
Hierdie lesing (sien die video) is op Vrydag 25 Julie 2025 te Cradock/Nxuba gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet25 Afrikaanse Skrywersberaad.
Die teks verskyn hier onder.
Ek het ’n draaiboek gemaak van die roman Boendoe deur Chris Barnard. Tafelberg het die roman in 1999 gepubliseer.
Barnard se eerste, Bekende onrus, is gepubliseer toe hy nog student was, in 1961. Mahala was tien jaar later, in 1971. Moerland in 1993, 22 jaar later, en Boendoe in 1999, ses jaar later. Sy laaste roman het hy onvoltooid agtergelaat.
Ek was redakteur by Tafelberg-Uitgewers en is die manuskrip van Moerland gegee om mee te werk. Van toe af was ek Chris se redakteur en later uitgewer. Ons was ook, tot op die einde, vriende.

Chris Barnard en sy vrou, Katinka Heyns, het saam baie films en TV-reekse geskep. Van sy eie romans het Chris nooit draaiboeke gemaak nie. Oor Boendoe was hy baie beslis dat dit ’n onverfilmbare boek is. Ek kom later terug op die redes daarvoor.
’n Jaar of drie gelede het Katinka egter teenoor my genoem sy voel reg vir ’n projek, en sy wil na Boendoe kyk. Ek het haar gevra of ek ’n draaiboek kan waag.
Oor draaiboeke
Film- en TV-draaiboeke voer ’n skadubestaan tussen twee wêrelde. Oorvereenvoudig kan jy hulle die wêrelde van woord en beeld noem. Indien ’n draaiboek nie ’n oorspronklike verhaal is nie, maar die verwerking van ’n roman of kortverhaal, is hierdie tussenstatus nog meer akuut: Dit lê tussen ’n reeds gevormde woordkunswerk en ’n werk van beeld en klank.
Dat film ’n kunsvorm is, is nie meer omstrede nie, maar die draaiboek? In die mate waarin ’n draaiboek met ’n stem praat, inhoud maak van vorm, ’n veelheid elemente integreer en op ’n hoër vlak aflewer as die somtotaal van sy dele, in die mate waarin dit skoonheid wek, steur, vreemd maak en segging vernuwe, sou ek dit in sigself ’n kunsvorm noem.
’n Draaiboek kan in sigself die lees daarvan loon, soos die beroemde draaiboek van die film LA confidential. Tog bestaan ’n draaiboek as ’t ware vir ’n hoër doel. Dit is ’n ongearriveerde soort teks op dieselfde manier as wat ’n toneelteks of die partituur vir ’n simfonie ongearriveerd is. Dit is onderweg na, en wys heen na, uitvoering.
...
Die pad van draaiboek na film is egter ’n doolhof waarvan die gange voortdurend verlê word.
...
Die pad van draaiboek na film is egter ’n doolhof waarvan die gange voortdurend verlê word. Die klein minderheid films wat uiteindelik gemaak word, is die resultaat van ’n skadudans tussen rustelose kykersvoorkeure en finansiële belange. Kry die filmmakers dit presies reg, het jy ’n ragfyn, broos filament in ’n brandende gloeilamp. Dan het jy Moonstruck, of Breakfast at Tiffany’s, of Paljas, In the mood for love, Past lives, Wings of desire …
Wat wil vervaardigers, verspreiders en platforms – die Netflixe van die wêreld – hê? Die algemeenste eis is vir ’n driedelige storie met begin, middel en einde. Party wil vyf bedrywe sien, wat maar net ’n gedifferensieerde driebedryf is: eksposisie, stygende spanning, klimaks, dalende spanning, resolusie.
Interessanter vir my is veral Netflix se klem op die sogenaamde hero’s journey. Dit beskryf die argetipiese verloop van ’n storie. Die Jungiaan Joseph Campbell het die hero’s journey (ook bekend as die mono myth) populêr gemaak in sy boek The hero with a thousand faces (1949).
