Dis nie ’n ras-ding nie, dis ’n witmens-ding

  • 9

Grafika: Canva

Donald J, Donald J
Sal jy die boere kom lei

–  Jok van Blerk

AfriForum: Dis volksmoord. Wit mense word hier uitgemoor!

Trump: Dis terrible. Wit mense, kom hiernatoe!

AfriForum: Nee, dis heeltemal te lekker hier; kom jy liewer na ons toe!

Verlede week moes ek twee keer kyk om seker te maak ek sien reg toe ek op Facebook die eerste video sien wat Zuckerberg vir my voer. Een van daai wit Afrikaner-pseudojoernaliste wat my wil loop, staan kom vertel oor hoe wonderlik dit is dat Trump VSA-hulp na Suid-Afrika afgesny het.

Wow, dog ek, dis nou ’n interessante siening van die saak, want die eerste gevolge wat die onttrekking van die fondse tot gevolg gaan hê, is dat heelwat gesondheidswerkers hulle werk gaan verloor en ’n klomp mense wat oa hulle MIV- en TB-medikasie by NGO-befondste klinieke gekry het, moet nou elders gaan soek. Wie weet hoeveel meer gaan moet betaal word daarvoor net om aan die lewe te bly. Maar ek luister verder om die verduideliking van die goeie nuus te vind: Hoekom moet ons Trump in die maatreël ondersteun?

Dan volg die verduideliking dat Trump nou die fondse onttrek omdat hy gatvol is vir Ramaphosa wat boere se grond afvat en toelaat dat hulle uitgemoor word. Of miskien is dit omdat die RSA Israel (en dus ook indirek die VSA) se volksmoord in Gaza teenstaan. Inderwaarheid lyk dit of onoffisiële ware president Elon Musk se Department of Governmental Efficiency (DOGE) verantwoordelik is vir die voorlopige vernietiging van USaid. (Ek gebruik die woord “voorlopig”, want Amerika skrik nou wakker en sien wie USaid almal gehelp het, insluitende hulle eie boere, so die vermoede is dat die kraantjie weer vinnig oopgedraai gaan word, alhoewel sekerlik nie vir almal nie.)

........
Hoe hoog op Trump se lysie van dinge wat nie gaan gebeur nie, is “bevryding” van die Afrikanervolk van die groot juk van ANC-heerskappy?
........

Soos ek in die video wegraak, dink ek dadelik aan twee dinge: Foeitog, liewe naïewe kind wat nog dink Trump gaan die boere kom red. Hy voel dan niks vir sy eie mense nie. Hoe hoog op Trump se lysie van dinge wat nie gaan gebeur nie, is “bevryding” van die Afrikanervolk van die groot juk van ANC-heerskappy?

Maar die ding wat my die heel meeste ontstel, is ’n wonderbaarlike liefde: Die liefde vir jou volk moet regtig deur die dak wees as jy jouself verheug in maatreëls wat ander mense in jou land gaan knou, tot die mate dat mense hulle werk gaan verloor, en andere as gevolg daaraan dalk vroeër sal sterf. Maar ja, ander mense se lewens, en sterftes, is ’n klein opoffering op pad na Trump se redding van jou volk. 

Gisteraand op Democracy now! se nuus hoor ek van die eerste mense wat gesterf het agv Trump se USaid-staking: ’n Persoon wat na die kliniek toe gekom het net vir suurstof, is eenvoudig weggewys en het gesterf. Die gewisse dood is nou die realiteit, so ek sou graag die Facebook-joernalis wou vra hoeveel sterftes is aanvaarbaar ten bate van die wit Afrikaner se saak?      

.......
Wanneer  liefde vir jouself en jou tipe so ver gevorder het dat dit haat insluit vir die ander, is daardie liefde giftig, ’n kanker, en is ons samelewing op pad na pyn. 
.......

