Die Son Struikel, Aurelius en aanlyn-oordaad

  • 0

Wat het ’n 90-jarige Afrikaanse skrywer, ’n Romeinse keiser van 2 000 jaar gelede, ’n ontnugterde ou Rus en ’n joviale Franse filosoof uit die 1950’s met mekaar en met die Inligtingsera te doen?

Wel, ek het myself dikwels die vraag gevra wanneer ek hierdie vier denkers – onderskeidelik Dolf van Niekerk, Marcus Aurelius, Fjodor Dostojewski en Albert Camus – se sobere skryfwerk oor die menslike toestand binne ons holderstebolder, histeriese aanlynkultuur probeer plaas.

Ek het begin wonder of daar enigiets waardevol oor is in die stille oomblikke tussen die in-en-uitademing. Het die vermoë om te onderskei tussen sake wat ons aan ander mense bekend stel en dinge wat ons nie hoef openbaar te maak nie, gans vervaag?

Was daardie onderskeid ooit belangrik, of het die verhandelbaarheid van persoonlike inligting ons in babbelende ervaringfabrieke verander?

Sou ons ooit kon geraai het dat die einde van persoonlike geheime en eie-stiltes, gekoppel met die konstante uitbeelding van ons geluk/bevoorregting aan ander, vir ons meer bestaansangs en geestesongesteldheid sou besorg as die gewone ou opkrop van pyn en plesier?

Die aanlynbreekpunt

Ek kom toenemend agter dat ’n aanlynbreekpunt kom vir die meeste mense met die voorreg om informasietegnologie en sosiale media te kan gebruik.

Die gatvol-raak vir strome nuttelose inligting en vir showy foto’tjies wat geluk, selfbeeld en selfvertroue tot sinteties-gemodifiseerde erkenning vervlak, kom skielik en stil soos ’n kragonderbreking. Terwyl ’n aankoms op sosiale media dikwels met ’n oordadige i-parade gepaard gaan, verlaat die mensvoos ontnugterdes die aanlyn gemeenskap sluipend. Weg is die dae toe jy reeds heimlik begin moeg raak vir die onophoudelike aandrang om “hier” en “in die oomblik” te wees, maar jy jou aanblywing gerasionaliseer het deur jouself te herinner aan die belangrike rol van sosiale media as (bedenklike) nuusbron en as skakel met die verre ekspatfamilie. Tot hiertoe en nie verder nie.

Die aanlyn gemeenskap let nie jou leemte op nie en bestaan bloot voort. Die slim algoritmes en uiteindelike doel van sosiale media is nie gemeenskap met ander social-tech savvy heiliges nie; dis bloot ’n bysaak. Hoofsaak is die diep kommersiële rol van sosiale media en die internet waarin inligting oor elke ding wat na geld ruik, verkoopbaar geword het. Dit mag so wees; die meeste van ons weet dit en neem vir lief daarmee. Dit het niks met samesweringsteorieë te doen nie. Ons het ons menslike omgewing oor die jare so geskep en daar is ’n magdom ontwikkelingsvoordele aan hoe ons nou met inligting te werk kan gaan.

Ten spyte van al die gekonnekteerde wêreld se oulike voordele, van nuwe vriendskappe, wêreldwye humor, blitsreaksies op krisisse en die volhou van verhoudings, word mense steeds stil-stil voos vir die sosiale oordaad, die banaliteit van uitgestalde rykdom, die panieksaaiende waninligting en die fopnuus wat soos ’n virus versprei. Soos ons dikwels vir mekaar op die koshuis-HK herinner het: Homo sapiens het oor omtrent 100 000 jaar of meer nog nie geleer om aangesig tot aangesig sonder misverstand te kommunikeer nie. Wees dus baie versigtig vir waninterpretasie via selfoonboodskappe en e-posse.

Net so het ons oor 100 000 jaar nog nie die raaisel opgelos oor hoe om te leef in aangesig van die ander se sosiale eise nie. Wanneer moet ek my geheime en gevoelens deel? Hoe moet ek dit deel? Wanneer is die gehoor gepas? Wat moet ek doen met my oortuigings en frustrasies in ’n mensdeurdonderde heelal waar ek kom en gaan sonder om ’n leemte te los?

Informasietegnologie kon nie ons knaende bestaansangs oplos nie. Dit het onsekerheid en alleenheid bloot vererger.

Dis waarom die eklektiese ou wyses hier bo dalk iets het waarby ons kan leer.

Die vreemdeling, die rebel en die buitestander

Dolf van Niekerk se dun roman Die son struikel (1960) het my nou die aand soos ’n vuishou in die maag getref. Ander verwante boeke wat toevallig deur my kamer gestrooi lê, is Dostojewski se Straf en vergelding (Crime and punishment) en Die broers Karamazov. Danksy inligtingstegnologie het ek ook Albert Camus se Die vreemdeling (L’Etranger) en Die pes afgelaai (laasgenoemde het ironies genoeg self die slagoffer van inligtingsvirulensie en oordaad geword toe COVID-19 uitbreek, want toe is almal skielik Camus-fundi’s wat sonder skroom saai infomercials oor arme Camus en La Peste rondstuur).