Baie vereenvoudig, gaan dit so: In die Ordinêre Wêreld (dws die bekende) ontvang die Held ’n oproep om op ’n Tog, of Quest, te vertrek. ’n Mentor ondersteun hom (ek sê “hom”, maar alle genders geld hier). Hy kom by ’n deurgang en betree die Magiese Wêreld (dws die onbekende). Hy word fel getoets deur uitdagings en versoekings. Vyande val hom aan, Makkers staan hom by. Hy loop hom te pletter en ondergaan die Donker Nag van die Siel. In sy donkerste uur vind hergeboorte plaas, en hy hervat sy Tog. Dit is die weg van transformasie, verootmoediging en versoening. Hy laat die Magiese Wêreld agter en betree weer die Ordinêre Wêreld, maar as ’n getransformeerde siel en die besitter van die elikser (dws ’n lewegewende remedie).
In ’n verhaal soos The lord of the rings sien mens hierdie skema duidelik. Dat enige skema aan ’n kunswerk voorgeskryf kan word, gaan egter teen die grein van die meeste ernstige skrywers. Aan die ander kant laat hierdie skema sigself in die een of ander vorm in baie verhale sien. Die Jungiaan sal sê dit word so uit die onderbewuste opgestoot. In die voorleggingsdokument (die pitch) wat ek vir Boendoe opgestel het, lig ek so ’n struktuur in die verhaal uit. Tog het ek die draaiboek allermins volgens ’n skema geskryf.
Dit is nie ongewoon dat skrywers self die draaiboek van hulle romans skryf nie. Cormac McCarthy het so gemaak met The road. Insgelyks het Gillian Flynn ook Gone girl geskryf, en John Irving die draaiboek vir The word according to Garp – om net enkeles te noem. Hier te lande het Deon Meyer, Marita van der Vyver, Karel Schoeman, Alexander Strachan en nog ander hul eie draaiboeke geskryf.
Wat ook nie ongewoon is nie – trouens, te verwagte is – is dat skrywers nie hou van die draaiboek en uiteindelike film wat van hul werk gemaak word nie: “I was appalled at the violence,” sê Anthony Burgess oor Stanley Kubrick se film van A clockwork orange. “The animation and dancing penguins were appalling. The film betrayed everything I wrote,” sê PL Travers oor Mary Poppins.
Maar dan weer sê ’n selfagtende Truman Capote van In cold blood: “It was a miracle of a movie. I was shocked at how good it was.”
Van verhaal tot draaiboek
Maar wat gebeur dan met ’n romanteks dat dit skrywers so omkrap wanneer dit filmteks word?
Etienne Bloemhof, hoof van fiksie by NB-Uitgewers, het 20 jaar gelede ’n doktorale proefskrif geskryf wat ek steeds vars en insiggewend vind. Die titel daarvan was “Die omsetting van verhaal tot draaiboek en van draaiboek tot film” (US, 1995).
Bloemhof vind dat daar, by die groot verskille tussen roman en draaiboek, ook groot ooreenkomste is. Die ooreenkomste word dikwels misgekyk omdat literêre vooroordeel die roman op ’n hoër niveau plaas en die verskille oorbeklemtoon (10). Daar is ook dikwels, vind hy verder, eerder ’n graadverskil as iets wesenliks (iii).
Bloemhof bespreek drie omsettingsvorme na aanleiding van die werk van Geoffrey Wagner (70):
- Daar is wat genoem word transposisie, waar die draaiboek die roman eenvoudig op die voet volg.
- In wat Bloemhof ’n kommentaar-omsetting noem, is daar herstrukturering en klemverskuiwing. Die storie kan anders begin of eindig as die oorspronklike. Die draaiboek is ’n kritiese interpretasie van die roman.
- In die ingrypendste soort verandering skep die draaiboek analogieë vir die retoriese tegnieke wat die romansier gebruik. Die oorspronklike word net as ’n vertrekpunt gesien en die draaiboek wyk radikaal daarvan af.
Daar is natuurlik ook ’n veelheid tussenposisies. Die draaiboek wat ek van Boendoe geskryf het, val op meer as een plek tussen hierdie drie. Daar is hele episodes wat ek feitlik net so uit die boek getransponeer het. Dit klop met die eerste omsettingsvorm hier bo. Daar is ook herstrukturering en klemverskuiwings. Dit klop met die tweede. Verder is daar elemente van die derde soort omsetting, waar ek analoë vorme moes vind vir wat in die boek staan, waar die idee oorleef het, maar in ’n ander konkrete vorm.
