’n baie hartverskeurende gevoel. My pa het nie maklik grootgeword nie. Sy ma is kort ná sy geboorte dood en dis ’n deurlopende tema in sy werk. Nag op ’n kaal plein bevat 26 gedigte, maar dit vang die atmosfeer van daardie wêreld en tyd goed vas. Al die inhoud van die bundel is in die verhoogproduksie."

Sy moes vooraf aan haar pa verduidelik hóé sy te werk sou gaan om die bundel op die verhoog gestalte te gee. Waar die bundel dit toelaat, het sy klein toneeltjies ingesluit. Sy wou van die begin af gehad dat van die akteurs in die lug moes hang aangesien daar gepraat word van "mense wat nie meer hier is nie". Agterop die skerm was daar ’n projeksie waarop Dolf te sien is.

Stephanie het voortgegaan aan Opperman: "Vier van my voormalige studente en sewe van my huidige studente tree hierin op. My seun, die violis Evert van Niekerk, tree ook op. My suster Betsie Schaap speel klavier terwyl my broer, Rudolf, gedigte getoonset het en dit op die kitaar vertolk. Karlien, ons ander suster sing ook en dis net die jongste Marguerite wat nie deel is van die produksie nie.

"My pa het sagkens probeer uitvind hoe die produksie daar gaan uitsien. Hier en daar het ek iets verklap, maar die res hou ek vir hom as ’n verrassing, wat hy hopelik ’n lekker verrassing sal vind."

In 2009, die jaar toe Dolf van Niekerk 80 geword het, verskyn Lang reis na Ithaka, sy vierde bundel. Die titel sinspeel op die lang reis wat Odysseus moes aanpak na die Trojaanse oorlog voordat hy weer by die huis aangekom het. Op hierdie reis het hy so baie terugslae beleef dat dit gevoel het asof hy nooit sy bestemming sou bereik nie, skryf Lucas Malan in Rapport van 24 Mei 2009. Die digter verwoord in hierdie bundel sy belewenisse en sy verlange na veraf bestemmings, asook die soektog na ’n geliefde en sielsmaat – iets wat hy nooit gedurende sy reis op aarde gekry het nie. Die eerste afdeling, “Pellafolio”, doen verslag oor ’n reis in die verlede in die barre en droë streke van Namakwaland saam met die geliefde. In hierdie verse word die natuur heel dikwels verwoord as nie net ’n simpatieke element nie, maar ook ’n afwysende een wat die oorsaak is dat die spreker se verlange na ’n geliefde nie tot vervulling kom nie. Die tweede afdeling heet 'Historia', waarin die digter teruggaan na die treurverse, asook herinneringsverse van sy vorige bundel. Die bundel word afgesluit met “Lang reis na Ithaka”. In hierdie laaste afdeling bied die digter geen bron aan vir sy gedig nie, en, skryf Malan, "hoewel hy 'n 'ek'-spreker met die gebruik van leestekens aanhaal, kom dié reisverslag kennelik uit die mond van ’n belese, denkende subjek wat veel ervaar het en sy lewe nie as ’n ligsinnige ervaring beskou nie."

Hoewel Daniel Hugo in sy resensie op LitNet Lang reis na Ithaka beskryf as ’n bundel waar die "vaalheid", ten spyte van die kleurvolle omslag, oorheers, sonder hy tog die volgende gedig in Ithaka uit as een wat goed vergelyk met die bestes in Karoosange. Vir Hugo is dit "gestroopte suiwerheid en die volgehoue metafoor van die kokerboom" wat waardering by hom uitlok:

Ek stroop die lae
van sy stam, die
hartpatrone op sy bas;
blaai dit tot ’n ope boek
van al die woorde
wat ek vir jou soek.
Maar ek blaai my vas
in vesels van die tyd –
die twyfel
of jy in hierdie dorre land
’n koker vir
my hart sal bly.

Met die verskyning van sy vyfde digbundel, Bleek planeet, in 2013 keer Dolf van Niekerk terug na die natuur en sy kommer oor wat aan die gebeur is met die skepping.

