Feesfundi Darryl David het dit weer gedoen … en ek het byna ’n groot fout gemaak. Ná ’n week van voluit Suidoosterfees het ek dit ernstig oorweeg om maar hierdie jaar se kinderliteratuurfees mis te loop. Te veel van ’n goeie ding ... ens. Miskien sou ek aanlyn daarna loer. Maar lang storie kort: Ek het betyds by my sinne gekom, en Vrydagoggend net na 9-uur parkeer ek voor die Richard van der Ross-hulpbronnesentrum van die Opvoedkunde-fakulteit by die Universiteit van die Wes-Kaap. Slaggereed om voort te fees.
Dinge skop vrolik af, met een van Darryl se kollegas wat ’n paar instrumente uitdeel en ons met The wheels on the bus aan die gang kry. Vrolike kinderstemmetjies raak die perfekte snare. Almal was verenig. Hierdie op die oog af uiteenlopende groep mense was almal om dieselfde drie redes daar: kinders, boeke en lees. Vir die volgende twee dae sou alles wat kinderboekverwant is, vertoon, vertel en verduidelik, geleer, gewaardeer en geniet en bespreek, bewonder en besing word.
Die eerste boek onder die loep is die splinternuwe Hoe om ’n trein te stop (How to stop a train) – die storie van Mohandas Gandhi, deur Stephanie Ebert en Kathryn Pillay. Kathryn Pillay beskryf dit, heel gepas, as ’n handboek oor moed en dapperheid. Die legendariese Paddy Bouma vertel hierna van haar navorsing en proses voor en tydens die illustrasie van die boek. Sy slaag skitterend daarin om ’n bewustheid van plek oor te dra. Dis ’n baie treffende en mooi boek.

Boeke op uitstalling (foto: Darryl David)
Hoewel Gandhi dit reggekry het om die trein te laat stop, begin Darryl se trein op dié stadium spoed optel. Na nóg ’n vinnige kinderliedjie word ons trakteer deur Kristen Dembaremba wat haar Book Dash-storie, The boy who only ate pancakes, kompleet met mengbak en klitser en ’n paar ongewone bestanddele, voorlees. Met die volgende prenteboek aan die beurt, Pampoenpit kry ’n beat (Pumpkin finds her beat), kry Bianca Flanders die kleintjies aan die vingers klap, giggel en wikkel op hulle stoele. Dis duidelik dat die liedjie en opgewondenheid waarmee Pampoenpit in haar kop wakker geword het, aansteeklik is. Een boek wat vir seker nie as slaaptydstorie oorweeg moet word nie.
Ná Mark de Wet ’n kort animasieprent na aanleiding van sy The whale tale wys, is Caroline Montague aanlyn aan die beurt om meer oor haar Zoya and Naru te vertel. Zoya is ’n klein olifantjie, en sy ma is deur stropers doodgemaak. Naru, ’n klein seuntjie, ontferm hom oor Zoya, en die oorhoofse boodskap van die boek is dat daar na harmonie tussen mens en dier gestreef moet word.

