Oorsig: ’n hartverwarmende derde Suid-Afrikaanse kinderliteratuurfees

  • 0

Terwyl baie mense Saterdag vasgenael was voor die televisie om die kroning van koning Charles III gade te slaan, was ek bevoorreg om in die geselskap van mense wat ék as vorstelik en indrukwekkend en rolmodelle ag, te wees: Ek het dié naweek die derde Suid-Afrikaanse fees vir kinderliteratuur bygewoon. Net ’n rukkie ná Charles III se kroning, het Alida Bothma, ná ’n aanbieding ter agtergrond van haar indrukwekkende illustrasiepad, haar trofee (’n beeldjie van die fees se gelukbringer, Big Ears) in ontvangs geneem. Die ander twee 2023-bekroondes vir lewenslange bydraes tot kinderliteratuur, Dianne Stewart en Joan Rankin, het hulle toekennings aanlyn (op twee groot skerms) ontvang. Joan en Dianne het ook albei ’n boeiende oorsig van hulle werk gelewer, waarna dit onmiskenbaar was dat al drie waardige ontvangers van hierdie toekenning is. Bravo!

Die fees was egter nie net vir of oor diegene wat reeds “vorstelike” status bereik het nie. Vrydagoggend het afgeskop met ’n filmvertoning van The Smeds and the Smoos, die animasiefilm van Julia Donaldson se kostelike prenteboek, en groepe kinders van drie nabygeleë skole was vasgenael. (Terloops, dié boek is deur Jaco Jacobs as Die Smooie en die Smoue in Afrikaans vertaal.) Hierna het René Toesie die gehoor aan die skaamgiggel gehad toe sy oor haar boek, The secret life of poo, gesels het voor Marisa Steynberg háár boek oor die bedreigde oewerkonyn, Jessie and the riverine rabbit, aan hulle voorgelees het. Marisa het die waterverfillustrasies van haar boek, op hierdie stadium nog ’n proefkopie, self gedoen.

Die fees het ’n hele paar selfgepubliseerde outeurs en/of illustreerders op die voorgrond gebring. Christa Kleynhans se Four-legged life lessons: The legacy of Koos Opperman of the Free State, vertel die storie van die beduiwelde Koos Opperman, ’n korthaarskaaphond, aan die hand van kort grepe lewensadvies. Danielle Kotze en haar span het die kinders aan die sing gehad voor hulle by haar op die vloer moes kom sit en sy haar prenteboek, Zebbie ontdek sy kleure, entoesiasties aan hulle voorgelees het. Vroeg Saterdagoggend het die feesorganiseerder, Darryl David, sy prenteboek, ook ’n proefkopie, A place to call home, voorgelees, en dit was duidelik dat hy met sy storie hulde aan sy komvandaan, KwaZulu-Natal, wou bring. Ek het nooit gedink dat die einde van ’n kolgans my so sou raak nie.

Darryl David lees A place to call home voor (Foto: Magdel Vorster)

Die kersie op die koek in die selfpublikasiekategorie was egter Alicia English en haar negejarige seuntjie, Matthew, van Mitchells Plain. Ná haar man se dood aan COVID-19-verwante oorsake in 2021 het Alice Matthew se storie neergeskryf, ’n illustreerder gekry en I miss Daddy uitgegee. Matthew het self sy storie voorgelees, en ek is nou die trotse eienaar van ’n getekende kopie.

Vir diegene wat aanmoediging nodig het om trots Suid-Afrikaans te voel, was daar doepa te kus en te keur. Daniel Snaddon, animasieregisseur vir onder andere ’n hele paar bekende Julia Donaldson-animasiefilms, het oor ’n nuwe grafiese roman, Kariba, wat binnekort verskyn, gesels. Hy het die boek saam met Daniel Clarke, ook met ’n indrukwekkende IMDB-CV, en sy broer, James Clarke, geskep. Karen Vermeulen, wat die illustrasies gedoen het vir It’s just skin, silly!, wat ook binnekort verskyn en, soos Kariba, deur Catalyst Press uitgegee is, het saamgesels oor die soms eensame lewe van ’n kunstenaar/illustreerder.

Boekomslae: Catalyst Press

Nog ’n grafiese roman wat aandag gekry het, is Anzil Kulsen en Alistair Ackermann se Ragab, ’n verteerbare weergawe van dié Bybelverhaal vir jong lesers. Mia Oosthuizen het ook met haar gesels oor die derde titel in haar Karatekas-reeks, Dorings en drake, nog ’n lekker aflewering met letterlike skop.

Mike Bruton het ’n tafel vol rekwisiete saamgebring om sy twee praatjies oor sy boeke, What a great idea en The amazing coelacanth, nog interessanter te maak, en oud en jonk het aan sy lippe gehang. Dis geen wonder dat Engela Duvenage, wat met Nadine Petrick oor haar boek Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika gesels het, daar opgedaag het met haar stapeltjie van sy boeke nie. Ná sy praatjie het sy hulle terstond geneem om te laat teken.