"Die mooi omslag gee dadelik ’n sleutel tot hierdie keurige bundel verse van Dolf van Niekerk. En soos die flapteks bevestig: 'Hy verwoord hierin sy verwondering oor die ontstaan van die aarde, sy liefde vir die kwesbare droë dele van ons land, veral die Karoo, en ’n diep kommer oor die kragte wat die fyn balans van die natuur kan versteur,'" skryf Henning Snyman op LitNet. 

"Hier is geen geheimenis vir die leser om tematiese motiewe, ook leitmotiewe, te probeer naspeur nie. Net soos die brose planeet waaroor hierdie verse wonder, net so broos is hierdie verse in hulle blootstelling.

Soos die lesers van Van Niekerk se werk teen hierdie tyd weet, is sy Afrikaans ragfyn in woord en beeld. Alhoewel hierdie gedigte ook sterk reageer op die elemente van aardverwoesting, en die brutale kragte wat dit loslaat, bly die teks self vry van taalwoede en heftige emosie. Heerlik om ’n bundel te lees van ’n digter wat sterk emosie oordra sonder om te soek na die etiket van "die woedende digter". Van Niekerk is ’n volwasse digter met ’n beleënheid in sy digkuns en sy hantering van die woord wat geen foefies nodig het nie.

"Die tema is uiters relevant, en as sodanig kan hierdie rustige protes ook gelees word as ’n dokument met ’n manifes. Die brose aarde/planeet wat deur geel en groen gaan, is nou reeds bleek. Die kleur van skoonheid word, soos die bundel vorder, geleidelik vervang met die bleekheid van ’n diep besorgdheid, weemoed en selfs wanhoop oor die stand van die skepping. (...)

"Die bundel neem die leser deur die wonder van die skepping wat in onverbiddelike samehang met die verwonding van die skepping resoneer. Die ontstellende konfrontasies word verwoord in beskaafde dog kragtige Afrikaans. Ook Afrikaans so aards dat dit die leser na Boerneef laat verlang.

"Die bundel het egter veel meer as die planeet in sy visie. Die natuur en die wonder én verskrikking daarvan word telkens in verhouding gebring met die gang van die menslike psige. Trouens, die planeet word ’n spieëlbeeld van die mens in sy worsteling, sy ongeërgdheid, sy eie verval en sy verwagting. Ook verbaas dit nie dat twee van die laaste verse godsdienstige liturgieë betrek nie: “Missa Solemnis” (50), waar al die stasies vanaf die kyrie tot die agnus dei die leser lei na die bewussyn van God; en 'Requiem' (60):       

sluit my oë
en agter ’n geel membraan
’n skepping met wesens
in ’n kom sonder uitgang.

"Bleek planeet is ’n ryk leeservaring wat nie alleen suiwer literêre bevrediging bied nie, maar ook tot nadenke stem. Die fyn en innige hantering van die woord en die skerp fokus op die deurlopende tema maak dit ’n eerstehandse poëtiese belewenis. Dit is ’n bundel vir rustig en besinnend lees, sonder dat dit ’n literêre kragtoer van die leser vereis. En ai, die soepele, beleë en mistieke Afrikaans ...

"Uit 'Ballade van die hande' (43):

Vier hande rem aan wysters om tyd aan bande te lê
dat geen minuut of uur
aan die verloop van jou eensaamheid
vorm kan gee, maar tyd en vryheid
laat om in die spanning tussen nou en ewigheid
tot vergelyk te kom."

Dolf was met Bleek planeet nog nie klaar gedig nie en in 2015, op die ouderdom van 86, verskyn Portrette in my gang met ’n foto van sy moeder, aan wie die bundel opgedra is, op die buiteblad.

"Daardie portrette van die swygende voorouers wat in die gang van ’n ou huis hang en ’n verlede opvang langs die Breede en Smalle Weg, word hiermee geaktiveer," skryf Joan Hambidge in Die Burger (16 Januarie 2016). "Die portretvers is ’n gedig wat aansluit by die tradisie van die beelddig, ’n vers wat oor ’n beroemde of bekende persoon handel. In hierdie bundel word die portret gekoppel aan sowel die intiem-persoonlike, te wete die moederfiguur, as aan beroemdes soos filosowe, skrywers, musici en kunstenaars."