Hoe lief kan ’n mens sy eie volk hê as daardie liefde dood, pyn en lyding vir ander bring? As liefde vir jou eie so sterk is dat jy jouself verbly in die leed van die ander, dan wil ek sê ons het die liefde-ding nou ’n bietjie ver gevoer, of hoe? Wanneer  liefde vir jouself en jou tipe so ver gevorder het dat dit haat insluit vir die ander, is daardie liefde giftig, ’n kanker, en is ons samelewing op pad na pyn. 

Toe vang die AfriForum-hondjie die bus en Trump nooi wit Suid-Afrikaners uit om hulle in Amerika te kom hervestig, maar dis glad nie wat AfriForum in gedagte gehad het nie. Ek kan nie my “tussen die reëls”-interpretasie van wat AfriForum in gedagte gehad het, as waarheid verkondig nie, maar ek mag sê dit lyk vir my die bedoeling is dat Trump hier op Suid-Afrikaanse bodem moet kom inmeng en homself vir die Afrikaner se posisie hier moet beywer. Hoe dit moet werk, is nie heeltemal duidelik nie. Vir my klink elke voorstel daarvoor maar ’n bietjie hoogverraaderig ... Jy weet, ondermyn so ’n bietjie die Suid-Afrikaanse regering met invloede/magte van buite om wat presies te bereik? Apartheid terug te bring? Wit tuislande te skep? Wat? Wat? Wat presies? 

........
As jy teen hierdie tyd nie weet dat die Trump-plan die amalgamering van “white power” is nie, is jou onkunde aspris. Almal sien dit, maar die klas wat daaruit (wil) baat, sal dit ontken.
........

Maar vir Trump is die hele aksie ’n transaksie waaruit hy wat Trump is, persoonlik moet wen. Trump se “redding” van die wit Afrikaner is nie daar vir die Afrikaner se belange nie, dit is deel van Trump se belange om Amerika witter te maak. Onthou, hy is besig om bruin mense uit te voer en nou sien hy hierdie skatkis van omgekrapte wit mense. Voilà! Kom ons voer die spulletjie in om die demografie van Amerika witter maak. Ons almal kan tussen die reëls lees om te sien dis presies wat Trump met Make America Great Again bedoel: Hoe witter hoe beter! En ons almal weet “great whites” is “sharks” – kyk maar net na Elon en sien sy nuwe $400 miljoen regeringskontrak terwyl ander sterf; en jy moet erken, daar byt heelwat waarheid aan die grappie.

As jy teen hierdie tyd nie weet dat die Trump-plan die amalgamering van “white power” is nie, is jou onkunde aspris. Almal sien dit, maar die klas wat daaruit (wil) baat, sal dit ontken. Ook dat Elon se Nazi-saluut ’n Nazi-saluut was. Trump se swart vriend Kanye West is ’n selferkende Nazi. Wat bewys jy kry ook swart wit heerssugtiges. Ek sê nie alle Trump-ondersteuners is Nazi’s nie, maar jy gaan snaakse dansies moet uitvoer in Trump se binnekring om Nazi’s te ontwyk.

Die een ding wat Trump wel reggekry het, is om sluimerende Nazi’s wêreldwyd te laat ontwaak. Benewens nou al die opgewerkte wit Afrikaners wat al lank wag op hierdie opraping na die nuwe hemel, die groter Orania ... askuus, Amerika met sy oranje messias, en sy Elon Musk wat sit aan die regterhand van Trump, is daar ’n opwelling van ondersteuning van regse partye, maar daarmee saam ook ’n ontwaking van die opposisie daarteen. Toe JD Vance Duitsland besoek het, het hy die leier van die verregse AfD gaan ontmoet, nie die verkose leier van Duitsland nie. Die AfD is ook welbekend as die party waar die Neonazi’s vandag tuis is. Weer eens sê ek nie alle AfD’s is Nazis nie; dis wel die politiese heimat vir Duitsers wat hul nazionale neigings en sêgoed sonder tugtiging kan uitspreek. Dieselfde AfD waarby Elon Musk soos ’n wafferse bose miljardêr ingebel het om hulle op die groot skerm aan te spoor. Die kwik styg beslis; ons sal moet hoop dat die mense kalm bly om te keer dat ’n bakleiery uitbreek. 

