landelike bestaansvergaan
(6-uur)
magiese oomblik
alles ewig stil
net voor die nag breek
met vlermuise gekriskras oor die werf
wat nog nie in die boek van ure
hulle wegkruipplekke
vir die dag op kon soek
en ’n oggendster
om bo die einder
aan eie verdwyning te hang
soos stilskreeu in die doek

Foto: Verskaf deur Breyten Breytenbach
*
aan die einde van die nag
nog voor jy op kan staan uit jou bed van dagbaring
vermoed jy die heuwels bome buite
vry in stil oorgawe met die eerste lig se soen
om eers later te bloos in alle verkledings van groen
*
omdat ons vir so lank nie hier was nie is mens in onverwagse oomblikke skuins
bewus van hulle wat hier lank voor julle die opstal moes bewoon het, en jy beweeg
met so min verplasing moontlik in ons gedeelde ruimtes waar dimensies dalk nog
nie gestol het tot ’n stil onderbewuste nie. jy gun die dooies hulle aanpassing, want
al moet hulle van jou bly weet soos van vlerke waarmee daar nie gevlieg kan word nie word jy nie verdring nie.
die dood moet immers altyd plek maak vir die lewe
om in ’n eie ander tyd te vergaan.
*
waarheid is nie één nie
en is nie twee of nie-een
en tog is dit waar
want hiér / want nou
probeer vat dit vas:
dis te gou vir jou!
daarom die vertering van stilte
tot afwesige wording :
eenwesige uiting is om te lewe
*
altyd ontglip tyd
van klip tot klip
om oor die rivier te kom
hou hierdie stip in die mond
om stilte weer te leer
proe totdat die smaak verslaan
en daardie
skaduwee is in die grond
aan die oorkant neergelê
vir die terugkeer-reisiger
om stilte nie te verleer nie
die moeilikste is
is om te laat gaan
wat nie verstaan is nie
*
maar
skyn
baar
maan
*
die oggendster nou
net-net bo die nog donker heuwelkim
’n glimtuig wat huiwer
tussen verder gaan skyn
en nader kom kwyn
om met verbleektyd tog teen onsigbaring
uit te klim
*
bewussyn is ’n harwar van baie bek
om wat dood is uit te wil sluit
en jy met jou lewe ’n leiriem om die nek
min wetende jou syn se lippe trek tuit
om juis jou ewigsterf nader te fluit
*
wat vandag hier uitspel
(word)
Is finaal
alles in niks
niks is die al
*
om op te hou skrywe
na die einder-kom-nader
met sterre se sterwe
nog net buite bereik
is nie ’n opsie nie
***
Can Ocells, 10 Augustus 2022
(met Sheila Cussons in gedagte)
Kommentaar
Wat 'n gebeurtenis!