Vir Hambidge maak dit nie saak of Dolf van Niekerk oor die panta rei of die Karoo poësie skryf nie en of hy peins oor sy herkoms nie, Portrette is en bly ’n "beleë en waardige" deel van sy oeuvre en van die Afrikaanse poësie. "Daar is ’n misterie en soeke na die 'God wat is' en ’n wete dat die lewe (soos die dood) ’n sirkelgang is."

Van die verse gryp die leser aan die hart – verse waarin kruie, die wolvag van ’n skaap en die reuk van sy geliefde Karoo raak beskryf word. "Hierdie uitstekende bundel illustreer ’n fyn balans tussen konkrete beeld en filosofiese idee wat nooit onder blote abstraksie swig nie. Telkens keer ’n mens terug na ’n vers wat met onderstelling werk," sluit Hambidge haar bespreking af.

Ook Nini Bennett is op LitNet beïndruk met Van Niekerk se sesde bundel Portrette in my gang: "Portrette in my gang is ’n welkome toevoeging tot die oeuvre en laatwerk van die veelbekroonde skrywer, digter en dramaturg Dolf van Niekerk. Dit is sy sesde digbundel. Die afwesigheid van ’n bundelverdeling suggereer iets van die leesaksie: die leser beweeg deur die bundel soos deur ’n galery en vertoef by die verse, waar ’n bestekopname van beeldgedigte die verwerking van verskillende persoonlike en historiese gebeurtenisse vorm. (...)

"Eindelik word die digter ’n soort kurator, die skatmeester van ouds, en die bundel ’n opgaaf van kosbare memento’s en memoires. Die verse is meditasies wat die leser bybly en waarheen hy terugkeer om te vertoef en te besin oor die deurleefde narratiewe verweef in elke portret of beeldgedig."  

In Rapport van 13 Desember 2015 eindig Daniel Hugo sy resensie só: "In 'Burkea Africana' (wildesering) stel die dogter homself, ondanks sy gevoel van ontheemding in Afrika, voor as ’n inheemse boom wat vir oulaas opbloei:

Jou laaste asem
was jou laaste blom:
seisoen van ouderdom.

"Mag Van Niekerk se digterlike boom nog baie blomme dra."

Dolf van Niekerk is veral vir sy skryfwerk vir die radio herhaaldelik bekroon. Benewens die SAUK-prys vir Hoorbeelde in 1965 vir Land van ons vaders en in 1971 die SAUK-prys vir Hoorspele vir Kamer 99 ontvang hy ook in 1977 die Artes-prys vir die beste radioteks. Die Ruiterbeeld-toekenning van die Federasie van Rapportryerskorpse word in 1984 toegeken aan Niemand se dag nie en ander werke. Van sy bekendste radiovervolgverhale is Die man met ’n blaar in sy handVoëls op takkeCicero word getemDie rebelle van Gannavlei en Die eerste burger van Gannavlei.

Dolf se lewe en werk is in 1999 die onderwerp van AKPOL (Afrikaanse Kultuuvereniging van die Suid-Afrikaanse Polisiediens) se jaarlikse skolevasvra-kompetisie, wat deur die Hoërskool Silverton gewen is. In 2001 ontvang Dolf die Laureaat-toekenning vir besondere prestasie van die Alumni-raad van die Universiteit van Pretoria. Gedigte uit sy bundel Karoosange is deur Niel van der Watt getoonset en deur die Tukkieskoor uitgevoer.

 Tydens 2017 se Innibos-Kunstefees is Dolf vereer vir sy lewensbydrae tot die letterkunde. Hy het hierdie toekenning baie waardeer, sê hy aan AJ Opperman. "Ek glo nie ek verdien iets nie. Nee, regtigwaar. Wat ek gedoen het, het ek as my werk beskou. Jy skryf omdat jy nie anders kan nie, jy dig omdat jy nie anders kan nie, maar uiteindelik is dit jou werk, jou verstand, jou bewussyn, jou gees." 