Bekende skrywers en illustreerders, my helde reeds voor die fees, was goed verteenwoordig. De Wet Hugo en Stephen Wallace het aanlyn oor Die holderstebolder hondepartytjie gepraat, maar Vian Oelofsen was op die verhoog om oor sy Liewe Heksie-illustrasies te gesels. Vir diegene wat al ’n lang pad met Blommeland stap, het hy weer die illustrasies van die langspeelplate en die TV-animasiereeks, die inspirasie vir sy illustrasies, voor oë geroep. In haar onderhoud met Mia oor haar splinternuwe jeugroman, Reën vir Stofvlei, het Katherine Graham genoem dat sy haar “familiegeskiedenis in fiksie omskep” en haar “Afrikaanse wortels” omarm het.

’n Paar keer was die jongstes in die gehoor (Grondslagfase) duidelik moeg vir dié boekpraatjies, en is beplande gesprekke spontaan in heerlike voorleessessies verander. Wendy Maartens se voorlesings uit haar Jakkals en Wolf-bundel en Donkie se langpad dorp toe, het alle kriewels getem. Crystal Warren het haar Bookdash-boekie, The best nest, voorgelees – ’n sjarmante verhaaltjie wat weer herinner dat die gras maar net groener lyk aan die ander kant. Ek het toevallig verlede week in ’n gesprek met Deidre Jantjies en Crystal-Donna Roberts gehoor hoe Deidre vertel dat sy nie op die oomblik ’n volgende boek beplan nie, maar dat sy maar sal “dala what you must”. En daar sien ek haar in aksie! Op ’n stadium het sy op die gras gaan sit en stories lees. Soos ’n wafferse rottevanger van Hameln (of Heartlands) het sy kinders gelok om by haar te kom sit. Marisa Steynberg het weer gaan help gesigte verf.

Vir diegene op soek na stewiger pitkos, was daar deurgaans, soos die geleentheid beloof het, ’n fees. Elaine Ridge, ’n gesaghebbende naam in die Suid-Afrikaanse kinderliteratuurwêreld, het onderhoude gevoer met onder andere Katherine Graham oor A passionate vision, the story of Irma Stern en Matina Mpofu oor Thingamagic – ’n bekoorlike prenteboek oor ’n skeerbekmuis wat skuiling in ’n vergete handskoen vind. “Magic” is daar wel, want die handskoen bied later skuiling vir baie diere. Janina Pechova is oor haar Little five-reeks uitgevra. Nik Kirknis het vertel van Girls don’t do that, die storie van sokkerster Thembi Kgatlana, wat kleurvol deur Chantelle en Burgen Thorne geïllustreer is en in vyf tale gaan verskyn.

Boekomslae: Bridge Books en Jacana

Van Chantelle en Burgen Thorne gepraat: Hulle het Shudu finds her magic ook geïllustreer en ons het die voorreg gehad om na ’n vooraf opgeneemde onderhoud met Shudufhadzo Musida, die skrywer daarvan en 2020 se Mejuffrou Suid-Afrika, te luister. Haar boek is geïnspireer deur haar eie kinderdae en boeliery wat sy moes verduur toe hulle na ’n nuwe provinsie getrek het. Soos sy sê, sy was nie lelik nie. Die feit dat sy anders was, was egter genoeg ammunisie vir die boelies – ’n mooi boek wat baie vir baie kinders kan beteken.

Dianne Stewart was, benewens vir die “kroningsgeleentheid” Saterdagmiddag, ook twee ander kere aanlyn aan die saamkuier. Sy het met Darryl gesels oor haar twee nuutste boeke, The boy who hated insects en vir ouer lesers, Time of the swallows. Time of the swallows is ’n grootwordverhaal wat verlies en die gebrek aan rolmodelle in kinders en jongmense se lewens aanspreek.

Ja, feesfundi Darryl, was in sy element en moes bontstaan om gesprekke met sy uiteenlopende gastelys te voer. By Deidre Jantjies het hy gehoor dat sy met haar bundel, Stories in die wind, ’n stem wou gee aan ’n ryk kultuur van ons land wat tot dusver min lugtyd gekry het. Sy het gedeeltes van outentieke stories geneem en dit hedendaags gemaak. Khoikhoi-woorde is ingesluit om dit eg te hou.

Die inspirasie agter die kleurvolle It’s wonderful me! was ook om die waarde van jong Suid-Afrikaners wat hulle erfenis verstaan en koester te beklemtoon. Die skrywer, Makhosazana De Wette Dludla, en die illustreerder, Dedré Fouquet, het daaroor kom gesels.

