Berigte uit die skemerland deur Dolf van Niekerk: ’n lesersindruk

  • 0

Berigte uit die skemerland
Dolf van Niekerk

Uitgewer: Imprimatur

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Hierdie baie voortreflike bundel stel die vraag: “Sien ’n mens nie dalk beter in die skemer nie?”

Dit word geskryf in Dolf van Niekerk se jeugdige en nogal humoristiese 90ste jaar. ’n Bejaarde man, soos hy dit stel, "gepatineer in tyd"1 en wie se sig blykbaar nie meer goed is nie, maar wat nog liggies met homself kan spot:

skryf ’n onleesbare gedig
oor die onsienlike ...2

Ongetwyfeld is die begin van die tiende dekade die skemerjare van enigiemand se lewe waar hy waak "op die mure tussen lig en duisternis"3

voor alles deur die skemer heen
in alnag se ewigheid verhuis.4

Iemand wat daardie leeftyd bereik het, kan met humor van homself sê dat hy vir die dood geweeg en te lig bevind is. Die dood is ’n tuiskoms

in die misterie van bestaan
en stilte van die laaste gaan.5

Wat sien hierdie man in sy skemer en hoe kan ek van hom leer?

Die bundel is meer as net mooi en goedgesegde verskuns. Dit dwing ons om oor lewe en dood te dink. Die feit dat dit goeie digkuns is, met "’n fyn balans tussen konkrete beeld en filosofiese idee wat nooit onder blote abstraksie swig nie"6, maak dat die verse ons vang met dwingende beelde van, onder andere, verval en dood. Dood is abstrak, maar sterf is skrikwekkend konkreet. ’n Beeld wat my geruk het om voor ’n moontlike konfigurasie van my eie laaste oomblikke te staan, kom uit die aangrypende hospitaalvers “Wanneer tyd opgehef”, waarin hy skryf "die laaste gedagte ’n brandglas op niks." Dit is wanneer

reënboog en sterre verlep,
wildeals en rose geurloos staan.7

En op ’n ander plek:

’n warreling in die brein
se laaste funksie;
beelde en klanke
los van tyd en plek.8

Dit is wanneer ’n mens nie meer kan ruik en nie meer kan dink nie. Maar voor die donker kom die skemer.

Skemer is dié idee van die bundel.

In hierdie werk loop die idee skemer oor van betekenis. Die hoofbetekenisse is na my mening skemertyd en drempellig: enersyds die tydvak in die digter se lewe en andersyds die oorgang, drempel of skrefie na die onsienlike en sy metgesel, die ondenkbare. Al die ander betekenisse behoort die leser die lug te laat kry van hierdie twee. Maar die skrywer laat hom nie bind aan ’n skema nie. Dit is hierdie leser se skema.

Begin vind in skemer plaas. Elke dag – en ook die nag – begin en eindig met skemer. Daarom begin die digter sy bundel met ’n baie sterk vers oor die begin van sy eie lewe, “Ontvangenis in ’n skemer ruim”. Die fetus kom in opstand teen gebrek aan lig, en as hy uit sy "wurgende vertoef" verlos word, is hy natuurlik half blind – ’n skemertoestand. Die vers eindig verrassend. Die kleintjie het in die lewe gekom as ’n outsider:

enkeling wat alleen sal bly
in die skare se geroesemoes
wat kollektief die skemer van bestaan ontken.9

Hierdie laaste versreël sluit direk aan by die motto van die bundel en laat dink ’n mens aan Die son struikel10 en die eksistensialisme.

Buite die kring
wat van gees nie weet
₋₋ brabbelklanke van die skare
in die roes van skyn
en dors na welvaart en mag ₋₋
sal hy eenkant
van die meer-as-baie staan.11

