Legkaart van ’n jong lewe deur Dolf van Niekerk: ’n resensie

  • 0

Legkaart van ’n jong lewe
Dolf van Niekerk

Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781485310099

Dolf van Niekerk se Legkaart van ’n jong lewe verskyn in 2019 by Protea Boekhuis – ’n bundel kort outobiografiese vertellinge, sketse en selfs kortverhale oor die vorming van sy jong lewe van ongeveer vyf tot net voor sy mondigwording in Februarie 1950.

Van Niekerk is ’n deurwinterde, veelsydige, selfs veteraan-, en ook bekroonde skrywer binne die Afrikaanse letterkunde en uitsaaiwese. ’n Kenner van musiek en filosofie (waarin hy ’n doktorsgraad behaal het); digter; skrywer van jeugverhale, kortverhale en novelles.

Die foto op die buiteblad is al die eerste deel van die legkaart wat voltooi moet word deur die leser se vertolking. En so volg die een leidraad na die ander van ’n jong lewe. Soos ’n mens by die lees (en herlees) van sy jeugherinneringe aflei, is hy ook ’n denker oor die sin van die lewe en veral oor die ineengevlegtheid van verskillende elemente in die natuur en die mens. Soos hy dit stel: “Alles vloei deur die tyd aaneen” – woorde wat hy by Opperman gelees het, sê hy in ’n onderhoud met Corina van der Spoel by die bekendstelling van die bundel.

By alle outobiografiese vertellinge is die leser bewus van twee ek-figure in die teks: die vertellende ek vanuit die herinneringe in sy ouderdom en die belewende, ervarende, besinnende ek in die teks self.

In die voorwoord tot die bundel verwys Van Niekerk reeds na sterk deurlopende motiewe waaraan geraak word, of waarvan hy lewenslank bewus was terwyl hy sy vormingsjare deurgemaak het. Dit sluit in die blywende soeke na wie hy regtig is, sy self en bewustheid van sy buitestanderskap. Daar is ook verwysings na ’n deurlopende skuldgevoel, ’n intense soek na die “iets” wat die bewussyn van die lewe sal verklaar, die karakters in van sy boeke en die lewe as ’n reis op soek na die waarheid binne al hierdie begrippe. Hy stel dit dat hy hom in 2018 bevind in ’n volkome verwondering: “... lê die ‘iets’ van my kindertyd, wat by tye gestalte wou kry, telkens opnuut in verwondering en misterie. Die reis is nie voltooi nie, en ek hoop die roete sal immer in my oop bly. Moontlik, net moontlik, is die reis oplaas die wese van die ‘iets’. Of is die iets dalk die medereisiger wat betekenis aan die reis gee?”

Vir die leser wag hierdie insigte egter in die tipies eenvoudige, gestroopte vertelwyse wat so kenmerkend is van Van Niekerk se prosa, hoofsaaklik vanuit die belewenis van die kind- en jeugdige karakter. En selfs uit die kortste en bedrieglik eenvoudigste essay spreek ’n erkentenis of begrip wat deel geword het van sy vorming as mens. As kind en selfs student bly sy lewe letterlik en figuurlik die oopmaak en toemaak van hekke (en party was smoelneukers), die ervaring van armoede en die klein vreugdes van elke dag, die grootheid van klein ervarings.

Van Niekerk beskryf vir ons die armoedige kleindorpse bestaan in Edenburg, sy kinderervaring van historiese hoogtepunte soos die Simboliese Ossewatrek van 1938 en die afstandelike waarneming van die Tweede Wêreldoorlog, maar ook die protesaksie van die Ossewabrandwag. Daar is die heldeverering vir die akteurs van besoekende toneelgeselskappe en die onverwagte grootoog ontmoeting van eertydse helde soos generaal Dan Pienaar, die stoeier Johannes van der Walt en die Olimpiese atleet Danie Joubert.