Boendoe
Kortliks die storie van Boendoe om die geheue te verfris:
’n Klompie eensames, uitgeworpenes en eksentrieke siele vorm ’n los gemeenskap rondom ’n klein, afgeleë sendinghospitaal. Dis die laat jare tagtig. Dit het drie jaar laas gereën. Hongersnoodvlugtelinge stroom uit Mosambiek na die sendingstasie. Die buitewêreld ignoreer die oproepe om hulp. Julia Krige is ’n verpleegster daar. Brand de la Rey is ’n ekologienavorser. Hy werk in die bos saam met sy assistent, Vusi Mabaso. Brand het ’n band met ’n trop bobbejane, en veral die brandwag, Malume (wat “oom” beteken).
...
Daar loop gerugte van ’n DC-3-lugmagvliegtuig iewers in die bos – algemeen bekend as ’n Dakota.
...
Daar is chemie tussen Brand en Julia. Sy eis hulp van hom om die vlugtelinge te voer, en dit veroorsaak konflik. Mense begin doodgaan. Brand kry ’n gek idee. Daar loop gerugte van ’n DC-3-lugmagvliegtuig iewers in die bos – algemeen bekend as ’n Dakota. Die Suid-Afrikaanse Weermag het dit glo in 1986 daar gelos. Hulle het vinnig padgegee nadat Samora Machel se vliegtuig daar naby in Mosambiek neergestort het. ’n Alkoholisvlieënier, Jock Mills, het die vliegtuig gevind en stukkie vir stukkie begin regmaak. Die mankolieke vliegtuig word self ’n karakter in die verhaal.

So lyk die DC-3 (Dakota). Die vliegtuig in hierdie foto het diens gedoen tydens die Berlynse Lugbrug (1948–1949), dit is steeds in diens van die Suid-Afrikaanse Lugmag. (Foto: Izak de Vries)
Brand oorreed Jock om die vlugtelinge in die Dakota na Durban te neem, waar die Rooikruis is. Na die eerste vlug word die vliegtuig op Durban-lughawe gekonfiskeer. Jock gaan steel dit een nag terug, maar die groot reën kom en keer die Dakota vas op ’n vliegveld daar naby. Terwyl hulle by die sendingstasie wag, gedy die liefdesverhouding tussen Brand en Julia, maar later onttrek sy haar. Die weermag kom uiteindelik en vervoer die oorblywende vlugtelinge in helikopters. Julia gaan saam. Dan kom Jock Mills weer met die Dakota aan, gereed om die lugbrug voort te sit. Toe hy hoor daar is nie meer vlugtelinge oor nie, vlieg hy weg oor die horison, met net ’n lekseltjie brandstof in sy tenks.
Dit wat betref die fisiese handeling. Emosioneel en intellektueel gaan die roman oor verlange en oor soeke na begrip van die wêreld.
Die verhaal is uitgeknip vir ’n film: Dis ’n buitengewone avontuur; dis ’n liefdesverhaal; dit klop met die gees van ons tyd van klimaatskrisis; dit het emosionele en intellektuele diepte, en sterk visuele trefkrag. Soos daar in die filmbedryf gesê word: Dis uiters high concept.
So sterk het ek daarin geglo dat toe ek uitgewer by Random House was, ek Michiel Heyns in 2011 gevra het om die boek in Engels te vertaal. Ek het geweet dit sou ’n duur film wees en, indien dit ooit sou gebeur, van noodsaak ’n internasionale produksie. Om dié rede is die draaiboek in Engels geskryf, met Afrikaanse, Zoeloe-, Swati- en Chopi-dialoog gesubtitel. Afrikaans vorm minstens 50% van die dialoogteks.
Chris Barnard se een rede hoekom dit nie ’n film kon word nie, was dat daar honderde uitgeteerde mense moet wees. Waar kry jy hulle? En hoe kry jy ’n trop bobbejane om te doen wat jy wil hê? En dan is daar die vliegtuig, wat duur konstruksie sou kos en duur vliegtonele. Maar dit was 20 jaar gelede. Intussen het rekenaargegenereerde beeldtegnologie (CGI) die bedryf op sy kop gekeer. Die koms van kunsmatige intelligense, nog meer onlangs, het feitlik alle vroeëre beperkings uitgewis. Jy kan skares mense en troppe diere oortuigend skep en hulle enigiets laat doen.
