skemertyd
(’n innige dankbuiging voor Dolf van Niekerk, en die herinnering aan Chris Barnard)
en nou om te slaap
te slaap te slaap in slaap
in te slaap verplaas na ruimtes
van sterwe en weer te lewe
wanneer vriende se beurtsang
in die riete langs die oewer bewend
opklink en op reis te gaan na die liefde
oplaas helder genoeg uit slaap ontslaap
vir die vleg van woorde sterk genoeg
om die droom se lyk
aan op te hang as swaaihart
bo die vlug-weerspieëlde lykedroom
van stilte in beweging onder die grond :
van stilte se opvang in die mond
Verskaf deur Breyten Breytenbach
beurtsang
Wat is mistiek? Is dit dan nie die klein-klein alles van poësie nie?
Of die tot niet maak van die smaak van grond in die aarde?
Is dit Een-wording? Die Ek-statika? Die konfrontasie met
die Stil Een se vuur? En wat nou as jy nie deel had in die geloof
in ’n Onervaarbare Bo-natuurlike nie?
Tog, iets in die gesig van die ou digter – Dolf van Nie-kerk –
laat my skrik en weet dis goed om te kon wonder oor wat
nie sins- en sinne-uiting is nie. Iets maak dit helder duidelik
dat woorde die tyd se antwoord onhoorbaar maak.
Lees ook:
Kommentaar
Pikdraad vir ons skoene.