Nou weet ons. Skemer is nie bloot gemiddelde ligkwaliteit halfpad tussen donker en lig nie – en die skyn kan helder skyn, sal ons later sien. (Vir eers hierdie voorbeeld: die klinies-heldere lig van die hospitaalkamer is ’n "ligtende duisternis".12) Vir die digter word skemer die sintese op hoër vlak van donker se tese en lig se antitese, om soos Hegel te praat. Maar dit is ook die sintese van lig se tese en donker se antitese. So word lig en donker in skemer opgeneem. Dag en nag word in skemers versoen. Van Niekerk skryf ook oor skemer as ’n "versnit van lig en donker, kompas vir die gees";13 op ’n ander plek dui skemer op ’n treurige huislike omgewing; en op nog ’n ander plek die meer ordinêre maar tog treffende, "vervaagde lig, grys uitspansel, afskeidgloor in die Weste". Ons lees ook van ’n rustige (dalk gemoedelike) skemer in die mooi vers oor die tiptol se aandgesang:

roep hy met sy avondlied
die skemer tot by die aand
en sluit sy swye naderhand
die dag se vreugde en verlang.14

Skemer is ook die verlede: hy roep die geliefde "in die winter van ons jare" ... "uit die skemer van wat was". (Terloops, hy kan ook skemers as liefdesgeskenke stuur.) Skemer is ook sterwensuur. Dan is dit die laaste skemer. Maar daar is ook die "lig van die nag". As ’n mens die vraag van die bundel of jy beter kan sien in die skemer met ’n “ja”  beantwoord, kom daar ’n dieper vraag: “Word die skemer van ons huidige bestaan opgehef in hoëre, ewige lig?”Is dit die "lig van die nag" waarvan hy praat? En?

dat vrede tussen dag en nag
lig sonder skemer sal laat daag.15

Waar skemer deel is van die alledaagse in die ryk persoonlike ervaring van die digter ...

My huisie in die bos
lê daglank in skemerte16

kom ander dinge as die gewone in spel. As dag se vuur geblus is, leef engele in die gemoed van die dag se afskeid. Hy sê

... in die hart
van wesens vir wie skemer
’n laaste skrefie lig na die onsienlike is.17

Siedaar! In die skemer lig iets van die onsienlike deur soos skrefies lig wanneer die dag begin breek. Die mens wat al in die skemer van sy jare leef, in die "volheid van my skemers" soos hy dit stel, word nou beter in staat om die onsienlike te gewaar. Immers, die onsienlike is onsienlik en helderder lig en beter oë sal nie help nie: "Voel ’n blinde skemer se aanraking?" As die ou sintuie begin faal, word die onsienlike duideliker. Die gedig met Beethoven18 in is sleutelbelangrik vir ons uitleg. Die senator se swak sig laat hom beter sien soos Beethoven se doofheid hom dalk beter laat hoor het: "hoor die dowe skemer se fluistering?" Sal dit help in die dink oor die "onkenbare, onpeilbaar, sonder lyf"?

Die digter beleef die skemertyd van sy lewe. Woordewerk met en oor tyd speel dan ook ’n groot rol in die bundel. Tyd, as tydsverloop of tydsduur (die heelal se ontwikkeling, geologie en die geskiedenis van die mens), as tydstip ("’n nou, die korste denkbare, te snel vir verstaan"), en as aanwesige verlede (die "nou wentel na gister") kom aan bod.

Ek kan twee beelde in hierdie verband noem wat ’n baie besondere verbeelding wys. Een: dit is tyd wat die fetus aanmekaar weef. Twee: die tiptol roep die skemer tot by die aand.

"Tyd" is natuurlik die tweede deel van die titel van Heidegger se boek Sein und Zeit en die digter is deeglik bewus daarvan, soos onder meer blyk uit “Mens en bestaan”.19 Dit bring ons by die eerste element van die Heidegger-titel: "Bestaan". Dolf van Niekerk se lewe en werk word gekenmerk deur ’n verwondering oor dit wat bestaan. Dit hang saam met sensitiwiteit vir dinge en ervarings en ’n fyn waarnemingsvermoë. Van Niekerk se verwondering oor die Syn is ’n verwondering oor die geskiedenis van die heelal en sy plek daarin, maar ook ’n verwondering oor die Dasein, die "misterie van sy ek"20.. In ’n onderhoud praat hy van "die eenheid tussen gees en omgewing".21

’n Ster verskiet oor die Karoo
ligjare skyn deur my bestaan
van soeke in halwe lig na ware lig.22

Maar hierdie digter is meesterlik konkreet. In die bundel word die sintuiglike –  ja, die sienlike – ook fyn ervaar. Al gaan die sintuie agteruit, word die sintuiglike heerlik gevier. Dis wat lewenskemer kan oplewer – byvoorbeeld in die vrugtige “Kan blomme sing en praat”, ’n ietwat minder metafisiese vers in majeur-toonaard. Blomme word daar musiekinstrumente in ’n orkes en hoor die digter kleure en geure sing.

