Die hond met die stert sonder swaai | The dog with the broken wag: ’n onderhoud met Paula Fourie

  • 0

Boekomslae: NB-Uitgewers

Die hond met die stert sonder swaai
Paula Fourie
Tafelberg
ISBN: 9780624092490

The dog with the broken wag
Paula Fourie
NB Publishers
ISBN: 9780624092483 

Paula Fourie praat met Naomi Meyer oor Paula se boek Die hond met die stert sonder swaai (ook in Engels beskikbaar as The dog with the broken wag).

Paula, jy is bekend vir navorsing oor musikante, en hier is nou ’n kinderboek uit jou pen. Baie geluk daarmee! Het die feit dat jy nou self ’n ma is, dalk te doen met die inspirasie vir die boek? Vertel ’n bietjie van die boek se geboorte. (En wanneer het jy tyd gekry om dit te skryf?)

Dit wil natuurlik so voorkom, maar hierdie kinderboek is gekonseptualiseer en geskryf lank voordat ek geweet het dat ek ’n ma wil word. Altans, dit was dalk een van die eerste tekens van daardie toe nog onbewustelike begeerte. So het die liggaam natuurlik haar maniere om jou te herinner dat jy nie net kop is nie.

Die hoofkarakter van die boek is geskoei op ons eie hond, Jakkals, wat in 2014 aangeneem is. Sy kom af en toe dieselfde ding oor as Jakkals in die boek, gewoonlik nadat ek haar te veel stokke of tennisballe uit die Eersterivier gaan laat haal het. Jakkals is ’n entoesiastiese hond wat net wil werk. In ’n ander lewe het sy seker bomme of dwelms uitgesnuffel, of andersins gevalle eende uit ’n dam gaan haal. Ek moet myself telkens herinner dat Jakkals nie haar eie perke ken nie – sy sal aanhou werk totdat sy nie meer kán nie, en dis dan wanneer sy wakker word met ’n stert sonder swaai. Dis naamlik ’n werklike kondisie, al word dit eintlik akute koudale miopatie genoem. Die eerste keer toe dit Jakkals oorgekom het, het ons nie geweet wat fout is nie. Ons het dadelik ons menslike emosies en kommer op haar geprojekteer. So is die storie eintlik biografies. Toe ons agterkom die fout lê by haar stert, het ek die kondisie nagevors. Dit was die Engelse naam daarvoor, “broken wag syndrome”, wat eenvoudig aangedring het op ’n kinderboek.

Ek het die boek iewers in 2020 begin skryf terwyl ek nog besig was met Taliep Petersen se biografie en dit het saam met die ander goed waaraan ek werk, eers in ’n laai beland. Dit klink dalk soos ’n lang aanloop vir die publikasie wat ek nou in my hand hou, maar dis glad nie ’n uitsondering nie. Ek werk al veel langer aan ander goed wat nog moet verskyn. 2023 is maar net die oesjaar van The dog with the broken wag / Die hond met die stert sonder swaai.

Ek vind dit oulik dat jou een hoofkarakter Honds praat. En diegene wat die boek vir hulle kinders voorlees, gaan ’n bietjie sukkel met daardie taal. Of hoe? Wil jy iets sê van jou storie se taligheid?

Kommunikasie, en spesifiek dat daar verskillende maniere is van kommunikeer, lê aan die hart van hierdie storie. Ook dat elke taal ander maniere van dink fasiliteer vanweë die gereedskap, dws die woorde en sintaksis, wat vir sy sprekers beskikbaar is. En so het ek in Jakkals se kop probeer inklim: Hoe dink ’n hond oor haar lyf, hoe praat ’n hond oor haar lyf? Dit wil oplaas lyk asof individuele ledemate meer respek verdien in hondetaal, of dan Honds, as in mensetaal – hulle is byna karakters uit eie reg. Ek het vreeslik pret gehad.

..........
Hierdie beginsel transendeer natuurlik taal. Ek hoop die boek kan gesprekke tussen kinders en ouers fasiliteer, juis omdat dit wil benadruk dat almal se binnewêreld, en hoe hulle uiting gee (of nie!) aan daardie binnewêreld, verskillend is en respek verdien.
.............

Hierdie beginsel transendeer natuurlik taal. Ek hoop die boek kan gesprekke tussen kinders en ouers fasiliteer, juis omdat dit wil benadruk dat almal se binnewêreld, en hoe hulle uiting gee (of nie!) aan daardie binnewêreld, verskillend is en respek verdien.

Hierdie is waarskynlik ’n manifestasie van my breër bemoeienisse. Ek is drietalig en werk sedert 2019 aan ’n projek vir ’n Switserse universiteit – ek kyk na Afrikaanse vertalings van Switserse toneelstukke en romans (deur Friedrich Dürrenmatt en Max Frisch) wat tydens die apartheidsjare vertaal en gepubliseer of opgevoer is. En dis op so ’n oomblik dat ek besef mens is werklik die som van al jou skryfwerk, hoe uiteenlopend dit ook al mag blyk.