........
Kom ons laat hulle in vrede om te glo hulle is uitverkore en spesiaal. Almal saam op een plek, ver weg van ons af.
........

AfriForum is ’n klein speler in die speletjie wat ewe skielik op die groot golf ry. Iets waarvoor hulle duidelik nie gereed was nie, maar soos die Facebook-joernalis gesê het, nog nooit was daar ’n beter geleentheid vir die wit Afrikaner om homself van die las van die ANC af te skud nie. Maar AfriForum is slim genoeg om te sien dat verhuising van die wit Afrikaner na Amerika nie die ryk wit Afrikaner wat baie grond en bates hier besit, mobiliseer nie. Die armes gaan definitief wil gaan. Ek is nie veel van ’n ekonoom nie, maar ek kan sien dat daar ’n leemte veroorsaak word met die bruin immigrante wat uit die VSA gepos word vir wit immigrante wat teen minimumlone werk moet kom verrig wat VSA-burgers nie bereid is om te doen nie. So as jy verby die rassistiese aard van hierdie transaksie kan kyk, dan is daar tóg ’n silwer randjie (dollartjie) by die donker wolk, ’n bietjie geluk by die ongeluk, ’n oplossing vir ’n stukkie van die diep ongelukkige volk. En verder, ek ken persoonlik die salige gevoel van ’n moeilike buurman wat weg trek. 

Ek weet ek is ’n idealistiese mens en ek sou graag dat, wêreldwyd, almal oral in vrede met mekaar kan saamleef. Maar ek is ook ’n realis en besef die onverdraagsaamheidstem het daar bo die verkiesing gewen. En daar het hulle oorlog liewer as vrede en die liefde self. Die kalm antwoord is miskien: “Laat hulle gaan!” Gaan skep die nuwe wit Amerika waarin wit mense kan tuis voel sonder die onnodige druk van respek vir en aanvaarding van alle mense. Dat ons, die res van die wêreld, in vrede kan saamleef met almal van ons wat alle tipes mense aanvaar. Laat hulle almal daar bo sy aan sy krepeer of floreer, almal van hulle saam wat glo wit wees is beter wees. Kom ons laat hulle in vrede om te glo hulle is uitverkore en spesiaal. Almal saam op een plek, ver weg van ons af. Ten minste hoef ons nie meer na hul geneulery te luister van hoe onregverdig die wêreld teenoor die superieure wit mens is nie.

Lees ook:

Wat sê Bettina? Ope brief aan Afrikaner-vlugtelinge op pad na Daddy Trump toe

Wat het die waarheid met die prys van eiers te doen?  

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor Trump en Suid-Afrika

Trump se uitvoerende bevel en die Onteieningswet: Wat nou?

Woke me up before you go-go

 

  • 9

Kommentaar

  • My hart pyn om hierdie te lees, want ek voel jou pyn waarmee jy dit skryf. Wanneer het mense ophou dink?

  • Kobus van den Berg

    Liewe Riku Lätti
    Ek is nie 'n politikus, ekonoom of verslaggewer nie. Ek is 'n trotse, lojale RSA landsburger. Hier in Afrika gebore (dus 'n Afrikaan). Jy kan op my profielfoto kyk hoe ek lyk as jy belang stel.
    Hier het elke individu die reg op sy/haar mening en ons mag ook verskil.
    Ek het jou mening deeglik deurgelees en dit is heel verstaanbaar geskryf.
    Ek is egter van mening jy verloor 'n baie groot presentasie impak met jou opskrif en sekere ongegronde afleidings en gevolgtrekkings wat jy maak.
    Die RAS vs WITMENS in jou opskrif is amper sinoniem, dus sit jy die pot mis en krap waar dit nie jeuk nie.
    As militêre veteraan kan ek jou verseker "assumptions is the mother of all f-ups", hetsy in oorlog of politiek. Ek hoop LitNet het die moed om ook my mening en terugvoer te plaas, want dit het vir ons laat geraak as net eensydige menings hier weerspieël word.
    Mooi loop
    Seën en vrede