Maar as kind groei die verwondering ook in die waarneming van blink lokomotiewe, ’n groot net vol vis, die goedheid van mense wat ’n koppie koffie en toebroodjie koop en vyf lammers wat hy kan verkoop vir studiegeld. Daar is die verwondering en sukses met die posduiwe – so word Skrik kom huis toe gebore, wat vir jare ’n voorgeskrewe boek in ons skole was. Die sukses as atleet en rugbyspeler moet vir ander terugslae vergoed. Dis die dae van ’n tiekie, ’n sikspens en ’n sjieling, wat kosbaar is, tot hy later by halfkrone kan kom om te spaar vir die koop van NP Van Wyk Louw se digbundel Die halwe kring. Tussen al hierdie belewenisse is die fiets sy getrouste bondgenoot.

Hy verwys na sy kinderleesstof, wat die vertaling van Uncle Tom’s cabin, WA de Klerk en PJ Schoeman se jeugboeke, en ook die Afrikaanse volwasseneromans van daardie tyd  insluit, wat hom laat besluit: Minder is meer. Dit, sê hy, is ’n beginsel wat gegroei het by hom en later met bewondering deur sy lesers waargeneem is. So is hy ook in hierdie bundel besig met die “understatement” as oorheersende styl, die suggestie wat tussen kort reëls skuil.

Sy vorming geskied, behalwe in die ouerhuis en skool, onder andere deur die oppas van oumense deur by hulle te gaan slaap as hulle alleen is, werk by die slaghuis, op die plaas, as sinjaalsteller en as afleweraar van briewe. Die essay oor die belangrikheid van die briewe, die respek wat ’n mens daarvoor moet hê en die aard van die mense op die dorp wat hy daardeur leer ken het, asof hy “die hart van die dorp leer ken het”, is een van my gunstelinge.

Maar vorming sluit ook die mislukkings en foute in, soos die afbrand van die pop se neus, die skinkbord wat hy in die houtwerkklas moet maak en die probleme met motorbestuur op gruispaaie.

Met die grootword is daar die groter bewuswording van verganklikheid, langdurige siektes soos dié van sy pa en die oom met die kanker, wat vir hom ’n skedel word wat vir hom Milo in die bed bring, die vretende hartseer na die dood van geliefdes, maar ook sy ontdekking van liefde – met groot onbeholpenheid!

Teen die einde van die bundel is daar in meer as een teks die besinning oor tyd, die herinneringe van Kersfees, die verskil tussen Oujaarsaand met die aflees van die naam van al die gestorwenes en Nuwejaar met sy liggies en musiek. Hy sonder die koms van die reën uit as een van die heel grootste gebeurtenisse in hulle kontrei – reën het by hulle “nie sonder moeite en gebede gekom nie”. Die besef groei dat net baie groot verdriet en skoonheid die mens werklik stil maak.

So word tyd en stilte twee van die dinge wat die ineengevlegtheid van dinge weerspieël. Hy wens hy kan sterretyd en mensetyd met mekaar verbind, die oneindigheid en die kort stukkie lewe. Hy praat Oujaarsaand in die kerk met die “tyd wat jy nie kan sien nie, maar met sy eie lyf langs jou in die bank sit” en hy is dankbaar dat sy pa se naam nie een van dié is wat daardie jaar afgelees word nie. Maar in die gesprek met homself weet hy jy sal dalk eers weet wie jy is as jou naam uitgelees word.

Die herinneringe van ’n jeug se legkaart eindig met twee aparte mooi tekens: die fynste sakdoekie en gelukwensing met al die onderskeidings.

Van Niekerk se vertellinge is oor en oor die moeite werd om te lees. Vir my het die tekste ook weer baie hekke oopgemaak: die oproep van ’n vroeër leefwyse, die indirekte besinning oor die waarde van die alledaagse belewenisse, die assosiasie en herkenning van tekste en gebruike. Dit word ’n eie reis na ’n verlede met ’n ryke verskeidenheid van belewenisse en die blywende indrukke wat nog steeds vorm gee aan ’n groeiende bewussyn op hierdie pad.

Lees ook:

Dolf van Niekerk (1929–)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top