Ek het nou reeds verklap dat die boek vir voorlees is. Jy het dit nie geskryf vir jong lesers nie, maar vir jong luisteraars. Hoekom is dit belangrik vir ouers om vir hul kinders voor te lees?

Danksy my dogter weet ek dit nou selfs beter as toe ek die boek geskryf het. Lank voordat kinders noodwendig semantiese sin uit woorde kry, put hulle genot uit klank – hetsy uit rym, ritme, assonansie of alliterasie. Enige hardop praat en lees is belangrik vir taalaanwins, maar ek dink veral ritmiese, rymende woorde gee kinders ’n gevoel vir taal. Vir my is dit belangrik dat kinders lank voordat hul self kan lees en agter ’n skoolbank ingedruk word, moet besef dat mens met woorde kan speel en dat hulle jou kan meesleur soos ’n onstuitbare stroom. Ek hoop hierdie kinderboek dra daardie boodskap oor!

............
Vir my is dit belangrik dat kinders lank voordat hul self kan lees en agter ’n skoolbank ingedruk word, moet besef dat mens met woorde kan speel en dat hulle jou kan meesleur soos ’n onstuitbare stroom. Ek hoop hierdie kinderboek dra daardie boodskap oor!
..............

Lees moenie net opvoedkundig wees nie, of hoe? Wat is vir jou prettig aan jou storie en wat dink jy is vir kinders, noudat jy self ’n ma is, ook prettig?

Oukei, so ek hoop dis duidelik uit wat ek hier bo geskryf het dat daar vir my geen werklike opvoeding sonder pret kan gebeur nie! Vir volwassenes ook, moet ek bysê.

Ek kry vreeslik lekker oor die feit dat Jakkals haar eie taal het, en by uitstek haar eie wêreldsiening wat in haar taal uiting kry. Op ’n stadium in die Engelse teks kreun sy ook: “We’re not neg-e-leceted!” en dis vir my ook prettig dat die eiesinnigheid van haar woordeskat uiting kry.

............
Maar die lekkerste is eintlik die storie se baldadige ritme, en daarvoor is die jambiese pentameter, die metriese patroon waarin ek dit geskryf het, verantwoordelik. Maar daarmee saam geniet ek veral die plekke waar die teks hierdie reëls en ook die rymskema oortree en met die vorm speel.
.............

Maar die lekkerste is eintlik die storie se baldadige ritme, en daarvoor is die jambiese pentameter, die metriese patroon waarin ek dit geskryf het, verantwoordelik. Maar daarmee saam geniet ek veral die plekke waar die teks hierdie reëls en ook die rymskema oortree en met die vorm speel. Of die teenoorgestelde, waar die teks die reëls op ’n speelse manier slaafs navolg, soos wanneer Janfrederik “Tjik tjee tjik tjikeel” sing, iets wat geen rooiborsie nog ooit in sy lewe gedoen het nie. Dis vir my prettig.

Het jy grootgeword met diere? Wil jy van die rol van diere in jou storie vertel?

Ek het grootgeword met ’n geliefde spanjoel genaamd Emma en was nog altyd versot op honde. Ek het ook sekerlik die meeste ure sover in my lewe op ’n perd se rug deurgebring, al het ek seker tien jaar laas perdgery. Deesdae het ek en my man, Athol, benewens Jakkals ook ’n tweede hond, Solo, albei brakke wat ons by die dierebeskermingsvereniging aangeneem het. Ek gaan stap elke dag met hulle in die woud en dis ’n belangrike inleiding tot elke dag se skryf. Ons het ook ’n hele skare wilde voëls wat elke dag toesak in ons tuin. Athol sit elke dag voëlsaad uit, en die janfrederiks waag dit gereeld in die huis in. Hulle speel ook ’n belangrike rol in ons daaglikse lewens. Saam met die honde bied hulle ’n blik op ’n ander manier van wees in die wêreld, ’n belangrike verskuiwing van die antroposentriese blik. In hierdie boek speel Jakkals natuurlik dieselfde rol vir die mense in haar huis.

Het jy jou boek al vir jou eie kleintjie voorgelees, en indien wel, wat was die reaksie?

Dis natuurlik nie verbasend dat ons dogter se twee groot liefdes, op 15 maande, voëls en honde is nie. As sy nie in die tuin die honde na-aap nie, dan roep sy soos ’n hadeda. Toe sy die boek vir die eerste keer sien, het sy dit vinnig by my afgeneem en geblaf, toe met ’n sagte “oe, oe” begin blaai. Eerlikwaar kry ek dit nie lank genoeg uit haar hande uit om dit vir haar te lees nie, maar ek het dit al voorgedra. Sy kom egter altyd voor my by die laaste bladsy uit en daar by my foto haak sy vas met ’n “Mamma! Mamma!”