Nog ’n skrywer in wie se debuutroman haar komvandaan en identiteit neerslag vind, is Crystal-Donna Roberts, wat met Mia oor Speurder Sammi en die blou steen gesels het. Sy wou ’n karakter skep wat reeds op 13 dinge ervaar het waardeur baie nooit sal gaan nie, en uitbeeld wat dit aan iemand op dié jong ouderdom doen. En vir ’n tikkie magiese realisme is daar die blou steen.

Mia Oosthuizen en Crystal-Donna Roberts (Foto: Magdel Vorster)

Een van ons belowende jong skrywers op die kinderliteratuurtoneel, Joha van Dyk, het ook oor die rol van magiese realisme in die tweede titel van die Branderjaer-reeks, Vuurvreter, gesels. Vir my was die hoogtepunt van hierdie gesprek egter dat die derde boek aan die einde van die jaar verskyn! In ’n onderhoud met die befaamde reeksskrywer Elizabeth Wasserman oor die vyfde boek in haar Elf dae-reeks vir tieners, Elf dae in Amsterdam, wou Mia weet hoe sy kopgehou het met die hoofkarakter, Millie, se ouma se dagboekinskrywings van jare gelede en Millie se hedendaagse omswerwinge in Amsterdam. Ja, Elizabeth het haar geheim verklap, maar dis ongelukkig uitsluitlik vir feesgangers beskore!

Een van my gunstelingjeugboeke is Spoekie. Spoekie is André Trantraal se Kaapse vertaling van Jason Reynolds se Ghost. Ek was dus baie opgewonde om op die program te sien dat Mia met hom daaroor gaan gesels. Hy het genoem dat dit vir hom maklik en logies was om hierdie boek in Kaaps te vertaal, omdat hy voel dat bruin mense byval vind by die Afro-Amerikaanse dialek waarin Ghost geskryf is, dieselfde byna donker humor waardeer, en dat daar raakpunte met sosio-ekonomiese omstandighede is.

Mia Oosthuizen en André Trantraal (Foto: Magdel Vorster)

Sally Partridge het ook twee keer aanlyn ingeloer. Darryl het eers met haar oor Sea star summer gesels, en later oor haar moordraaiselverhaal wat binnekort verskyn, The witches of Hogsback, en Sally het beklemtoon hoe belangrik ’n goeie waarnemingsvermoë vir skrywers is. Ek sien reikhalsend uit na hoofkarakter, Zelda Scott, geïnspireer deur Scott en Zelda Fitzgerald, se speurwerk.

Salamina Mosese het vertel dat die hoofkarakter, Tumi, in haar skreeusnaakse boek, Disaster at Gogo’s spaza, op haar dogtertjie gebaseer is. Verbeel jou drie kinders neem ’n winkel oor. Korrek: chaos.

Nadine het Sondagmiddag ook met Nanette van Rooyen en Noreen Nolte gesels. Wat ’n lekkerte. Tieners is vir Nanette fassinerend, so sy geniet dit om vir hulle te skryf. Sy het interessante staaltjies gedeel oor haar navorsing oor groen graffiti en “tagging” en tatoeëring, tatoeëermerke en die beweegredes daaragter met die skryf van onderskeidelik Ek was hier en Die sewentiende veer. Op ’n opmerking dat haar stories meestal in Kaapstad afspeel, antwoord sy: “Ek heg dig met my omgewing. As ’n mens in die Bo-Kaap rondstap, switch jou oor letterlik oor na ’n ander kanaal. Kaapstad praat baie tale.” Hoe lekker is dit nie om na woordkunstenaars te luister nie. Noreen Nolte vertel dat sy vir jongmense skryf omdat hulle deel van haar onmiddellike omgewing is. Haar nuutste boek, Uitverkies, is ’n distopiese verhaal waartydens ek lekker naels gekou het. Dis duidelik dat Noreen, soos sy moes bieg, ’n Hunger Games-aanhanger is. Kom ons hoop sy skryf gou nog een.

Nadine Petrick en Nanette van Rooyen (Foto: Magdel Vorster)

En toe is die fees verby. En dit wás ’n fees. Darryl David en sy span gooi die net wyd. Om die gonswoord van die tye te gebruik: Dis ’n inklusiewe fees. Daar is ’n “hoe meer siele ...”-gevoel. Nou moet ons net daarin slaag om volgende jaar meer siele en meer voete deur die hekke van hierdie wonderlike plek, Heartlands Baby Sanctuary, te kry. Vir nou is my wens dat elke deelnemer aan Darryl se program ná hierdie naweek gehoor, gesien, gewaardeer en geïnspireer voel. Ek salueer julle.

Baie dankie, Darryl David en span.

Lees ook:

Darryl David on the SA Festival of Children’s Literature

Press release: SA Festival of Children’s Literature

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top