Omsetting
Die vernaamste verandering van die romanteks in my draaiboek wys ook die grootste probleem uit. In die boek is Brand die eerstepersoonsverteller. Hy is letterlik op elke bladsy van die boek teenwoordig. Ek wou ’n verteller in die filmteks vermy. Vir my is ’n buitestemverteller, of voice over, ’n erkenning dat die brug van roman na film nie heeltemal oorgesteek is nie. Dit is nie suiwer kinematies nie; die verhaal word nie vertel deur wat jy voor jou op die skerm sien gebeur nie. (Daar is mense wat met hierdie siening verskil.)
’n Tweede probleem hou hiermee verband: hoe om die ander karakters te ontwikkel in tonele waar die ek-verteller nie teenwoordig is nie. Dit gaan veral oor die vroulike hoofrol, dié van Julia. Om onder ’n vertellerstem, of vanuit Brand se perspektief, aan dié karakter ’n eie profiel te gee, wou op die skerm nie werk nie.
Boonop het ek die fantasie gehad – het dit steeds – dat Charlize Theron gebore is vir hierdie rol. Ek vertel myself sy sal nie kan nee sê as sy dit lees nie. Maar dan moes die rol aansienlik uitgebrei word – sowel verbreed as verdiep – en so het ek gemaak. Ek moes tonele vir Julia skep wat nie in die boek is nie.
’n Derde kwessie wat ek wou takel, was om die film minder witgesentreerd te maak. Daar is trouens uitsonderlike en deurslaggewende swart karakters in, veral die dokter, Vukile, en Brand se regterhand, Vusi. Vukile praktiseer sonder mediese kwalifikasie, maar is toegewyd en driftig. Vusi is na binne gekeer. Sy diepe verbondenheid aan natuur en kultuur, en sy kommunie met voorvaders is ’n kontrapunt tot Brand se rasionele wetenskaplikheid.
Die skerm eis meer agentskap vir hierdie karakters. As jy hulle sien, wil jy hulle hoor, en as jy hulle hoor, wil jy weet wie hulle is en wat hulle doen. Ek het Vusi se spiritualiteit uitgebrei. Aan die begin van die roman word hy siek en die muti-man Gwaja, wat kok is by die sendingstasie, genees hom. In die draaiboek laat ek Vusi onverklaarbaar al sieker word. Hy word eers beter wanneer die reën kom. Sy toestand loop sodoende saam met die toestand van die natuur. Ek verdiep ook die uiteindelike vriendskap tussen Vusi en Brand, tot die punt toe dat Vusi leermeester van Brand word en dié se eie verstaan van die wêreld verbreed.
In een weergawe van die draaiboek het ek ’n eksperiment gedoen met die eksentrieke vlieënier, Jock Mills. Ek het hom ’n swart man gemaak, die aangenome kind van ’n welgestelde wit paar wat hom na ’n privaat skool in Engeland gestuur het. Dit het interessante vrugte opgelewer in Jock se selfverstaan as ’n swart persoon, maar afgesny van ’n Afrika-kultuur. Dit het ook sy verhouding met ander swart karakters in die film op interessante maniere verander.
...
Jy kan nie in ons tyd toondoof wees vir die interseksionaliteit wat in die samelewing blootgelê is nie.
...
Jy kan nie in ons tyd toondoof wees vir die interseksionaliteit wat in die samelewing blootgelê is nie. Postkolonialiteit – die toestand, nie net die teorie nie – problematiseer in beginsel die skryf van swart karakters as jy self wit is. Dit is ’n kwessie wat nie vermy moet word nie, maar met omsigtigheid en integriteit gepak moet word. Die kans is groot dat jy sal fouteer. Hierdie draaiboek moet nog onder die oë van ’n sensitiwiteitsleser kom.
