Resensie: Portrette in my gang deur Dolf van Niekerk

  • 0

Portrette in my gang
Dolf van Niekerk
Protea Boekhuis
ISBN 9781485302308

Portrette in my gang is ’n welkome toevoeging tot die oeuvre en laatwerk van die veelbekroonde skrywer, digter en dramaturg Dolf van Niekerk. Dit is sy sesde digbundel.

Die afwesigheid van ’n bundelverdeling suggereer iets van die leesaksie: die leser beweeg deur die bundel soos deur ’n galery en vertoef by die verse, waar ’n bestekopname van beeldgedigte die verwerking van verskillende persoonlike en historiese gebeurtenisse vorm.

Die verse dui ook op refleksies van onbekende persone, sowel as dié wat persoonlik aan die spreker bekend was. Alhoewel die bundel in ’n sekere sin ’n biografiese register van die digter betrek. Soos die portret van die moeder op die omslagteks, vertrek die verse vanuit ’n persoonlike kuriosum na die universele. Reeds met die openingsgedig, “Vergange” (9) word ingespeel op die verlede (Vergangenheit), asook die woord “gang”, wat ’n deurloop in ’n huis of tussen die hede en verlede bewerk. “Gang” impliseer ook ’n lewensloop. Die “aankoms en vertrek” van lewe en die eindelike sikliese gang na die dood word geaktiveer in ’n vers met sterk Bybelse konnotasies.

In “sanger” (10), een van die verse wat oor musiek handel, word sinestesie gebruik om verhoogvrees en die fisieke beliggaming van musiek te verbeeld. “Morgen” (17) roep die outydse huisradio in herinnering, waar die estetiese belewenis van klassieke musiek resoneer met die emosionele geweld van die Tweede Wêreldoorlog. “Kol Nidrei” (20), ’n Joodse komposisie en gebed wat ironies genoeg deur die protestantse komponis, Max Bruch getoonset is, skakel  met die Joodse tematiek in die bundel.

In “Tel Aviv 1987” (23) word die Jode se eeu oue vervolging as triomfantlike heropstanding vergestalt tydens ’n historiese musiekkonsert. Die soeklig val op onder meer Itzhak Perlman en die dirigent Zubin Mehta. Dié triomf word geaksentueer deur die ironiese verwysing na die antisemitiese komponis, Wagner, aangesien daar ’n verbod op die uitvoering van sy werk in Israel was.

Die hoogtepunt van die musiekverse is waarskynlik “Prelude en fuga” (51), waarin dié orrelwerk van J.S. Bach deur Albert Schweitzer vertolk word. Die vers word ’n huldeblyk aan Schweitzer, wat opheffingswerk en navorsing in Afrika gedoen het. Die leitmotief van die komposisie versmelt in ’n leitmotief wat die narratiewe gang van Schweitzer se lewe voorspel as een van grootsheid. Laasgenoemde is kenmerkend van Van Niekerk se musiekverse: die jukstaposisie van die leitmotiewe in musiek met dié van epiese elemente, hetsy persoonlik of histories.

Filosoof en teoloog word medikus
om siekes uit die woude van Ogowerivier te genees.
Prelude en fuga; orrelklanke begelei
gedagtes oor beskawing,
in drie jaar by die ewenaar
onder woorde gebring:
Besin oor betekenis van die heelal en bestaan,
laat groei tot etiese bewussyn -
jou krag om genade en medemenslikheid
met dade te betoon.
Sondagmiddag, geboorte van ’n droom. (51)

Ook die nostalgie wat die spreker jeens ’n ouwêreldse grammofoon ervaar, resoneer in “Amarillas” (56), waarin dié blom en ’n ouma se heengaan aan die hand van die blomkwartet verbeeld word. “Klein requiem” (60)  skakel intratekstueel met gedig “5” in Nag op ’n kaal plein, asook die orrelvers (“6”) in laasgenoemde bundel wat sinvol aansny in Van Niekerk se repertoire musiekverse. (Musikale belesenheid is ’n kenmerk van die Van Niekerk-familie; so dink ’n mens ook byvoorbeeld daaraan dat die bekende violis Evert van Niekerk die digter se seun is).

Die bundels getuig van verskeie hoogtepunte. “Sin is” (32) word ’n fyn portretstudie van die psigiater Viktor Frankl en sy bekende Man’s search for meaning. Dié vers word eindelik een van triomf vir die menslike psige in die algemeen. “Profeet van Omsk” (21) is knap met sy intertekstuele omdigting van Dostojefski se werk.