  • Barend vd Merwe

    Ek wou swyg, maar in die lig van Kobus se opmerkings, voel ek ook nou nodig om te reageer. Jou opiniestuk krioel gewis van "ongegronde afleidings" soos Kobus dit stel. Maar bowenal doen die toon van jou artikel sleg afbreek aan wat andersins 'n sinvolle bydrae kon wees.

    Jy sing nogal hier en daar iets mooi. Ek kan presies dieselfde van Steve Hofmeyr ook sê. Ook hy sing vir my hier en daar iets mooi.

    Tog jammer dat beide van julle tallentvolle here so baie bog kan praat oor politieke sake.

  • Jason Germeshuys

    Jy is nie alleen in jou sieninge nie, Riku.

    Die ongegronde afleidings wat hier genoem word, is maar net ongegrond omdat die mense nog nooit op daai grond gestaan het nie. So hulle weet nie eens dat dit bestaan nie.

    Dis onkunde wat lei na rasisme, en rassisme wat lei tot haat.

  • Suid-Afrika het homself in die voet geskiet. Hoekom noem jy nie maar liefs die saak op die naam nie, die persoon waarna jy verwys, is natuurlik ene Willem Petzer. Ek dink nie Willem Petzer verheug homself in die dood van 'n ander mens nie. Het jy hom al ooit reguit daaroor gevra?

    Hoekom staan Suid-Afrika in die eerste plek so bakhand voor die gehate neo-kolonialis die Verenigde State van Amerika? Wat het geword van "African sollutions for African problems"? Die volgende gevaar is dat die VSA ook die AGOA-ooreenkoms met Suid-Afrika sal laat vaar. Ook daardie moontlikheid is al lank voor Donald Trump se herkiessing geopper.

    Wat meer is, Willem Petzer en Afriforum is nie die rede vir die VSA se skuiwe nie. Die spanning tussen Suid-Afrika en die VSA kom al 'n wyle. Die VSA se ambassadeur het al voor Trump se oorname vir Suid-Afrika beskuldig dat die land wapens aan die Russe verskaf. Die Demokrate sowel as die Republikeine staan al baie lank krities oor Suid-Afrika se internasionale beleid. Die sentrale rede is die saak wat teen Israel voor die wêreldhof gemaak was. Voeg daarby Suid-Afrika se ondersteuning van Hamas en Hezbolla asook die lidmaatskap van BRICS, dit is die oorsake van die verbrokkeling in verhoudinge.

    As Suid-Afrika hulle geldsake beter bestuur het, nie hulle belastingsbasis verwoes het nie, en hulle ekonomie laat groei het, dan was dit nie nodig om bakhand te staan en bedel voor die weste nie. Die ideologie van Suid-Afrika se heersers is egter anti-kapitalisties, en daarom sal die land aanhou verarm.

    Jou tipering van Orania se inwoners as Nazi's is ewe belaglik. Ken jy ooit 'n enkele inwoner 'n Orania? Maar, ek is eintlik baie goed vertroud met hierdie soort ideologie, waar almal wat durf verskil, as "Nazi's" getipeer word.

  • Hoekom koppel jy telkens die woord superieur aan wit velkleur? Daar is oor die hele spektrum van die populasie mense van alle kleure wat dieselfde waardes, wat jy uitsluitlik aan wittes toesê, deel.

  • Hans Richardt

    Ek dink mense hier, en veral kommentators, behoort Alexandr Dugin se "Vierde politieke teorie" te lees. Die linkse liberalisme is deesdae volsirkelrassisme.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top