Die karakters in die verhaal, veral Brand, het ook ’n gaping om te oorkom: dié tussen mens en dier. Groucho Marx het gesê: “Outside of a dog, books are a man’s best friend. Inside of a dog, it’s too dark to read.” Chris Barnard maak hierdie onleesbaarheid van die bobbejane ’n sentrale metafoor vir die onbegrip waaroor dit in die roman gaan. Daar is ’n diep kloof waar die bobbejaantrop snags slaap. Brand gaan sit soms aan die oorkant daarvan, saans wanneer die trop hulle regmaak vir die nag. Die twee kante is so naby mekaar dat oogkontak moontlik is. Chris het my eenkeer op sy plaas Thulani buite Mbombela na die kloof geneem wat sy verwysing vir die boek was.
Brand, ’n somber man, vind aanklank by wat Eugène Marais in Die siel van die aap noem die hesperiese neerslagtigheid van die bobbejane. Dit is die melankolie wat hulle beetpak wanneer die son sak. Die Marais-verwysing is uitdruklik. Daar lê ’n eksemplaar van die boek op Brand se werkstafel. Brand gaan sit ’n keer of twee teenoor die swygsame brandwag, Malume.
Brand is ewe swygsaam, hoewel hy ’n ryk innerlike lewe het. Dié interne monoloog van Brand, waartoe die leser van die roman toegang het danksy die ek-verteller-tegniek, is ’n verdere draaiboekprobleem. Baie daarvan is filosofiese mymerings oor die wesenlike onkenbaarheid van mens en wêreld, en hoe jy die wêreld en jou plek daarin kan verstaan.
Hoe kry jy al dié abstraksie en bespiegeling op die skerm? Jy moet ’n ander tegniek gebruik. Ek kon een bewerkstellig uit wat daar reeds in die boek is. Ek het van Brand se besoeke aan Malume ’n soort belydenisritueel gemaak waarheen hy van tyd tot tyd terugkeer om hom te ontboesem en sy groot vrae te vra. Gegee die dier se onvermoë om te begryp, is dit retoriese vrae, maar in die konteks van die hele verhaal verwoord dit tog wel die vraagstelling van die film.
By sy laaste besoek laat ek Brand iets aan Malume vra wat die verteller in die roman net in sy gedagtes vra: “Wat is die ding, tussen een mens en ’n ander een, wat so duiselingwekkend is dat dit die laaste tree na mekaar toe onmoontlik maak?” Die kloof, en die onbegrypende Malume, word duidelik metafore hier.
Op ’n meer praktiese vlak moes ek heelwat opruiming en vereenvoudiging doen om alles in nagenoeg twee uur se speeltyd in te pas. Ek het twee karakters heeltemal uitgehaal en ’n ander een van die skerm af gehou. So was daar ’n afleweringsman met die naam De Gaspri wat ’n soort verbindingsrol tussen verskillende lokaliteite speel, maar dit kon omseil word.
Daar is ’n delila genaamd Jenny wat via Jock by die roman ingewals kom en Brand verlei en weer spore maak. Sy speel ’n groot rol om ’n belangrike verhaalwending te laat werk, maar ek kon Jock daardie seksie laat meedeel sonder dat dit op die skerm hoef te wees. Met Jenny uit die pad kon ek in haar plek vir Julia in ’n nagrit per motor saam met Brand plaas. Hulle wedersydse belydenis in die naguur is ’n geleentheid om dié twee karakters en die verhouding tussen hulle verder substansie te gee.
Die belangrikste karakterverandering is die uitskakeling, met leedwese, van ’n mooi karakter genaamd Strydom. Dié gefolterde alleensiel lei ’n misterieuse bestaan van kom en gaan in die boendoe. Uiteindelik blyk hy ’n amateurpaleontoloog te wees wat op sy eie manier agter die kap van die bestaansbyl probeer kom. Om al sy komme en gane egter op die skerm gekoreograveer te kry het die plot baie ingewikkeld gemaak.
Omdat Strydom eienskappe met Brand en veral Jock Mills gemeen het, kon ek die karakter uithaal, maar hom laat voortleef in húlle eksentrisiteite en eksistensiële stryde. Die bobbejane toon deur die hele roman ’n ontsenuwende belangstelling in Strydom. Dié belangstelling kon ek op Jock Mills oordra. Jock en Vusi vorm ’n konseptuele paar. Jock is vlieënier en Vusi volg in sy oorlede ma se voetspore, wat ’n sangoma was en wat van gedaante kon verander. Hy vertel hoe sy haarself in ’n bobbejaan kon verander en ook ’n voël. Vusi praat altyd van die vliegtuig as “die groot voël”.