Een van Dolf se passies is wedvlugduiwe. Hy was so ongeveer twaalf jaar oud toe hy ’n wedvlugduif op die brug op die Rietrivier optel. Hy het die nommers op die duif se ring by die polisie gaan aanmeld en kort daarna ’n brief van die eienaar in Bloemfontein gekry waarin hy hom vra om die duif kos en water te gee en hom vry te laat wanneer hy sterker is. “Ek kry nou nog hoendervleis as ek dink aan hoe mooi die twee sirkeldraaie van die duif was voordat hy verdwyn het.” Die man bring vir Dolf ’n paar weke later drie wedvlugduiwe as geskenk, en net daar byt die gogga hom. Hierdie belangstelling vind ook neerslag in Skrik kom huis toe. Hy was ook verantwoordelik vir die Duiwerubriek wat in die sestigerjare oor die SAUK uitgesaai is.

Ook Dolf van Niekerk se prosapen is nog ver van uitgeskryf. In 2017 verskyn Kroniek van turf by Protea Boekhuis.

Dolf het al in 2009 aan Elise Tempelhoff (Beeld, 20 Februarie 2009) vertel dat hy werk aan ’n nuwe boek waarvan die tema "besit en "rentmeesterskap" is. Die werktitel was in daardie stadium Wie besit die grond? Hy het bespiegel dat dit dalk ’n roman kan word, maar dat daar nog op daardie stadium baie navorsing gedoen moes word.

Op LitNet som Jaco Barnard-Naudé die verhaal van Kroniek van turf as volg op: ”Kroniek van turf vertel die verhaal van ’n Afrikaanse familie en ’n Boesmanfamilie se verbintenis met dieselfde stuk grond. Hierdie grond is geleë in wat vandag die Vrystaat tussen die Riet- en die Modderrivier is. Die storie begin by Gerrit, ’n werknemer van die VOC wat in die 18de eeu begin boer op ’n leningsplaas in die Roggeland en later aan die Oosgrens sneuwel.

"Na Gerrit se dood verskuif die fokus na sy seun, Johannes, wat aanvanklik vooruitstrewend in die Renosterberg-omgewing boer. Nadat ’n sprinkaanplaag egter sy plaas kaal vreet en ’n daaropvolgende droogte dit onmoontlik maak om in die Renosterberg te bly boer, word Johannes gedwing om verder die binneland in na ’n nuwe staning te gaan soek. So kom hy dan by die stuk vrugbare grond tussen die twee riviere uit. Met sy aankoms ontmoet hy ’n groepie Boesmans, wie se leier se een oog effens skeel kyk.

"Johannes onderhandel met hierdie leier, na wie hy aanvanklik as 'Skeeloog' verwys. Hulle kom ooreen dat Johannes en sy familie teen betaling van beeste en skape die grond met Skeeloog en sy mense kan deel. Skeeloog kry later ’n naam: hy word Skeel Kobus toe Johannes uitvind dat hy 'stamvader en kaptein, draer van Gamoep se nalatenskap' is (53). Nog later kom dit aan die lig dat Skeel Kobus se ware naam Kousop is."

Barnard-Naudé gaan voort: "In Kroniek van turf is die tersaaklike begrip eienaarskap. Van Niekerk se uitbeelding van die twee groepe (of families) in die verhaal spreek van ’n omvattende begrip van die kolonialisme as ’n proses waarvolgens een groep mense grond toe-eien waarmee ’n ander groep mense reeds ’n bepaalde verbintenis het. Daardie verbintenis toon nie noodwendig die tekens van dit wat ons vandag as eiendomsreg beskryf nie, maar dit beteken nog nie dat die ander groep ’n swakker aanspraak op die grond het of dat hulle eksistensiële verbintenis met die grond minder intens is nie. (...)

"In sy kenmerkende gestroopte styl kry Dolf van Niekerk dit reg om veel meer as bloot die fiktiewe geskiedenis van twee Suid-Afrikaanse families en ’n plaas te vertel, want wat op ’n allegoriese vlak aan bod kom, is niks minder nie as die hele geskiedenis van die mens se konstitutiewe verbintenis met, afhanklikheid van en konflik oor grond. (...)