Stuifmeel kleef aan bye
en alles word heuningklanke
liedere vir die aarde, son en reën,
kunsliedere vir die lewe.23

Getrou aan sy oeuvre en, raai ek, ook sy proefskrif jare gelede, bly Van Niekerk verbonde aan die aarde, nie net op plaaslike skaal soos in “Kan blomme sing en praat” nie, maar ook op die skaal van die planeet. Martjie Bosman sê: "Hy is een van die heel eerste skrywers wat die tema van bewaring in Afrikaans aangeraak het; iemand wat nadink oor die mens se plek op die aarde."24

Daarvan getuig die omgewingsbeswaarde gedig “Die aarde kantel in sy baan”:

waar alles wat bekend was
lydsaam skroei tot as.25

Dié vers bevat ’n beeld van sublieme sarkasme waarin ’n hedendaagse stad, sê nou maar New York, met Atlantis vergelyk word.

In “In die dal van skaduwee”word iemand wat skynbaar op sterwe lê, uitgebeeld; maar die natuur, verteenwoordig deur voëls en die Karoo, is daar. Twee verse oor vlinders in die tuin verwoord weer die grense van kommunikasie. Dit herinner ’n mens aan die digter se werk sedert 1978 as direkteur van die Direktoraat Landbou-Inligting – ’n pos wat hy beklee tot sy aftrede in 1994.26

Soos die bundel verloop, word die leser ook bewus van die digter se kinderjare wat nie sonder eensaamheid en tragiek verloop het nie. ’n Paar gedigte sluit dus aan by die tematiek van sy vorige bundel, Portrette in my gang. Daar bevind ons ons weer in die Karoo met korhane en witneusskape, maar ook in die oergeskiedenis van die aarde met sy geologie en fossiele. Die Karoo werk, soos in ander dele van Van Niekerk se oeuvre, in die bundel. Geologiese formasies word metafore van persoonlike kwessies. Daar is ’n kind (sy vader) wat op ’n miershoop vir skape preek en later in sy arms sterf. Later is daar verse oor die geskiedenis van die aarde en sy homo sapiens. Die een praat oor die "oggendskemer van bestaan", waarná homo sapiens eers sy verstand kry. Die ander een eindig snaaks genoeg by die val van Jerigo.

Die geestesgeskiedenis van die Weste kom ook aan die orde waar die skemer (van die Middeleeue, dag ek) ’n kiem van lig herberg, maar ons weet uit die res van die bundel dat die helder dag van die Renaissance nie noodwendig is wat ons nodig het nie.

Is twyfel die vader van glo,
onsekerheid die moeder van dink?27

Die digter in sy laaste jare wag op iets wat seker is: hy verower dit nie. Dit kom met die sterwe:

Na alles uit brein en gees gesif is,
bly reste van iets soos liefde
en aanhanklikheid,
opgedoek vir die reis na ’n enkel sekerheid.28

Ontsettend treffende gedig!

Die "fel lig se openbaring van werklikheid" is iets waaraan ontsnap wil word. Op die tweede laaste bladsy staan die woorde

... kalendermens se waan
om die absolute te definieer
die onkenbare te ken en tyd
aan kettings te slaan.29

Die digter, trouens die egte menslike bestaan, staan teenoor die denker se (gewaande) helderheid:

Die mens lewe poësie,
die wese van taal,
gesuiwer in onsekerheid.30

Daar is telkens verwysings na misterie, maar dit is nie die misterie van die ekstatiese mistikus se lig wat verblind nie. Soms is dit ’n skemerige lokale mistiek waarmee gewone lesers soos ek hulle maklik kan vereenselwig: dit gaan onder meer oor die verwondering oor die tyd wat in ’n fossiel lê; en oor die bron van ’n fontein wat hom aan God laat dink:

dié oog kom – miskien van God
onpeilbaar, sonder lyf.31

En dan weer na aanleiding van Beethoven:

Skemer se geheim ontwyk my steeds –
sal ek dit in die misterie van
my eie doofheid vind?32