Die bobbejane se beheptheid met Jock het my ook ’n slottoneel gegee wat ’n probleem met die roman s’n oplos. Die boek eindig op ’n laaste, baie treffende stuk interne monoloog van Brand. Sonder voice over deur ’n ek-verteller sou dit nie werk nie. In plaas daarvan het ek die verlate vliegveld in die bos van waar Jock die laaste keer opgestyg het. Sy Harley-Davidson lê daar agtergelaat. ’n Bobbejaan sit daarby en vat-vat aanhoudend aan die fiets.
Afsluiting
Katinka se enigste opdrag voor ek die draaiboek begin skryf het, was dat ek Chris se stem daarin moes bewaar. Dit was die swaarste om reg te kry – in die sin van beide die gewigtigste en die moeilikste. Ek weet nie of enigiemand die stil, begoëlde en kristallyne prosa van Chris Barnard kan nadoen nie. En om dit in die filmmedium te wil vertaal … Dwase neuk in waar die engele huiwer.
Katinka voel die draaiboek praat wel in Chris se stem, en sy is eintlik heeltemal tevrede met die eindproduk. Dit is bemoedigend, want in die meer as twee jaar sedert ek die eerste weergawe voltooi het, het ’n hele reeks welgeplaastes in die filmbedryf teenoor Katinka onderneem om dit te lees. Nie een het egter nie.
Ek dink steeds dit kan ’n geweldige film maak, met of sonder my draaiboek. En dat die rol van Julia regtig aan Charlize Theron behoort. Het iemand hier dalk haar nommer? Maar of dit ooit ’n film word of nie, lees tog hierdie spesiale roman as jy dit nog nie gedoen het nie.
Die karakter Strydom, wat nie draaiboek gehaal het nie, sê in die roman iets oor hom en sy oorlede vrou, maar sy woorde slaan eintlik op die hele verhaal en, in sy universaliteit, die hele mensdom:
Ons het daar aangekom met herinneringe van pyn. Met ’n vrees vir die donker. Met ’n vae vermoede van iets. Ons het uit die vallei uitgegaan met kennis van goed en kwaad. Die vermoë om te onderskei. ’n Eerste kyk op die onbekende. ’n Simpele onvervulbare verlange.
Lees en kyk ook:
Elbie Adendorff en Adean van Dyk: Die verwerkingsproses ten opsigte van toneelkeuse met verwysing na die rolprent Roepman
Burgert A Senekal en Cornelia Geldenhuys: ’n Kwantitatiewe oorsig oor belangrike rolspelers deur die geskiedenis van die Afrikaanse filmbedryf (1916–2016)
Francois Human: Hoe skryf jy die beste Suid-Afrikaanse draaiboek van alle tye?
Nicole Jaekel Strauss: Verhaal verwerk vir film
Leon van Nierop: Akademiepryse 2023: Deleen Bekkerprys vir Beste Draaiboek vir ’n TV-drama in Afrikaans – Nico Scheepers
Martin Botha: Die Suid-Afrikaanse filmbedryf sedert 1994
Menán van Heerden: Wat was die eerste Afrikaanse film?
Polonius: Gedagtes oor die filmbedryf
Corine du Toit en Sandra Vaughn: Onderhoud: Alles wat mal is
Lees die ander bydraes hier:
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor




Kommentaar
"Hierdie draaiboek moet nog onder die oë van ’n sensitiwiteitsleser kom." ...
Hoe sou jy maak met Bela Tarr se Satantango? Die jongste Nobelpryswenner se verhaal is die teks vir hierdie epiese film. 7 ure lank.
Goeie stuk, maar kyk na Chris Barnard se oeuvre in geheel.
Veral na Duiwel-in-die-bos ... wat Fellini aktiveer.
Dankie, Joan. Het Satantango gesien. So byna in pas met die werklike gang van die lewe wat uitgebeeld word en so werklikheidsgetrou dat kykersensitiwiteite skaars ‘n oorweging is. Duiwel-in-die-bos – ja, dáár is ‘n film!