Met watter ander projekte is jy nog besig? (Moederskap tel as ’n projek.)

Vir seker moederskap. Ek geniet dit veral omdat dit so anders is as my ander werk. ’n Manuskrip groei nie sonder selfdissipline en ’n enorme hoeveelheid kreatiewe energie nie; dis nie genoeg om elke dag eenvoudig by jou lessenaar op te daag nie. Ons dogter, daarenteen, groei vanself. Ja, my rug kreun van die nagte se optel, om nie eers te praat van die wilde pogings om ’n peuter se doek om te ruil nie. Maar sy skep haar eie liggaam en haar eie wêreld – ek hardloop net om by te bly en te help waar ek kan. Dis vreeslik verfrissend.

Tog smag ’n gedeelte van my ook na gefokuste skryf, en as sy volgende jaar by ’n speelgroep begin, het ek weer akkers se tyd. Daar is projekte in die pyplyn. Ek het ’n toneelstuk of twee in die laai; ek is ook toevallig besig om my Engelse gedigte van die afgelope tien jaar sinvol bymekaar te sit. Maar volgende jaar sal my day job eers prioriteit moet geniet – ek skryf ’n boek oor daardie vertalings van Switserse toneelstukke en dit het ’n sperdatum in 2024.

Dit klink dalk alles na uiteenlopende projekte, maar goeie skryfwerk is goeie skryfwerk – die res is net genre.

............
Dit klink dalk alles na uiteenlopende projekte, maar goeie skryfwerk is goeie skryfwerk – die res is net genre.
...............

Vertel my asseblief ook van die illustrasies?

Ek en my fantastiese uitgewer, Michelle Cooper, het ’n hele ruk lank gesoek vir die regte illustreerder. Dié het ons uiteindelik gevind in die talentvolle en vrygewige Emily House. Nie net het sy vir Jakkals op papier vasgevang in voortdurende beweging nie, sy het ook ruimhartig ons gedeelde visie geskep van ’n gesin wat miskien nie lyk soos die meeste ander gesinne nie (en wat selde in kinderboeke gesien word), maar waarbinne elke lid geborge en tuis voel. Emily het met ’n warm palet van pastelle – oranje, pienk en blou – hierdie wêreld liefdevol ingekleur en ek is vreeslik bly ek kon saam met haar werk aan ons boek.

Wat was van jou eie lieflingboeke uit jou kinderdae?

..........
Waar begin en waar eindig ’n mens se kinderdae?
..............

Waar begin en waar eindig ’n mens se kinderdae? Die titels wat vasgesteek het uit my prenteboekdae is Make way for ducklings (1941) deur Robert McCloskey en The jolly postman or Other people’s letters (1999) deur Janet en Allen Ahlberg, laasgenoemde omdat mens ’n reeks briewe uit koeverte kan haal en weer terugsit. Die Storieman-omnibusse het ook ’n reuse indruk op my gemaak – ek sidder nou nog vir Brolloks en Bittergal.

Toe ek op laerskool was, het ek ’n enorme aantal boeke oor perde gelees – titels soos Mary O’Hara se Thunderhead (1943) en My friend Flicka (1941). Roald Dahl se kinderboeke was ook prominent, veral sy bundel kortverhale The wonderful story of Henry Sugar (1977), waarvan Wes Andersen onlangs kortflieks gemaak het. Iewers het Jack London se kortverhale ook ’n prominente plek gehad. Ek het toe die classics begin lees danksy my beste vriend wat elke verjaardag vir my ’n Penguin paperback gegee het – boeke soos Swiss family Robinson (1916-vertaling) en Richard Adams se Watership Down (1972) het naderhand plek gemaak vir my gunstelingboek van alle tye, Herman Melville se Moby Dick (1851). Toe was ek al op hoërskool en het ek gelukkig nie meer net diereboeke gelees nie. Tolkien se Lord of the rings (1954) en Ursula le Guin se Earthsea Quartet (1968) is vandag nog van my lieflingboeke.

En so lees mens jouself van klein tot groot. Ek dink dis deel van die magic of towerkrag van boeke. Toe ek hierdie vraag sien, het ek dadelik bo na die soldervertrek in ons huis gegaan waar die meeste van my boeke slaap en weer ondertoe gekom met ’n stapel. Dis dieselfde kopieë wat ek gelees het toe ek 3, 12, 16 ensovoorts was. Hierdie boeke verbind my soos niks anders nie aan my eie verlede en die paaie wat ek geloop het tot op hierdie plek.

Lees ook:

Herinnering op die verhoog: performatiwiteit in David Kramer en Taliep Petersen se Kat and the Kings

’n Bedrywige Woordfees vir Paula Fourie met Taliep, Babyboy Kleintjies en Athol

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top