"In hierdie verband kom mens veral onder die indruk dat die skrywer nie net ’n hoogs deurdagte begrip van die kompleksiteit van die mens se geskiedenis met grond het nie, maar ook oor die vermoë beskik om die spesifieke geskiedkundige besonderhede van die verhouding met die grond in Suid-Afrika oordeelkundig met die fiksie te verweef. Tydens ’n onlangse gesprek by die Woordfees oor Karel Schoeman se Skepelinge het die historikus Dan Sleigh, wat ook as romansier bekend is, aangedring op die verskil tussen historiese fiksie en geskiedskrywing. Kroniek van turf beding hierdie verskil op vernuftige wyse deur subtiele verwysings in die teks te plaas wat die fiktiewe element benadruk. In hoofstuk 8 sê die ek-verteller byvoorbeeld dat die geskiedenis van sy eie mense '’n soort raaisel' (97) is.

"Die slot van Kroniek van turf sal nie die siniese leser geval nie. Dit is ’n idealistiese einde waarin die skrywer ’n konkrete skets bied van hoe grond gedeel kan word, hoe die grondkwessie in hierdie land aangespreek kan word sonder verdere gewelddadige toe-eiening en verbanning. In ’n tyd van soveel onsekerheid, angs en woede oor die grond, is Van Niekerk se kort maar kragtige novelle onontbeerlike leesstof vir almal wat die verhouding tussen grond, mens, geweld en vrede beter wil verstaan."

Riaan Grobler skryf in sy bespreking in Die Burger (2 Mei 2017) baie positief oor Kroniek van turf. Volgens hom slaag Van Niekerk daarin om binne 135 bladsye ’n groot hoeveelheid geskiedkundige gebeure te ontsluit. En dan slaag hy ook daarin om dit te vertel asof hy self by al die gebeure teenwoordig was.

Grobler sê verder: "Maar dit is die emotiewe grondkwessies wat die verhale van die verskillende geslagte en hul geliefdes aan mekaar verbind. Die kompleksiteit van eienaarskap van grond wat verkry is deur onteiening, oorlog of historiese predisposisie is die 'Catch22' wat nóg in die boek, nóg in die werklike lewe ’n ontknoping bied. Kroniek van turf is ’n verstommende eksistensiële werk deur ’n skrywer wat sy praatwerk tussen die lyne doen."

In haar resensie skryf Heilna du Plooy: "Kroniek van turf was soos ’n X-straal-foto van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dis ’n dun boekie, eintlik ’n eenvoudige, direkte verhaal. Dit gaan so deur die geslagte. Dis so ’n verhaal van uithou, weer begin, baie misverstande." (Die Burger, 22 Februarie 2019)

Ter viering van Dolf van Niekerk se negentigste verjaarsdag in 2019 verskyn ’n versameling filosofiese, bepeinsende en besinnende essays uit die pen van hierdie meesterskrywer in Afrikaans getiteld Legkaart van die lewe (Protea Boekhuis). Vanaf sy vroegste gewaarwordinge tot sy kennismaking met groot filosowe soos Nietzsche, Kant en Hegel op universiteit en in sy daaglikse handel en wandel daarna: altyd maar bly die bewustheid van ’n onsigbare 'iets' by hierdie aristokratiese gees – en ’n soeke na ’n beter verstaan van dít wat 'die sterretyd en die menstyd aan mekaar verbind'. (Uitgewersinligtingstuk)

Dolf van Niekerk se jongste digbundel is getiteld Berigte uit die skemerland wat beplan is om in 2019 te verskyn. Hy vertel vir AJ Opperman dat hy vandat hy ’n kind was ’n affiniteit met die skemer het. "Ek is nou in die skemerland. Nog nie nag nie. Die heel eerste in die bundel gaan oor die geboorte. Dan sluit dit af met verwondering."

Dolf van Niekerk en die skrywer Chris Barnard was goed bevriend en Dolf het hom in die hospitaal gaan besoek twee dae voor Chris se dood en vir Van Niekerk was dit baie aangrypend.

