Op Saterdag 29 Julie 2022 het die 93-jarige digter en skrywer Dolf van Niekerk in gesprek getree met die filosoof Johann Rossouw oor sy lewe en die drie temas wat deurgaans in sy lewenswerk vertoon: die grond, die sterflikheid en die mistiek. Die gesprek is deur Lamé Ebersöhn van die FilosofieKafee by Pronk in Pretoria aangebied.

Dolf van Niekerk en Johann Rossouw (Foto: Lamé Ebersöhn)
Die gesprek is geopen met ’n biografiese inleiding deur Johann Rossouw wat ’n vergelyking tussen Dolf van Niekerk, NP van Wyk Louw en Breyten Breytenbach gemaak het met betrekking tot die filosofiese aspek van hul werk. Dolf het vantevore genoem dat dit vir hom beter is om die filosofie so tussen die prosa en digkuns in te werk. Daarna het die gesprek afgeskop met Dolf wat vertel hoe sy liefde vir die grond alreeds op vierjarige ouderdom by hom ontwikkel het nadat sy pa op een van hulle Sondag-uitstappies na die Rietrivier vir hom ’n saailing van ’n wildeals gepluk het.
Hy het die saailing sonder ’n grafie by die huis gaan plant, en vir die eerste keer die grond met sy kaal hande gevoel. Elke dag het hy gaan kyk wat die plantjie maak, en toe gesien dat hy groei, en met dié wisselwerking tussen homself, die plant en die grond het hy bewus geword van ’n “soort van misterie in die plant en die grond”. Hy het later jare vir sy pa uitgevra oor die bitterbos wat hy dikwels moes gaan pluk vir die stook van die buiteoond, waarna sy pa hom vertel het dat dit voorheen rooigraswêreld in die Edenburg-kontrei was. Weens oorbeweiding is die gras uitgetrap en daarom het die bossie so oor die veld versprei.
En ook, as student op ’n besoek aan ’n familielid in die suidwestelike Vrystaat let hy eendag op hoe die westewind goeie grond van die aarde af opwaai en elders gaan neerlê. Toe hy later by die huis kom, het die gedigsiklus “Suiderkruis”, wat handel oor wat ons met die grond doen, by hom opgekom. Die gedigte was nooit weer gepubliseer na dit oorspronklik verskyn het in 1959 nie.
Die eerste twee strofes soos voorgelees deur Johann:
1
Onder die Suiderkruis spoel God se vore
Droë dae krummel in die son
Waar ’n bleshoender sy wyfie lok
Lê gaar eiers op die aarde
En kewers vrek vretend aan ’n blom.
2
Swart rinkhals rank
Duisendpote swerf blikspoor
Tussen draad en pale
Rinkink oor dongas en brakslote
Tot in die hart van sy geboorteland
’n Stomme, halfwas stukkie aarde.
Dit het vroeg al in hom gewortel geraak dat die grond lewend en dus kwesbaar is. Deur sy ervarings oor die misterie van die grond en sy werk gedurende die jare wat hy by die Departement van Landbou gewerk het, het hy tot die oortuiging gekom van ’n kultuuropdrag. Die opdrag behels dat jy “jou omgewing moet veredel, jy moet hom mooi maak en bewaar, en versorg, en dit is verantwoordelikheid”. Dit staan reeds in Genesis geskrewe, herinner Dolf hom, en hy vertel van ’n Amerikaner wat op ’n keer die land besoek het wat gesê het: “God sal jou uiteindelik nie vra wat is jou naam en wat is jou prestasies nie. Hy sal jou vra wat het jy gedoen met die aarde wat Ek jou gegee het.”
Die tema van sterflikheid in Dolf van Niekerk se werk ontstaan uit die tragiese sy van sy familiegeskiedenis. Sy ma is ’n maand na sy geboorte oorlede. Sy halfsussie is ’n paar jaar later op tweejarige ouderdom oorlede, en sy pa op 47. Die eerste woorde wat in sy bewussyn gaan lê het, is: “Jou mamma het gesterf by jou geboorte.” Dit het hom maak vrae vra, en van toe af het die gevoel van die vervreemding van moederloosheid hom bygebly. “So raak ’n mens bewus, dis ’n gemis, en jy besef nie dadelik wat sterflikheid is nie.”

Dolf van Niekerk by FilosofieKafee in Pretoria (Foto: Lamé Ebersöhn)
By Dirk Opperman het hy later die gedagte gekry oor die onsterflikheid van die sterflikheid. Hy voeg by die “sterflikheid het as’t ware ’n metgesel, dit loop saam met die lewe”. Oor sy digkuns noem hy: “Soos ek die dinge doen, algaande beskilder, is dat sterflikheid eintlik die lewe belig. En sterflikheid, in ’n sekere sin, gee aanduiding dat die mens skeppend wil lewe. Ek wil iets nalaat; daar is een of ander mistieke roepstem.” Vir Van Niekerk is dit belangrik dat sterflikheid die begin is van vernuwing.