Nadine Petrick en Wendy Maartens
Die gemoedere lig wanneer Sybrandus Adema aan die woord kom en van Tando die tandmuis van Muizenberg begin vertel – ’n storie wat sy pa kleintyd aan hulle vertel het. Tsitsi het ’n tand gewissel en Tando moet dit ná middernag gaan haal. Om daar te kom en terug by sy grot, moet hy egter by Sosatie, ’n wrede kat (wat eenmaal in die Neges-bende was en nou, ná hy twee lewens verloor het die baas van die Sewes-bende is), én by die slinkse Slangtyn verbykom. ’n Prenteboek met teks in Afrikaans en Engels en onkonvensionele illustrasies propvol humor wat saam met die teks aan die storie vertel.
Nadine Petrick en Wendy Maartens is volgende aan die beurt. Nadine vertel meer oor LAPA se nuwe bloemlesing vir hoërskole, Apocalypse at the end of the street, wat deur Marita Nel saamgestel is en gedigte, kortverhale, dramas en folklore deur ’n verskeidenheid jeugboekskrywers bevat. Nadine gesels ook met Wendy oor haar nuwe Sankind lees die wind, ’n bundel Sanstories, -gedigte en -gebede met pitkos oor die kultuur en gebruike van hierdie interessante groep mense, by wie Wendy glo ons baie kan leer.
Hierdie jaar is Piet Grobler vir sy enorme bydrae tot Suid-Afrikaanse kinder- en jeugliteratuur vereer. Omdat hy deesdae in Portugal woon, moes ons tevrede wees om sy insiggewende praatjie oor hoe hy as illustreerder baie balle in die lug moet hou, aanlyn te volg. En wanneer ’n bal val, sê hy, moet jy dit skop. Interessante staaltjies van dié skoppe wanneer jy gekonfronteer word met kulture waar interpretasies van joune verskil, was deel van die pakket. Sy aanbieding het my weer lus gemaak om ou gunstelinge, soos Die voëltjies se ABC, Padda; Die mooiste sprokies van Grimm; Die spree met foete; Vandag is ek ’n windlawaai; Kiets in Parys en Net een slukkie, Padda! van die rak af te haal. By die huis aangekom, was ek dadelik aan die Google en in die wolke toe ek sien dat ek ’n vooruitbestelling vir Dan Auta by ’n aanlyn winkel kan plaas. Hopelik kom Piet gou kuier om sy welverdiende trofee (’n Big Ears-beeldjie) te kom haal.

Darryl David en Morné, een van Darryl se studente wat uit Paula Fourie se boek voorgelees het (foto: Maja Meyer)
Ek kon ongelukkig nie die middagsessie van dag 1 bywoon nie, en moes van Darryl se trein afklim. Soos dit mos maar gaan as mens nie op die regte tyd op die regte plek is nie, hoor ek Vrydagaand dat Darryl se onderhoud met Riaan Manser oor sy boek My eerste wilde eiland-avontuur (My first wild island adventure) inderdaad ’n wilde en inspirerende avontuur was. Riaan het ook My eerste Afrika-avontuur, wat ook in Engels beskikbaar is, gepubliseer.

NB-Uitgewers
Saterdagoggend is ek wel weer op die trein toe ons die dinamiese Lorato Trok, die nuwe hoof- uitvoerende beampte van Nalibali, ontmoet. Sy gesels geesdriftig oor hoe sy met stories grootgemaak is. Later vertel sy ook van haar reeks biografieë oor onbesonge helde.
Darryl het met hierdie fees sy studente in die werk gesteek om onder andere sprekers voor te stel, onderhoude te voer en voorlesings te doen, en hulle het hulle uitstekend van hul taak gekwyt. In een van hierdie onderhoude vertel Fiona van Kerwel meer oor Leë blikkies vol liefde, Best Books se Eerste Addisionele Taal-kortverhaalbundel vir graad 7 tot 9. Fiona noem dat as samesteller sy daarop gefokus het dat leerders se ervaringswêreld weerspieël moes word sodat kinders met die stories sal identifiseer en daarby, en uiteindelik, by lees sal inkoop.
Toe is dit weer tyd vir ’n prenteboek, en The dog with the broken wag, die Engelse weergawe van Paula Fourie se Die hond met die stert sonder swaai, word voorgelees. Nuutskeppings, rym en alliterasie maak dié boek die perfekte keuse as voorleesboek en Emily House se vrolike en speelse illustrasies in helder pastelle skep ruimte vir verdere interpretasie.