"Ons het gepraat oor letterkunde en filosofie. Die fisieke het nooit ter sprake gekom nie. Toe ek my kom kry, was ons al twee uur lank aan die praat. En weet jy, toe vra ek hier teen die einde: Wat is dit met ons? Daar kom ek en hy by die volgende uit: Ná alles waardeur ons is, bly verwondering oor. En ek en Chris is met daardie begrip uitmekaar. Oor die grootheid, oor die waarheid. Die verwondering. Die bron sal ons nooit ken nie. Dis die soort gesprekke wat ons gehad het."

Verjaardagwense aan Dolf van Niekerk:

  • Joan Hambidge: "Hy vermeng die filosofie en natuurwaarneming uniek. Soms stel hy groot filosowe aan die woord soos Nietzsche of word die massamens via Ortega y Gasset gekritiseer. Die digter is ’n opgeleide filosoof, maar dit oorwoeker nooit sy verse nie. Wanneer daar ongerymdhede in ons letterkunde plaasvind, is hy immers die stem van rede. Dramaturg, jeugverhaalskrywer, romanskrywer - maar veral digter. Ageluk aan hierdie ou juntelman!" (Die Burger, 22 Februarie 2019)
  • Heilna du Plooy: "Daar is sekere temas wat regdeur sy werk voorkom soos die afwesige moederfiguur. Prosa, poësie, kortverhale – ek dink die sterkste tema is dié van verlies ... ’n Groot sensitiwiteit Loop regdeur Van Niekerk se werk. Dit is teenoor die mense, teenoor sy karakters, maar dan ook in sy taalgebruik. Hy is ’n absolute esteet. Musiek en kuns speel alles ’n rol in sy werk." (Die Burger, 22 Februarie 2019)
  • Martjie Bosman: "Dolf van Niekerk is regtig een van die merkwaardigste mense wat ek ken – nie net oor sy skrywerskap nie, maar ook oor die wonderlike volronde, liefdevolle mens wat hy is. Hy is ’n veelsydige skrywer, maar hy is meer as dit. Het het ’n vermoë om met sy stem mense te raak. Hy is ’n denker, ’n filosoof wat groot vreugde put uit gewone goed soos sy tuin, lekker kos, mooi musiek. Hy is ’n mens wat die lewe in al sy volheid geniet en waardeer.

"Hy skryf ongelooflik vinnig. Daar gaan lang tye verby dat hy nie skryf nie, en dan trek hy los. Daar is dan iets wat in sy onderbewuste uitgebroei het. In sy werk is die onwesenlikheid en tydelikheid van die dinge ook dikwels aanwesig. ’n Mens kry die gevoel ’n filosoof is aan die woord. Hy is een van die heel eerste skrywers wat die tema van bewaring in Afrikaans aangeraak het; iemand wat nadink oor die mens se plek op die aarde." (Die Burger, 22 Februarie 2019)

  • Corina van der Spoel: "Die seuntjie wat uit die voorbladfoto van Dolf van Niekerk se outobiografiese boek kyk, is dieselfde Dolf, met dieselfde wit kuif, nou meer as 80 jaar later, wat steeds ondersoekend en vraend na die wêreld kyk. Vir my is die wonder van ’n lang en kosbare vriendskap met hom, dat hy steeds verwonderd bly oor die lewe." (Die Burger, 22 Februarie 2019)

Publikasies:

Publikasie

Gannavlei: novelle

Publikasiedatum

  • 1958
  • 1961
  • 1964
  • 1978
  • 1979
  • 1980

ISBN

0628009461 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel

Literêre vorm

Prosa

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die son struikel

Publikasiedatum

  • 1960
  • 1964
  • 1969
  • 1972
  • 1973
  • 1981
  • 1985
  • 1987
  • 1988
  • 2014

ISBN

  • 0628002831 (hb)
  • 0628026307 (sb)
  • 9781485302445 (sb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Dagbreek-Boekhandel
  • Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel
  • Johannesburg: Perskor
  • Johannesburg: Content Solutions Online
  • Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kwart voor dagbreek: ’n verhoogspel in drie bedrywe