Daar is twee pragtige verse oor Afrikaans. Die een vertel met ’n skeut humor van die taal se afkoms; en die ander van sy vermoë:

’n skeppende taal
wat uit sy aarde
metafisies praat.33

Die liefdesgedigte is mooi, veral die ingewikkelde “My duif vlieg uit my kop”.34

Die logiese vraag is: “Is skemer ook die tese vir iets hoër?” Skemer (tese), dood (antitese), en dan ’n sintese? Ek sê daar is. Skemer is nie die einddoel nie:

ligjare skyn deur my bestaan
van soeke in halwe lig na ware lig.35

“Die kaal seisoen se skemer”eindig só, waar somer as tese, winter as antitese en alseisoen as sintese optree:

In my kaal seisoen
waar are pers en plasties lê
sal Sy alseisoen dalk
’n lente vir my hê.36

Daar is ’n verskil tussen ’n stygende of verdiepende dialektiese beweging en die sikliese herhaling van, onder andere, seisoene wat deur die Romantiek in die natuur gevier word. Die bundel eindig met ’n vers wat die sikliese in die vorm van opeenvolgende seisoene in verwondering besing en dit met Nietzsche se idee van die ewige weerkeer verbind:

dat geboorte en sterwe,
winter en herfs in ’n kring
se ewige weerkeer die ritme
van die Al in bestaan en tyd
laat resoneer.37

Die sikliese pas by die gang van skemer, lig, skemer en donker van elke etmaal, maar ek dink die lewe van die mens is nie so nie. Ek weerspreek graag die gangbare interpretasie van Nietzsche en stem saam met die Tereza-karakter in Die ondraaglike liggewig van die Syn van Kundera:38 Ons lewe net een maal en juis dit maak die oomblik, lewe en dood gewigtig. Gelees in die konteks van die hele bundel laat hierdie laaste gedig (en ook die een voor hom) die werk na my aanvoeling in effense spanning eindig. Dit is teken van ’n ryk en genuanseerde gees wat ek nie voldoende kon beskryf nie.

Ons het met ’n gewigtige maar heerlik leesbare werk van ’n swaargewig te doen.

 

Eindnotas

1 Berigte uit die skemerland: 41

2 Ibid

3 Berigte uit die skemerland: 47

4 Berigte uit die skemerland: 22

5 Berigte uit die skemerland: 23

6 Dis hoe Joan Hambidge Dolf van Niekerk se vorige bundel, Portrette in my gang, beskryf; dit geld hier oor die algemeen net só (Die Burger, 16 Januarie 2016).

7 Berigte uit die skemerland: 32.

8 Berigte uit die skemerland: 46.

9 Berigte uit die skemerland: 9

10 1960, uitgegee deur Dagbreek-Boekhandel in Johannesburg. Jongste uitgewer: Protea Boekhuis.

11 Kyk na Erika Terblanche se bespreking van die buitestander in die stuk waarna voetnoot 1 verwys.

12 “Wanneer tyd opgehef:

13 Berigte uit die skemerland: 20

14 Berigte uit die skemerland: 40

15 Berigte uit die skemerland: 50

16 Berigte uit die skemerland: 10

17 Berigte uit die skewerland: 12

18 Berigte uit die skemerland: 20

19 Berigte uit die skemerland: 33

20 Berigte uit die skemerland: 41

21 Soos aangehaal deur Erika Terblanche

22 Berigte uit die skemerland: 52

23 Berigte uit die skemerland: 39

24 Die Burger, 22 Februarie 2019

25 Berigte uit die skemerland: 37

26 Erika Terblanche op cit

27 Berigte uit die skemerland: 47

28 Berigte uit die skemerland: 46

29 Berigte uit die skemerland: 52

30 Berigte uit die skemerland: 33

31 Berigte uit die skemerland: 26

32 Berigte uit die skemerland: 21

33 Berigte uit die skemerland: 30

34 Duiwe is belangrik in Van Niekerk se werk (onder andere Skrik kom huis toe, 1968) en in sy lewe. Kyk na Erika Terblanche op.cit..

35 Berigte uit die skemerland: 53

36 Berigte uit die skemerland: 45

37 Berigte uit die skemerland: 58

38 Dankie Johann Rossouw!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top