Tumelo Moleleki (foto: Darryl David)
Ek probeer om sover as moontlik op die hoogte te bly van wat aangaan in die Suid-Afrikaanse kinderliteratuurwêreld; wat beskikbaar is, ens. Tog kry Darryl David dit elke jaar reg om my te laat besef hoe baie ek miskyk of misloop, hoe baie ek nog moet en wil leer. Een van my lekkerste ontmoetings dié jaar is Tumelo Moleleki. Sy stap Saterdagoggend vorentoe met ’n geel boek en ’n handgemaakte pop. Sy vertel ons dat lees haar verslawing is en dat sy graag ’n stukkie uit die geel boek, Chulumanco, wil voorlees. Die jongstes onder ons besluit dat sy die Xhosa-weergawe moet lees en sy val weg. Sy vertel ons Xhosa-dowe ore darem dat Chulumanco vir baie dinge bang is op die pad deur die bos na sy oom en dat sy hierdie storie geskryf het om dit ‘n bietjie makliker te maak vir kinders, veral vir dié wat bang is as gevolg van “ouvroustories” wat oorvertel word. Sy het al ’n hele paar titels op haar kerfstok, waaronder ’n paar tienerboeke wat vir my baie interessant klink, en almal is self uitgegee. Wat ’n inspirerende vrou.

NB-Uitgewers
Dan is die enigste tiener-/jongvolwasseneboek van die naweek aan die beurt. Nog een van Darryl se studente gesels met Elrien Scheepers oor haar Waar jakkalse huil. Dis moeilik om haar te glo as sy sê dat sy maar ses jaar gelede wetenskapfiksie ontdek het. Sy skryf met ’n ferm hand in die genre. Met die lees van Waar jakkalse huil moes ek kophou om tussen mense, androïede, kuborge, Sims en Genmods te onderskei, maar ophou was nooit ’n opsie nie. Elrien maak goeie stories en skryf slim en boeiend. Sy laat jou dink, maak jou kwaad, bang, en hartseer; en sy onderskat nooit haar leser se intelligensie nie. Sy het my met haar debuut, Donker bloed, tot wetenskapfiksie of toekomsfiksie oorgehaal, en van toe af sal ek alles wat sy skryf, ’n kans gee.
’n Onderwyseres, Danielle Kotze, kom deel haar storie oor Zebbie met die kinders. Sy en haar man laat die kinders saamsing. Sy vertel hulle agterna dat sy kanker het en dat hierdie siekte haar geïnspireer het om ’n geestelike boek vir kinders te skryf.
Pascalle Jacquelin het aanlyn ingeskakel en vir die kinders vertel mens kan ’n storie skryf al het mens ook leeruitdagings. Temas in haar gesprek is boelies en gestremdhede en sy vertel dat hulle van mekaar oor mekaar leer. Ook selfaanvaarding, en dat sy vanuit haar eie ervarings skryf.
’n Rukkie later raak dinge jolig. Dink djembes, ’n kitaar en ’n viool. Elsibé McGuffog en Naomi Meyer word voorgestel. Naomi Meyer gee ’n kort opsomming van haar Seeperde, ’n selfleesboek vir 9–12-jariges. Seeperde is ’n identifiseerbare skoolstorie met ’n paar interessante kinkels. Perde en musiek, veral ritme, speel ’n belangrike rol in die verhaal. En ja, daar is ’n djembe by betrokke. Elsibé vertel dan wat gebeur wanneer Katja besluit op ’n kattesalon as fondsinsamelingsprojek in haar kleurvolle prenteboek, Katja en die kattesalon. En toe maak hulle musiek, en ons sing saam. Groot pret.