Publikasiedatum

  • 1961
  • 1963
  • 1979

ISBN

0628015194 (hb)

Uitgewer

  • Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel
  • Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Drama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skepsels

Publikasiedatum

  • 1963
  • 1971 

ISBN

Uitgewer

Johannesburg: Afrikaanse Pers Boekhandel

Literêre vorm

Novelles

Pryse toegeken

Eugène Marais-prys 1964

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die moeder

Publikasiedatum

1965

ISBN

Uitgewer

Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die paddas: satiriese eenakter

Publikasiedatum

1968

ISBN

Uitgewer

Johannesburg: Dalro

Literêre vorm

Eenbedryf

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Skrik kom huis toe

Publikasiedatum

  • 1968
  • 1969
  • 1971
  • 1972
  • 1975
  • 1980
  • 1981
  • 1982
  • 1983
  • 1985
  • 1986
  • 1987
  • 1988

ISBN

  • 0624000648 (hb)
  • 062401195X (hb)
  • 0624020053 (sb)

Uitgewer

  • Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
  • Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kamer 99

Publikasiedatum

1972

ISBN

0628003196 (sb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Hoorspel

Pryse toegeken

SAUK-Akademieprys 1971

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Karoosange

Publikasiedatum

1975

ISBN

0624006476 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die nagloper: twee tekste vir televisie

Publikasiedatum

1976

ISBN

0798107197 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Televisiedrama

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Woord in die môre

Publikasiedatum

1978

ISBN

0628014171 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Radio-essays

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kort lewe van ’n reisiger

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624013286 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Niemand se dag nie

Publikasiedatum

1982

ISBN

0628021550 (hb)

Uitgewer

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Radiohoorspel

Pryse toegeken

Rapportryerskorps se Ruiterbeeld-toekenning 1984

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

’n Bietjie luisterkuier

Publikasiedatum

1983

ISBN

0868160172 (hb)

Uitgewer

Pretoria: Folio

Literêre vorm

Radiosketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die haasvanger

Publikasiedatum

  • 1985
  • 1990

ISBN

0624022056 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

  • MER-prys vir Jeugliteratuur 1986
  • Scheepersprys vir Jeuglektuur 1984-1986

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Karel Kousop

Publikasiedatum

1985

ISBN

0624022609 (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Koms van die hyreën

Publikasiedatum

1994

ISBN

0624032930 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Novelle

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Dubbelster

Publikasiedatum

1996

ISBN

0624034763 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Koors

Publikasiedatum

1997

ISBN

0624035646 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Brandoffer: vertellings uit die Tweede Vryheidsoorlog

Publikasiedatum

  • 1998
  • 1999

ISBN

0624037053 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Kortverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Die aarde waarop ek loop: biografiese sketse

Publikasiedatum

2003

ISBN

079933152X (sb)

Uitgewer

Pretoria: LAPA

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nag op ’n kaal plein

Publikasiedatum

2006

ISBN

079814713X (hb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Lang reis na Ithaka

Publikasiedatum

2009

ISBN

 9781869192938 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Bleek planeet

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781869199210 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Portrette in my gang

Publikasiedatum

2015

ISBN

9781485302308 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Kroniek van turf

Publikasiedatum

2017

ISBN

 9781485306474 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Legkaart van ’n jong lewe: essays oor wat was en wat geword het

Publikasiedatum

2019

ISBN

9781485310099 (sb)

Uitgewer

Pretoria: Protea Boekhuis

Literêre vorm

Herinneringslektuur

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

Berigte uit die skemerland

Publikasiedatum

2019

ISBN

 

Uitgewer

Imprimatur, Pretoria

Literêre vorm

Poësie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Artikels deur Dolf van Niekerk op die internet


Biografiese artikels oor Dolf van Niekerk op die internet

Die samesteller vra om verskoning vir Media24-argiefskakels wat tans nie werk nie.

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Emsie Kloppers

    Dolf van niekerk is 'n pasient by Dr Toni Monni / Ortopeed by die Wilgers. Wat 'n voorreg om die groot gees self te kan ontmoet!!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top