Vaalheid oorheers in Dolf van Niekerk se teleurstellende Lang reis na Ithaka

  • 1

Titel: Lang reis na Ithaka
Outeur: Dolf van Niekerk
Uitgewer: Protea Boekhuis
Publikasiedatum: Maart 2009

 

Dolf van Niekerk het op 22 Februarie vanjaar 80 jaar oud geword. Hy het in 1958 sy eerste boek die lig laat sien en is bekend as die skrywer van jeugverhale, novelles, kortverhale, radiotekste en gedigte. Die hoogtepunte van sy skrywersloopbaan van ’n halfeeu is myns insiens die novelles Die son struikel (1960) en Koms van die hyreën (1994), die jeugverhaal Skrik kom huis toe (1968) en die digbundel Nag op ’n kaal plein (2006).

Ingetoënheid en gestrooptheid is die opvallendste kenmerk van sy styl. Op sy beste gee hierdie styl ’n helderheid aan sy werk; soms neig dit egter tot ’n vaalheid en verveling. In Lang reis na Ithaka oorheers die vaalheid ongelukkig – ondanks die kleurvolle omslag.

Helderheid van segging en van beelding kom wel in die lang titelgedig voor. Dit is ’n herskrywing van Homeros se verhaal oor Odusseus se avontuurlike omswerwinge ná die Trojaanse oorlog voordat hy uiteindelik terugkom by sy geliefde vrou, Penelope, op die eiland Ithaka. Die deurlopende tema van die bundel as geheel word hier soos volg kernagtig geformuleer: "om sonder vrees/ vir stilte stil te wees". Van Niekerk se Odusseus bereik nooit sy geliefde nie, maar leer wel om die stilte (die dood) te aanvaar. Die bundel is heel gepas opgedra aan "die geliefde wat ver bly".

Die geografiese reis van die onverwoesbare Griekse held word by Van Niekerk 'n geestelike reis met ’n ander eindpunt:

Om stil te wees,
die self in self te keer
en tuis te kom in tuistelose
ruimtes van die gees.

Reeds in ’n vroeër vers verklaar die digter:

Maar nou is ek oplaas verplig
om nuwe stiltes te formuleer.

Hierdie digterlike en filosofiese strewe gee aan die bundel ’n Zen-kwaliteit: deur hunkering, verlange en pogings om teengesteldes te versoen bereik die soekende, swerwende digter ten slotte ’n aanvaarding van die absolute stilte. Selfs die geluid van die oerknal verstil in die gedig op p 37. In dieselfde gedig beweer die digter dat die stilte ruimte laat vir die visuele, vir "die gedruis van beelde". Maar dit is juis die gebrek aan prikkelende beeldspraak wat hierdie verse so futloos maak.

Die beelde en metafore is meestal geyk, byvoorbeeld: liefde wat blom (14), liefde wat "soos ’n tent" oor die geliefdes gespan word (18), ’n "versteende" hart (20), die geliefde se bors "dein soos heuwels" (22), die minnaar se hart is ’n herberg (22), ensovoorts. Die beeld van die wit skoenlapper as boodskapper word om ’n onverklaarbare rede in altesaam drie gedigte gebruik (33, 39, 44). Dié wit skoenlappers duik inderwaarheid al in Van Niekerk se eerste bundel op. En dáár doen hy dit veel oortuigender as hier. Ek haal die "oerweergawe" van hierdie gedigte uit die bundel Karoosange (1975) graag aan:

daglank trek die wit
skoenlappers noord

briewe uit die suide
van jou aan my

blanko boodskappe
in die wind

ek weet nie
waarheen hulle waai

dié uitbarsting
van wit verlange.

Die gebrek aan oorspronklikheid word vererger deur die (waarskynlik) onbewuste oorname van woorde en frases uit die Afrikaanse digkuns, soos in: "jou boodskap reg verstaan" (33, Elisabeth Eybers), "’n purper iris" (49, AG Visser), "aankoms uit die skemer" (52, 'n bloemlesingtitel), "my kamer (is) vlakke wit" (32, Van Wyk Louw).  Op p 17 word Boerneef en sy berggansveer wel baie bewus betrek, vanweë die digter se onmag om te sê "hoe diep my liefde vir jou lê".

Dalk is dit onregverdig van my om vars sintuiglike beskrywings te verwag in hierdie bundel van inkeer tot die blinde self:

Dan is dit nou die tyd,
die laaste skof van voel en kyk, van nie weet
wat tas en sien nou eintlik is;
dat senuwee reeds afgestomp,
die sig agter vliese gevange is;
elke oomblik ’n dag, ’n dag ’n jaar, ’n jaar ’n lewenstyd,
want in die brokkelige geheue is kort en lank onsekerheid,
verlede ’n verskuilde helderheid.
Dan is dit mos tyd
om die lig agter die donker horison los te bid
en blindelings die laaste tree te vat. 

Dit is ’n onthutsende gedig waarin daar afstand gedoen word van die wêreld van "tas en sien". Daarom is hierdie leser dankbaar vir die enkele beeldopflikkeringe wat daar elders voorkom: "hoe lank vlieg die arend/ van een windstreek na ’n ander" (40); "’n bestaan waar verlange/ niks anders was as ’n ster/ wat uit die nag in die nag verskiet" (43; ongelukkig weer met ’n Van Wyk Louw-eggo); "stemme, klankgolwe uit die see" (57), en ’n paar ander.

In Karoosange het Dolf van Niekerk bekoor met natuur- en liefdesgedigte waarin hy "min maar suiwer woorde" (Van Wyk Louw) gebruik het. Die volgende vers is vergelykbaar met die bestes uit daardie bundel. Wat ek van hierdie gedig waardeer, is die gestroopte suiwerheid en die volgehoue metafoor van die kokerboom:

Ek stroop die lae
van sy stam, die
hartpatrone op sy bas;
blaai dit tot ’n ope boek
van al die woorde
wat ek vir jou soek.
Maar ek blaai my vas
in vesels van die tyd –
die twyfel
of jy in hierdie dorre land
’n koker vir
my hart sal bly.

  • 1

Kommentaar

  • As kind, jong mens en selfs volwassene het Dolf van Niekerk vir my eindeloos baie beteken -'Skrik kom huis toe' het my hart ontstellend gevang en is steeds een van my mees geliefkoosde boeke.
    Nou sit ek al dertig plus jare in Australië - en op hierdie ouderdom van 67 jaar is my Afrikaanse hart en siel so uitgedor en skreeuend honger vir die taal van my hart, my siel, my elke druppel bloed. En ek besef, dat daardie groot skrywers wie my hart sekuur gelei het na die diep liefde vir ons taal, nou al minder word. Ek sou so graag vir Adam Small dieselfde wou sê, maar wil nou gryp om darem vir Dolf van Niekerk dankie te sê vir die vorming, skone pure sielegenot en liefde wat hy in my wakker gemaak het met sy boeke, die pragtige manier van die teerste en diepste gevoel waarmee hy sy woorde gebruik, en beslis die groot bydra tot ons Taal.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top