Curtus van Kerwel (kitaarspeler), Elsibé Loubser McGuffog en Naomi Meyer (foto: Darryl David)
Volgende luister ons na Roscoe Williams en Mark Klink van Read to Rise, ’n niewinsgewende organisasie wat hulle vir kindergeletterdheid beywer. Die Oaky-boeke wat hulle in hulle leesprogram gebruik, is hoofsaaklik in Engels beskikbaar, maar ek het Oaky en die son in die hande gekry. Hulle fokus op graad 2- en 3-leerders in Mitchells Plain en graad 3- en 4-leerders in Soweto. Hulle sluit hulle praatjie af met Mark wat Oaky and the race voorlees. Oaky is ’n akker en word uitgedaag om teen ’n dennebol resies te hardloop, en die prys is die speelterrein. Die Read to Rise-span is helde.
Na middagete vertel Nolubabalo Rani, ’n storieverteller, ons ’n storie van Ntente die hasie en Langa die son se vriendskap wat ook maar lol as Langa Ntente per ongeluk brand. Theolla Langenhoven vertel van haar gebedsboek vir tieners, Die Here kom sterk deur.
Ja, Darryl het ’n smorgasbord van skrywers en stories op hierdie trein gekry.
Die lokaal begin leër loop, en net toe Celest Lotter Nirenstein vorentoe kom om Cheesecake eats the world, haar prenteboek wat sy ook self geïllustreer het, voor te lees, vertrek die laaste kinders. Ons skuif almal nader en luister na die storie oor ’n lekkerbekduif. Van pizza in Seepunt tot Vindalookerrie in Mumbai tot baklava in Griekeland. Hy toer en eet tog te lekker. Maar dis nou tot ’n verlanghonger in sy maag kom sit en een van die laaste illustrasies in die boek weer van Tafelberg is.
Karen Cammell vertel volgende van haar Abi en Kumo-leesreeks en -program en hoe sy te werk gegaan het om dit saam te stel voor ons die 2024-kinderliteratuurfees op ’n nogal ernstige noot afsluit. Natalie Knox het The mending chronicles of Liam and Emily, ’n tipe aanpassingsgids as terapie vir kinders wie se ouers skei, geskryf. Marieta McGrath, wat die prenteboek Die groot kompetisie geskryf het, het Natalie se boek as Die reis van die dapper hart vertaal en dit is nou as e-boek beskikbaar.
Dan is dit klaar. Darryl se trein stop. Skielik wens ek die regte student, skrywer, uitgewer, maar veral nuwe leser was op die trein om die regte bespreking of voorlesing te hoor. Die ou ding van die regte boek op die regte tyd by die regte leser bly belangrik. Maar hierdie fees is nog in sy kinderskoene. Die boodskap moet nog uit. Daar wás meer voete dié jaar. Nou moet ons daarna streef om die skoengroottes reg te kry.
Een ding is seker: Darryl se trein is êrens op pad en ek het seisoenkaartjies.
Afrikaanse boeke in Kinderliteratuurfees-oorsig
- Hoe om ’n trein te stop deur Stephanie Ebert en Kathryn Pillay – 978-1-7762537-2-2
- Pampoenpit kry ’n beat – 978-0-6370017-7-9
- Tando die tandmuis van Muizenberg – 978-0-9814168-7-8
- Sankind lees die wind – 978-0-6370003-8-3
- Kiets in Parys – 978-0-6396020-2-8
- Die hond met die stert sonder swaai – 978-0-6240924-9-0
- Die mooiste sprokies van Grimm – 978-0-7981825-9-1
- Die voëltjies se ABC – 978-1-8691950-8-3
- My eerste wilde eiland-avontuur – 978-0-6370034-5-2
- Leë blikkies vol liefde – 978-1-7760731-5-3
- Waar jakkalse huil – 978-0-6240941-2-8
- Seeperde – 978-1-7762529-7-8.
Lees ook:
Die hond met die stert sonder swaai | The dog with the broken wag: ’n onderhoud met Paula Fourie
"Ek wou die boek skryf wat ek nie as kind gehad het nie" – ’n onderhoud met Bianca Flanders
Elsibe Loubser McGuffog gesels met Naomi Meyer oor Katja se kattesalon.
Oorsig: ’n hartverwarmende derde Suid-Afrikaanse kinderliteratuurfees
Kommentaar
Baie dankie vir die oorsig.