"Afstand tussen skrywer en leser verklein" – ’n onderhoud met Burgert A Senekal

  • 0
“Sosiale media beklemtoon die volgehoue relevansie van die literatuur in die menslike leefwêreld.”

Cliffordene Norton gesels met Burgert A Senekal oor sy LitNet Akademies-artikel: “’n Sisteemteoretiese ontleding van gebruikersinteraksies rondom Deon Meyer se Twitter-profiel”.

Foto: Pixabay.com

Watter geleenthede bied sosiale media ’n skrywer? 

Sosiale media bied nuwe geleenthede vir skrywers om met hul lesers in gesprek te tree. Lesers kan skrywers direk kontak en hul opinies lug, en wat veral treffend was in my studie, was hoe lesers ook met literêre karakters in gesprek tree.

Sosiale media bied ook alternatiewe bemarkingskanale vir boekbekendstellings en die deel van resensies, wat beteken dat lesers vinniger meer inligting oor werke kan bekom.

My gevoel uit die studie was ook dat dit die afstand tussen skrywer en leser verklein. Dit is ’n baie goeie ding as lesers nie hoef te wag vir ’n boekbekendstelling om persoonlik vir ’n skrywer te kan sê hoeveel hulle die boek geniet het nie. 

Hoe kan skrywers hul sosiale-media-platforms ten volle benut? 

Ek sien baie skrywers wat hulle persoonlike lewens op sosiale media deel, wat vir my die skrywer meer as net ’n skrywer maak. My gevoel is dat lesers byna ’n persoonlike verbintenis met ’n skrywer ontwikkel. Die belangrikste ding is egter dat dit nie hier oor slegs een sosiale-media-platform gaan nie: ’n skrywer moet deesdae sy/haar beeld oor verskeie platforms bestuur.

Watter addisionele invloed (behalwe bemarking) het sosiale media op die Afrikaanse boekebedryf? 

Sosiale media skep ’n platform waar nie net letterkundiges en resensente die resepsie van ’n werk kan beïnvloed nie, maar ook die gewone mens. Deelname aan die literêre sisteem word hierdeur vergroot.

Lesers word ook meer betrek by die leefwêreld van die skrywer. Boonop vergroot sosiale media ook die sigbaarheid van die Afrikaanse literatuur in mense se alledaagse lewens.

’n Vakansiefoto waar iemand op die strand ’n boek van Deon Meyer lees, is ’n voorbeeld hiervan. Dit herinner ons dat die leser nie alleen ’n komponent van die literêre sisteem is nie, maar ook dat die literatuur ’n komponent van die sosiale sisteem is. Sosiale media beklemtoon die volgehoue relevansie van die literatuur in die menslike leefwêreld.

Wat is die een platform wat die grootste kommersiële invloed op Suid-Afrikaanse boekverkope het? Waarom? 

Ek weet nie wat die antwoord hierop is nie, maar my raaiskoot sal wees Facebook, omdat Facebook die gewildste sosiale-media-platform in Suid-Afrika is.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top