Laasgenoemde skrywer se lewe en belangrike historiese verwysingspunte word geskets as ’n biografiese besinning waarin sy meestertekste die narratiewe gang van die vers dikteer. Ook die natuur bly nie agterweë in die bundel nie. In “Wind” (24) word ’n jeugherinnering aan ’n plaas gerelativeer tot ’n satellietbeeld van die weer (“hoogdruk en laagdruk laat winde”), maar die ekstrapolering eggo ook die “winde van verandering”, die bekende toespraak van Harold Macmillan in 1960. Die herinnering aan die wind word ten einde laas ’n versinnebeelding van die onrustige hedendaagse politieke klimaat; asook weerstelsels wat omgewingskwessies soos  El Niño en aardverwarming ondersoek.

“Verhuising” (28) beskryf op intiem-persoonlike wyse die vroeë afsterwe van ’n moeder aan die hand van ’n foto. Die dubbelduidige “verhuising” word fyn deurgekomponeer en die foto (portret) van die moeder word die sneller van  lewegewende simbool:

Gestut deur kussings vir asem
in die vyfde jaar van sterwe;
vinger bewe-wys, ek vroetel
in ’n kissie, hy knik
tot ek die foto voor hom hou:
Dis sy, te vroeg vir hom en my gesterf.
My hande vir oulaas om sy lyf
twee verlangens kruis oplaas.  (28)

Spel en parodie van Afrikaanse digters kom ook aan die bod. In “Langs die see” (57) word ingespeel op Opperman se bekende reeks pastiches, “Met apologie”, asook Reitz se “Klaas Geswind en syn perd”. “Slaap” (49) ironiseer Malherbe se wondersoete slaap as ’n minder aangename insomnia, vergesel deur ’n skeelhoofpyn.

“Pater Noster: ’n parafrase” (53) sluit aan by die Christelike inslag van die bundel. Die olyfboom vorm die fokale punt van Christus se lyding in die tuin van Getsemane. Soos in Nag op ’n kaal plein, beweeg die digter naatloos van die indirekte na die direkte rede, en tréf die vertaalde gebed deur die aanbod van die onmiddellike.

In “Skêrsang” (52) met sy naasmekaarstelling van ’n nederige plaaswerker met Michelangelo verras Van Niekerk as die skaapskeerder verestetiseer word, en wolskeer as ‘n edele (en selfs grootse) kuns besing word.

 Verse oor kunstenaars, byvoorbeeld Van Gogh en Anna Vorster kom voor (“Visioen”, (44);  “Beeld”, (13); “ Abstrakte ritme, Anna Vorster”, (25)), asook verwysings na die Afrikaanse filosowe Danie Goosen en Fanie de Beer; en Nietzsche, Hegel, Sartre en Camus (“Monsters”, (33); “Mediaan”, (36) en “ho skoteinos” (31)).

“Swartberg” (30) skakel met die ekobewuste verse in Bleek planeet, waarin kommer oor hidrobreking uitgespreek word. In “Burkea Africana” (22) word dié Rooisering besing, terwyl “Heliotroop” (38) die soeklig op die sleutelblom laat val.

Die verse in Portette in my gang neig oorwegend na die Eurosentriese. Die bundel is verfrissend vry van relase oor die genealogiese. Persone bekend en onbekend, lewend en dood, ikone en nederiges, die natuur, indrukke oor boeke gelees, artefakte, herinneringe, intiem of histories – alles vloei ineen en beklee ‘gelyke plekke’ in die galery van “beelde aan die vergetelheid ontruk” (62). Die weglaat van lidwoorde in enkele verse is effens steurend; tegerlykertyd skep dit die suggestie dat van die verse op ’n joernaalagtige en kriptiese wyse opgeteken is soos die buitelyne of kwashale van portrette,  en dat van die verse doelbewus onvoltooid bly. 

Die grense van tyd word opgehef:

as verlede, hede en toekoms
saamvloei in die nou
se durende verlede. (9)

En:

alle syn herhaal sigself
deur die tyd, wat was word nou
en nou is more soos dit was.  (16)

Die grense tussen lewendes en oorledenes word opgehef en aktiveer ’n memento mori-bewussyn:

verlange na sigbare gees
in die onweet van die nou
en gister se misterie
van kom en gaan,
kruis en kroon,
sterf en opstaan. (26)

Alle portrette konvergeer in die finale “Selfportret” (62).  Om Harold Bloom aan te haal: “There are no texts. There are only ourselves.”

En elke storie en gedig
gryp maar met ander woorde
na ou bewussyn terug.   (34)

Eindelik word die digter ’n soort kurator, die skatmeester van ouds, en die bundel ’n opgaaf van kosbare memento’s en memoires. Die verse is meditasies wat die leser blybly en waarheen hy terugkeer om te vertoef en te besin oor die deurleefde narratiewe verweef in elke portret of beeldgedig.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top