Hy het dit aan sy eie lyf ervaar toe hy siek was en die “toer”, soos hy dit noem, van Covid meegemaak het en twee keer op die punt van sterf was. Agterna het hy oor dié ervaring gewonder, oor hoe die lewe en die sterwe insink by die psige. Na aanleiding waarvan hy die gedig “Aan die oewer van die stroom” geskryf het, wat hy vir die gehoor voorgedra het:
Aan die oewer van die stroom
wil ek die sagte nag ingly
om anderkant asemnood te kom.
Die aarde hou my vas
ek protesteer, toe die stem:
“Waar was jy toe ek jou hart vasgehou het?”
“Waar was jy toe ek jou asem was?”
“Waar was jy toe ek die rivier van die dood drooggelê het?”
“Waar was jy toe ek lig in jou oë geblaas het?”
Die stroom verdwyn, ek is waar ek is
net U weet waar ek was.
net U weet waar ek is.
ek weet net U ken my naam;
ek is doof, ek het U gehoor.1
Met betrekking tot die mistieke wonder Van Niekerk hoeveel van die dinge wat met jou gebeur in die eerste sewe jaar van jou lewe, gaan lê in jou onderbewuste en bewussyn. In die jare na sy ma se dood was hy baie bewus van die gemis, dat hy nooit sy ma geken het nie, en dit was altyd iewers in sy bewussyn aanwesig. Hy vertel dat toe hy vyf was, hy saam met sy pa in die veld gaan stap het en sien toe ’n spruitjie met rotse wat bo die aarde uitsteek. Dis toe dat hy bewus geword het dat daar iets bokant hom en die aarde is wat hy nie kon raakvat nie. “Dit kon die verlange gewees het, wat ook al, maar in die outobiografie oor my jong lewe skryf ek oor dié iets. Dit was ’n iets wat ek nie kon verstaan nie.” Die iets loop lewenslank al die pad saam met hom. By verskeie ervarings het hy die teenwoordigheid van die mistieke aangevoel. Soos gedurende sy siekte met Covid, toe hy in die aangesig van die dood die ervaring beleef het, “dat daar iets daar is”, en tog dat dit onkenbaar bly.
Vir hom hou die mistieke verband met die verlange en die soeke na die iets. Dit loop saam met verwondering en is ’n baie sterk element van sy werk. Die mistieke iets vorm nog altyd deel van sy soektog. Met sy siekte het hy die totale verwarring van die “onwerklike werklikheid” teëgekom:
ek wil die weg van sin en waarheid vind
maar raak verstrengel in ’n labirint van werklikheid
dat dink en wonder
elemente van soeke word
en waarheid jaloers
sy enkelheid bewaar.
Ter afsluiting het Johann vir Dolf, wat lief is vir die wetenskap, maar terselfdertyd gelowig is en bemoei is met die mistiek, gevra na sy siening oor die verband tussen die geloof, rede en die mistiek.
“Ek dink die geloof, die rede en die mistiek is vir my vervleg. Daar is ’n wisselwerking tussen hulle. Soos Descartes gesê het,” gaan Dolf verder, “‘ek dink daarom is ek.’ En die rede kan ook die bron wees van ongeloof, en die rede kan die bron wees van twyfel. Soos ek dit beskou, is twyfel die vader van geloof, en onsekerheid is die moeder van besinning. So die rede het sy rol. En dan die mistiek, en verwondering. Die mistiek en die verwondering loop vir my saam, en mistiek is vir my deel van die geloof. Dan, wat weet ons?”
’n Dag voor die skrywer Chris Barnard oorlede is, het Dolf hom besoek. Hulle het gesels oor al dié dinge, en gewonder wat oorbly na als wat hulle geskryf en gedink het. Hulle kom toe tot die gevolgtrekking dat al wat oorbly, is die verwondering. “En oor die mistiek,” vra Dolf, “is die iets die soeke, of is die iets God? En dit is vir my verweef... hulle loop saam.”
Hy voeg by: “Deel van die mistiek, en aanbidding, is die stilte.” Hy sluit toe af met ’n gedig wat by hom opgekom het na sy Covid-tyd:
stilte is my stem
stilte is my woord
stilte is my pleit
stilte is my vonnis
stilte is my pyn
stilte is my parool
stilte is my gister, vandag en môre
stilte is my ewigheid.
Eindnota:
1 Die gepubliseerde gedig, “Aan die oewer van die stroom” (Splintertyd, 2021), lui ʼn bietjie anders:
Aan die oewer van die stroom
Wil ek die sagte nag ingly
Om anderkant asemnood te kom.
Die aarde hou my vas,
Ek protester. Toe die stem.
“Waar was jy toe ek jou hart vasgehou het?
Waar was jy toe ek die rivier van die dood drooggelê het?
Waar was jy toe ek jou asem was?
Waar was jy toe ek lig in jou oë geblaas het?”
Die stroom verdwyn, ek is waar ek is.
“Net u weet waar ek was, net U weet waar ek is.
Ek weet net U ken my naam;
Ek is doof, ek het U gehoor.”
Kommentaar
Roerend.