Dit is welbekend onder letterkundiges dat Dolf van Niekerk inspirasie uit Dostojewski geput het. Van Niekerk het al self in ’n 2006-referaat hierdie wortels bespreek en verduidelik hoe daar skakels tussen sy karakter Diederik in Die son struikel en die letterkunde van Dostojewski bestaan. Van Niekerk se Diederik is ’n jong rebel uit die Afrikaner-burgeroorlog van 1914 (ja, kom ons roep hom op die naam), of dan “Die Rebellie”. Diederik se broer Wynand sterf gruwelik langs hom weens grofgeskut deur die regeringsmagte. Sy kort verhaaltjie strek dan van 1914 tot omtrent 1922, waar die mynwerker Diederik aan sy einde kom tydens die Randse mynwerkersopstand. Diederik is ’n ontnugterde buitestander, ’n amper nihilistiese jong gees en konsentrasiekamp-oorlewende wat in sy kop stoei met God en dié se rol in hoe die lewe uitspeel. Oor die groter roepinge van nasionalisme, antiimperialisme en antikapitalisme waaroor sy medemynwerkers konkel en droom, voel Diederik niks nie behalwe ’n volslae skeptisisme. Die karakter se standaardantwoord op vrae oor sy ideologiese posisies, sy volkstrou en sy sosiale afsydigheid is: “Maak dit saak?”

Soos Diederik is daar ook die karakter Raskolnikof in Dostojewski se Straf en vergelding en Meursault uit Albert Camus se Die vreemdeling. Raskolnikof, ’n verarmde regstudent in tsaristiese Rusland, moor uit desperaatheid om sy huur te kan betaal en vir sy familie te kan sorg. Hy gaan deur verskeie fases van oordenking van sy dade, en besef geleidelik hoe sy eie storie nie ’n heroïese, sprokiesverhaalpaadjie van armoede na verskoonbare Robin Hoodagtige selfpreservering is nie; inteendeel, hy het ’n strafbare daad in ’n skynbaar ongeërgde heelal gepleeg. Al wat hy het, is sy selfbepaalde raamwerk van keuses. Hierdie gewaarwording slaan om in ’n eksistensiële angs, later in totale paranoia. Camus se Meursault staan, tot begrafnisgangers se skok, uitdrukkingloos terwyl sy ma begrawe word. ’n Paar dae later dood hy ’n man en word self ter dood veroordeel. Die gemeenskap beslis: ’n Seun wat nie eens ooglopend treur by sy ma se dood nie, is sekerlik skuldig aan moord. Camus se karakter, soos die skrywer self verklaar, koop nie in by die gang van sake in sy Frans-Algeriese gemeenskap nie en sodoende word sy versuim om te konformeer gestraf eerder as sy rol by die dood van ’n ander mens.

Die etiek van die buitestander is dikwels die etiek van die rebel. Ons pleeg dade met groot maatskaplike gevolge of uitkringeffekte in ons sosiale lewe. Die fiktiewe karakters bevind hulle telkens binne grootskaalse antisosiale of ontwrigtende optrede. Hulle rebelleer, steel en moor. Weens hul betwyfeling en gepaardgaande optrede is hulle vreemdelinge wat die Ander steur. 

Hulle besef gaandeweg dat ons eerder vir lief moet neem met kompleksiteit en onsekerheid, wat aan die wortel van menslike bestaan is. Die groot eise oor ons immer-menslike essensie en ons heroïese voortstuwing na ’n groot bevrydende einddoel dra altyd die onbeantwoorde skaduwee van ons eksistensie. Elke keer wanneer ons doelwitte en ons beloofde lot ons teleurstel, word ons gekonfronteer met ons menslike bestaan as die heel eerste onverklaarbare gewaarwording.

Diederik word rondgegooi soos ’n vuil lap in die post-Rebellie era van Afrikaner-armoede en kapitalistiese uitbuiting op die Randse myne. Hy sien geen sin in die groot ideologieë van die era nie. Maatskaplike lyding en onderdrukking, traumatiese verlies en godstoe-eiening deur Boer én Brit maak van godsdiens ook ’n oorvereenvoudiging. Dit is eers wanneer hy vir Anina liefkry en sy in gevaar verkeer weens haar pa se rol in die Randse Opstand dat Diederik die wapen opneem en na sy dood ry. Hy besef daar is ’n alternatief tot die eksistensiële peilloosheid waarin hy hom bevind, en hy skep sy eie sin deur self te kies om sy ken te lig en die soldate se aandag van sy geliefde af te lei. Hy sterf sodoende nie betekenisloos nie.

Raskolnikof se selftevredenheid wyk soos wat hy besef dat daar niks heroïes aan sy moorddadige selfbevryding was nie. Hy verval in ’n angstige depressie soos wat hy besef dat daar geen lotsbepaalde simpatie of natuurlike geregtigheid is wat sy saak vooraf regverdig nie. Hy is uitgewerp aan ’n mensgedomineerde en fundamenteel versteurde en ongeërgde wêreld. Raskolnikof se selfkonfrontasie, eerder as sy vervolging, is wat soveel maagdraaiende effek aan Dostojewski se grootse werk gee. Meursault van Die vreemdeling wys weer hoe die buitestander enduit belangeloos kan toekyk, selfs terwyl die galg om sy nek verstel word.

Buitestandersetiek en die stoïsynse matigheid-voor-oë

Die buitestander as rebel en vreemdeling in die literatuur dra ’n paar boodskappe oor. Een les is dat ons nie heelhuids en skaapagtig agter die keuses en aanwysings van ander mense moet aanloop nie. Tweedens: Soos met Raskolnikof, heilig die doel nie altyd die middele nie. Elke keuse wat jy maak, met iets groters in gedagte, bly jou eie outentieke stap waarvoor jy verantwoordelikheid moet aanvaar. Dit vereis dat ons baie versigtiger met ons vooroordele en selfbewustheid moet omgaan. Laastens leer Meursault ons dat die samelewing nie begrip of verdraagsaamheid aan die dag lê teenoor mense wat van die norm afwyk nie, want buitestanders neig om ons aandag weer op ons alomteenwoordige eksistensiële onsekerhede en angstighede te vestig.

Soos die normgedrewe Anina vir Diederik sê:

Wat dra jy saam met jou? Dit maak ’n mens onrustig, asof iets uit jóú vanself in ’n mens dring en hom versteur … Ek het nie langer sekerheid nie, jy laat my aan alles twyfel. Jy luister skelm na die musiek, maar ek weet nie of jy laksman of engel is nie. (Die son struikel, ble 75–6)

Om by die buitestandersetiek aan te klop nadat jy jou alie gewip het vir die soveelste geteikende advertensie, irriterende en afwyserige Instagram post of Whatsapp-groep-fopnuus, sal dalk ’n gesonde nuwe paadjie oopstel.

Nou verbonde aan die buitestandersetiek is die stoïsisme van Rome se “Goeie Keiser” Marcus Aurelius. Die wyse filosoof-keiser put veral uit die gewilde Aristoteliaanse leer van sy tyd wat die sede-etiek vooropstel. Dit plaas klem op die matige goue middeweë tussen ekstreme eindpunte, soos om dapper te wees eerder as roekeloos of lafhartig. So vermaan die stoïsynse Aurelius jou om jou nooit heeltemal onkant te laat vang óf uit die staanspoor oor te gee aan enigiets nie. Hy bepleit ’n tipe parate, moedige selfbewussyn in die aangesig van uitdagings en lewenskeuses; iets tussen totale naïwiteit en verlammende vrees of oorgawe.

Nie Aurelius of die buitestander-karakters hier bo genoem het klinkklare reseppies vir hoe om te leef nie. Die eksistensiële en stoïsynse literatuur moet nie soos Joel Osteen of Angus Buchan verslind word vir uitgetrapte sekerhede of padkaarte na jou (materiële) welstand nie. Die buitestandersetiek is eerder denkgereedskap waarmee jy die kaf van die koring kan probeer skei en waarmee jy kan waarde soek in die dikwels-afgeskeepte vraagstukke oor jou eie eksistensie en posisionering in ’n histeriese aanlynkultuur.

So verstaan ek dit: Wees soms die aanlynbuitestander, wat dalk heeltyd bevraagteken gaan word oor jou sku of ten minste welberekende aanlyn- sosiale gedrag. Op dié manier kan jy ’n lang en deurdringende blik gooi oor die stringe inligting wat soos padda-eiers oor jou skermpie hardloop. Jy kan sodoende beter besluite neem oor wat die moeite werd is, wanneer iets jou sal traak en wanneer jy bloot net nie ’n hel omgee nie.

Al hoe ons sosiale en inligtingstegnologie se angswekkende houvas gaan knak, is as ons elkeen die eiewysheid aan die dag lê om soms net nie om te gee nie, en te erken dat iets regtig nie saak maak nie.

Daarby moet ons besef hoe elke aanlyn aksie ’n keuse is wat net so belangrik is soos enige doel wat jy voor oë het, met sy eie unieke implikasies vir jou toekomstige stelle keuses.

En ons moet erken dat die aanlyn wêreld, net soos die “regte” wêreld, fundamenteel nie omgee nie. Sodoende sal jy jou eie sinvolle paadjie moet uitkerf te midde van ’n aanlyn bestaan in ’n wêreld wat reeds vol slaggate is.

Lees ook

’n Sisteemteoretiese ontleding van gebruikersinteraksies rondom Deon Meyer se Twitter-profiel: ’n resepsiestudie in die digitale era

"Afstand tussen skrywer en leser verklein" – ’n onderhoud met Burgert A Senekal

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top